Neerbuigende houdings teenoor swart mense

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Adv. Dumisa Ntsebeza beskuldig oudregter Johann Kriegler van ’n “duidelik neerbuigende houding teenoor swart mense”, berig Die Burger vandag. Ter ondersteuning hiervan verwys Ntsebenza na Kriegler se waarskuwing dat die regbank se onafhanklikheid nie op die “altaar van transformasie” opgeoffer word nie, en sy bewering dat die Regterlike Dienskommissie “transformasie, pleks van kwalifikasies, die fundamentele vereiste vir aanstellings op die regbank (maak)”.

Volgens Ntsebeza gee dit “aanstoot”: “Wat hy (Kriegler) in wese sê, is dat al die swart regters net aangestel is omdat hulle swart is, nie op meriete nie.” Hierdie afleiding kan op meer as een vertolking van Kriegler se uitsprake berus:

1. Kriegler dink géén swart regter sou op die regbank gedien het as meriete die enigste oorweging was nie.

2. Kriegler dink dat, aangesien nie net meriete nie, maar ook ras, ’n oorweging by aanstellings is, sómmige swart regters nie regters sou geword het as slegs meriete getel het nie.

3. Kriegler dink ras weeg te swaar by besluite oor wie regter moet word, ten koste van ander oorwegings.

Interpretasie no. 1 (Ntsebeza verwys na “al die swart regters”) is ongegrond. Kriegler het nie beweer dat daar geen geskikte swart kandidate vir die regbank is nie. In die uitsprake waarna Ntsebeza verwys, doen Kriegler dit in elk geval nie. ’n Veralgemening oor die bekwaamheid van swart kandidate word ook nie daardeur geïmpliseer nie.

No. 2 lyk minder vergesog. Dis algemeen bekend dat Kriegler ten gunste van rassige transformasie van regbank is – ek het hom dit al hoor verdedig. Hy is dus ten gunste daarvan dat nie net meriete nie, maar ook ras, by die aanstelling van regters oorweeg moet word. Na my wete stem Ntsebeza saam. Dis verder gemene saak dat wat Kriegler en Ntsebeza bepleit reeds gebeur. As dit neerbuigend teenoor swartes is om hul ras in ag te neem wanneer hulle vir aanstellings oorweeg word, of om te erken dat dit reeds gebeur, dan is Ntsebeza self neerbuigend teenoor swartes.

No. 3 lyk vir my die waarskynlikste vertolking: Kriegler, nes Ntsebeza, meen dis noodsaaklik dat ras een van die oorwegings by aanstellings op die regbank moet wees, maar wil nie hê dit moet so ’n sterk oorweging wees dat ander belangrike oorwegings, soos geskiktheid vir die pos, in die slag bly nie, want dit kan die regbank se onafhanklikheid in gedrang bring. Iemand wat nie bekwaam is om regter te wees nie moenie aangestel word net omdat hy of sy swart is nie. En as ’n regter hom of haar aan wangedrag skuldig maak, moet daardie regter nie minder streng behandel word omdat hy of sy swart is nie.

Verskil Ntsebeza hiermee? Dan het hý die “neerbuigende houding teenoor swart mense”.

Het Ntsebeza dit dalk teen Kriegler se suggestie dat, in sommige gevalle, rasoorwegings reeds te swaar geweeg het? Dis Ntsebeza se goeie reg om daarmee te verskil, maar dit bly non sequitur om uit Kriegler se suggestie af te lei dat hy ’n neerbuigende houding teenoor swartes het. Al wat daaruit afgelei kan word, is ’n negatiewe houding teenoor die oorbeklemtoning van ras.

Miskien sou Ntsebeza redeneer dat, in Kriegler se suggestie, ’n voorveronderstelling skuil: dat ’n kleiner persentasie swartes as wittes oor die gewenste kwalifikasies en ervarings vir die regtersamp beskik. Maar sou dit neerhalend wees? Ontken Ntsebeza dan dat daar in die verlede op onderwys- en beroepsgebied teen swartes gediskrimineer is? Sekerlik tog nie! As dit neerhalend teenoor swartes is om daarop te wys, dan is Ntsebeza een van die mees neerhalende regslui in die land.

My konklusie: Ntsebeza se beskuldiging “slaat nergens op”.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

19 antwoorde op Neerbuigende houdings teenoor swart mense

  1. Briljante analise!

  2. karas het gesê op September 7, 2009

    Ons land se rassetamboere word tans baie hard gespeel. As groot intellekte hulle hiermee besig hou, laat dit by my vrae ontstaan? Is dit ‘n aanduiding dat ‘n publieke rasse-debat nou spontaan aan die ontwikkel is (ten spyte van Zuma se uitsprake) of is daar binnekamer-druk dat stemme teen transformasie sterker stilgedreig moet word. Moet ons benoud word of is dit net ‘n jong rasgebaseerde demokrasie se groeipyne?

  3. Neander het gesê op September 7, 2009

    Ongelukkig word die rassekaart die laaste tyd te veel gebruik. Niks fout met Kriegler se aansprake nie, maar alles wat hy te sê het, sal uit verband geruk word.
    Die gevaarligte is besig om te begin flikker.

    Ongelukkig weet ons dat transformasie en kwotas nie die ideaal is nie.

  4. Ek hoor oor RSG dat Prof De Vos meen dat dit nie van pas is dat Hlope vandag werk toe is nie. Komende van ‘n wit regsgeleerde sal dit ook as rassisme tipeer word.
    Dankie vir hierdie netjiese en logiese uiteensetting. Lekker om dit te lees.
    Lekker aand!

  5. Goeie analise. ‘n Mens verwag meer volwassenheid van ‘n advokaat.

  6. Dis alles baie herkenbaar. Vervang “rassisties” of “neerbuigend teenoor swartes” met “kommunisties”, “onchristelik”, “volksvreemd” of “anti-Afrikaans”, en stel die horlosie so ‘n paar dekades terug, dan lyk alles presies dieselfde. Dis waarskynlik kenmerkend van enige nuwe elite – groot dele van die leierskorps onder ‘n deel van ‘n bevolking wat lank onderdruk en benadeel is (onthou die Boere se “eeu van onreg”) en dan politieke en sosiale mag kry: Alle kritiek, veral komend van “buitestanders”, word as neerbuigend, neerhalend, bevooroordeeld en ingegee deur bose motiewe beleef. Die feit dat daar dan ook altyd wel lede van die lang bevoorregte buitegroep is wat wel op die nuut bemagtigdes neerkyk, dien telkens ook ook as “bewys” van hierdie interpretasie. Maar gelukkig is daar altyd ook uitsonderings: Die Beyers Naude’s, die Desmond Tutu’s, en so meer.

  7. Jy het ‘n punt beet. Kyk my antwoord op The voice se kommentaar hierbo.

  8. Ek het besluit om my in hierdie skrywe nie uit te laat oor of rassige transformasie in die algemeen, of spesifiek wat die regbank betref, ‘n goeie idee was of is nie, maar uitsluitlik te fokus op die (on)geldigheid van die afleidings wat Ntsebeza uit Kriegler se uitlatings maak. Maar ek dink jy’s reg. Rassekwotas los niks op nie en skep net bykomende probleme, waar dit ookal toegepas word.

  9. Een van die moeilikste probleme waarmee meer ligkleurige Suid-Afrikaners tans sit, is dat enige kritiek op iemand wat toevallig donkerder van kleur is om verstaanbare redes maklik as neerbuigend beleef word (kyk my antwoord op The voice se kommentaar hieronder). Maar hoe nou gemaak? Om stil te bly, of net kritiek “lite” uit te spreek, sou wees om die projek van ‘n nierassige, demokratiese samelewing te ondermyn, want daardie projek vereis juis robuuste debat, kritiek, protes, meningsverskil. Nou hoor ek Kriegler word deur verskeie mense daarop gewys dat hy hier met sterk sensitiwiteite te doen het en daarom meer “guarded” moet praat. Ek dink dis die verkeerdste ding wat hy nou kan doen.

  10. Belangriker nog as volwassenheid, vir my, is logika. Dis immers een van die belangrikste “tools of the trade”. Dit hoort by die etiek van regspraktisyn wees om nie wilde afleidings te maak wat nie gestaaf kan word nie. Daarom vind ek Ntsebeza se optrede in hierdie geval so uiters teleurstellend.

  11. Ons word almal konstant herinner aan ons vel kleur hetsy dit rasisties of nie!

  12. ysprins het gesê op September 8, 2009

    daardie “chip on the shoulder” darem. meer ‘n moerse struikelblok, onoorkombaar, dink ek…

  13. Nou ja, dit moet oorkom word. Wat in elk geval nie sal werk nie is om dit te koester, lig te trap daarvoor. Kritiek moet vreesloos wees, en die tjip-op-die-skouer-reaksie moet genadeloos ontmasker word. Mense wat so wil reageer moet weet hulle gaan ‘n gek van hulself maak, en dit dan liewer nie doen nie.

  14. Om bewus te wees van ras as ‘n sosiale feit, en om daarna te verwys wanneer dit ter sake is, is nie rassisties nie. Rassisme is ter sprake wanneer gesuggereer word dat een ras beter as ‘n ander is.

  15. Neander het gesê op September 8, 2009

    Met hierdie punt stem ek die meeste saam. Kriegler se standpunt na my mening is bo verdenking.

  16. Ja, ek het ‘n regsvriend wat gereeld vir my sê: “In die reg gaan dit om logika.” Maar hy raak sons erg bedruk, amper depressief, oor huidige tendense in die regspraak.

  17. kriegler se aksies gaan uitloop op die eienaardige absurditeit dat na hersiening, appel na bloem en appel na braamfontein die konstitusionele hof oor hulle eie klagte gaan beslis. BELAGLIK. who judges the judges. hier by ons…hulleself. kriegler moet nou aftree.

  18. darwinia, Kriegler het volgens my al afgetree; daarom heet hy “oudregter”. As die konstitusionele hof moet beslis, sal ander senior regters natuurlik as konstitusionele regters waarneem. Maar jy’s reg; dis ‘n groot krisis. Ek reken dis die skuld van die Regterlike Dienskommissie. Hulle moes die saak ondersoek en ‘n bevinding gemaak het, maar hulle besluit toe om nie te ondersoek nie.

  19. Daar is darem uitsonderings!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.