Suid-Afrika tussen Wissenschaft, science en scientia

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

Die Anglo-Amerikaanse kultuur is besig, of het byna al daarin geslaag, om ’n oënskynlik onbenullige konseptuele oorwinning oor dié van die Europese vasteland te behaal – ’n oorwinning wat, nes die Koue Oorlog van vroeër, ook gevolge vir die Derde Wêreld, en spesifiek Suid-Afrika, inhou. Meer nog, die Afrikaanse taal is een van die slagvelde …

 

Klik op die skakel hierbo vir my jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika, en dan hieronder op “Lewer kommentaar” om te reageer.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

15 antwoorde op Suid-Afrika tussen Wissenschaft, science en scientia

  1. charlpn het gesê op Oktober 21, 2009

    Hierdie is ‘n uitstekende artikel, gerrit. Dankie. Charl-Pierre Naude

  2. Stem bepaald saam met jou hoofpunt. Maar ek betreur dit tog dat, wanneer studente wel in die humaniora navorsing aanpak, hulle dikwels swak leiding kry van studieleiers wat nie verantwoordelik omgaan met metodiek nie. Dis hartseer as ‘n eksaminator ‘n student moet teregwys oor iets wat die studieleier moes geweet het. Nou ja, ek het die US onlangs erg gekritiseer, maar daar is steeds baie goeie projekte aan die gang, insluitend ‘n lofwaardige plan, dink ek, om voornemende doktorale studente in navorsingsbeginsels op te lei. Kan net goed wees.

  3. Absoluut! My pleidooi vir ‘n “oper” wetenskapsbegrip is beslis nie ‘n pleidooi vir metodologiese laksheid nie. Elke (sub)dissipline moet deurlopend sy metodologie deurdink, verfyn en toepas. In enige wetenskap (empiries of nie) moet daar tog sistematiek wees, logika, argumentasie, intersubjektiwiteit en so meer, en dis in die metodologie waar dit tot uiting moet kom. Kortom, dus: Ja!

  4. Nee, ek het jou ook nie so verstaan nie. Ons is dit hartroerend eens oor hierdie saak.
    Maar laksheid sluip wel in, en dis erg as ‘n student moet boet vir ‘n studieleier se gebrek aan behoorlike leiding. Wat ek al gesien gebeur het.

  5. Is dat dan bloot ironie dat ons hier in Suid-Afrika (naas die oorspronklike tale) amper uitsluitlik in Engels toegang tot die tekste van die Europese tradisie het, en nie in Afrikaans nie.

  6. Ek is nie seker hoe ek jou vraag moet verstaan nie. Dis waar dat ons in SA meestal via Engels toegang tot tekste uit die Europese vasteland het – in die vorm van vertalings. Dis wel ‘n verarming dat al hoe minder studente en akademici, naas hul moedertaal, slegs Engels kan of wil lees, want baie wonderlike tekste is eenvoudig nog nie in Engels vertaal nie. Aan die ander kant sou dit gehelp het as ons in SA dan ten minste die Engelse vertalings van die kontinentale literatuur gelees het, maar my indruk is dat dit ook al hoe minder gebeur – dat toenemend net die literatuur uit die Engelstalige wereld gelees word. Daarin sit dalk ‘n stuk ironie: dat Afrikaanse studente en akademici meer kontinentale literatuur gelees het toe hulle dit nog in die oorspronklike tale moes lees as wat hull tans lees wanneer hulle dit baie meer as voorheen in Engels kan kry. En dan praat ek nog nie van die groeiende onvermoe om in die eie moedertaal ‘n akademiese gesprek te kan voer nie. Uiteindelik is dit dan dalk meer ‘n tragedie as ‘n ironie?

  7. My vraag gaan daaroor of hierdie treurige toedrag van sake toegeskryf kan word aan die hegemonie van Engels. Kortom, ek dink nie dat die taalkwessie of die kultuurkwessie veel baat by die koppeling wat jy aan die hand doen nie.

    Die Anglo-Amerikaanse tradisie waaraan jy die tendens toedig het betekenisvolle stuwing vanuit kontinentale Europa gevind — die Wienerkreis, Poolse skool, Auguste Compte, ens ens.

    Terselfdertyd is die kontinentale tradisie lewendig in baie Amerikaanse universiteite, weliswaaw meer in die tale “humanities” teologie, ens, maar nogtans. Ek is nie bewus dat hulle bestaansreg as volwaardige universitêre fakulteite en departemente voor enige krisis staan nie.

  8. Tog het die woord “Wissenschaft”, “wetenschap” en so meer tot relatief onlangs nog na al die vakdissiplines verwys, toe die woord “science” al lankal veel enger gebruik is. Ek wil nie suggereer dat die bestaansreg van fakulteite waar die “humanities” bestudeer en gedoseer word in die Engelstalige wereld in gevaar is nie, maar ek meen wel die status van hierdie fakulteite is in die breer kultuur aan die afneem. As hier by ons oor die bevordering van “maths and science” of “science and technology” gepraat word, is dit net die natuurwetenskappe wat in die oog is. So is dit toenemend wereldwyd: die enigste vakrigtings wat regtig “belangrik” is vir die breer samelewing is die “sciences”. Daar is ‘n terugkeur na ‘n soort scientisme ten spyte van die feit dat hierdie 19de-eeuse beskouing logies en konseptueel baie swak papiere het. Die bevraagtekening van 19de-eeuse scientisme was egter altyd sterker in die vasteland van Europa as in die Engelstalige wereld, en dit verklaar die verskillende woordgebruik. Daardie verskil is egter aan die verdwyn, en dit ten gunste van die verkeerde span! Ja, almal in die VSA wat “humanities” bestudeer is deesdae radikaal postmodern, maar oorwegend op ‘n manier wat eintlik uitgaan van die strak onderskeid tussen hul vakgebiede en die “sciences”, asook die epistemologiese superioriteit van laasgenoemde. (Natuurlik is daar uitsonderings – ek praat van bree tendense.)

  9. Die “geesteswetenskappe” kon dalk nog tot onlangs in semantiese spasie ‘n wissenschaftliche gelykheid met die “natuurwetenskappe” opeis, maar die fondament van die onderskeid en latere skeiding tussen die twee is reeds na aanleiding van die prestasies van die opkomende natuurwetenskappe deur onder andere Bacon, Galileo en Descartes gelê.

    Die konseptuele oorwinning waarvan jy praat is wat my betref ‘n uitvloeisel van die skema van ontologiese prioritisering waarna ek in die pos oor Sakkie Spangenberg verwys het. Die prioritisering van die empiriese oor die metafisiese is wel deeglik in Europa voltrek, al word dit nie in soveel woorde weerspieel in die semantiese ruimte waarbinne Europese intellektuele kultuur funksioneer nie.

    Soos ek probeer aandui het, is die skema van ontologiese prioritisering nie ‘n funksie van enige taal as sodanig nie, maar van die metafisiese self, en dus, sou jy kan sê, van die tekortkominge van enige en elke taal in verhouding daarvan tot die metafisiese.

    Dus, of mens soos in Europa maar bly vaskleef aan die moontlikheid van ‘n oorkoepelende wissenschaft, en of jy soos die Anegelsaksiese wêreld die onderskeid as ‘n strakke skeiding hanteer, daar is meriete en teenmeriete in elke benadering te vinde en geen defintiewe superioriteit in enigeen alleen nie.

    Die probleme van die derde wereld in verhouding tot die eerste wêreld is nie te wyte, soos jy in jou artikel suggereer, aan ‘n soort gebrekkige begrip wetenskap wat hulle via Engels inkry nie, maar is inteendeel m.i. te wyte aan ‘n onvoldoende her-prioritisering van die empiriese hetsy oor of naas die metafisiese. Sowel die Europese as die Angelsaksiese tradisies laat heelwat ruimte vir die voortgesette prioritisering van die metafisiese. Die omkering van die ontologiese prioritisering van die metafisiese gaan die eksistensiële prioritisering van die materiële bo die spirituele vereis, en dit gaan in hierdie land tot ‘n groot mate op verengelsing neerkom.

  10. My punt oor die implikasies vir Afrika is eintlik dit: ‘n Epistemologie wat minder strak tussen die verskillende soorte wetenskap onderskei, wat ook die ooreenkomste en verbande raaksien, is meer bevorderlik vir die ernstig neem van “inheemse kennis”, as wat ‘n epistemologie is wat alte simplisties tussen “harde” en “sagte” wetenskapppe, of tussen “science” en “studies”, onderskei. Ek gaan daarvan uit dat kennistradisies buite die hoofstroom Westerse denke waardevolle kennis en insigte tot die mensdom se kennisskat kan bydrae, maar daarvoor moet dit ontgin word. ‘n Taal- en denkwereld waarin die begrip wetenskap meer denkstyle as een toelaat is oper vir so ‘n projek.

  11. Jy skryf: “Dus, of mens soos in Europa maar bly vaskleef aan die moontlikheid van ‘n oorkoepelende wissenschaft, en of jy soos die Anegelsaksiese wêreld die onderskeid as ‘n strakke skeiding hanteer, daar is meriete en teenmeriete in elke benadering te vinde en geen defintiewe superioriteit in enigeen alleen nie.”

    Daaroor sou ons nog lank kan redeneer, maar as ek vir die oomblik jou stelling aanvaar, dan kan ‘n mens selfs van daaruit betoog dat die verskil in woordgebruik ‘n gesonde saak is, omdat dit twee perspektiewe lewend hou, en dat die verdringing van die een soort woordgebruik deur die ander tot gevolg kan he dat ‘n belangrike perspektief verdring word en ‘n eensydige epistemologie, waaraan slegs die skeiding tussen natuur- en geesteswetenskappe goed raakgesien word, ontstaan.

    Oor jou laaste sin is ek nie seker hoe jy dit bedoel nie. As jy bedoel dat ‘n meer empiriese ingesteldheid, wat ook meer prakties gerig is en na meetbaarhede kyk, noodwendig die oorheersing van Engels moet bevorder, verskil ek daarmee. Ek dink daar kan op empiriese gronde ‘n sterk saak uitgemaak word vir die voordele wat meertaligheid, sowel vir individue as vir samelewings, inhou. Empiriese navorsing op onderwysgebied wys byvoorbeeld op ‘n sterk verband tussen moedertaalonderwys en suksesvolle leer, en selfs op ‘n verband tussen moedertaalonderwys en die vermoe om addisionele tale aan te leer. ‘n Ekonoom soos die Switser Francois Grin argumenteer op ekonomiese, fiskale gronde vir die beter bekostigbaarheid en ander ekonomiese voordele van meertalige beleide. En uit die politieke wetenskap kan ‘n saak uitgemaak word vir die standpunt dat erkenning van diversiteit, ook op taalgebied, tot stabieler samelewings lei. Wanneer meer metafisiese waarde-oorwegings, soos geregtigheid, bygebring word, bevestig dit bloot verder hierdie posisie. Meertaligheid bly dus die redeliker opsie, ongeag of dit meer empiries of meer metafisies bekyk word!

    Als wat ek hier oor ‘n empiriese blik se, moet natuurlik gerelativeer word met die insig dat empiriese bevindings oor die onderwys, ekonomie of politiek slegs implikasies vir beleid kan he vir sover dit aan meer metafisiese oorwegings gekoppel word. Dat meertaligheid tot suksesvoller leer, ‘n sterker ekonomie en ‘n stabieler samelewing kan bydrae, is ‘n feit wat empiries nagegaan kan word. Dat kinders suksesvol moet leer, dat ekonomiee sterk moet wees en samelewings stabiel is egter ‘n etiese beslissing. Soos CS Lewis sit stel: “This will preserve society” lei net tot die logiese gevolgtrekking “Do this” via die etiese aanname “Society ought to be preserved”.

  12. Dis ‘n interessante verwagting gegewe dat Afrika-intellektuele juis probeer aantoon dat Afrika-kennis gelyk is met Westerse wetenskap op die Weste se eie terme.

    Ek verskil egter nie van jou nie. Dink net nie dit gaan veel help om die een teen die ander af te speel nie. Diegene wat Afrika-kennis wil ontgin kan hulle byvoorbaat posisioneer binne die beskikbare oper dink- en taalwêrelde en aangaan met die taak. Indien dit dwingende resultate oplewer sal die epistemologiese stryde hulself uitsorteer. En indien daar geen substansie aan die hoë verwagtinge wat jy koester blyk te wees nie, sal al die epistemologiese ruimte in die wêreld geen snars daaraan verander nie.

  13. Die twee perspektiewe weerspieel elk ‘n strategie wat probeer om die metafisiese te handhaaf in ons era van prioritisering van die empiriese. Geen een verdring die ander nie.

    Ons leef in ‘n society wat wil transformeer. ‘Nuf said.

  14. DRSyn het gesê op Oktober 26, 2009

    Ek stem saam.

    Dit maak my ook naar in hoeveel geesteswetenskappe, veral aan Afrikaanse universiteite, dat daar die indruk gewek word dat ‘n M nie ‘n M is nie, en ‘n D nie ‘n D nie, as daar nie iewers syfers in staan nie – statistiek van ‘n aard, wat nog die studieleier nog die student na behore verstaan.

    Dit is maar ‘n onderdeel van die groter probleem wat Gerrit skets: dat wetenskap net meetkunde is; verstaanskunde is dus nie wetenskap nie.

    Asof hierdie drogbeeld nie self ook maar net ‘n denkbeeld is nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.