Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Joodse praatjies

November 26, 2009 in Sonder kategorie

(Hieronder volg die jongste aflewering van my tweeweeklikse Geeste-rubriek in die Kerkbode.)

Miskien die radikaalste politieke gedig wat die laaste aantal jare geskryf is, is die lirieke van Leonard Cohen se lied “Democracy”, met as herhalende refrein: “Democracy is coming to the USA.” Radikaal, omdat dit suggereer dat die VSA nog demokraties moet word. Is Amerika dan nie die inkarnasie van demokrasie nie?

Cohen – wat in sy gedigte en lirieke met diep teue uit sy Joodse tradisie put – se aankondiging van die goeie-nuus-met-’n-snykant, dat demokrasie op pad is, herinner aan die opsomming van Jesus se verkondiging in Markus 2: “Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie!” Evangelie ja, ’n blye tyding, maar nie iets waarvoor die maghebbers van die Romeinse Ryk, of hul meelopers onder die elite van die onderworpe Jode in Jesus se tyd, sou hande klap nie. Wil hierdie Jood dan suggereer dat die Pax Romana, die Vrede van Rome, nie ware vrede is nie?

Die Joodse wysgeer Jacques Derrida het mos gesê demokrasie is altyd aan die kom (en dus nooit reeds met ons nie). So ook Romand Coles in sy Beyond Gated Politics[1]: “democracy is democratization.” Solank as wat mense, individueel en gemeenskaplik, se inspraak in besluite wat hulle raak nog uitgebrei kan word, bly demokrasie iets wat nog moet, en kán, gebeur. Om op die tekortkomings in die bestaande orde te wys is nie om “negatief” te wees nie, maar om die droom lewend te hou.

Soos Cohen dit in ’n ander lied stel: “There’s a crack in everything. / That’s how the light gets in.” Wanneer die krake toegepleister word, word dit donker. Wat is ideologie (in slegte sin) anders as om voor te gee dat daar geen krake meer is nie: “die einde van die geskiedenis”, “die 1000-jarige ryk”, “die Volksrepubliek van …”, of daardie berugte afgod genaamd TINA (“there is no alternative”)? Karl Marx (ook ’n Jood) het dit “vals bewussyn” genoem. Wanneer dit heers, moet digters soos Cohen ons herinner aan wat ons ten diepste weet: “Everybody knows that the boat is leaking, / everybody knows that the captain lied.”

Dis hoekom die eskatologie – die leer van die “laaste dinge” – so belangrik vir die Christelike geloof is: omdat dit ons herinner dat hoe dinge nou is, nie is hoe dit m?ét wees, of vir altyd sál wees, nie. Soos Bob Dylan (nogmaals ’n Jood) in “Franky Lee and Judas Priest” vermaan: “Dont go mistaking paradise for that home across the road.” In Lukas 17:22-23 waarsku Jesus immers: “Hulle sal wel vir julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is hy!’ Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanhardloop nie!” Teoloë noem dit die “eskatologiese voorbehoud”.

Christene glo nie aan vooruitgang nie – ten minste nie as ’n omvattende proses waarin die wêreld al hoe beter word nie. Die rede hiervoor is dat die hoogtepunt van die geskiedenis, volgens die evangelie, in die verlede lê: in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. In hom het die “laaste dinge” reeds gekom; daarom sal diegene wat die oog op hom gevestig hou nooit deur absolute aansprake oor betreklike dinge mislei word nie – ons weet hoe die “oorspronklike” daaruitsien!

Daarom sien ons die namaaksels vir wat dit is. Sien ons die krake.

Eskatologie is nie wensdenkery nie; dit maak juis realisme moontlik. En wie regtig glo dat (soos Adrio König se bekende boek heet) Jesus die Laaste (oorspronklik Jesus die Eskatos) is, sal self ook, saam met ander realiste, iets van die lig deur die krake begin weerspieël.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.


[1] Aangehaal in Coles en Stanley Hauerwas se Christianity, Democracy, and the Radical Ordinary.

Is geweld teen mans dan OK?

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders het weer begin. Dis goed dat hierop gefokus word (hoewel ek skepties is oor “aktivisme” met staatsteun). Daar is immers Suid-Afrikaners, mans én vroue, wat dink geweld teen vroue en kinders is aanvaarbaar, selfs noodsaaklik as deel van “dissipline”. Ons woon in ’n patriargale en gewelddadige samelewing. Bewusmaking is noodsaaklik.

Maar iets val my deesdae op: Ons is nie ewe besorg oor geweld teen mans nie. Word dit aanvaarbaarder geag as geweld teen vroue en kinders? Hoekom? Soos Shylock, as Jood, in Shakespeare se The Merchant of Venice, kan mans dalk vra: “If you prick us, do we not bleed? If you tickle us, do we not laugh? If you poison us, do we not die?”

Tinyiko Maluleke het ’n tyd gelede, in ’n bloginskrywing met die treffende titel “Dying to be Men”, oor een aspek van hierdie probleem geskryf: die grootskaalse geweld tussen mans onderling. Mans word opgevoed – onder meer deur inisiasie-rites – om hul geslagsidentiteit aan geweld en gevaar te verbind: ’n ware man as iemand wat klappe kan uitdeel én vat, wat nie skroom om sy, of ander, se lewe in gevaar te stel om dié “manlikheid” te bewys nie.

Dis egter nie net mans wat geweld teen mans pleeg nie.

Nie te lank gelede nie kyk ek ’n aflewering van Desperate House Wives – een van daardie frustrerende episodes wat uit ’n terugblik op vorige episodes in die reeks bestaan. Een van die herhalende “temas”, merk ek toe, is die vrou-klap-man-scenario. Dit gebeur in ’n verskeidenheid van verhaalkontekste: man beledig vrou, vrou klap man; man en vrou kry stry, vrou klap man; man het skelmpie, vrou klap man, en so meer. In byna al die gevalle word dit komies uitgebeeld.

Dit het my laat besef hoe algemeen hierdie soort voorstelling in veral die Westerse kultuur is: soos die ou cliché in soveel grappe van die kwaai vroutjie wat haar man, ná ’n laatnag-kuier saam met sy pelle, koekroller in die hand by die voordeur inwag. Vergelyk dit met tonele of vertellings waarin ’n man ’n vrou klap. Sulke tonele word gewoonlik nie komies aangebied nie en dra meestal die boodskap dat die man ’n monster is.

Ek is grootgemaak om te glo (en glo steeds) dat, as ’n man net een keer aan sy vrou of vriendin slaan, of selfs net dreig om dit te doen, daardie vrou summier die verhouding behoort te beëindig. Ek onthou nog hoe geskok ek was toe die kinders (seuns én meisies) in my voorligtingklas in die landelike skool waar ek toe onderwyser was my vra of ’n man dan nooit sy vrou mag slaan nie, en my ongelowig aflag toe ek bevestig dat ek ernstig bedoel dat dit nóóit mag gebeur nie. Dit het my geskok, want in die morele diskoers wat ek met alle liberale middelklas-Suid-Afrikaners (en die vervaardigers van Desperate House Wives) deel, is man-op-vrou-geweld absoluut verbode. Maar wat van vrou-op-man-geweld?

Dink hieraan. Ons lag as ’n man sê: “My vrou slaan my morsdood as ek dit doen.” Maar ons voel kriewelrig as ’n vrou sê: “My man slaan my morsdood …” Geweld op vroue is ’n misdaad, geweld op mans ’n grap.

Ons bewonder ‘n “sterk vrou” wie se man “doodsbang is vir haar”, maar ‘n “sterk man” wat vrees by sy vrou inboesem, word (tereg) op sy beste van “emosionele mishandeling” verdink.

Dit manifesteer ook op die gebied van lyfstraf. Hoewel hierdie vorm van geweld op kinders nog in baie Suid-Afrikaanse huishoudings voorkom, en sowel sosiaal as wetlik geduld word, is dit op skole nou verbode. Ek onthou egter nog mý skooldae, toe seuns mog pak kry, maar meisies nie. Hoe lekker het die “manne” nie gespog met hul letsels nie …

Die denke agter die toleransie van vrou-op-man-geweld is dieselfde as dié wat Maluleke met man-op-man-geweld verbind: Manlikheid beteken – klaarblyklik selfs vir liberale middelklasmans en -vroue – “om ’n pak te kan vat”. Of dit nou jou pa (of ma!) of onderwyser is wat jou slaan, of ’n ander man met wie jy om ’n vroulike “prys” meeding, of ’n lid van die vyandige bende, of ’n speler in die ander rugbyspan, of die voorbokke in jou inisiasie of ontgroening, of jou opponent op die bokskryt, of ja, die vrou in jou lewe wat jou ’n taai klap gee – ’n “ware man” huil nie daaroor nie.

En vroue? Hulle is mos broos, swak en hulpeloos. Daarom is dit verkeerd om aan hulle te slaan. Dis soos geweld teen kinders, soos boelie. Hierdie soort motivering vir die verwerping van geweld teen vroue en kinders (let op hoe die twee kategorieë saamgedink word!) hoor ek alte dikwels agter die veldtogte van diegene wat hulle kwansuis vir vroueregte beywer.

Op ’n sekere vlak hang die morele oproep “Slaan nooit aan ’n vrou nie!” in die heersende diskoers dus saam met die implisiete reël “Slaan maar gerus aan ’n man”; en die veldtog teen die geweld wat uit patriargale waardes voortvloei, met die onderskrywing van daardie einste patriargale waardes. Huidige pogings om geweld teen vroue en kinders te beveg, is dus op ’n diep vlak self-ondermynend. Miskien sal ons eers uit hierdie dilemma ontsnap as ons ons teen geweld as sodanig, eerder as net teen geweld teen sekere seksies van die samelewing, rig. Iets soos 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Medemense. (En medediere?)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Onlangse gedig deur Barend J Toerien

November 24, 2009 in Sonder kategorie

Barend J. Toerien (1921-2009) se profiel, waarna ’n skakel tans op die LitNet-openingsblad pryk, het my herinner aan ’n getikte, ondertekende gedig wat hy kort voor sy dood uit “Rocky Ridge MD …, USA” vir my gestuur het. (Onderaan het hy geskryf: “Herr Gerrit Brand, Wie es Ihnen gefällt – Shakespeare. Mein Deutsch ist nicht so gut, maar doen met hierdie versie soos u wil.”)

Dit word hier die eerste keer gepubliseer. Geniet dit!

Die rooi kat met die geel strepe

lê lankuit op die gras, hou my oë

vas soos hy daar slaap met pote

lui gestrek en stert ’n nou-nou kwispel

kwytraak. Hy hou my in posisie

dat ek nie weggaan nie, maar aanbly,

hier anker. Goedvoel en stilte soos hierdie

sal hy voor sorg, dat ou Katie saliger

nie meer kan sing nie Oorie see, Oorie see

Met die blou steemerjie. Hy hou

die aarde in sy vier pote vas, maak dat

stakers, die oproeriges, die altyd ontevredenes

wegbly, die werkloses werk kry

en die huisloses in vreugde onderdaks

dek of gedek word met genoegsaam satisfaksie.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die Akkra-verklaring en die huidige globale ekonomiese bestel

November 19, 2009 in Sonder kategorie

In vandeesmaand se LitNet-essay skryf Malcolm Damon van die Economic Justice Network oor “Die Akkra-verklaring en die huidige globale ekonomiese bestel”. En ek stem saam met hom!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Praat Afrikaans, vra Nederlandstalige toeriste

November 19, 2009 in Sonder kategorie

Kyk net (hieronder) hierdie interessante brief van die Vlaamse Marnixring aan ons minister van toerisme. Dit irriteer my hoeka so as Afrikaanssprekendes Engels met Nederlandstaliges praat (en omgekeerd)!

Aan de heer Marthinus Van Schalkwyk

Minister voor Toerisme Suid-Afrika

Private Bag X447

Pretoria 0001

Geachte Heer Minister,

Marnixring Internationale Serviceclub vzw, met zetel in Vlaanderen (belgië) heeft tot

doel het verspreiden, verdedigen en promoten van de Nederlandse (en Afrikaanse) taal

en cultuur.

Marnixring Suikerbos te Johannesburg maakt deel uit van de reeks van 57 ringen die wij

rijk zijn.

Rees zeer vele jaren bezoeken vele Nederlandstalige toeristen uit Vlaanderen en Nederland uw land. Er is niet alleen de prachtige natuur die de toeristen aanspreekt, ook het taalvoordeel is voor velen een belangrijke factor, ze vinden het een absolute meerwaarde. Inderdaad het Afrikaans en het Nederlands zijn zeer nauw verwant met elkaar.

Het is dan ook met pijn in het hart dat we moeten vaststellen dat talrijke Suid-Afrikaanse gidsen onze landgenoten bijna automatisch in het Engels verwelkomen en begeleiden tijdens hun reizen in Suid-Afrika. Nochtans zijn de meeste gidsen ook Afrikaanssprekend.

Momenteel tracht Marnixring de actoren op het veld, met name de toeristische diensten, de

reisorganisatoren en touroperators in zowel Suid-Afrika, Nederland als in Vlaanderen ervan te overtuigen om het Afrikaans in de omgangstaal zoveel mogelijk te promoten en te gebruiken.

Het zou ons bijzonder verheugen mocht u, als verantwoordelijke voor toerisme in Suid-Afrika,

de beleidsmensen in uw land ertoe aanzetten onze actie te steunen. In het kader van de promotie van het toerisme in het algemeen en naar aanleiding van het komende wereld-kampioenschap voetbal in het bijzonder zal dit ongetwijfeld een bijkomende troef voor uw land betekenen.

Uiteraard zullen wij ook uw collega mevr. Gerda Verburg, minister voor toerisme in Nederland en de heer Geert Bourgeois, minister voor toerisme in Vlaanderen bij onze actie betrekken. Marnixring hoopt hiermee een belangrijke bijdrage te kunnen leveren voor het verdedigen en promoten van onze eigen taal.

Met vriendelijke groeten,

Filip De Vlieghere

Voorzitter Marnixring Internationale Serviceclub vzw

Tramstraat 59

B – 9052 Zwijnaarde

Vlaanderen – belgië

Cc: de heer Geert Bourgeois, Minister voor Toerisme, Arenbergstraat 7 te 1000 Brussel

Mevrouw  Gerda Verburg, Minister voor Toerisme, Postbus 20401, NL – 2500 EK Den  Haag – Nederland

Begeleidende brief aan de Minister Verburg en Bourgeois:

Geachte Heer/mevrouw Minister,

In bijlage zenden wij U een kopie van ons schrijven gericht aan de heer Van Schalkwyk,

Minister voor toerisme in Suid-Afrika.

Uiteraard is het ook onze wens dat u, als verantwoordelijke in dezelfde sector, de toeristische diensten waarvoor u mede verantwoordelijk bent, van deze problematiek op de hoogte brengt.

Marnixring Internationale Serviceclub vzw  zou het bovendien  op prijs stellen dat de drie ministeries tot onderlinge afspraken en overeenkomsten zouden kunnen komen. In die zin hopen we dat tijdens de komende ontmoeting tussen minster Van Schalkwyk en zijn collega minister Verburg in januari in Utrecht, tijdens de officiële opening van de Vakantiebeurs 2010,  eerste stappen in het gebruik van het Afrikaans bij bezoek van Nederlandstalige toeristen aan Suid-Afrika, aan de orde kan staan. Wij durven eveneens hopen dat de contacten tussen beide ministeries in het Afrikaans en het Nederlands verlopen.

Ook wij zullen trachten met alle mogelijke middelen de toeristische diensten, reisagenten, reisbureaus, kortom de volledige toeristische industrie, in te lichten en aan te sporen het

Afrikaans als omgangstaal zoveel mogelijk te gebruiken. Het gaat hier bovendien ook om tewerkstelling.

Met vriendelijke groeten,

Koen Pauli,

bestuurder.

Marnixring Internationale Serviceclub vzw

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Is geloof toneelspel?

November 19, 2009 in Sonder kategorie

(Die jongste aflewering van my “Geeste”-rubriek in die Kerkbode het onlangs verskyn. Lees dit hier.)

“Is teologie poësie?” vra CS Lewis ’n keer in ’n lesing met dié titel, of is dit meer soos wetenskap? En natuurlik is sy antwoord dat daar in albei vergelykings iets steek, maar dat teologie – mense se woorde oor God – uiteindelik tog iets heel eiesoortigs is.

GK Chesterton gebruik ’n ander vergelyking: In sy biografie St Francis of Assisi skryf hy Fransiskus se geloof was “nie soos ’n teorie nie, maar soos ’n liefdesverhouding” (iets wat Vincent Brümmer in die opdrag van sy boek What are we Doing when we Pray? ook op die geloof van die NG kerkvaders John Murray, Nicolaas Hofmeyr en Andrew Murray van toepassing maak).

Self wonder ek al geruime tyd of geloof nie met toneelspel vergelyk kan word nie.

Shakespeare verklaar mos (in As you Like it): “All the world’s a stage, / And all the men and women merely players: / They have their exits and their entrances; / And one man in his time plays many parts …” S? sit die wêreld in mekaar: soos ’n verhoog waarop die “drama” van ons lewe hom afspeel. Ons alledaagse taalgebruik weerspieël dit. Ons praat van die “rol” wat iemand speel, hoe mense “optree”, die “agtergrond” waarteen hulle dit doen.

Is geloof dalk om toneel te speel, om te “leef asof”? Asof God “die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde” is; asof Jesus die “Christus”, God se “eniggebore Seun, ons Here” is; asof Hy “opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God …”; kortom: asof die dinge wat Christene bely waar is?

Dis dalk te veel gesê, want mense wat hierdie dinge bely, leef nie altyd asof hulle dit regtig glo nie. Watter gelowige leef regtig deurgaans “asof”? Die gevaar, wanneer geloof as “optrede” voorgestel word, is dat dit tot ’n prestasie verwring word – ’n manier om God se goedkeuring te wen. Soos in ’n oudisie …

Nederiger sou ’n mens dalk kan sê: geloof is om te probéér “leef asof”. Om te oefen (en dalk al hoe beter te word?) daarmee. Volgens ’n populêre definisie is ’n dissipel iemand wat leer hoe om in God se koninkryk te leef. Om die verbeelding vir hierdie soort oefening op te skerp het Jesus telkens sy gelykenisse ingelei met die woorde: “Die koninkryk van God is soos …” Asof Hy sy hoorders wil aanspoor om te vra: Hoe sou ’n mens in dáárdie soort wêreld optree? Wat sou ’n mens se rol wees?

Hoeveel gelowiges kan egter eerlik sê dat hulle, ook wanneer hulle dit nie regkry om te “leef asof” nie, ten minste probeer? Nee wat, as dit is wat geloof beteken, bestaan daar nie iets soos gelowiges nie.

Miskien is geloof dan nie om te “leef asof” nie, en ook nie om te probéér “leef asof” nie, maar eerder om jou daartoe genoop, geroepe, te voel om te probeer. Maar hoe kom dit?

Die teoloog Hans Urs von Baltasar praat van die heilsgebeure waarvan die Bybel getuig as ’n “Teodrama” – die verhaal van God se verskyning op die verhoog van die geskiedenis. Nie dat God nie al die tyd al as dramaturg, vervaardiger en regisseur betrokke was nie; “teater van sy glorie,” het Calvyn die skepping genoem. Die punt is dat nie ons nie, maar God, die inisiatief in hierdie drama neem.

’n Mens gaan kyk toneelstukke óf om aan die werklikheid te ontsnap, óf om nuwe perspektief op die werklikheid te kry. Maar gestel jy sou tot die oortuiging, of selfs net die vermoede, kom dat die toneelstuk waarna jy kyk, waardeur jy meegesleur en betrek word, die eintlike werklikheid is?

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

These Gauls are crazy

November 16, 2009 in Sonder kategorie

Toe ek Vrydagaand die uitvoering van die Suid-Afrikaanse en Franse volkslied voor die rugbytoets sien, was dit vir my duidelik dat dit doelbewus so deur die Franse beplan is: Kry ’n ou wat nie kan sing nie, en selfs nie die woorde ken nie, om die SA volkslied lagwekkend uit te voer. Volg dit dan op met die Franse volkslied soos opruiend gesing deur ’n dawerende topklas-tenoor. Daarna kom dan ’n gewyde oomblik van stilte – ek weet nou nog nie vir wie dit was nie – en dan die hoogtepunt: ’n Hane-span wat so aangevuur is dat selfs nie die beste span in die wêreld hulle kan wen nie. (Of die Franse ook agter die keuse van Schalk Burger in die Springbokspan gesit het, kan ek nie met sekerheid sê nie, maar dit was wel tot hul voordeel.)

Wat my nou opval van Suid-Afrikaners is dat hulle die SA ambassade in Frankryk verantwoordelik hou. Tipies van ons nasie: die fout moet iewers by ons lê. Die ambassade het maar net ’n lys van SA sangers in Frankryk beskikbaar gestel. Daaruit is die sanger gekies. Die keuse is ?f sonder, ?f (vir my meer waarskynlik) op grond van, ’n oudisie gedoen, en geoefen is daar kennelik nie. Dit was ’n berekende poging om SA te verneder en Frankryk op te hemel. So eenvoudig is dit myns insiens.

Nog iets wat my van my landgenote se reaksie tref, is hul geaffronteerdheid: so asof die een of ander vorm van heiligskennis gepleeg is. Maar die volkslied is tog net so min heilig soos die vlag of die staat, is dit nie? As mense wil kwaad wees, laat dit dan wees omdat ’n mooi lied lelik gesing is, of omdat die Franse so ooglopend hul mag as gasheer misbruik het vir ’n nasionalistiese skouspel ten koste van hul gaste.

Maar dis net as mense nou regtig kwaad moet wees. Eintlik was die hele petalje vir my nogal vrek snaaks.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Dalende sterftesyfer in SA

November 16, 2009 in Sonder kategorie

‘n Joernalis en mediakenner wys in sy blog, Low Opinions, daarop dat, sover hy kan agterkom, die sterftesyfer in Suid-Afrika afgeneem het – ten spyte van sterk bevolkingsgroei. Hy wonder dan hoekom ons media dit tot dusver nie opgetel, en verder ondersoek, het nie, en suggereer ‘n moontlike verklaring: aannames. Klik hier om dit te lees. (Belangeverklaring: genoemde blogger is my broer.)

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Onvermydelike slagoffers

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Seker die ergste ding wat nog vanjaar deur ’n openbare figuur kwytgeraak is, is die adjunkminister van polisie, Fikile Mbalula, se reaksie op die tragiese gebeure van ’n driejarige kind wat per ongeluk deur ’n polisielid doodgeskied is. Mbalula sou glo gesê het dat, in gevegte tussen polisie en misdadigers, dit “onvermydelik is dat daar onskuldige slagoffers sal wees”. Hy het dan ook die nuwe mode-uitspraak herhaal: Die polisie moet aanhou “skiet om dood te skiet”.

Die geval van die driejarige is besonder skreiend, maar dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Onlangs het polisielede, onder die indruk dat hulle op kapers losbrand, met sukses onskuldige insittendes van ’n motor wat toevallig in die omtrek was, “geskiet om dood te skiet”. Nou weet ek nie of gevalle soos dié regstreeks na die Cowboy-praatjies van ons leiers op die gebied van “sekuriteit” teruggevoer kan word nie, maar ek weet wel dat gebeure soos dié ons behoort te herinner aan wat op die spel is wanneer ons polisiemanne en -vroue tot skietlustigheid aangepor word.

Daar is goeie redes hoekom die polisie nie toegelaat behoort te word om na goeddunke te skiet nie. Die beperkings wat op hierdie gebied geld, bestaan nie in die eerste plek om gevaarlike misdadigers te beskerm (soos dikwels geruggereer word) nie, maar om ons almal te beskerm – om mense soos daardie driejarige kind te beskerm. Is dit minder erg as ’n kind in kruisvuur tussen polisielede en bendelede sterf as tussen verskillende bendelede onderling?

Mbalula se uitspraak het my herinner aan die antwoord van ’n vakbondleier, ’n tyd gelede, op ’n vraag deur ’n radio-omroeper oor mense wat gedurende chaotiese protesaksie deur die betrokke vakbond dood is. Die vakbondman het gesê alle stakings het “casualties”, en dat mense dus nie verbaas moet wees as dit ook hier die geval is nie. Volgens die vakbondwoordvoerder moet die vergewer, wat nie aan die vakbond se billike eise wou toegee nie, eerder geblameer word. Dat stakings “casualties” het, is natuurlik waar – dit kos werkgewers én werknemers geld, verontrief die publiek, kan ’n land se beeld skaad en so meer – maar om sterftes weens geweld deur vakbondlede op diesefde vlak te plaas skrei ten hemele.

Onvermydelik moet ek dan dink aan Jimmy Kruger, destyds minister van justisie (ja, justisie …) se reaksie op die dood van Steve Biko in aanhouding: “Dit laat my koud.” En aan die feit dat die laaste tyd heelparty verdagtes weer in aanhouding sterf – in die “nuwe” Suid-Afrika. Dit, en die amptelike skietlus van ons regering, verbind ek dan ook aan die plan om weer die ou militêre range in die polisiediens terug te bring. Dis alles tekens van ’n onheilspellende mentaliteit wat besig is om pos te vat.

Die ergste van alles is dat ’n mens nie juis stemme van protes hoor nie. Inteendeel, dit lyk asof mense hou van wat hulle hoor – ja, selfs dat sulke dinge ter wille van populistiese steun gesê en gedoen word. Hulle sê mos in ’n demokrasie kry die burgers die regering wat hulle verdien. Ek sou eerder sê “die regering waarvoor hulle vra”, want geen mens, hoe sleg ook al, kan so ’n boefagtige owerheid “verdien” nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Joan, Danie en Jaap reageer op Willie oor Jerusalem en Athene

November 9, 2009 in Sonder kategorie

Op die jongste LitNet-mini-seminaar reageer Joan Hambidge en Danie Veldsman op Willie van der Merwe se onlangse LitNet-essay, “Tussen Jerusalem en Athene”. Jaap Durand se reaksie word ook eersdaags geplaas – hou daarvoor die Seminaarkamer dop. Die gesprek oor hierdie tema kan op hierdie blog voortgesit word.

Jaap Durand se reaksie is intussen ook geplaas.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.