Nogmaals regstellende aksie

Oktober 12, 2009 in Sonder kategorie

Kom ons praat verder oor regstellende aksie (RA).

Op sy Versindaba-blog reageer Charl-Pierre Naudé op sowel Neville Alexander se Roots-lesing waarna ek in my vorige inskrywing verwys het, as op my aansluiting, ook in my vorige inskrywing, op Alexander se kommentaar oor regstellende aksie in daardie lesing (klik hier vir Naudé se skrywe). Met die meeste wat Naudé daar skryf, stem ek saam. (Ek verskil met sy punt 5, waarin hy – as ek hom reg lees – veel maak van die kultuurverskille tussen die Afrikaners van destyds en die swart Afrikane van vandag.)

Uit my vorige inskrywing behoort dit in elk geval duidelik te wees dat ek geen absolute ekwivalensie tussen die RA van toe en van nou poneer nie, maar eenvoudig die twee op bepaalde punte vergelyk. Die vraag of sulke vergelykings wel aan te bevele is, is belangrik. Ek het my by ’n vorige geleentheid al daaroor probeer verantwoord (klik hier om dit te lees).

Sentraal in Naudé se skrywe is die ontleding van die “RA” van vroeër. Ek dink dat, in die bespreking daarvan, ’n belangrike onderskeid dikwels oor die hoof gesien word, te wete dié tussen pro-wit en pro-Afrikaner “RA”. Was die Afrikaners dan nie wit nie? Inderdaad, en die twee dimensies van die destydse “RA” was onlosmaaklik met mekaar verweef. Tog kan ’n onderskeid tussen die twee dimensies insigte oplewer wat vir ’n kritiese ontleding van die huidige toepassing van RA ter sake kan wees.

Die pro-wit rassediskriminasie van die verlede kan streng gesproke nie “RA” genoem word nie, omdat dit nie daarop gemik was om enige voorafgaande benadeling reg te stel nie. Inteendeel, die doel was om bestaande ongelykheid ten gunste van wittes in stand te hou. Dit het nie met die oorname van die Nasionale Party in 1948, en dus met die aanvang van die apartheidsbeleid, begin nie, maar gaan so ver terug soos die permanente teenwoordigheid van Europeërs in Suider-Afrika.

Hoewel, onder die bewind van die VOC, die kategorie van ras nog nie ’n rol gespeel het nie, en diskriminasie eerder op grond van godsdiens en maatskaplike status geskied het, was dit in die praktyk veral die soort mense wat later as wit geklassifiseer is wat voordeel getrek het. Onder die Britse bewind, en veral onder mense soos Rhodes en Milner, het rassisme staatsbeleid geword, en die Unie wat in 1910 tot stand gekom het, was uit die staanspoor op die bevoordeling van wittes en die uitsluiting en uitbuiting van swartes gebou. Al wat in 1948 gebeur het, is dat die rassistiese staat onder Afrikanerbeheer, eerder as wit Engelse beheer, gekom het.

Gedurende hierdie hele geskiedenis, tot in die 1990’s, was diskriminasie ten gunste van wittes die orde van die dag. Maar vir ’n groot deel van hierdie geskiedenis het nie alle wittes in ewe groot mate voordeel daaruit getrek nie. Veral ná die Anglo-Boereoorlog het wit armoede byvoorbeeld ’n duidelike etniese en taal-profiel gehad – weens die vernietigende oorlog en verwante faktore, maar ook weens ’n diskriminerende taalbeleid wat Engelssprekende wittes bevoordeel het. Wat ná 1948 gebeur het, is nie dat rassediskriminasie ingestel is nie – dit was reeds in plek – maar dat daar binne die wit gemeenskap regstelling ten gunste van Afrikaanssprekendes gedoen is. Hier was regtig sprake van “RA”, aangesien ’n groep wat voorheen onbillik benadeel is, doelbewus opgehef is.

Was pro-Afrikaner RA suksesvol? Dit hang af waaraan dit gemeet word. Dit was beslis suksesvol in die sin dat dit grootliks daarin geslaag het om die massiewe ongelykhede tussen Engels- en Afrikaanssprekende wittes te verklein, en die lewensomstandighede van die deursnee-Afrikaner – en nie net van ’n klein elite onder die Afrikaners nie – drasties te verbeter. Wat dit betref, kan daar met die oog op RA in die huidige konteks heelwat uit die destydse pro-Afrikaner RA geleer word.

Opvallend in dié verband is dat, anders as in die geval van pro-wit diskriminasie, die bevoordeelde groep se identiteit in pro-Afrikaanse RA nie in wetgewing opgeneem is as ’n toegangskaartjie tot bevoordeling nie. Daar was nie wetgewing oor hoeveel grond in Engelse hande aan Afrikaners moet oorgedra word, hoeveel Afrikaners op direksies moet dien, hoeveel poste in die staatsdiens deur Afrikaners gevul moet word, en so meer, nie.

Wat wel gedoen is, is dat die reëls van die spel, veral in die staatsdiens, verander is om onbillike obstruksies in die pad van Afrikaners uit die weg te ruim. Hiervan was die taalbeleid in die staatsdiens van groot belang. In plaas van net Engels, moes sowel Engels as Afrikaans voortaan in die staatsdiens gebruik word (soos die Grondwet reeds sedert 1910 vereis het, al is dit nooit streng uitgevoer nie). Engelssprekendes kon steeds in die staatsdiens werk, mits hulle in staat en bereid was om ook Afrikaans te gebruik. Dié wat nie kon of wou nie, het nie meer vir staatsdiensposte gemik nie. Daarteenoor is Afrikaanssprekendes deur die nuwe beleid van taalgelykberegtiging bevoordeel.

Nog ’n belangrike aspek was die voortsetting, en verdere uitbreiding, van moedertaalonderwys tot op die hoogste vlak vir Afrikaanssprekendes. Die benadering was, in die geheel gesien, dus meer gemik op die uitskakeling van beleide en praktyke wat Afrikaners teenoor Engelssprekendes benadeel het as op die nastreef van kwotas of werkreservering.

In ander opsigte was hierdie beleid nie net ’n mislukking nie, maar ’n katastrofe. Eerstens het nie alle Afrikaanssprekendes voordeel daaruit getrek nie – bruines is daarvan uitgesluit – en tweedens het hierdie hele RA-poging plaasgevind in die groter konteks van ’n rassistiese stelsel wat steeds die meerderheid van die bevolking sistematies agtergestel het. Dis juis laasgenoemde – die pro-wit diskriminasie van toe – wat regstelling nou onvermydelik maak.

Maar solank RA vandag op die voorbeeld van hierdie skadelike model van rasgebaseerdheid geskoei bly, sal dit die meerderheid swartes net so min bevoordeel as wat wit oorheersing die verarmde Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog sou help indien pro-Afrikaner RA nie toegepas is nie. Om te verhoed dat slegs ’n klein swart elite bevoordeel word terwyl die meerderheid steeds in ellende versink – net soos, ná die Anglo-Boereoorlog, ’n klein groepie Afrikaners saam met wit Engelssprekendes ryk geword het terwyl die meerderheid verarm het – sal dus die nodige lesse uit die destydse pro-Afrikaner RA geleer moet word: Regstellende aksie moet behels dat daardie dinge wat dit vir swartes moeiliker maak om vooruitgang te maak uit die weg geruim word, en taal speel daarin ’n absolute sleutelrol.

Om deur wetgewing die staat en privaatsektor te probeer dwing om eiendom en poste aan lede van ’n sekere ras oor te dra maak dit moontlik om reeds bevoordeeldes met die regte velkleur te help sonder om die ekonomiese stelsel met sy erge ongelykhede enigsins te verander. Dis eenvoudig baie makliker om ’n paar swartes in hoë poste aan te stel of aandeelhouers te maak as om die arm, oorwegend swart massa se lewensomstandighede te verbeter.

Waarvoor ek pleit, is dus aksie wat werklik regstel, ekonomiese beleid wat regtig bemagtig, maatreëls wat regtig ons samelewing transformeer, in die plek van ’n simplistiese en skadelike vorm van rassediskriminasie wat as regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie verkoop word – byna soos bankadvertensies wat altyd klem lê op hoe die betrokke bank vir jou as unieke individu omgee, terwyl ons almal weet dit is juis wat banke nie doen nie. 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

14 antwoorde op Nogmaals regstellende aksie

  1. louisna het gesê op Oktober 12, 2009

    Spot on Gerrit met die volgende: “Waarvoor ek pleit, is dus aksie wat werklik regstel, ekonomiese beleid wat regtig bemagtig, maatreëls wat regtig ons samelewing transformeer, in die plek van ’n simplistiese en skadelike vorm van rassediskriminasie wat as regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie verkoop word”

    Hulle behoort jou Minister van Regstallende Aksie te maak.

  2. Weet jy, dis makliker om hieroor te praat as om dit te doen.

    Dat iets gedoen moet word, is ‘n gegewe vir enigiemand wat nog ‘n paar breinselle oor het om mee te dink.

    Wat nie helder is nie, is hoe.

    Wat de moer moet mens doen, wat moet die beleid wees, dat die deursnee swarte opgehef word?

    Dis helder duidelik dat jy nie die armes ryk kan maak deur die rykes arm te maak nie – so hoe doen mens hierdie goeie goed waarvan jy so mooi praat?

  3. Ha! Ha!

  4. Ek maak darem in my inskrywing hierbo sekere voorstelle. ‘n Beleid van meertaligheid op alle vlakke kan ‘n enorme verskil maak. Dis een van die dinge wat gedoen kan word waarna Alexander in sy lesing ook verwys.

  5. Baie netjiese ontleding van die situasie in die verlede. Maar het dit ook nie maar gegaan om diskriminasie teen die Afrikaner as sulks nie? Smuts se beleid voor 1948 om byvoorbeeld lede van die AB uit die staatsdiens te weer?
    Gerrit, weer eens, dankie vir die pitkos wat jy op die tafel sit!

  6. So as ek jou nou reg verstaan stel jy iets voor soos om daarop aan te dring dat staatsposte sê ‘n Afrikaans, Engels, Zulu en Xhosa taalvereiste dra, en dat dit dan daartoe sal lei dat die bree massa swartes ‘n beter kans sal hê om hierdie poste te bekom, en daardeur opgehef word.

    Dit kan werk, en sou waarskynlik ook lei na beter diens.

    Al wat my hieraan sou pla is die syfers – ek dink nie daar is genoeg staatsposte om ‘n beduidende verskil aan die haglike posisie van die bree massa te maak nie.

    Ek voel ook nie lekker daaroor om so ‘n skema te probeer uitbrei na die sakesektor toe nie – taalvaardigheid is nie van primere belang in die besigheids wereld nie.

    Die basiese probleem is dat daar te veel mense is, en te veel van die mense is nie tot ‘n voldoende vlak geskool nie. En dan, as gevolg van die verlede, is dieselfde ongeskoolde mense nog swart ook, wat die probleem ‘n rassistiese kleur gee hier in ons land.

    Al wat mens eintlik kan doen is om jou te be-ywer vir meer en beter onderwys, en om mense te probeer ooreed om nie op dieselfde trant aan te hou broei nie.

    Dis ‘n bietjie van ‘n onbegonne taak

  7. Ene Charl-Pierre Naudé dink dit goed om my op ‘n blog waarvan ek tevore nog nooit gehoor het nie (http://versindaba.co.za/2009/10/09/mundobabelas-delagoabaai-en-regstellende-aksie/#comment-32266), te wil vertel wat ek moet lees voordat ek aan die debat oor regstellende aksie kan deelneem. Nou ja, daar is ‘n sekere soort poësie wat nie veel tussen-die-lyne-lees vra of bied nie, dus sal ek die pleër daarvan verskoon op grond van ‘n gebrek aan oefening.

    Hy vergoed egter daarvoor met hierdie juweel van ‘n sin: “Die rassebewussyn van SA se swart en bruin mense het, sover ek weet, nooit deur die afgryslike fase gegaan waar dit ’n ander “ras” as “minderwaardig” getipeer het nie. Dáárdie mislukking is die “wit” mense s’n. As morele vergryp, kan jy nie laer sink as dit nie.”

    Ek dink egter nie Naudé gaan veel hond-haaraf met sy “morele” argument maak nie, omdat dit klink asof hy uit die FW de Klerk stigting ontsnap het, en grotendeels uit pas is met die menseregte diskoers waarbinne die vergrype van apartheid en die vergrype van vandag meer omvattend en (veral) los van die kultuur van die Afrikaner bedink kan word.

    Mens wonder so terloops wat Neville Alexander en Moeletsi Mbeki, synde lede van die swart elite, daarvan sal maak as hulle verneem dat hulle hulle tans in ‘n morele hiatus bevind. Naudé moet self besluit of dié soort “othering” nie ook maar mank gaan aan die mindere “waardering” van ander wat in apartheid hoogty gevier het nie. ‘n Fase, né.

    Indien dit wat in RA beoog word werklik iets van waarde is, en die debat daaroor regtig ‘n impak ten goede daarop wil hê, word meer vereis as die soort intellektuele kitsch wat soms vir poësie deurgaan. Dit vereis dat mens maar self die nuansering en problematisering pleeg wat jy besef jou opgafie nodig het.
    Maar om dit te kan doen, moet jy die digterlike vryheid en romantisering, waarvan die uiteensitting van die Afrikaner se poging tot RA deurspek is, laat vaar. Om net een voorbeeld te noem, is dit asof daar geen Broederbond (God bless their souls) was nie, geen monopolistiese staatsindustriee, staatskontrakte vir Afrikaners, Volkskas, regstellende aanstellings op die regsbank en in die owerheidsweë, herverdeling deur die beproefde strategie van belastings, gesteun deur die ewe beproefde strategie van goedkoop arbeid, asof daar niks hiervan was nie. In werklikheid was daar in sy RA bitter min sprake van “by the Afrikaner, from the Afrikaner, for the Afrikaner”, om ‘n algemene maatstaf vir organisiteit aan te lê. Die primêre oorweging was “vir die Afrikaner”.

    Tot so ver, ene Charl-Pierre Naudé.

    Ten slotte: Ek dink dis belangrik dat ‘n behoorlike en omvattende debat oor RA gevoer moet word. Ek weet nie of ‘n blogspasie die regte plek is daarvoor nie.

  8. Dit het juis ook daaroor gegaan. Maw daar was twee vlakkie van benadeling: 1) wittes (wat wit Afrikaners insluit) se benadeling van swartes, en 2) wit Engelssprekendes se benadeling van wit Afrikaners. My punt is dat die regstelling van laasgenoemde nie eenvoudig gelykgestel kan word aan die instanthouding van eersgenoemde nie, al was die twee ten nouste met mekaar verweef. Uit eersgenoemde kan ons net leer dat dit nooit weer moet gebeur nie; uit laasgenoemde kan ons deels ook dit leer, maar ons kan ook dinge leer wat vandag positief benut kan word.

  9. charlpn het gesê op Oktober 15, 2009

    Dankie vir ‘n baie informatiewe kommentaar, Gerrit. Ja, ek het maar ‘n klip in die bos gegooi om te sien wat kop uitsteek. En ek dit liasseer in my leêr van goeie stukke.

    Aan Etienne: Nou toe, nou weet jy ook van Versindaba. More oormore weet jy ook van verse … Om ‘n gedig te kan lees is ‘n goeie manier om enige iets te leer lees, ook die politiek.

  10. Uiteindelik: ‘n praktiese nut vir poësie. Jy moet ‘n tesis skryf.

  11. etienne, ek probeer al die hele tyd op jou vorige kommentaar antwoord, maar dit wil net nie werk nie en die tegniese ouens weet nie hoekom nie. Miskien is wat ek daar wil skryf net te politiek inkorrek …

  12. charlpn het gesê op Oktober 15, 2009

    Aan Etienne: Dis jammer daar is nie ‘n praktiese nut vir japsnoete nie. Dan kon ek die tesis gelos het vir jou om te skryf.

  13. Mmm … nogal belowend. Twee happies en die lagie verssuiker het klaar verdwyn. Dalk kan jy nou ietsie begin leer van die politiek.

  14. Nes die hoëpriesters van die IT-wêreld staan ek verstom voor hierdie transendente ingrype in die tegnologiese orde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.