Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Onmag as magstrategie

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

Die filosoof Marinus Schoeman skryf vandeesmaand se essay oor “Onmag as magstrategie – enkele opmerkings oor die retoriek van slagofferskap“.

Toe hy hierdie stuk as ‘n voordrag by ‘n filosofiekongres in Stellenbosch gelewer het, was van die reaksies nogal skerp. ‘n Mens het die gevoel gekry dat, vir van die toehoorders, Schoeman hiermee ‘n baie heilige koei slag. Interessant genoeg het Schoeman baie van die kritiek as geldig erken – waaruit nie volg dat sy essay daarmee minder geldig word nie; dis dalk eerder ‘n kwessie van verskillende geldige perspektiewe wat mekaar in toom moet hou.

Hoe dit ook al sy, vir my is dit ‘n baie belangrike en tydige essay, wat tog ‘n sekere soort diskoers in ons samelewing ontbloot wat lankal ontbloot moes gewees het. Dat hierdie ontbloting self gevare inhou, en dat daardie gevare uitgewys en bepraat moet word, is nie altemit nie, maar dis juis die kenmerk van goeie filosofie: dat dit dialekties, in gesprek, die grootste waarde en betekenis kry.

So, gaan lees dit, en kom lewer dan hier kommentaar, dat die gesprek kan begin!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Suid-Afrika tussen Wissenschaft, science en scientia

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

Die Anglo-Amerikaanse kultuur is besig, of het byna al daarin geslaag, om ’n oënskynlik onbenullige konseptuele oorwinning oor dié van die Europese vasteland te behaal – ’n oorwinning wat, nes die Koue Oorlog van vroeër, ook gevolge vir die Derde Wêreld, en spesifiek Suid-Afrika, inhou. Meer nog, die Afrikaanse taal is een van die slagvelde …

 

Klik op die skakel hierbo vir my jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika, en dan hieronder op “Lewer kommentaar” om te reageer.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Sachs en Moseneke praat my taal

Oktober 20, 2009 in Sonder kategorie

Dis nie net maatskaplik betrokke akademici met ’n linkse oriëntasie, soos Neville Alexander (kyk my vroeër inskrywing hieroor), wat sin kan praat oor goed soos taal nie. Regters kan dit blykbaar ook doen. In sy uitspraak, verlede week, in die Hoërskool Ermelo-saak, sê regter Moseneke byvoorbeeld:

And that perhaps is the collateral irony of this case. Learners whose mother tongue is not English but rather one of our indigenous languages, together with their parents, have made a choice to be taught in a language other than their mother tongue. This occurs even though it is now well settled that, especially in the early years of formal teaching, mother tongue instruction is the foremost and the most effective medium of imparting education. Ample literature indicates that in Africa the former colonial languages have become the dominant medium of teaching. Professor. Kwessi Kwaa Prah describes this as the “language of instruction conundrum in Africa”.

Moseneke haal ook vir regter Sachs (uit ’n ander uitspraak) aan:

The fourth assumption is that the Afrikaans language is one of the cultural treasures of South African national life, widely spoken and deeply implanted, the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary and possibly the most creole or ‘rainbow’ of all South African tongues. Its protection and development is therefore the concern not only of its speakers but of the whole South African nation. In approaching the question of the future of the Afrikaans language, then, the issue should not be regarded as simply one of satisfying the selfcentred wishes, legitimate or otherwise, of a particular group, but as a question of promoting the rich development of an integral part of the variegated South African national character contemplated by the Constitution. Stripped of its association with race and political dominance, cultural diversity becomes an enriching force which merits constitutional protection, hereby enabling the specific contribution of each to become part of the patrimony of the whole.

Kortom: Hoe simpel dat die regering met Afrikaanse skole (en universiteite?) baklei om hulle in Engels te laat onderrig gee aan jong mense wie se moedertaal nie Engels is nie! En hoe kortsigtig om die toekoms van Afrikaans te sien as ’n saak waarby slegs Afrikaanssprekendes ’n selfsugtige belang het!

En in praktiese terme: Dis hoogtyd dat die regering positiewe stappe neem om Afrikaans as hoëfunksietaal, en spesifiek as onderwystaal, te beskerm en te bevorder, en te sorg dat die ander Afrika-tale ook vir hoë funksies, en spesifiek as onderrigmediums, gebruik word. Die oorheersing van Engels op alle openbare terreine, en veral as onderrigmedium op onderwysgebied, is nie in landsbelang nie en moet aktief teengegaan word.

So praat mense met ’n sterk sintuig vir wat reg en billik is. Soos stemme roepende in die woestyn.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Gedagtes na aanleiding van Sakkie Spangenberg se nuwe Jesusboek

Oktober 15, 2009 in Sonder kategorie

Johannes de Villiers en Gerda de Villiers het elkeen onlangs ’n baie positiewe resensie oor Sakkie Spangenberg se boek Jesus van Nasaret geskryf. Ek deel helaas nie in alle opsigte hul entoesiasme nie.

Waaroor gaan die vraag na die “historiese Jesus”? Baie mense dink ons verstaan die aard daarvan wanneer ons die historiese Jesus van die “Christus van die geloof” onderskei, maar verstaan ons wel hierdie onderskeid?

Die Christus van die geloof is die beeld(e) wat gelowiges – as gelowiges – van Jesus het; die historiese Jesus die beeld(e) wat historici – as historici – van hom het. Ek voeg die kwalifikasies “as gelowiges” en “as historici” by omdat sekere historici ook gelowiges, en sekere gelowiges dus ook historici, is. ’n Gelowige historikus glo dalk meer oor Jesus as wat hy of sy op wetenskaplik historiese gronde sou wil verdedig.

Die befaamde Duitse Ou-Testamentikus Gerhard von Rad het ’n onderskeid getref wat struktureel ooreenkom met dié tussen die historiese Jesus en die Christus van die geloof. Ten opsigte van die interpretasie van die Ou Testament, skryf hy, kan ’n mens dit oor die “historiese minimum” of die “kerugmatiese (verkondigde) maksimum” hê: Dit wat ’n gelowige Jood of Christen oor ou Israel se geskiedenis met God bely (die kerugmatiese maksimum) is meer as wat met die metodes van die geskiedswetenskap bewys kan word (die historiese minimum).

Impliseer die onderskeid tussen die historiese Jesus en die Christus van die geloof ook ’n teenstelling? Is die historiese minimum en die kerugmatiese maksimum wedersyds uitsluitend? Spangenberg dink blykbaar wel so.

’n Voorbeeld: Aangesien die opwekking van Jesus uit die dood nie met die metodes van die geskiedswetenskap bevestig kan word nie – en dus nie deel van die historiese minimum, die beskrywing van die historiese Jesus, uitmaak nie – moet die belydenis van die opstanding – wat wel deel uitmaak van die kerugmatiese maksimum – volgens Spangenberg verwerp word. Die logika werk blykbaar so:

1. Wanneer die historiese minimum (die historiese Jesus), wat wetenskaplik onderbou is, en die kerugmatiese maksimum (die Christus van die geloof) verskil, sal ’n redelike mens eersgenoemde aanvaar en laasgenoemde verwerp.

2. Wanneer dit kom by wat met Jesus van Nasaret ná sy dood gebeur het, verskil die historiese minimum van die kerugmatiese maksimum.

3. ’n Redelike mens sal dus die historiese minimum, waarin niks oor die opstanding voorkom nie, aanvaar en die kerugmatiese maksimum, waarin die opstanding bely word, verwerp.

Die probleem met hierdie argument lê by die eerste premisse, wat op die ongeldige aanname berus dat verskille tussen die historiese minimum en die kerugmatiese maksimum noodwendig teenstrydighede tussen die twee is. Die punt van Von Rad se onderskeid tussen die historiese minimum en die kerugmatiese maksimum was egter dat laasgenoemde méér as eersgenoemde sê – nie dat die twee mekaar weerspreek nie.

’n Analoë voorbeeld: Wanneer chemici ’n werk van Picasso bestudeer, kan hulle nie – as chemici – konstateer dat dit ’n grootse, vernuwende werk is nie. Al waaroor hulle – as chemici – kan praat, is die chemiese samestelling van die verf en die doek. As daardie einste chemici, of iemand anders, dieselfde kunswerk egter esteties, eerder as chemies, bekyk, sal hulle veel meer daaroor kan sê. Die feit dat die “chemiese minimum” en die “estetiese maksimum” verskil, beteken nie dat hulle mekaar weerspreek, of dat ’n redelike mens die chemiese perspektief sou verkies omdat dit, anders as die estetiese visie, op chemiese argumente berus nie.

Binne die geskiedswetenskap kan Jesus se opstanding uit die dood nooit as ’n verklaring aangebied word vir die gerug van die opstanding wat kort ná sy dood soos ’n veldbrand versprei het nie. Die feit dat die opstanding dus nie deel van die historiese minimum kan uitmaak nie, beteken egter nie dat dit nie plaasgevind het nie. Dit beteken bloot dat die geskiedswetenskap nie “bonatuurlike” verklarings oorweeg nie omdat dit juis sy taak is om na natuurlike verklarings te soek. Netso beteken die feit dat estetiese oordele nie op fisiese bewyse kan berus nie allermins dat alle estetiese oordele vals is, en net fisiese bevindings waar.

Van die ander kant bekyk: Die feit dat gelowiges iets soos die opstanding van Jesus, wat nie deel van die historiese minimum is nie, wel deel maak van hul belydenis (kerugmatiese maksimum), beteken nie dat hulle die wetenskaplik begronde historiese minimum verwerp of verontagsaam nie. Hulle voeg net iets daaraan toe.

Ek sou dieselfde punt ook anders kon maak: ’n Mens moet nie net tussen die historiese Jesus en die Christus van die geloof onderskei nie, maar ook tussen elkeen van hierdie twee uitbeeldings van Jesus enersyds, en Jesus self andersyds. Spangenberg dink blykbaar dat die historiese Jesus (die historiese minimum) identies met Jesus self is – dat dit wat ons met die metodes van die geskiedswetenskap kan uitvind identies is met wat regtig gebeur het. In werklikheid is sowel die blik van die geskiedswetenskap as die blik van die gelowige kerugma ’n interpretasie van die gegewens – telkens vanuit ’n sekere raamwerk.

Die verskil tussen die historiese Jesus en die Christus van die geloof is dus nie dieselfde as die verskil tussen feit en interpretasie nie, maar kom eerder neer op ’n verskil tussen twee interpretasies. Die naakte feite is per definisie nie kenbaar nie, want alle kennis behels interpretasie, en interpretasie klee die feite met ’n verstaansraamwerk, met sekere voorveronderstellings. Die werklikheid is nou maar eenmaal van so aard dat dit vanuit meer as een raamwerk of gesigspunt verstaan kan word, en verskillende maniere van verstaan is nie altyd onderling teenstrydig nie.

Wat ek hier oor geloof in die opstanding van Jesus betoog, geld ook ander onderdele van die Christelike belydenis oor Jesus. Dat Jesus die “Christus” is, God se “eniggebore Seun, ons Here”, dat hy “ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria”, dat hy “opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar hy sal kom om te oordeel” … Geen van hierdie uitsprake hoort tuis in die historiese minimum, die wetenskaplike spreke oor die historiese Jesus, nie. Dat dit wel deel uitmaak van die kerugmatiese maksimum, die Christus van die geloof, beteken egter nie dat dit met die historiese gegewens in stryd is nie – net so min soos die estetiese beskrywing van ’n kunswerk met die chemiese beskrywing daarvan bots.

Dat Spangenberg se navorsing op die gebied van die historiese-Jesus-literatuur deeglik en omvattend is, is duidelik. Wat dit betref, lewer sy boek ’n waardevolle bydrae tot die hedendaagse nadenke oor Jesus. Die manier waarop hy tradisionele geloofsinterpretasies van die gegewens beoordeel, en die epistemologie en hermeneutiek wat agter hierdie beoordeling skuil, laat egter veel te wense oor.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Tussen Jerusalem en Athene

Oktober 13, 2009 in Sonder kategorie

Een van Suid-Afrika se voorste filosowe, Willie van der Merwe, het onlangs professor geword aan die Vrije Universiteit Amsterdam – so tussen die teologie en filosofie. In sy intreerede, “Tussen Jerusalem en Athene”, besin hy oor hierdie sonderlinge tussenposisie in die konteks van ‘n Westerse kultuur waarin godsdiens op allerlei teenstrydige maniere aan die terugkeer is. Ek dink hy doen dit uitstekend, veral omdat hy in die proses ook moeilike vrae aan die orde stel oor wat dit nou eintlik beteken om ‘n “suiwer” teoloog of filosoof te wees, of om gelowig te wees. In die denke en die geloof kan tussenposisies eintlik nie vermy word nie, lyk hy te redeneer, en ek reken hy het gelyk. Gaan lees gerus, en kom gesels dan saam daaroor.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za  om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Nogmaals regstellende aksie

Oktober 12, 2009 in Sonder kategorie

Kom ons praat verder oor regstellende aksie (RA).

Op sy Versindaba-blog reageer Charl-Pierre Naudé op sowel Neville Alexander se Roots-lesing waarna ek in my vorige inskrywing verwys het, as op my aansluiting, ook in my vorige inskrywing, op Alexander se kommentaar oor regstellende aksie in daardie lesing (klik hier vir Naudé se skrywe). Met die meeste wat Naudé daar skryf, stem ek saam. (Ek verskil met sy punt 5, waarin hy – as ek hom reg lees – veel maak van die kultuurverskille tussen die Afrikaners van destyds en die swart Afrikane van vandag.)

Uit my vorige inskrywing behoort dit in elk geval duidelik te wees dat ek geen absolute ekwivalensie tussen die RA van toe en van nou poneer nie, maar eenvoudig die twee op bepaalde punte vergelyk. Die vraag of sulke vergelykings wel aan te bevele is, is belangrik. Ek het my by ’n vorige geleentheid al daaroor probeer verantwoord (klik hier om dit te lees).

Sentraal in Naudé se skrywe is die ontleding van die “RA” van vroeër. Ek dink dat, in die bespreking daarvan, ’n belangrike onderskeid dikwels oor die hoof gesien word, te wete dié tussen pro-wit en pro-Afrikaner “RA”. Was die Afrikaners dan nie wit nie? Inderdaad, en die twee dimensies van die destydse “RA” was onlosmaaklik met mekaar verweef. Tog kan ’n onderskeid tussen die twee dimensies insigte oplewer wat vir ’n kritiese ontleding van die huidige toepassing van RA ter sake kan wees.

Die pro-wit rassediskriminasie van die verlede kan streng gesproke nie “RA” genoem word nie, omdat dit nie daarop gemik was om enige voorafgaande benadeling reg te stel nie. Inteendeel, die doel was om bestaande ongelykheid ten gunste van wittes in stand te hou. Dit het nie met die oorname van die Nasionale Party in 1948, en dus met die aanvang van die apartheidsbeleid, begin nie, maar gaan so ver terug soos die permanente teenwoordigheid van Europeërs in Suider-Afrika.

Hoewel, onder die bewind van die VOC, die kategorie van ras nog nie ’n rol gespeel het nie, en diskriminasie eerder op grond van godsdiens en maatskaplike status geskied het, was dit in die praktyk veral die soort mense wat later as wit geklassifiseer is wat voordeel getrek het. Onder die Britse bewind, en veral onder mense soos Rhodes en Milner, het rassisme staatsbeleid geword, en die Unie wat in 1910 tot stand gekom het, was uit die staanspoor op die bevoordeling van wittes en die uitsluiting en uitbuiting van swartes gebou. Al wat in 1948 gebeur het, is dat die rassistiese staat onder Afrikanerbeheer, eerder as wit Engelse beheer, gekom het.

Gedurende hierdie hele geskiedenis, tot in die 1990’s, was diskriminasie ten gunste van wittes die orde van die dag. Maar vir ’n groot deel van hierdie geskiedenis het nie alle wittes in ewe groot mate voordeel daaruit getrek nie. Veral ná die Anglo-Boereoorlog het wit armoede byvoorbeeld ’n duidelike etniese en taal-profiel gehad – weens die vernietigende oorlog en verwante faktore, maar ook weens ’n diskriminerende taalbeleid wat Engelssprekende wittes bevoordeel het. Wat ná 1948 gebeur het, is nie dat rassediskriminasie ingestel is nie – dit was reeds in plek – maar dat daar binne die wit gemeenskap regstelling ten gunste van Afrikaanssprekendes gedoen is. Hier was regtig sprake van “RA”, aangesien ’n groep wat voorheen onbillik benadeel is, doelbewus opgehef is.

Was pro-Afrikaner RA suksesvol? Dit hang af waaraan dit gemeet word. Dit was beslis suksesvol in die sin dat dit grootliks daarin geslaag het om die massiewe ongelykhede tussen Engels- en Afrikaanssprekende wittes te verklein, en die lewensomstandighede van die deursnee-Afrikaner – en nie net van ’n klein elite onder die Afrikaners nie – drasties te verbeter. Wat dit betref, kan daar met die oog op RA in die huidige konteks heelwat uit die destydse pro-Afrikaner RA geleer word.

Opvallend in dié verband is dat, anders as in die geval van pro-wit diskriminasie, die bevoordeelde groep se identiteit in pro-Afrikaanse RA nie in wetgewing opgeneem is as ’n toegangskaartjie tot bevoordeling nie. Daar was nie wetgewing oor hoeveel grond in Engelse hande aan Afrikaners moet oorgedra word, hoeveel Afrikaners op direksies moet dien, hoeveel poste in die staatsdiens deur Afrikaners gevul moet word, en so meer, nie.

Wat wel gedoen is, is dat die reëls van die spel, veral in die staatsdiens, verander is om onbillike obstruksies in die pad van Afrikaners uit die weg te ruim. Hiervan was die taalbeleid in die staatsdiens van groot belang. In plaas van net Engels, moes sowel Engels as Afrikaans voortaan in die staatsdiens gebruik word (soos die Grondwet reeds sedert 1910 vereis het, al is dit nooit streng uitgevoer nie). Engelssprekendes kon steeds in die staatsdiens werk, mits hulle in staat en bereid was om ook Afrikaans te gebruik. Dié wat nie kon of wou nie, het nie meer vir staatsdiensposte gemik nie. Daarteenoor is Afrikaanssprekendes deur die nuwe beleid van taalgelykberegtiging bevoordeel.

Nog ’n belangrike aspek was die voortsetting, en verdere uitbreiding, van moedertaalonderwys tot op die hoogste vlak vir Afrikaanssprekendes. Die benadering was, in die geheel gesien, dus meer gemik op die uitskakeling van beleide en praktyke wat Afrikaners teenoor Engelssprekendes benadeel het as op die nastreef van kwotas of werkreservering.

In ander opsigte was hierdie beleid nie net ’n mislukking nie, maar ’n katastrofe. Eerstens het nie alle Afrikaanssprekendes voordeel daaruit getrek nie – bruines is daarvan uitgesluit – en tweedens het hierdie hele RA-poging plaasgevind in die groter konteks van ’n rassistiese stelsel wat steeds die meerderheid van die bevolking sistematies agtergestel het. Dis juis laasgenoemde – die pro-wit diskriminasie van toe – wat regstelling nou onvermydelik maak.

Maar solank RA vandag op die voorbeeld van hierdie skadelike model van rasgebaseerdheid geskoei bly, sal dit die meerderheid swartes net so min bevoordeel as wat wit oorheersing die verarmde Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog sou help indien pro-Afrikaner RA nie toegepas is nie. Om te verhoed dat slegs ’n klein swart elite bevoordeel word terwyl die meerderheid steeds in ellende versink – net soos, ná die Anglo-Boereoorlog, ’n klein groepie Afrikaners saam met wit Engelssprekendes ryk geword het terwyl die meerderheid verarm het – sal dus die nodige lesse uit die destydse pro-Afrikaner RA geleer moet word: Regstellende aksie moet behels dat daardie dinge wat dit vir swartes moeiliker maak om vooruitgang te maak uit die weg geruim word, en taal speel daarin ’n absolute sleutelrol.

Om deur wetgewing die staat en privaatsektor te probeer dwing om eiendom en poste aan lede van ’n sekere ras oor te dra maak dit moontlik om reeds bevoordeeldes met die regte velkleur te help sonder om die ekonomiese stelsel met sy erge ongelykhede enigsins te verander. Dis eenvoudig baie makliker om ’n paar swartes in hoë poste aan te stel of aandeelhouers te maak as om die arm, oorwegend swart massa se lewensomstandighede te verbeter.

Waarvoor ek pleit, is dus aksie wat werklik regstel, ekonomiese beleid wat regtig bemagtig, maatreëls wat regtig ons samelewing transformeer, in die plek van ’n simplistiese en skadelike vorm van rassediskriminasie wat as regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie verkoop word – byna soos bankadvertensies wat altyd klem lê op hoe die betrokke bank vir jou as unieke individu omgee, terwyl ons almal weet dit is juis wat banke nie doen nie. 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die volle waarheid en niks anders as die waarheid oor regstellende aksie nie

Oktober 1, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n onlangse lesing by die Roots-konferensie op die UWK-kampus, waarvan ‘n weergawe vandag in die Cape Times te lese is, het Neville Alexander hom oor ‘n klomp goed (onder meer Afrikaans) uitgelaat op ‘n manier wat my noop om telkens “Hoor! Hoor!” te roep. Een daarvan is sy siening oor regstellende aksie:

“Because apartheid was a systematic affirmative action programme for white South Africans, in particular for white Afrikaans-speaking South Africans, and in the absence of a social revolution as one of the results of which yesterday’s masters would have lost everything they had gained or built up, any negotiated settlement that did not include an affirmative action provision would have been condemned as a blatant sell-out by those who had struggled against apartheid and, beyond that, against racial capitalism. The modalities of implementation of this programme in post-apartheid South Africa are, to say the least, profoundly disruptive and often even destabilizing, largely because the original conceptualization of the bulk of the programme is based on the same racial categories which came to shape the colonial-apartheid past of South Africa, rather than on the contemporary fact of disadvantage, however defined.”

Die saam sê van die twee sinne waaruit hierdie aanhaling bestaan, is die kenmerkende van Alexander se standpunt oor regstellende aksie. Die meeste mense wat met die eerste sin saamstem, sal met die tweede verskil, en omgekeerd, maar Alexander sê altwee. En die twee sinne is so geformuleer dat die saam sê daarvan nie vir ‘n “kreatiewe spanning” of “balans” vra nie, want daar is geen spanning tussen die twee nie — die een impliseer die ander (vir dié wat oë het om te sien). Alexander se formulering maak dit duidelik dat juis diegene wat een van die twee sinne beaam, maar die ander een ontken, hulself weerspreek.

Wat kan ‘n mens meer sê? Dis selde dat, indien ‘n belangstellende ‘n mens sou vra wat jou mening oor iets is, jy gewoon iemand anders se woorde kan aanhaal en verklaar: “Dis hoe ek daaroor dink.” Hier het ek met so ‘n geval te doen. Ek het my al in die verlede oor rasgebaseerde regstellende aksie uitgelaat (klik hier en hier vir twee onlangse voorbeelde), maar met die formulering hierbo sê Alexander dit wat ek probeer sê het helderder, korter en meer op die punt af as wat ek dit ooit sou kon doen. Al wat vir my oorbly om by te voeg is inderdaad net: Amen.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.