Onvermydelike slagoffers

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Seker die ergste ding wat nog vanjaar deur ’n openbare figuur kwytgeraak is, is die adjunkminister van polisie, Fikile Mbalula, se reaksie op die tragiese gebeure van ’n driejarige kind wat per ongeluk deur ’n polisielid doodgeskied is. Mbalula sou glo gesê het dat, in gevegte tussen polisie en misdadigers, dit “onvermydelik is dat daar onskuldige slagoffers sal wees”. Hy het dan ook die nuwe mode-uitspraak herhaal: Die polisie moet aanhou “skiet om dood te skiet”.

Die geval van die driejarige is besonder skreiend, maar dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Onlangs het polisielede, onder die indruk dat hulle op kapers losbrand, met sukses onskuldige insittendes van ’n motor wat toevallig in die omtrek was, “geskiet om dood te skiet”. Nou weet ek nie of gevalle soos dié regstreeks na die Cowboy-praatjies van ons leiers op die gebied van “sekuriteit” teruggevoer kan word nie, maar ek weet wel dat gebeure soos dié ons behoort te herinner aan wat op die spel is wanneer ons polisiemanne en -vroue tot skietlustigheid aangepor word.

Daar is goeie redes hoekom die polisie nie toegelaat behoort te word om na goeddunke te skiet nie. Die beperkings wat op hierdie gebied geld, bestaan nie in die eerste plek om gevaarlike misdadigers te beskerm (soos dikwels geruggereer word) nie, maar om ons almal te beskerm – om mense soos daardie driejarige kind te beskerm. Is dit minder erg as ’n kind in kruisvuur tussen polisielede en bendelede sterf as tussen verskillende bendelede onderling?

Mbalula se uitspraak het my herinner aan die antwoord van ’n vakbondleier, ’n tyd gelede, op ’n vraag deur ’n radio-omroeper oor mense wat gedurende chaotiese protesaksie deur die betrokke vakbond dood is. Die vakbondman het gesê alle stakings het “casualties”, en dat mense dus nie verbaas moet wees as dit ook hier die geval is nie. Volgens die vakbondwoordvoerder moet die vergewer, wat nie aan die vakbond se billike eise wou toegee nie, eerder geblameer word. Dat stakings “casualties” het, is natuurlik waar – dit kos werkgewers én werknemers geld, verontrief die publiek, kan ’n land se beeld skaad en so meer – maar om sterftes weens geweld deur vakbondlede op diesefde vlak te plaas skrei ten hemele.

Onvermydelik moet ek dan dink aan Jimmy Kruger, destyds minister van justisie (ja, justisie …) se reaksie op die dood van Steve Biko in aanhouding: “Dit laat my koud.” En aan die feit dat die laaste tyd heelparty verdagtes weer in aanhouding sterf – in die “nuwe” Suid-Afrika. Dit, en die amptelike skietlus van ons regering, verbind ek dan ook aan die plan om weer die ou militêre range in die polisiediens terug te bring. Dis alles tekens van ’n onheilspellende mentaliteit wat besig is om pos te vat.

Die ergste van alles is dat ’n mens nie juis stemme van protes hoor nie. Inteendeel, dit lyk asof mense hou van wat hulle hoor – ja, selfs dat sulke dinge ter wille van populistiese steun gesê en gedoen word. Hulle sê mos in ’n demokrasie kry die burgers die regering wat hulle verdien. Ek sou eerder sê “die regering waarvoor hulle vra”, want geen mens, hoe sleg ook al, kan so ’n boefagtige owerheid “verdien” nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

18 antwoorde op Onvermydelike slagoffers

  1. Dis al meer as net “onheilspellend” – die onheil is reeds met ons. Ons word nou ook al bedreig deur díe wat veronderstel is om ons te beskerm.

  2. charlpn het gesê op November 13, 2009

    Uitstekende, helder blog oor iets ontsettend en ontstellend. Niemand kan so iets goed praat nie. Mbalula behoort afgedank te word.

  3. Komodo het gesê op November 14, 2009

    Polisielede word ongelukkig afgemaai deur georganiseerde bendes wat met militere aanvalsgewere gewapen is. Die publiek word deur misdadigers onderwerp aan van die ergste vergrype ter wereld; die uitbrand van ‘n geldwa met die insittendes binne-in vasgekeer, plaasmoorde, huisbrake waar ‘n burgerlike se lewe minder werd is as ‘n vlieg s’n, polisielede wat in ‘n dwelmhuis afgemaai word, polisielede wat vermoor word vir hulle dienspistole. Burgerlike ongevalle aan die hand van Suid-Afrika se misdadigers van ‘n spesiale soort, om Thabo Mbeki se gevleulde woorde te gebruik, is lankal aan die orde van die dag. Die minister se uitspraak dat daar onskuldige slagoffers gaan wees moet ook gesien word in die lig van die feit dat daar nog al die tyd onskuldige slagoffers was; aan die hand van ons spesiale soort misdadigers; met of sonder die polisie se nuwe, harder benadering teenoor verdagtes met wapens in hulle hande.

    Nee dis nie reg dat die polisie wild-en-wakker op burgerlikes skiet nie maar dis ook nie reg dat die polisie nie met die nodige mag reageer in die hitte van die oomblik wanneer ‘n verdagte ‘n wapen uithaal nie.

    Die saak het twee kante. Jy kan nie jou mond uitspoel oor die een kant van die saak maar die ander kant, wat deur jou uitsprake geaffekteer word, weglaat nie. Dis soos om van iemand te verwag om op te hou om jou op die skouer te klop sonder om aandag te gee aan die feit dat jy besig is om op sy toon te trap. Dis maklik om te oordeel maar dit beteken niks as daar nie ‘n haalbare alternatief gegee word nie. Dit is teleurstellend dat geen haalbare alternatiewe in hierdie gesprek aan die orde gestel word nie. Plaas jou in die stewels van ‘n polisielid aan diens en nadat jy jou oordeel hierbo uitgespreek het, voltooi dan jou oordeel deur aan hom ‘n praktiese alternatief te gee wanneer hy deur ‘n bende gewapen met R5-aanvalsgewere gekonfronteer word. Eers dan verwerf jy die reg om ongebrydelde oordeel uit te spreek.

    Ten slotte: dink jy nie daar’s dalk ‘n kans, al is dit net ‘n halwe kans, dat die polisie se nuwe benadering die totale aantal onskuldige slagoffers voorspruitend uit die aksies van misdaad, sal laat afneem nie?

    So, instede daarvan om die baba met die badwater uit te gooi, watter haalbare alternatiewe sal jy aan die orde stel?

  4. Die misdaadprobleem het meer te doen met die feit dat mense mekaar nie respekteer nie as met artikel 49.

    En ‘n geskiet sal nie die probleem oplos nie, nog minder sal nuwe range of titels.

    Gaan kyk eerder na die “onderwysstelsel,” verbrokkelende gesinne, (die afwesige)infrastruktuur, werkloosheid en die nie-betaal kultuur wat geskep is.

    Misdaad moet holisties benader word.

  5. Jy’s reg. En nie alleen sal skiet nie die probleem oplos nie; dit sal dit vererger, want dit help verder skep aan ‘n ingesteldheid van minagting vir menselewe.

  6. Ek het geen probleem met ‘n hersiening, herbedinking, van die ter sake wetgewing nie. Dit gaan dan om die vraag hoe die polisie die beste ondersteun kan word, ook wat betref die gebruik van vuurwapens wanneer nodig, om die publiek(ook hulself) teen gewelddadige misdadigers te beskerm. Ek dink egter nie dat wilde Cowboy-uitsprake soos “skiet om dood te skiet”, of gevoellose opmwerkings soos “onskuldige slagoffers sal onvermydelik val” (nadat ‘n driejarige getref is), dra enigsins daartoe by nie. Wat sulke uitsprake betref, wil ek nie balans tussen twee kante handhaaf nie; ek wil dit onvoorwaardelik verwerp.

  7. Hoekom dink jy niemand kon dit voorsien nie? Gesien ons geskiedenis, waarin totale minagting vir menselewe die orde van die dag was – eerstens van owerheidswee onder kolonialisme, segregasie en apartheid, maar helaas ook binne die bevrydingsbewegings – was dit eintlik te verwagte. Tog het ‘n mens die hoop gekoester dat die onverwagse van respek vir menswaardigheid dalk sou kon gebeur. Ongelukkig het dit nie. Maar wie weet …

  8. Net so.

  9. Wat nogal depremerend is, is dat die Mbalula-styl heel waarskynlik vir ons ‘n blik in die toekoms gee. Malema kom uit dieselfde “skool”. Maar hoe waarskynlik dit ook al is, dis nie noodwendig nie; en selfs al gebeur dit ook so, is dit al klaar beter as mense darem ten minste hul stem daaroor verhef.

  10. charlpn het gesê op November 16, 2009

    Gerrit, ek wonder of jy ‘n bloginskrywing kan afstaan aan Antjie Krog se malema-stellings, so gepraat van Malema. Ek het op my eie blog op Versindaba gunstig gereageer op ‘n bepaalde aspek van haar sienings.

    Maar daar is ander aspekte daarvan wat baie vreemd opval.Die gevaar is nou dat die SA publiek, wat al so vuisvoos is in die misbruik van morele taalgebruik, wat al by die WVK begin het, nou eenvoudig kan besluit: Maar hel, dalk bestaan moraliteit, en oorkoepelende waardes net glad nie. Krog is invloedryk. Waarop sal dit uitloop???

  11. Dankie vir die voorstel, Charl-Pierre. Ek sal daaraan dink.

  12. Water onder die brug – selfs al sou jy korrek wees in jou analise. Meer op ‘n beginselpunt: ek glo nie so in “meriete” nie. Wel in bekwame mense aanstel.

  13. “That is the question …” Daar is oorgenoeg bekwame mense, maar hulle word nie in die hande gekry nie. Ek is ook nie in ‘n posisie om hulle in die hande te kry nie. Die antwoord is eintlik eenvoudig: Vul elke pos met die mees bekwame persoon vir daardie pos, ongeag daardie persoon se geslag, verkleur, godsdiens, politieke oortuigings, seksuele orientasie, lengte, haarkleur, neusgrootte of watter ander irrelevante oorweging ook al.

  14. Die beoogde veranderinge aan die strafproseswet volg nie logies uit enige ‘n nuwe misdaadbekampingsstrategie nie, maar werk vanuit die veronderstelling dat “more of the same” met net ‘n groter dosis skietery by, die impak op misdaad gaan hê waarna ons almal smag. Die transaksie wat Mbaluli aan die publiek opdis is dat ons ‘n bietjie collateral damage moet vat ter wille van meer effektiewe optrede teen veral geweldsmisdadigers.

    Die vraag wat ons dus moet vra is of die huidige misdaadbekampingsstrategie ontleed is en of dit ondubbelsinnig na vore getree het dat die grootste tekortkoming die nie-beskikbaarheid aan “pre-emptive” skietmag vir die polisie is.
    Indien nie, of indien onvoldoende, moet ons daarop aandring. Drie situasies moet veral ontleed word.

    Eerstens, in hoeveel gevalle van geweldsmisdaad uit die totaal was daar enigsins ‘n polisieteenwoordigheid sodat dit legitiem beweer kan word dat polisielewens wesenlik bedreig sou word indien hulle sou gepoog het om die misdaad te keer. Mens se indruk is dat dit bitter min is. Mens sou aanvullend hiertoe ook kon ondersoek hoeveel situasies van geweldsmisdaad wel deur die polisie voorkom sou gewees het indien hulle wel pre-emptive striking power tot hulle beskikking gehad het. Mens sou in die verband kyk hoeveel voorafwaarskuwings van geweldsmisdaad deur polisie geignoreer is omdat hulle besorg was daar sal op hulle geskiet word.

    Tweedens moet daar fyn gekyk word na situasies waar die polisie wel op iemand geskiet het of ‘n ander vorm van geweld gebruik het. In hoeveel van hierdie situasies was die polisie se lewens wesenlik in gevaar (maw is daar ‘n vuuurwapen of ander gevaarlike wapen op hulle of iemand anders gerig). In hoeveel van hierdie situasies is ‘n geweldsmisdaad opgelos (maw was die polisie besig om ‘n aangeklaagde of definitief-uitgekende verdagte in ‘n geweldsmisdaad te arresteer) of verhoed (maw ‘n potensiële siviele slagoffer se lewe is gered of teen ander fisieke leed beskerm).

    Derdens moet daar gekyk word na situasies waarin polisielede omgekom het. In hoeveel van hierdie situasies het die betrokke lid onverwags op die misdaadtoneel afgekom en moes hy/sy hul vuurwapen trek waar die misdadiger reeds ‘n vuurwapen gerig het en/of die lid nie redelikerwys kon geweet het of daar ‘n vuurwapen is of nie. In hoeveel van hierdie situasies sou die lid sy/haar lewe kon behou het indien hulle dadelik gevuur het. In hoeveel van hierdie situasies sou die lid sy/haar lewe kon behou het deur dekking te soek en om addisionele hulp gevra het. In hoeveel van hierdie situasies is siviele lewens gespaar as gevolg van die polisielid se optrede. In hoeveel van hierdie situasies is daar getuienis of bewerings dat die lid se eie optrede tot ‘n skietery bygedra het.

    As ons antwoorde op hierdie en soortgelyke vrae het, sal ons kan begin evalueer of die voorstel meriete het of nie.

  15. Praat is ook doen.

  16. Komodo het gesê op November 17, 2009

    Misdadigers het selde genade vir slagoffers en ek dink nie iemand het al ‘n onfeilbare resep uitgewerk wat ‘n slagoffer of polisieman/vrou in staat stel om oombliklik tussen ‘n gevaarlike misdadiger met ‘n wapen in sy/haar hand en ‘n nie-gevaarlike misdadiger met ‘n wapen in sy/haar hand te onderskei nie.

    So, hoe moet jy besluit om te skiet om dood te skiet of om te skiet om net effentjies skrik te maak of om glad nie te skiet nie?

    En hm, wat van die kolaterale skade wat misdadigers aanrig, etienne?
    – Laasweek is ‘n 89-jarige man deur drie inbrekers pap geslaan todat hy dood is. In sy huis. Hy was ‘n vegvlieenier in die 2de Wereldoorlog. Hy het die Duitsers wat op hom geskiet het oorleef maar hy het die Suid-Afrika se spesiale soort misdadigers oorleef nie. Nie eens as ‘n weerlose 89-jarige ou man nie. Hoe sou jou hom aangeraai het om homself te verdedig?
    [No wait, time out please. Etienne and Gert said….?]
    – Hierdie week is ‘n jong vrou in die vleur van haar lewe van ‘n brug af gesmyt deur motorkapers. Die doel was ooglopend om haar dood te kry. Sy was seker maar ‘n bietjie in hulle pad of iets. Gode sy dank het sy met haar lewe daarvan afgekom.
    [Nee, julle mag my nie van die brug af gooi nie. Dis nie fair nie want ek het julle nie geskiet nie omdat julle nie gelyk het na lewensbedrygende misdadigers nie. Vra maar vir Etienne en Gert.}

    ????????????????????????????

    Asseblief mense. Gooi dan so ‘n skeutjie realiteit ook by julle waansinnige wensdenke oor hoe versigtig jy ‘n man met ‘n wapen in sy hand moet hanteer wat besig is om te doen wat hy nie veronderstel is om te doen nie.

    [Haai nee, stop nou die geskietery op my sodat ek jou kan in hegtenis neem. Ek wil graag humanisties teenoor jou optree want ek wil my deel doen om respek vir menselewens te bevorder! Stop dit nou! Dadelik!]

  17. Komodo, die polisie mag (en mog nog altyd) skiet op iemand wat ‘n wapen uitpluk of iemand se lewe bedreig. Daar was nog nooit ‘n debat daaroor nie, so ek weet nie teen wie jy stry nie. En die feit dat baie misdadigers niks vir menselewens voel nie, kan tog nie dien as argument hoekom die polisie nou ook minder versigtig met my en jou lewe moet omgaan nie? Wil jy regtig in ‘n land woon waar die polisie maar kan skiet wanneer, wie en soos hulle wil?

  18. “More of the same”, inderdaad. Dis maar die ou “kragdadigheid”. Ooglopend ook maar ‘n populistiese truuk – om vir die nasie, wat kwaad is oor al die misdaad, iets te gee wat hulle ‘n tyd lank beter laat voel. Maar aan misdaad gaan dit niks maak nie. Die strafregstelsel werk nie, daarom kom misdadigers met moord weg. Ons almal weet van daardie gevalle waar ‘n ou keer op keer vir huisbraak, dwelmhandel en so meer gearristeer word, skuldig bevind word en tronk toe gaan, maar ‘n paar maande later maar weer vry rondloop. Uiteindelik pleeg so ‘n ou dan ook moord, of verkrag iemand, of iets dergeliks. Net omdat ons tronke te vol is om mense lank genoeg op te sluit. Dis gewoon swak bestuur. Verder vertel ‘n oudpolisieman onlangs op die radio dat polisielede veels te min ure skietoefening kry, en dat baie van hulle gevolglik gewoon swak skiet. Nogmaals swak bestuur, maar dink aan die konsekwensies: “Moenie dink nie, skiet net … al weet jy nie eintlik hoe nie.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.