Onmag as magstrategie

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

Die filosoof Marinus Schoeman skryf vandeesmaand se essay oor “Onmag as magstrategie – enkele opmerkings oor die retoriek van slagofferskap“.

Toe hy hierdie stuk as ‘n voordrag by ‘n filosofiekongres in Stellenbosch gelewer het, was van die reaksies nogal skerp. ‘n Mens het die gevoel gekry dat, vir van die toehoorders, Schoeman hiermee ‘n baie heilige koei slag. Interessant genoeg het Schoeman baie van die kritiek as geldig erken – waaruit nie volg dat sy essay daarmee minder geldig word nie; dis dalk eerder ‘n kwessie van verskillende geldige perspektiewe wat mekaar in toom moet hou.

Hoe dit ook al sy, vir my is dit ‘n baie belangrike en tydige essay, wat tog ‘n sekere soort diskoers in ons samelewing ontbloot wat lankal ontbloot moes gewees het. Dat hierdie ontbloting self gevare inhou, en dat daardie gevare uitgewys en bepraat moet word, is nie altemit nie, maar dis juis die kenmerk van goeie filosofie: dat dit dialekties, in gesprek, die grootste waarde en betekenis kry.

So, gaan lees dit, en kom lewer dan hier kommentaar, dat die gesprek kan begin!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Onmag as magstrategie

  1. Goeie dinkkos. Sjoe. Dankie Gerrit. En geluk Marinus. Dit laat my ewe dink aan ‘ingebloede armmoede.’ As mens dit as ‘n gegewe aanvaar blyk die antwoord vir my in die rigting te wees ‘van hoe kry jy die armmoed/magteloosheid uit die mens.’ En dit meen ek hou verband met ‘n gebrekkige wyse van ‘eie’ denke.

  2. helenevt het gesê op Oktober 29, 2009

    Relevante argument!
    Ek lees tans Ricoeur, en hy gebruik êrens Tzvetan Todorov (Les Abus de la mémoire, 1995) se argument aangaande die slagoffer konsep: “To have been a victim gives you the right to complain, to protest, and to make demands” Ricoeur sê dan, “this position engenders an exorbitant privilege, which places everyone else in the position of owing a debt.” Ek dink hierdie is egter ‘n taamlik bekende manier van dink en ons sien dit om ons.
    Ricoeur gebruik dit egter in ‘n verdere argument oor geregtigheid waar hy beweer dat “among all the virtues, the virtue of justice is the one that, par excellence and by its very constitution, is turned toward others.” Hy waarsku dan teen die neiging om sigself ‘n slagoffer te verklaar, en sê dat “the victim at issue here is the other victim, other than ourselves.”
    Ek vind dit nogal interessant, alhoewel dit nie ‘n probleem-vrye siening oor slagoffers is nie.

  3. Met ander woorde, om tot slagoffer gemaak te word, is ook in daardie opsig ontmenslikend dat dit die slagoffer selfgesentreerd, selfgeregtig, veroordelend en veeleisend kan maak. CS Lewis skryf, in sy ‘Reflections on the Psalms’ oor die “cursing Psalms” dat ons daaruit moet leer, nie hoe om te “curse” nie (juis nie!), maar eerder hoe ‘n mens word wat te na gekom, verontreg, is: Hy of sy word iemand wat “curse”. Dit is hoe dit is, skryf Lewis, “to be a Jew in Hitler’s Germany, or an African in Malan’s Africa”…

    Uit nog ‘n hoek sluit Lewis by jou aan: Hy argumenteer elders teen die gedagte dat Britte hul historiese skuld moet bely. Die rede wat hy aanvoer, is nie dat daar nie skuld is om te bely nie, maar dat diegene wat die gretigste is om dit te bely nie diegene is wat die kwaad gedoen het nie. Hul “belydenis” van skuld is eintlik ‘n subtiele manier om die voorgeslag aan te kla, te blameer. Hier het ons weliswaar nie met slagoffers te doen nie (behalwe miskien slagoffers van ‘n erfenis?), maar wel met daardie geneigdheid waarna jy verwys om nie te fokus op die reg wat ek ander skuld nie, maar op die onreg wat deur ander gepleeg is – versteek as “skuldbelydenis”!

  4. Dis eintlik nogal kompleks, dink ek. Selfrelativering is dikwels moeiliker vir mense wat, veral in hul kinderjare, baie gely het. ‘n Mens kan ‘n soort oorlewingsingesteldheid aanleer (“look out for number one”) wat dit moeilik maak om die balk in die eie oog raak te sien. Ek lees Schoeman se essay nie as ‘n aanklag nie (dit sou selfondermynend wees), maar as ‘n analise wat krities na alle kante toe slaan.

  5. louisna het gesê op Oktober 30, 2009

    Goeie stuk gerrit. Marinus Schoeman het vir my klas gegee.

  6. Vir my ook …

  7. louisna het gesê op Oktober 30, 2009

    Hy’s baie skerp in die fenemenologie.

  8. Daarmee stem ek saam, soos wat jy dit lees.

  9. Ek wonder wat Marinus daarvan sal dink as hierdie ontleding van toepassing gemaak sou word op die post-ABO slagoffer-mentaliteit van die Afrikaner. En wat Gerrit sal dink as dit van toepassing gemaak word op die slagoffer-mentaliteit van Stellenbosch se taalbulle.

  10. Ek kan nie vir Marinus praat nie, maar wat myself betref, het ek juis in die eerste plek Afrikaners, sowel van die verlede as van die hede, in gedagte gehad by die lees van Marinus se ontleding. In enige “saak” waarvoor ‘n mens jou beywer, is dit ontsettend belangrik om nie in die slaggat van resentiment te trap nie, dit nie uit die oogpunt van ‘n gevoel van jou eie verontregting te doen nie. Daar is min dinge wat my so afsit soos Afrikaners of wittes wat hulself as slagoffers sien en dan die huidige politieke bedeling van daaruit ontleed.En dan, in ‘n tweede stap, kan ‘n mens ook nie help om op te merk hoe baie van die Afrikaner se slagofferdiskoers heelhuids deur ander ook oorgeneem is nie. Daar is inderdaad sterk konkurrensie oor wie die morele hoge grond van slagofferskap mag volstaan!

  11. Ja die morele hoë grond is in so ‘n siening net nog ‘n terrein waarop die kontestasie vir mag uitspeel.

    En tot die mate waartoe dit die primêre terrein word,iets wat in ‘n demokrasie nogal maklik gebeur, ontstaan ‘n soort politiek van ressentiment waaruit mens jou nie maklik loswikkel as jy aan die politieke spel gaan deelneem nie.

    En die groot grap, as jy nou regtig wil sinies wees, is hoe ernstig almal hulleself in die spel neem. En soos Marinus sal weet, synde ‘n kenner van Gadamer, kan spel dodelik wees. Hoe ernstiger, hoe dodeliker, wil mens amper sê.

    Op die oog af lyk Marinus se betoog na ‘n reduksie van die morele na ‘n soort magstrategie, en dit kan nogal onthutsend wees.

    Maar uiteindelik dink ek hy het iets anders in die oog, naamlik ‘n herstel van goeie ou moraliteit.

    Die noue verband wat hy vaslê tussen die aanspraak van ‘n “ander” op slagoffer-status hoofsaaklik op grond van psigiese geweld, situeer sy betoog as ‘n aanklag teen die menseregte-diskoers.

    Hierteenoor suggereer hy ‘n herstel van die morele prioriteit van die “self” en dié se “goeie bedoelinge”. In samehang met ‘n siening van universele lyding word die onus na die “ander” verplaas om wesenlike materiele skade te bewys.

    Die probleem met hierdie benadering is egter dat, insoverre dit op goeie bedoelinge staatmaak, dit mank gaan aan dieselfde subjektivisme wat hy kritiseer in die “ander” se politieke aanspraak op slagoffer-status.

    Maar die regte-diskoers gaan die moraliteitsdiskoers telkens troef, omdat dit ten minste ‘n objektiewe maatstaf kan aanlê. En daardie maatstaf is die “onmag” van die slagoffer en die gepaardgaande “oormag” van die dader.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.