Die volle waarheid en niks anders as die waarheid oor regstellende aksie nie

Oktober 1, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n onlangse lesing by die Roots-konferensie op die UWK-kampus, waarvan ‘n weergawe vandag in die Cape Times te lese is, het Neville Alexander hom oor ‘n klomp goed (onder meer Afrikaans) uitgelaat op ‘n manier wat my noop om telkens “Hoor! Hoor!” te roep. Een daarvan is sy siening oor regstellende aksie:

“Because apartheid was a systematic affirmative action programme for white South Africans, in particular for white Afrikaans-speaking South Africans, and in the absence of a social revolution as one of the results of which yesterday’s masters would have lost everything they had gained or built up, any negotiated settlement that did not include an affirmative action provision would have been condemned as a blatant sell-out by those who had struggled against apartheid and, beyond that, against racial capitalism. The modalities of implementation of this programme in post-apartheid South Africa are, to say the least, profoundly disruptive and often even destabilizing, largely because the original conceptualization of the bulk of the programme is based on the same racial categories which came to shape the colonial-apartheid past of South Africa, rather than on the contemporary fact of disadvantage, however defined.”

Die saam sê van die twee sinne waaruit hierdie aanhaling bestaan, is die kenmerkende van Alexander se standpunt oor regstellende aksie. Die meeste mense wat met die eerste sin saamstem, sal met die tweede verskil, en omgekeerd, maar Alexander sê altwee. En die twee sinne is so geformuleer dat die saam sê daarvan nie vir ‘n “kreatiewe spanning” of “balans” vra nie, want daar is geen spanning tussen die twee nie — die een impliseer die ander (vir dié wat oë het om te sien). Alexander se formulering maak dit duidelik dat juis diegene wat een van die twee sinne beaam, maar die ander een ontken, hulself weerspreek.

Wat kan ‘n mens meer sê? Dis selde dat, indien ‘n belangstellende ‘n mens sou vra wat jou mening oor iets is, jy gewoon iemand anders se woorde kan aanhaal en verklaar: “Dis hoe ek daaroor dink.” Hier het ek met so ‘n geval te doen. Ek het my al in die verlede oor rasgebaseerde regstellende aksie uitgelaat (klik hier en hier vir twee onlangse voorbeelde), maar met die formulering hierbo sê Alexander dit wat ek probeer sê het helderder, korter en meer op die punt af as wat ek dit ooit sou kon doen. Al wat vir my oorbly om by te voeg is inderdaad net: Amen.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

33 antwoorde op Die volle waarheid en niks anders as die waarheid oor regstellende aksie nie

  1. helenevt het gesê op Oktober 1, 2009

    Ek is bly dat jy die konsep “kreatiewe spanning” (of in hierdie geval die gebrek daaraan) noem. Ek kry dikwels die idee dat ons praat van “kreatiewe spanning” of “balans” om polities korrek te wees, omdat ons bang is ons maak ons skuldig aan die vrééslike oortreding van eksklusiwiteit, of omdat ons bloot nie bereid is om dieper, wyer en meer te dink nie.
    Alexander wys juis dat ons nie hoef te stop by die (vroegtydige en soms ongeldige) verklaring van ‘n “kreatiewe spanning” nie.

  2. Gerrit hy het inderdaad ‘n konstuktiewe beginsel in twee sinne gespreek. Soms is dit tog jammer dat dit letterlik op dowwe ore val…

  3. Ja, daardie kwessie kan eintlik ‘n onderwerp op sy eie word. Daar is in die lewe wel onoplosbare spanninge wat kreatief kan funksioneer, en soms moet ‘n balans tussen twee uiterstes gesoek word, maar in ons tydsgewrig is daar ‘n alte groot ywer om alles so te benoem.

    Een voorbeeld is juis die vals teenstelling tussen die noodsaak vir regstellende aksie enersyds en die weg beweeg van die skadelike raskategoriee van die verlede andersyds. Hierdie twee strewes hoef glad nie in spanning met mekaar te verkeer of teenoor mekaar gebalanseer te word nie. Alexander se visie van wat regstellende aksie kan beteken, wys dat albei tegelyk ongekwalifiseerd toegepas kan word, en eintlik selfs twee kante van een en dieselfde munt is.

    Nog ‘n voorbeeld (wat telkens weer deur Alexander beklemtoon word) is die vermeende spanning tussen die meertaligheidsideaal (wat ook die beskerming van Afrikaans impliseer) enersyds, en regstellende aksie (inklusiwiteit, bemagtiging ens.) andersyds. Daar is geen spanning nie: Hoe meer die een nagestreef word, hoe beter word met die ander gevorder.

    Om in sulke gevalle van “kreatiewe spanning” of “balans” te praat is om ideologies te praat in die sin dat die ware stand van sake talig verhul word.

  4. Dankie dat jy dit ook soms ervaar dat iemand anders presies formuleer waarmee jyself sukkel. Ek kan ten volle saamleef met Alexander se siening.
    Doe so voort!

  5. Lekker om soms te kan verklaar: “Dit staan geskrywe …” Dieselfde geld (vir my in elk geval) die res van sy lesing.

  6. Inderdaad.

  7. Die Griekse woord “Amen” beteken “voorwaar”, “inderdaad” of “gewis”, maar jy’s reg, ek sinspeel op ‘n beaming wat so plegtig en ernstig bedoel word dat dit aan die religieuse herinner …

    Jy neem toe tog wel deel aan die debat, en wat jy daaroor uitspreek, kom, lyk my, presies ooreen met wat Alexander dink, waarmee ek ook saamstem: Regstellende aksie op grond van ras is nie in die belang van benadeeldes nie (ook al was die benadeling in die verlede op grond van ras – of beter nog: juis omdat dit was).

  8. Baerli het gesê op Oktober 2, 2009

    Miskien is ek maar ‘n bietjie moedeloos met ons ou nasietjie op ‘n Vrydagmiddag na die Jeugliga se verdere afbrekende optrede.

    Die gesprek oor regstellende aksie kan op verskeie vlakke gevoer word: historiese skuld, politieke-, emosionele- ens. ‘n Vlak wat nie altyd aandag kry nie is die invloed op wetenskap, vooruitgang,regstelling. Gister lees ek toevallig ‘n skrywe van SP Cilliers van 1964, ja 1964, waarin hy o.m skryf dat : “die tempo en peil van ekonomiese ontwikkeling grootliks afhanklik is van vordering op die gebied van die wetenskap, en dat rasionele beplanning vir die toekoms gebaseer moet word op wetenskaplike kennis … in die mens se stryd om bestaan het die wetenskap ongetwyfeld sy belangrikste wapen geword”. (Hy praat nie van Wetenskap hier in die beperkende sin soos ons Minister van Basiese Opleiding oor “Science” nie maar oor die wetenskaplike metode soos ook van toepassing op die menswetenskappe). Regstellende Aksie negeer nie alleen die beste kennis nie maar dryf dit ook die land uit, met nadelige nagevolge vir die wat hulpwaardig is. As ‘n mens egter luister na Chuene wat “dom universiteite” en Mal-emma wat die bestaan van hermafrodiete as imperialitiese komplotte beskryf, kan jy seker vergewe word as jy wonder of sommige mense weet dat hulle nie weet nie.Waarheen neem dit ons?

  9. Ek is nie heeltemal seker hoe om jou argument te lees nie, maar as jy bedoel dat skade aangerig word deur rasgebaseerde regstellende aksie, dan is ek (en vermoedelik Alexander) dit eens met jou. Die regte manier om hulpbehoewendheid aan te pak is om vas te stel wie hulpbehoewend is, en daardie mense dan te help. In ons land sal dit, gesien die geskiedenis, meestal swart mense wees wat staatshulp nodig het, maar hul swartheid as sodanig het niks daarmee te doen nie. Wat hulle ‘n aanspraak op regstellende hulp gee, is nie hul kleur, of selfs die feit dat kleurdiskriminasie dalk daarvoor geblameer kan word nie, maar bloot die feit dat hulle hulpbehoewend is. Goeie wetenskap (om by jou bydrae aan te sluit) is goed vir die samelewing as geheel. Daarom moet die beste wetenskaplikes aangestel word om dit te beoefen en te onderrig. As daar min uitmuntende swart wetenskaplikes is (wat nie noodwendig so is nie, maar dis ‘n aparte vraag), dan is die oplossing nie om minder bekwame wetenskaplikes op grond van hul velkleur aan te stel nie, maar om toe te sien dat mense wat tans nie goeie skoolonderwys ontvang nie, of wat nie kan bekostig om universiteit toe te gaan nie, die geleentheid kry om dit te doen. So sal daar later dan vanself meer uitmuntende swart wetenskaplikes wees, en sal meer van hulle ook poste beklee.

  10. louisna het gesê op Oktober 2, 2009

    Regstellende aksie het nog nooit op enige plek gewerk nie. Die enigste ideologie wat nog NOOIT in die geskiedenis vereerd bewys is nie, is die markbeginsel. Voor regstellende aksie sak om weg te spring, is hy reeds in sy grootharsings gepooitjie.

  11. ysprins het gesê op Oktober 3, 2009

    fok. 15 jaar se aaneeenlopende, geen-strategie-regstellende aksie in ons land. die resultaat is onbevoegdheid op ‘n groot skaal,en ‘n ongebalanseerde, lamgelegde arbeidersmark. nice one. skilled white man, anyone?

  12. Dit hang af wat jy onder regstellende aksie verstaan. Alexander verstaan dit as aksie ter regstelling van wat verkeerd is – en met name dan van dit wat verkeerd is as gevolg van onregte in die verlede. Die regstelling behels dan die versekering van toegang tot goeie onderwys, die koestering en benutting van taaldiversiteit, goeie dienslewering, infrastruktuurontwikkeling en so meer. Maar Alexander verwerp idee dat positiewe diskriminasie ‘n goeie regstelstrategie kan wees. Sy beswaar is dus nie teen regstellende aksie as sodanig nie, maar teen rasgebaseerde regstellende aksie: Om die skade van die verlede reg te stel moet die klem vandag nie op voorheen benadeeldes nie, maar op tansbenadeeldes (wat grootliks met voorheenbenadeeldes oorvleuel) val, en moet dit nie gebaseer wees op dieselfde skadelike konsepte waarop die onreg van die verlede gebaseer is nie.

    Wat die vrye mark betref: Dit hang weer eens af wat jy daaronder verstaan. ‘n Totaal ongebreidelde vrye mark is pas weer op groot skaal as ‘n slegte idee bewys met die ekonomiese krisis. Maar’n mark getemper deur staatsingryping waar nodig, ja, dis sekerlik die beste ekonomiese stelsel, dink ek.

  13. louisna het gesê op Oktober 4, 2009

    Baie goeie punt Gerrit, maar ek voel dat bevoordeling van voorheen benadeeldes SLEGS op grond van velkleur nooit gaan werk nie.

  14. etiennevz het gesê op Oktober 5, 2009

    As Alexander reg is dat die program van regstellende aksie suksesvol onder blanke Afrikaners was, waarom kan dit nie suksesvol deur ander rassegroepe toegepas word nie?

  15. Ek (en Alexander) sou nog verder gaan: velkleur behoort geen rol hoegenaamd te speel nie. Regstelling moet beteken: bemagtig die benadeeldes, of hulle nou voorheen benadeeld, later benadeeld, wit, swart of wat ook al is; so word dit wat tans verkeerd is, en wat deur dinge in die verlede veroorsaak is, reg gestel.

  16. louisna het gesê op Oktober 5, 2009

    Nou praat jy baie sense.

  17. Alexander pleit juis daarvoor dat regstellende aksie suksesvol onder “ander rassegroepe” toegepas moet word, en is daarom ontevrede daarmee dat dat dit tans onsuksesvol toegepas word. En hoewel hy daarop wys dat “affirmatiewe” aksie (“regstellend” was die bevoordeling van wittes teenoor swartes nie!) suksesvol was, is dit duidelik dat, vir hom, daardie “sukses” ‘n erge skadukant gehad het: Die probleem daarmee was juis dat, in plaas daarvan dat die benadeeldes, ongeag ras, “geaffirmeer” (en sake sodoende reggestel) is, ras as kriterium gedien het vir wie uit die bemagtigingsoffensief voordeel moet trek: slegs blankes is bemagtig. Wat tans moet gebeur, volgens Alexander, is dat almal wat benadeel is bemagtig moet word. Die meeste van hulle sal swart wees, maar hul swartheid of voorheenbenadeeldheid moenie die kriterium wees wat hulle vir regstellende aksie laat kwalifiseer nie. Indien ras wel ‘n kriterium is – en dit is tans die geval – dan help dit die rasse-onderskeide van die verlede in stand hou, en skep dit rassespanning. Ons sien dit elke dag om ons.

  18. gcv het gesê op Oktober 5, 2009

    Deel van die implikasies van wat hy sê is die naweek voorgehou deur een of ander regeringsverwante persoon (het nie opgelet wat sy naam was nie) – die strekking daarvan was dat daar moet gelet word op wat in Zimbabwe gebeur het(?), want die selfde gaan hier gebeur. Volgens Alexander is die enigste alternatief dus om ‘n effektiewe proses van regstellende aksie te hê. Die kommerwekkende aspek is egter dat wanneer dit nie korrek toegepas word nie (weereens soos in Zimbabwe?) en die mense wat te na gekom voel,ontevrede raak oor die gebrek aan regstelling (maak nie saak wat die rede is nie), die sosiale revolusie in die eerste sin van Alexander se rede voorgehou word as die verstaanbare reaksie. ‘n Mens wonder net of ons ook ‘n plaaslike presidentsvrou (of twee) gaan hê wat skielik gaan ontpop as vooruitstrewende melkboere……..

  19. Ek het die minister van grondhervorming (of van iets in dier voege) ook daardie Zimbabwe-uitlating hoor maak, en ek stem saam met wat jy skryf: As die verkeerde, rasgebaseerde model van regstellende aksie misluk, soos reeds aan die gebeur is, is die gevaar dat die mislukking nie aan die model toegeskryf word nie, maar aan die feit dat die model nie dramatieser toegepas is nie. Dis soos toe dokters in die ou dae ‘n sekere seksueel oordraagbare siekte met arseen behandel het: As die pasient sterf, lei hulle af hy’t te min medisyne gekry, of daar is te laat met medikasie begin. Of hulle argumenteer: danksy die arseen het die pasient nog een jaar geleef … Wat Alexander betoog, is dat arseen nie die antwoord is nie, maar eerder die gif wat die probleem vererger. En dat daar ‘n veiliger en doeltreffender medikasie beskikbaar is.

  20. etiennevz het gesê op Oktober 5, 2009

    Die argument wat jy aan die hand van Alexander voer, is dat die huidige tekortkominge in die implementering van regstellende aksie te wyte is aan die feit dat dit rasgebaseerd is.

    Ja, apartheid het ‘n skadukant gehad maar dit is aan die lyf gevoel deur die rassegroepe wat nie bevoordeel is nie. Blankes het egter met baie min pyn baie voordeel daaruit getrek. Regstellende aksie het vanuit hulle perspektief uitstekend gewerk.

    My vraag is: waarom sal dit nie ook uitstekend werk vir die aangewese bevoordeeldes van die nuwe weergawe van regstellende aksie, naamlik swartes, nie.

    Die tekortkominge wat daar is, en daar is menige, kan nie toegeskryf word aan die feit dat regstellende aksie rasgebaseer is nie.

    Ek dink ‘n saak kan uitgemaak word daarvoor dat die soort pseudo-aanvaarding van regstellende aksie solank ons asseblieftog gespaar kan word van die wete dat die enorme regstelling wat in hierdie land nodig is, in die eerste en laaste instansie aan swartes toekom, dra baie meer tot rassespanning by as die feit dat die formaat van regstellende aksie dit ruiterlik erken.

  21. Jy moet wel in gedagte hou dat kritici van rasgebaseerde regstellende aksie soos Neville Alexander nie hoort tot die groep wat in die verlede deur apartheid se wit bevoordeling bevoordeel is nie, maar juis tot die “rasse”-groep wat daardeur benadeel is – en, in Alexander se spesifieke geval, teen daardie bestel geveg en daarvoor gely het. Daardie kritiek kan dus nie toegeskryf word aan ‘n strewe om ‘n soort pseudo- regstellende aksie in te voer wat tog net nie die voorheen bevoordeeldes iets kan kos nie. Allermins.

    Alexander se punt, soos ek dit verstaan, is dat rasgebaseerde regstellende aksie ‘n slegte idee is omdat die voordele wat dit vir benadeeldes kan inhou ook – en selfs beter – bereik kan word sonder om regstellende aksie op ras te baseer, en dat die nadele van die rasgebaseerde model ook so vermy kan word.

  22. etiennevz het gesê op Oktober 5, 2009

    Net so min as wat Alexander se struggle credentials betwis kan word, kan dit betwis word dat hy as ‘n swarte aansienlik gebaat het by regstellende aksie.

    Semantiese substitusie gaan nie wegdoen met die feit dat dit swartes is wat regstellende aksie toekom en wat dit uiteindelik gaan ontvang nie, en sal dus niks doen aan die implemntering en uiteindelik uitkoms daarvan nie.

    Ek dink regtig dis tydmors om die hele RA ding te wil herkonseptualiseer, veral vir diegene wat krities is oor die implementering daarvan. As mens enigsins ‘n invloed wil uitoefen op die praktyk van RA, moet mens jou kritiek baie nader sny aan die paradigma waarbinne RA tans uitgevoer word.

    Dis die soort kritiek wat alewig wil herkonseptualiseer sonder ‘n deurlopende meewerk aan die verfyning en nuansering van RA wat begin lyk soos ‘n pseudo-aanvaarding van RA, ongeag die struggle credentials van die kritikus.

  23. Ek sou wel betwis dat Alexander “as ‘n swarte aansienlik gebaat het by regstellende aksie”. Maar selfs al sou hy teen sy sin uit rassediskriminasie gepaat het, sou dit sy “credentials” as kritikus van rasgebaseerde RA net verhoog, nie waar nie?

    Ek sou ook daarop aanspraak maak dat Alexander se kritiek hier juis “naby aan die paradigma” sny. Hy bevraagteken die basiese uitgangspunte, filosofies en eties, waarop die huidige vorm van RA berus.

    Dit gaan ook nie net, soos jy suggereer, om herkonseptualisering nie, maar oor praktiese uitvoering: Binne die rasgebaseerde model kan ‘n welaf, goed opgeleide, polities “gekonnekteerde” en invloedryke persoon bykomende voordeel uit RA trek omdat hy of sy toevallig swart is. Binne die nierassige RA-benadering wat Alexander voorstel, kan dit nie gebeur nie.

    Die “Alexander-model” beteken dat juis daardie mense wat dit nodig het (waarvan die meeste swart is) staatshulp kry.

    Dit neem ook die klem weg van kunsmatige uitkomste (rasgebaseerde aanstellings), na die aanpak van die voorwaardes wat goeie uitkomste moontlik maak (opleiding ens.).

    Alexander bepleit nie net ‘n ander manier van praat oor RA nie, maar ‘n ander soort RA – meer prakties, minder kosmeties; nierassig eerder as rassisties; doeltreffender want gerig op waar die nood die grootste is, minder vatbaar vir misbruik ter selfsugtige selfverryking, meer bydraend tot samehorigheid in die samelewing, minder geneig om steeds bestaande ongelykhede te verbloem deur bloot die elite anders in te kleur, en so meer.

  24. etiennevz het gesê op Oktober 6, 2009

    Jou antwoord bevestig maar net my vermoede dat Alexander die RA wiel wil probeer herontwerp.

    Ek herhaal my oorspronklike vraag: As RA vir die Afrikaner, kompleet met politieke konneksies gewerk het (en Alexander voer aan dat dit gewerk het) waarom sal dit nie nou werk nie.

    Verder sal ek nogal graag wil weet presies hoe die verwydering van ras uit die huidige RA-paradigma die politiek daaruit gaan verwyder.

    Op ‘n effens siniese noot moet ek byvoeg dat indien Alexander dink RA gaan werk sonder politieke konneksies, ly hy onder ‘n groot illusie. Al wat hy tot dusver bereik het in sy pogings om politiek uit RA te haal, is om homself uit die politieke hoofstroom te haal (ja, en miskien put hy as gevolg daarvan nie soveel voordeel uit RA as wat hy andersins sou kon nie).

    Maar wat die huidige regering se benadering tot RA in besonder met die Afrikaner poging van destyds in gemeen het, is ‘n sterk politieke wil om RA deur te voer.

    Ek dink jy en Alexander bekommer julle verniet: swartes trek toenemend voordeel uit RA, gegewe ‘n bereidwilligheid om die voordele vir hulle toe te eien. Meeste sal ‘n stem vir die ANC as ‘n baie klein prys sien om te betaal.

  25. Die “RA” van die verlede het vir wittes “gewerk”, ja, en dis juis die probleem. Netso “werk” rasgebaseerde RA vir die klein, reeds relatief (en soms uiters) bevoorregte groepie swartes wat daaruit voordeel trek, maar baat die meerderheid van benadeeldes nie daaruit nie – juis omdat dit ras- eerder as behoefte-gebaseer is. Want, binne die paradigma van rasgebaseerde RA word sukses gemeet aan die aantal mense van ‘n sekere kleur wat hulle in posisies bevind waar sulke mense voorheen afwesig of skaars was, eerder as aan die vraag of die meerderheid benadeeldes se omstandighede verbeter. In ‘n konteks waar die meerderheid se materiele omstandighede steeds haglik bly, dien so ‘n rasgebaseerde beleid om hierdie ongemaklike feit te versluier. Die propaganda lui dan: “Kyk hoe transformeer ons!” Maar in werklikheid bly die samelewing in wese onveranderd. Ons is steeds die mees ongelyke samelewing op die planeet. Die feit dat die paar “pound seats” meer veelkleurig beset word, verander niks daaraan nie.

  26. Alexander se kritiek (en myne) kom nie soseer uit die hoek van ‘n beswaar teen “omgekeerde” diskriminasie nie. M.a.w., die punt is nie dat wittes teen swartes gediskrimineer het, en dat nou weer teen wittes gediskrimineer word (omgekeerde rassisme), nie. Anders gestel, die kommer is nie oor hoe RA wittes affekteer nie.

    Nee, Alexander se kritiek teen rasgebaseerde regstellende aksie is dat die oorgrote meerderheid van benadeeldes (meestal swartes) nie daarby baat nie, dat dit die lewering van goeie dienste aan daardie einste benadeeldes verswak en dus hul benadeling vererger, dat dit raskategoriee lewend hou, dat dit uiters vatbaar vir korrupsie en politieke magsmisbruik is, en dat die fokus op ras die aandag van klas wegneem en selfs dien as legitimering vir die voortgesette ongelykheid in ons samelewing (om maar enkele argumente te noem!).

    Die kommer is dus juis oor diegene wat veronderstel is om deur rasse-RA bevoordeel te word. As dit is wat jy bedoel met “twee verkeerd maak nie een reg nie”, stem ek saam.

  27. etiennevz het gesê op Oktober 7, 2009

    Dis wensdenkery om te glo jy gaan van elitisme, armoede en ‘n ondoeltreffende burokrasie ontslae raak deur ras uit die doelwitte van RA te haal.

    Ek dink jou bewerings oor die effektiwiteit van RA strook ook nie heeltemal met die werklikheid nie. Natuurlik, as jy ‘n quick-fix as maatstaf aanlê gaan enige werklike prestasie te kort skiet. Maar ek dink dis veilig om te beweer dat die huidige RA net soveel swartes in 15 jaar bevoordeel het as wat apartheid in 40 jaar vir blankes kon regkry.

    Wat die elitisme betref, daar is darem n dinamika binne die ANC self wat dit nie heeltemal aanvaarbaar vind nie. Gegewe die aard van die politieke dier sal die post-Polokwane ANC sekerlik ook in die strik van RA-hiperbevoordeling trap, maar mits daar oor 8 jaar net so effektief van Zuma ontslae geraak kan word as wat Mbeki laasjaar gepos is, sal die elite-basis stelselmatig verbreed en in die vorm van ‘n upper middle class meer vloeibaar met die middelmoot en werkersklasse verbind.

    Hoor my lied: daar lê nog 25-30 jaar van rasgebaseerde RA voor alvorens dit polities moontlik sal wees om aan te beweeg na geselekteerde bystand aan agtergeblewe individue. Intussen kan jou en Alexander se formidabele intellektuele energie baie beter aangewend word om die proses tot daar te help versnel deur met tegniese verbeteringe binne die huidige paradigma vorendag te kom.

  28. louisna het gesê op Oktober 7, 2009

    Spot on Makkie. Dit druis teen alle markkragte in en is gedoem tot mislukking.

  29. Jy’s baie optimisties! Nee, my kommer is dat die skade wat aangerig word te groot gaan wees as daar nie gouer as wat jy voorsien van die rassige model afgestap word nie. Onthou, apartheid het net 50 jaar gehou totdat dit prysgegee is, maar in daardie 50 jaar was die prys baie hoog.

    Waarvoor Alexander vra, is nie ‘n “quick fix”, soos jy dit noem, nie. Hy kritiseer juis die huidige “quick fix”-benadering en bepleit ‘n meer volhoubare benadering met ‘n realistiese langtermynvooruitsig van sukses.

    Die idee dat ‘n mens liewer moet probeer skaaf aan die huidige model staan my nie aan nie. Die “gematigdes” van ouds het ook gedink apartheid kan reggedokter word, maar daardie rassistiese stelsel was net goed vir weggooi, en diegene wat daaraan help skaaf het, was medepligtig daaraan.

    Ja, en Alexander het ‘n “formidabele intellek” …

  30. Dat rasgebaseerde RA teen markgerigte beginsels indruis, is vir my minder van ‘n probleem. Enige ingryping deur die staat om ‘n regverdiger verdeling van hulpbronne te bewerkstellig, kom neer op ‘n afskaling van die vryemark-gerigtheid, en is broodnodig. Wat Alexander bepleit (as alternatief vir rasse-RA), is dat veel meer geinvesteer word in “linkse” prioriteite. Dis progressief, teenoor rasse-RA wat regressief is, maar dit druis ook teen vryemark-beginsels in.

  31. louisna het gesê op Oktober 7, 2009

    Spot on.

  32. Jou laaste paragraaf is eksemplaries van die pseudo-aanvaarding van regstellende aksie. RA is nodig JA, MAAR … en dan ‘n rits voorwaardes wat die implementering daarvan tot in alle ewigheid wil kniehalter. Soos met jou huidige argument: RA is nodig JA, MAAR as dit toegespits word op die mense wat tydens apartheid uitgesluit is, is dit omgekeerde apartheid. En jou raad: Vind ‘n manier om RA op swartes toe te spits sonder dat enigiemand hoef agter te kom dis swartes wat daaruit voordeel gaan trek. Dat dit die implementering van RA in ‘n eindelose eksegese van eksotiese jargon gaan lamlê, is ‘n gevolg waarvan jy jou ewe vroom kan distansieer, maar dit sal jou nie minder medepligtig maak aan die gevolge van die totale misoes wat daaruit sal vloei nie.

    Nie dat jy minder medepligtig sal wees as rassehaat in hierdie land op grootskaal posvat nie. Die huidige stelsel van RA is die enigste kans wat hierdie land op betekenisvolle RA gaan kry. Om mense af te raai om daarvan deel te word as sou dit op omgekeerde apartheid neerkom of om te suggereer dat dit tot ‘n swart “backlash” sal lei, kan tot ‘n gevaarlike polarisering van politieke energie lei, en ‘n afleipunt skep waarheen die swart elite die massas se ontevredenheid oor RA kan deflekteer.

  33. etienne, jy verdraai my standpunt. Ek vra nie minder ingrypende RA nie, maar meer ingrypende RA – nie bolangs nie, maar grondig. En ek vra nie ‘n RA wat die bevoordeeldes onaangeraak laat nie, maar een wat juis bevoordeeldes die koste laat dra van die bemagtiging van benadeeldes. Die soort “backlash” wat jy vrees word myns insiens boonop deur die huidige vorm van RA meer waarskynlik, eerder as minder waarskynlik, gemaak – dis juis die kern van Alexander se betoog soos deur my aangehaal. Laastens vind ek hierdie sin van jou nogal deterministies: “Die huidige stelsel van RA is die enigste kans wat hierdie land op betekenisvolle RA gaan kry.” Die enigste kans?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.