Retoriese vrae oor taal en gelykheid

September 18, 2009 in Sonder kategorie

1. Gestel Zoeloe sou die dominante openbare taal in Suid-Afrika word, sodat dit op elke terrein – van die regspraak en die onderwys tot die openbare uitsaaier en staatsdienskantore – uitsluitlik of hoofsaaklik as voertaal gebruik word. Wie sou materieel daardeur bevoordeel word: Zoeloesprekendes en daardie anderstaliges wat Zoeloe goed beheers, of diegene met geen, of slegs ’n gebrekkige, kennis van Zoeloe?

2. Hoe lyk die ras- en klasprofiel van die bevoordeelde groep in bogenoemde scenario?

3. Sou die genoemde taalscenario billik wees teenoor Suid-Afrikaners wat nie doeltreffend in Zoeloe kan kommunikeer nie?

4. Sou ’n mens oortuigend kan redeneer dat almal wat met Zoeloe sukkel maar net die moeite kan doen om die taal aan te leer, en dus niks het om oor te kla nie?

5. Sou die antwoorde op vrae 1 tot 4 anders lyk indien “Zoeloe” deurgaans met “Engels” vervang word?

I rest my case.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

20 antwoorde op Retoriese vrae oor taal en gelykheid

  1. Gerrit,
    Sorry op ‘n Vrydag hierdie tyd wil ek nie dink nie. Lekker naweek en ek hoop Aus gee ook vir AB pak.

  2. Gelukkig is die vrae retories, en die antwoorde dus reeds implisiet daarby ingesluit, sodat jou kop kan rus … En daar is geen twyfel nie dat die Aussies die All Blacks ‘n verskriklike loesing gaan gee. Geniet die naweek!

  3. Stem. Tot Maandag

  4. ek het dieselfde ding gedink na aanleiding van limpopo(?) se nuwe reelings dat alles in Engels moet gebeur. Teoreties kan ek verstaan dat dit makliker sou wees as daar een landstaal en een amptelike taal is, maar die realiteit is dat daar net te veel verskillende mense in ons land is. Ek voel dat as elke persoon twee tale magtig genoeg is om te kan verstaan en verstaan te word, is dit reg, maak nie saak watter 2 tale nie.
    maar aangesien jou vrae retories is… 🙂

    dit het my net gegrief dat ‘n afrikaanse vrou op die nuus na die insetsel gekla het omdat die polisie haar nie in haar eie taal wou help nie. tannie ek is jammer, maar jy kan sekerlik engels praat? of verwag jy dat elke liewe staatsamptenaar 11 tale moet magtig wees?

  5. Ja, mense kan soms onredelik wees met hul eise. Aan die ander kant: daar is nie een taal wat deur alle Suid-Afrikaners verstaan word nie; daarom behoort elke staatsorgaan, ook die polisie, die nodige reelings tref om in al die tale diens te kan lewer. Dit het implikasies vir aanstellings en opleiding van personeel, maar ook vir die gebruik van tegnologie. ‘n Aantal jare gelede het die Nasionale Taaldiens ‘n telefoon-tolkdiens juis daarvoor ontwikkel, maar weens ‘n kombinasie van swak bestuur en ‘n gebrek aan politieke wil het dit doodgeloop. Kortom: dinge hoef nie te wees soos dit tans is nie.

  6. My punt is juis dat Engels die taal van die bevoorregte minderheid is, en dat daardie reeds bevoordeeldes net verder bevoordeel word deur die oorheersing van Engels in die openbare domein. Zoeloe as nasionale taal sou billiker wees omdat daar meer mense is wat daardeur bemagtig kan word, en omdat juis die benadeeldes daardeur in groter mate bemagtig sal word. Maar ek is nie ‘n voorstander van Zoeloe as nasionale taal, of “Fanagalo” as nasionale taal, nie. Ek is ‘n voorstander van meertaligheid. Dis die enigste regverdige, en daarom moreel regverdigbare, opsie. En dis uitvoerbaar. (Terloops, dis maar ‘n vraag of Engels ouer as Afrikaans is. Afrikaans verskil nie meer van Nederlands as wat vandag se Engels van lank gelede se Engels verskil nie. In daardie sin gaan Afrikaans se geskiedenis net so ver terug soos Nederlands, of die Germaanse tale, s’n. Alle tale wat gepraat word, soos alle kulture, het ‘n geskiedenis so oud soos die mensdom.)

  7. 1. “Gestel Zoeloe ….. sou word”: Ek begryp jy stel ‘n hipotese, maar gestel een-of-ander verbete Afrika-nasionalistiese diktator sou dit doen. Tans sou niemand bevoordeel word nie. Dit sou bloot chaos en stagnasie veroorsaak, want Zoeloe is nog nie ontwikkel tot ‘n vlak bruikbaar as “openbare taal” nie. Dit sou dmv ‘n sistematiese beleid oor ‘n lang tyd ‘n praktiese moontlikheid kon word – al is dit net in sekere dele van SA. In die vorige bedeling is Afr en Eng (en in mindere mate ook streekstale) gebruik en dit het redelik goed gewerk.
    2 Die groep wat tans daardeur bevoordeel sal word sal ‘n elite-groepie (tans hoofsaaklik “coco nuts”) wees en ‘n “agtergeblewe” massa wat wel Zoeloe kan praat, maar vir lank “agtergeblewe” sal bly weens die algemene negatiewe gevolge van die taalbeleid.
    3 Nee – tensy voorafgegaan deur ‘n lang tyd waarin SA se bevolking voorberei en toegerus is vir so ‘n beleid.
    4 Ja – indien … (sien 3 hierbo).
    5 Nee.

    My antwoorde is gebaseer op 2 werklikhede en 1 moontlikheid:

    Werklikhede:
    1 11 “amptelike” tale in SA is nie haalbaar nie;
    2 Die meerderheid van die SA bevolking het die reg om een of meer amptelike taal/tale te kies – maar dan moet die taal dienlik wees vir die SA situasie.

    Moontlikheid:
    Dat daar een nasionale “amptelike” taal is en in elke provinsie/streek ‘n plaaslike taal. Dan kan inwoners kies watter taal hulle wil gebruik en waarin hul bedien wil word. In daardie provinsie/streek is amptelike vorms, openbare onderwys, ens dus in daardie 2 tale beskikbaar.

    So word niemand benadeel deur ‘n “dominante” taal nie, maar almal bemagtig. Terselfdertyd word die uitbouïng en ontwikkeling van ons tale bevorder (dws tale met gebruikers wat sterk genoeg daaroor voel).

    DC Coetsee

  8. Zoeloe is wel voldoende ontwikkel om op enige terrein gebruik te word. En ek stem nie saam dat 11 amptelike tale nie prakties uitvoerbaar is nie. Dit hang net af hoe dit gedoen word. Daar was al ritse praktiese modelle, voorgestel deur bekwame sosiolinguiste; die probleem is net, die regering het hulle nog nie daaraan gesteur nie.

  9. kammakazi, ek dink sekere basiese dienste moet in al die amptelike tale aangebied word. Dit is trouens ook wat die Nasionale Taalbeleidsraamwerk vereis, maar dit word nie in werking gestel nie. Die Wetsontwerp op SA Tale vereis dit ook, maar het nog nie voor die parlement gedien nie – in stryd met die Grondwet wat die regering verbied om slegs in een taal met die publiek te kommunikeer, en verplig om “wetgewing” aan te neem om die regering se gebruik van tale te “reguleer en moniteer”. Solank aan die basiese vereistes voldoen word, kan ‘n mens wel op streekbasis telkens drie tale identifiseer wat vir die meeste inwoners verstaanbaar sal wees en as algemene kommunikasietale kan funksioneer. In die Wes-Kaap is dit byvoorbeeld Afrikaans, Xhosa en Engels. (Terloops, ek weet nie van ‘n provinsie waar Engels die tweede grootste taal is nie. In al die provinsies waar Sotho ‘n beduidende taal is, is daar meer mense wat Afrikaans praat as wat Engels praat.)

  10. Selfs SA Engels word nie deur alle Suid-Afrikaners verstaan of doeltreffend gebruik nie, en sluit dus steeds uit. Engels, in welke vorm dan ook, bly, in die geheel gesien, ‘n elite- kommunikasiemiddel.

  11. Maar hulle sal verkeerd wees. Die geskiedenis wys dat erkenning, beskerming en uitbouing van taalverskeidenheid tot groter nasionale eensgesindheid lei, terwyl pogings om een taal die nasionale taal te maak, wanneer ander tale deur ‘n beduidende deel van die bevolking verkies word, juis intergroepspanning en skeurings veroorsaak.

  12. Gerrit, en daar kry Oz op sy moer!!

  13. Ek was dus verkeerd! Ten minste verskaf dit my altyd ook groot plesier as die Aussies verloor. Jammer dat dit gepaard moet gaan met die plesier van ‘n oorwinning vir die All Blacks. Een troos is darem dat laasgenoemde plesier nie baie groot kan wees nie: Dis altyd depremerend om so vir die tweede plek te kompeteer.

  14. Ek dink nie ons groot tale loop gevaar om uit te sterf nie, en dit gaan vir my ook nie om die bewaring van tale vir hul intrinsieke waarde nie, maar eerder oor die billike gebruik van tale om gelykheid en geregtigheid te bevorder. Die regering nie bekwaam genoeg nie? Jy’s waarskynlik reg. Te duur? Nee wat. Die Switserse ekonoom Francois Grin het al dikwels aangetoon hoe die koste van meertaligheid eerstens nie so duur is as wat mense geneig is om te dink nie, maar hoe dit andersyds ook duurder vir die staat is om meertaligheid agter wee te laat. ‘n Mens kan selfs ‘n suiwer ekonomiese argument ontwikkel hoekom die staat meertalig behoort te kommunikeer. “Selfs die swartes”? Waar daar taalonreg is, sal die verontregtes natuurlik maar hul bes probeer om die beste van ‘n slegte saak te maak. Maar die dag kan ook aanbreek dat die meerderheid Suid-Afrikaners besef hoe hulle deur die taalongelykheid benadeel word. Dit gebeur reeds plek-plek. Maar ‘n mens moenie buite rekening laat nie, dat baie onder die nuwe elite wat deur die dominansie van Engels bevoordeel word, ook swart is, en dat dit nie in hul objektiewe belang is om die aandag daarop te vestig nie.

  15. Ons was verkeerd. Bygese AB het goed gespeel en sou ons dalk op die dag kon wen.

  16. Zoeloe is nie n wereldtaal nie.

  17. Nee, maar dis wel die grootste taal in Suid-Afrika. Dis verder so nou verwant aan die tweede grootste taal, Xhosa, en nog twee ander SA tale, Swati en Ndebele, en aan verskeie ander Ngunitale in die res van Afrika, dat dit ook nie ‘n onnoemenswaardige taal is nie. Maar belangriker is dat die vraag of dit ‘n wereldtaal is nie veel te doen het met die vraag of dit die dominante nasionale taal moet wees nie. ‘n Noorweegse kind leer (as hy/sy dit kies) Engels op skool omdat dit ‘n handige wereldtaal is, maar hy/sy gaan nie deur medium van Engels onderrig word, oorwegend Engelse programme op TV sien, deur die staatsdiens in Engels bedien word of in die hof in Engels verhoor word nie, al is Noors ‘n kleiner taal as Zoeloe. Gelykberegtiging van tale in die openbare lewe is nie in stryd met die aanleer van groot wereldtale nie. Altwee moet gebeur.

  18. A, ek sien!

  19. Jy meen soos in die titel van daardie Andre P. Brink-roman “Die kreef raak gewoond daaraan”? Daar steeks iets in, maar in my betoog hierbo het ek dit nie oor minderhede nie, maar oor die meerderheid, wat benadeel word: Die oorheersing van Engels in SA bevoordeel ‘n relatief klein, reeds bevoordeelde veelrassige minderheid, en benadeel ‘n arm, oorwegend swart en reeds benadeelde meerderheid.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.