Moet ons nog oor versoening praat

September 2, 2009 in Sonder kategorie

In die Mei-uitgawe van die tydskrif Streven het ‘n artikel van my verskyn waarin ek betoog dat die diskoers van versoening nie meer die mees geskikte is om die politieke en maatskaplike dinamika in Suid-Afrika te ontleed nie. Met die oog op ‘n miniseminaar het ek vir Pieter Grove, Christi van der Westhuizen en Fanie du Toit gevra om elkeen ‘n repliek daarop te skryf. My artikel en die drie replieke daarop kan nou elders op LitNet gelees word. Die gedagte is dat soveel moontlik mense aan hierdie gesprek deelneem, so spring in en laat van julle hoor!

10 antwoorde op Moet ons nog oor versoening praat

  1. Gerrit ek betwyfel of dit ooit sal afgehandel word…daar is prys wat elkeen van ons betaal…en dit strek net verder in al die generasies in.

  2. Tweeling, jy’s reg, maar ek pleit nie vir afhandeling nie; ek pleit vir realisme. Ons moet aanvaar dat belangebotsings en konflik ‘n permanente verskynsel is. Die doel met demokrasie is nie om dit te verander deur almal eensgesind te maak en van mekaar te laat hou nie, maar om die belangebotsings en konflik so te bestuur dat dit nie tot chaos, geweld en vernietiging lei nie. Dis myns insiens ‘n beter strewe in ons konteks as om daarna te streef dat ons almal vriende moet word.

  3. Dan is dit van jou lippe af na die Vader se ore omdat mense nie regtig luister nie…

  4. Ek sien jou LitNet Miniseminaar respondente voel nogal sterk daaroor dat versoening as sodanig nog ‘n belangrike rol te speel het.

    Maar in die proses dat hulle sê waarom, dink ek bewys hulle juis jou punt. Die nasionale diskoers van versoening draai gans en al te veel om sy eie as. Oftewel, die referent van die konsep versoening synde die werklikheid van versoening, dien as sentripetale krag waarondom die diskoers in ‘n toenemend eenselwige baan wentel.

    Sonder om die voortgesette belang van versoening in twyfel te trek, dink ek dis nodig om ten minste die vraag te vra of die dominante diskoers nie die de facto oorheersing van realpolitiek in ons land moet weerspieel nie.

    Dis juis m.i. die probleem met die versoenings diskoers dat dit te tenger is vir die robuuste heen-en-weer spel wat in die politiek tussen werklikheid en ideaal noodsaaklik is.

    My eie voorkeur sou wees dat iets soos “grondwetlike ontwikkeling”, in die sin van ontwikkeling in lyn met die grondwet, die nasionale diskursiewe fokus word. Die grondwet maak enersyds ruimte vir die diversiteit van en botsing tussen belange, maar andersyds verwoord dit ook sosiale waardes en aspirasies. Terselfdertyd verskaf dit legitieme meganismes om konflik tussen belange en aspirasies te hanteer.

  5. Vir sover die (gewaardeerde) kritiese reaksies op my artikel plek-plek lyk te suggereer dat ek die werklikheid van ras gebaseerde bevoordeling en benadeling, of die blywende uitwerking daarvan, misken, of dat ek die nodigheid van transformasie en regstelling in die rigting van groter gelykheid, ook ekonomies, ontken – vir sover my posisie so vertolk word, het ek dit kennelik nie duidelik genoeg verwoord nie. Ek is ten gunste van regstelling van alles wat weens onreg in die verlede verkeerd is, transformasie van die samelewing, en uitwissing van die reusegaping tussen “haves” en “havenots”. Wat ek bevraagteken, is of die versoeningsdiskoers ons op ‘n politieke vlak hiermee help. In die replieke wil dit soms lyk asof die begrip “versoening” so wyd oopgerek word dat dit dieselfde beteken as ‘n strewe na gelykheid. My probleem daarmee is dat die begrip “versoening” dan eers oorbodig word, want ons het mos die begrip “gelykheid”, of hoe?

  6. Natuurlik is jy reg, kammakazi, mits die leef en laat leef nie beteken dat onreg en ekstreme ongelykheid ook “laat leef” word nie. Ons samelewing moet regverdiger en gelyker word.

  7. Inderdaad. En dis amper asof jou respondente die idee het dat ‘n post-versoeningsdiskoers noodwendig ‘n afstap van die vereiste van gelykheid sal meebring.

    Ek dink daarenteen (en miskien is dit nie heeltemal wat jy in gedagte het nie) dat die versoeningsdiskoers ‘n remming is in die politiek van gelykberegtiging. As iemand nie van ‘n gevolg van ‘n gelykheidsmaatreel hou nie, dan benadeel dit kwansuis die versoeningsproses.

    So kan dit mettertyd gebeur dat die versoeningsdiskoers werklike versoening in die wiele ry, of ten minste versoening as ‘n soort oorsprongsimbool vir die demokratiese era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot niet maak.

  8. Inderdaad. Dat transformasie moet plaasvind is vir my ‘n uitgangspunt. Dat daar mense sou wees wat daarteen skop, was van die begin af ‘n voorspelbare gegewe. Die “oplossing” hiervoor is nie om diegene wat daarteen skop entoesiasties daaroor te probeer maak nie, want dit gaan nie gebeur nie. Net so is dit nie ‘n haalbare doelwit om alle Suid-Afrikaners te kry om van mekaar te hou, eensgesind te voel en so meer nie. Daar gaan nog vir dekades wrewel en spanning met ‘n rassewortel wees, en selfs as dit drasties sou verminder, sal ander spanninge en konflikte ontstaan. ‘n Slim politiek is een wat hierdie werklikhede kan akkommodeer, nie een wat daarheen mik om dit geheel en al uit die weg te ruim nie. Dit is presies waarvoor demokrasie ontwerp is.

  9. ysprins het gesê op September 6, 2009

    ek dink nie blote gesprek is die oplossing, of selfs moontlike gereedskap ter sake hierdie kwessie nie. as die amerikaners, byvoorbeeld op hierdie vlak versoening moes doen sou hulle vandag nog besig wees, ten koste van vooruitgang en die welisware leef van ‘n veronderstelde demokrasie. die afrika feite is kaal en duidelik. die mense wat versoening moet laat plaasvind en bestuur, se hande is of deels afgekap, of bevooroordeeld, of het verskuilde agendas. as jy my vra, moet die regering waarheid en versoeningsverlslae aan die stemmers voorlê in terme van wat de *** hulle gaan doen om die welvaartsverspreiding wat hulle 15 jaar terug belowe het, te laat inskop (‘n ander perd, ja, ek weet). ons versoen al twee dekades lank, en honderde duisende mense het nie lopende water nie. mense versoen makliker (en maatskaplike dinamika word makliker gemeet) as hulle water en blyplek het, en as hulle nie oor hulle velkleur werk gegee word of afgedank word nie.

  10. Ysprins, jy help my om op ‘n ander manier te verduidelik wat ek in my artikel betoog het: ‘n Mens kan na verhoudinge in die samelewing op twee manier kyk – ‘n morele en ‘n meer feitelike manier. Moreel kan ‘n mens dan praat van dinge soos skuld, vergifnis, restitusie en versoening. Anders as my een gewaardeerde respondent, Christi van der Westhuizen, beskou ek dit nie as “wollerig” nie. Dis egter ‘n perspektief wat die beste tot sy reg kom tussen individue en kleiner gemeenskappe, gemeenskappe met gesigte, as ‘t ware. Wanneer ‘n mens na die samelewing as geheel kyk, is dit beter om die saak meer feitelik te benader: Hoe moet die samelewing deur wetgewing, beleid en politieke bedinging so omvorm (getransformeer) word dat daar minder spanning en gevaarlike konflik tussen groeperinge in die samelewing kan wees? Waarvoor ek pleit, is dat, op die vlak van die openbare diskoers oor politiek, die meer feitelike, eerder as die morele, diskoers die aangewese een is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.