Tussen Jerusalem en Athene

Oktober 13, 2009 in Sonder kategorie

Een van Suid-Afrika se voorste filosowe, Willie van der Merwe, het onlangs professor geword aan die Vrije Universiteit Amsterdam – so tussen die teologie en filosofie. In sy intreerede, “Tussen Jerusalem en Athene”, besin hy oor hierdie sonderlinge tussenposisie in die konteks van ‘n Westerse kultuur waarin godsdiens op allerlei teenstrydige maniere aan die terugkeer is. Ek dink hy doen dit uitstekend, veral omdat hy in die proses ook moeilike vrae aan die orde stel oor wat dit nou eintlik beteken om ‘n “suiwer” teoloog of filosoof te wees, of om gelowig te wees. In die denke en die geloof kan tussenposisies eintlik nie vermy word nie, lyk hy te redeneer, en ek reken hy het gelyk. Gaan lees gerus, en kom gesels dan saam daaroor.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected]  om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

8 antwoorde op Tussen Jerusalem en Athene

  1. Ek het dit gelees en dit het baie vrae by myself wakker gemaak. Miskien stuur ek die vrae vir jou, veral nadat ek Willie se boek, God en die gode van Egipte gelees het. Ek is nie verwar nie, maar wonder waarom hierdie goed nie eerder aan ons vertel is nie.

  2. Net die twee Willies onderskei: Die intreerede wat nou as essay hier op LitNet gelees kan word, is deur Willie van der Merwe. Die boek waarna jy verwys, is deur Willie Esterhuyse. Behalwe hul voornaam deel hulle ‘n voormalige verbintenis met Maties se filosofiedepartement. En Willie vdM was ‘n student van Willie E.

    Ja, gooi die vrae! Dis belangrik dat oor hierdie goed gesels word.

  3. Ek het Willie van der Merwe se intreerede op LitNet gelees. Jammer, dit is waarna ek in die eerste sin verwys het. En toe in dieselfde asem na Willie Esterhyuse se boek verwys.
    Ek lees dit (Willie se boek) natuurlik snytjie vir snytjie soos ‘n mens biltong eet, sodat ek dit kan geniet en daaroor kan nadink. Miskien klink dit aanmatigend, maar dit is dinge waaroor ek al lankal dink en herdink en lees. En vrae vra, veral aan myself. En verwyt dat ek in die verlede die vrae nie in die openbaar gevra het nie en sterker standpunt ingeneem het nie.
    Sterkte vir die dag.

  4. Ek is ook beindruk met Willie Esterhuyse se boek. Ek het dit toevallig ook geresenseer (lees dit by http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2009/03/30/SK/11/BBgbrandGodGode.html). Maar ek is net so beindruk met sy naamgenoot se intreerede, wat ‘n mens sommer nuuskierig maak oor wat Van der Merwe se navorsing en skryfwerk in die toekoms gaan oplewer.

  5. gcv het gesê op Oktober 15, 2009

    Ongelukkig die volgende op die website: “0 Content is no longer available”.

    Jy sal maar die samevatting vir ons moet gee..

  6. Ek, en kennelik Kobus Victor (kyk hieronder) ook, kom wel by die lesing uit. Probeer weer die skakel in my inskrywing hierbo. So nie, gaan na LitNet se openingsblad (www.litnet.co.za) en klik op die skakel daar. Ek hoor graag wat jy dink!

  7. Ek kon dit lees. Weet nie wat verkeerd is met Neef se opstelling nie.

    My reaksie is: “Much ado about nothing”. Die koppeling van die teologie aan die christelike geloof, met die uitsluiting van, en sonder ondersoek na, ander stelsels is ongeregverdig.

    Die stelling dat die teologie begin waar die filosofie ophou is arrogant – dit tref my as ‘n poging om die waarsêery van die christelike teologie na iets te laat lyk, waar dit eintlik maar “‘n gehoorsame aanvaarding van die gesaghebbende getuienisse van die Skrif” is.

    Dis presies hierdie soort aanvaarding wat gelei het na die Spaanse Inkwisisie – daardie heerlike deel van die christelike teologie – moet tog net nie bloed vergiet nie, broers, dis lelik. -Verwurg, versuip en ruk uit lit uit – dis wat ons hier doen. Goeie christen mense.

    Nee wat. Die ou sou beter daaraan toe wees as hy sy leerstoel heeltemal in die filosofiese departement probeer inskuif.

    Of as hy ‘n bietjie na ander stelsels sou kyk.

  8. Besembos het gesê op Oktober 16, 2009

    Dankie dat jy ons aandag op hierdie intreerede van Willie vd Merwe gevestig het. Dis briljant en ek hoop sy verblyf in Amsterdam gaan vrugbaar en gelukkig wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.