Ek het julle mos gesê

September 17, 2009 in Sonder kategorie

Dis nie mooi om dit te doen nie, maar soms is die versoeking darem groot om uit te roep: “I told you so!” Ek het uit die staanspoor gesê baie rugby-entoesiasme se skeptisisme oor Peter de Villiers se potensiaal as Springbokafrigter is ongegrond.

Ten tyde van sy aanstelling het sy rekord baie gelyk soos Jakes White s’n toe hý Bokafrigter geword het. Ook sý hoogste prestasie op daardie stadium was dat hy ’n junior Springbokspan na internasionale sukses gelei het. Buitendien het die negatiewe reaksie op daardie eerste paar verloorwedstryde onder Div my baie herinner aan hoe verskeie mense, ek ingesluit, op ’n stadium oor White gevoel het toe sý span ’n paar mislukkings beleef het. Div se aanstelling was omstrede omdat daar ten minste een ander kandidaat vir die pos was wat na ’n waarskynlike keuse gelyk het, maar dieselfde het White se aanstelling gegeld. Buitendien het ek daarvan gehou dat Div nie bloot White se wenresep voortsit nie, maar die span ’n stap verder wil neem.

Met ons oorwinnings oor die Britse en Ierse Leeus en ons wen van die Drienasiereeks is Div se vermoë (en daarmee my vertroue in hom!) behoorlik gevindikeer. Terugskouend is dit interessant om te vra: Hoekom is soveel Suid-Afrikaners daardeur verras?

Een faktor is dat Oregan Hoskins van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru), toe hy Div se aanstelling aangekondig het, gesê het nie net meriete nie, maar ook “transformasie” (lees: ras) is in ag geneem. Dit het impliseer dat Div nie die beste kandidaat was nie, maar aangestel is omdat hy swart is. As die voorsitter dit sê, gee dit ’n vrypas aan enigiemand anders om dit ook te sê: ’n Mens kan nie, in alle konsekwentheid, sê jy’t iemand oor sy ras aangestel en jou dan vervies as ander mense beweer jy’t dit gedoen nie!

Myns insiens was Hoskins se uitlating rassisties en beledigend teenoor Div, wat, nes White voor hom, oor al die kwaliteite vir die pos beskik het, ongeag sy kleur. Hoskins moes eenvoudig die besluit oor die nuwe afrigter aangekondig het en basta.

Tog dink ek nie rassisme was die grootste faktor nie. Die rugbypubliek het reeds gewys “everybody loves a winner” – daarom sing ook wittes Bryan Habana-liedjies en brul van lekkerkry sodra Tendai “Beast” Mtawarira aan die bal raak. Dit het my buitendien opgeval dat ook swart mense met wie ek oor Div gesels het skepties oor hom was.

Nee, ek dink klas- en taalvooroordeel het die grootste rol gespeel. Vir baie wittes was dit in orde dat die Bokke ’n swart afrigter kry, maar dan moes dit een wees wat darem goed Engels praat. En vir baie bruines was dit maar swaar sluk aan so ’n egte “Bolander” as Bokafrigter; as dit ’n Engelssprekende bruin stedeling was, sou hulle dit makliker kon aanvaar. Juis daarom kry ek so ekstra lekker oor Div se reusesukses. Dit laat my selfs ’n bietjie aan Paul Kruger dink, wat weens sy Boerse styl en gewoontes dikwels vlak gekyk is, maar nietemin terugskouend deur ’n gerekende historikus soos Charles van Onselen hoog aangeslaan word as staatsman.

Ja, Div het dikwels lawwe dinge gesê – ek het hom self van sy uitlatings, veral oor ras en politiek, gekritiseer – maar dit het niks te doen met sy vermoë om ’n span af te rig nie. Die vooroordeel jeens hom was (en is) nie daarop gebaseer nie, maar op die feit dat hy ’n plattelander sonder fieterjasies is, wat gebroke Engels met ’n Afrikaanse aksent praat.

Iewers lê daar ’n belangrike les vir Suid-Afrika in. En ek like dit!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

21 antwoorde op Ek het julle mos gesê

  1. Gee aan die Keiser wat hom toekom.

  2. Inderdaad, maar dit gaan nie oor korrekte Engels nie; dit gaan oor ‘n sekere soort Engels, ‘n soort Engels wat as klaskenteken funksioneer, as statussimbool, ‘n soort Engels wat de facto ons nasionale taal aan die word is.

  3. … ongeag sy taal of afkoms.

  4. Goeie punt Gerrit. Die holruggeryde stelling dat hy ‘n wenspan by White ge-erf het moet endkry.

  5. Dinknet, ek stem saam. En saam met wat Annemari hier onder skryf.

  6. Vetjan het gesê op September 17, 2009

    Pier Div se sterkste punt is dat hy nie die wiel probeer herontwerp nie, hy slaag daarin alles mooi bymekaar te hou, en die span het ‘n fantastiese gees…. en dit gebeur dikwels NIE onder “sterk” afrigters nie, vat maar Mallet en Markgraaf as voorbeelde, en dink aan rampspoedige afrigters soos Straueli! Div is ok.

  7. Nes die idee dat White ‘n wenspan ex nihilo (uit niks) tot stand gebring het: White het immers ook ‘n span by sy voorgangers ge-erf en verder ontwikkel. Ek kan nie glo dat daar nog steeds mense is wat volhou Div het niks met die Bokke se sukses te doen nie. Iemand wat glo ‘n span kan sonder goeie afrigting die Drienasies wen, sal enigiets glo.

  8. dinkweer, jy’s duidelik iemand wat weer en weer dink!

  9. Nog ‘n rede hoekom ek Div bewonder, is juis dat hy die einde van die macho-benadering tot rugby-afrigting inlui.

  10. Ek het vanoggend op die radio na hom geluister, en is toe nog meer beindruk, ja.

  11. Kyk na ons prestsies na Div se aanstelling. Mense wat hom kritiseer ken nie die beginsels van die game nie.

  12. Uitstekende pos!!

  13. Spot on Petrus. Bygese Dick Muir se invloed kom ook sterk deur.

  14. Ja, ‘n goeie afrigter wys goeie hulpafrigters aan.

  15. So waar.

  16. Nou ja, wat kan ek sê …

  17. Hoskins se uitlating dat transformasie ook in ag geneem is met die aanstelling van Peter de Villiers moes nooit sy mond verlaat het nie.

    Die feit is dat Peter sy kritici stil maak met sy belangrikste taak. En dis regtig verblydend dat hy ervaring en nuwe talent vermeng in die Springbokspan. Hy bring ‘n tipe kreatiwiteit in die span in.

    Die feit dat al hoe meer mense van alle agtergronde Boktruie begin dra in die publiek wys daarop dat Peter rugby Jan Alleman se spel begin maak. En dit het niks met sy etnisiteit te doen nie, maar wel met sy passie vir rugby.

  18. Absoluut, maar ek dink nie dis net wit mans wat bevooroordeeld teenoor Div is nie. In my ervaring het baie swartes (in die breedste sin) hom ook skepties bejeen, bloot omdat hy ‘n Afrikaanse plattelander is wat nie voorgee om iets anders te wees nie.

  19. Ek stem volmondig saam! Die manier wat die Britse pers hom moedswillig misverstaan het (hulle doen dit inelkgeval met al hul teenstanders) was voorspelbaar pateties, maar dat ons eie media saamgespeel het in die speletjie, was regtig hartseer. Ek verwys spesifiek na die opsetlike misverstaan rondom sy uitlatings na Schalk Burger se oogkrap-oortreding.

    Na alles, is Pieter De Villiers ‘n vars bries en ‘n tonic … juis omdat hy ‘vanaf en vanuit die platteland praat’!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.