Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Of ‘n sekulêre staat moontlik is

September 25, 2009 in Sonder kategorie

Ek het gister na ’n lesing, “No Priority for the Secular”, deur die Sweedse filosoof Marcus Agnafors, gaan luister. Hy ontleed die begrip “sekulêr” soos dit akademies én populêr gebruik word, en beoordeel krities ’n aantal gewilde argumente ten gunste van ’n sekulêre staat. Breedweg vertolk hy “sekulêr” as nie-religieus of, soos hy dit stel, op ’n afstand van godsdiens, en vind hy die gangbare argumente vir sekularisme – die oortuiging dat die staat sekulêr móét wees – nie oortuigend nie.[1]

Gesien die hernieude omstredenheid oor godsdiens in ons openbare skole is Agnafors se vraagstelling uiters relevant. Die vraag wat dit by my oproep, is egter nie of ’n sekulêre staat – ’n staat sonder religieuse lojaliteite of verbintenisse – wenslik is nie, maar of dit hoegenaamd moontlik, of selfs denkbaar, is.

Wanneer is ’n menslike verskynsel “religieus”? Die relatiewe religiositeit of godsdienstigheid van ’n samelewing word soms “gemeet” deur vas te stel hoeveel van sy lede in die bestaan van God, of ’n “hoër wese”, glo. Maar is dit ’n goeie maatstaf? Boeddhiste word allerweë as religieus beskou, maar geloof in die bestaan van ’n opperwese is nie deel van hul religie nie, en pleitbesorgers vir sekularisme sal sekerlik ewe min vir ’n Buddhistiese as vir ’n Christen- of Moslemstaat te vinde wees.

Die religieuse het te doen met die absolute. Volgens die kerkhervormer Martin Luther is ’n mens se god “dit waaraan jou hart vasklou”. Die teoloog Paul Tillich beskryf dit as ’n mens se “ultimate concern”, maar ook “the ground of being” en “being itself”. Vincent Brümmer, ’n godsdiensfilosoof, praat van die “primêre sinsdeterminant”, waaraan ek sou toevoeg die “primêre synsdeterminant”. En Bob Dylan sing: “You’ve gotta serve somebody …”

Hoekom is daar iets, en nie niks nie? Hoekom is dit soos dit is, en nie anders nie? Wat is die sin van dit alles? Wat maak uiteindelik, onvoorwaardelik, saak? Vrae soos dié is religieuse vrae.

Elke mens lewe, handel, oordeel, kommunikeer – hetsy implisiet of uitdruklik, bewustelik of onbewustelik – vanuit wat hy of sy as die aanneemlikste antwoorde op sulke vrae beskou. Meer nog, die korrektheid van hierdie basiese vertrekpunte waarmee almal leef, kan nie empiries nagegaan word nie; ons oortuigings oor die absolute is metafisies van aard – daar is nie neutrale kriteria waaraan hul graad van aanneemlikheid met universele instemming getoets kan word nie.

Ook die politiek en staatsbestuur is hieraan onderworpe. Agter politieke praktyke, instellings, debatte en maneuvers sit sekere aannames oor wat uiteindelik werklik, moontlik en wenslik is. Daar kan nie ’n neutrale staat wees nie, en dus ook nie ’n sekulêre (in die sin van ’n nie-religieuse) een nie.

Die Accra-verklaring van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke tipeer die bewering dat daar “geen alternatief” vir kapitalistiese globalisering, met sy vernietigende gevolge vir mens en omgewing, is nie, as “afgodery”. Met ander woorde, die ideologie van TINA (“there is no alternative”) is ’n (vals) religie. So is dit. Religie kan nooit uit die openbare domein verban word nie, want enige domein waarop mense handel, is religieus gekleur – gemerk deur uitgangspunte oor die absolute.

Wat wel haalbaar (en, na my mening, wenslik) is, is dat die staat hom nie amptelik by één religieuse tradisie skaar nie, maar as ’n ruimte funksioneer waar botsende oortuigings oor die absolute vreedsaam kan wedywer: ’n staat gewikkel in ’n nimmereindigende debat oor sy eie telos. Iets soos ’n liberale demokrasie, dus.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.


[1] Agnafors het sy lesing baie uitdruklik as ’n voorlopige denkeksperiment, en daarom onaf, aangebied en gevra dat daar nie woordeliks uit die teks aangehaal word nie.

Wanneer wolke deur stortkoppe verdring word

September 21, 2009 in Sonder kategorie

By die skryf van hierdie artikel kyk Suid-Afrika terug op die eerste honderd dae van die 67-jarige Jacob Gedleyihlekisa Zuma se termyn as staatshoof. In hierdie honderd dae het daar nie eenkeer, sover ek kon vasstel, ’n stortkop bo-op ’n afbeelding van Zuma op ’n spotprent gepryk nie. Wel soms een wat ’n entjie bó Zuma huiwer, soms nader, dan weer verder …

Klik op die skakel hierbo vir die res van my jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika, en dan hieronder op “Lewer kommentaar” om daarop te reageer.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Retoriese vrae oor taal en gelykheid

September 18, 2009 in Sonder kategorie

1. Gestel Zoeloe sou die dominante openbare taal in Suid-Afrika word, sodat dit op elke terrein – van die regspraak en die onderwys tot die openbare uitsaaier en staatsdienskantore – uitsluitlik of hoofsaaklik as voertaal gebruik word. Wie sou materieel daardeur bevoordeel word: Zoeloesprekendes en daardie anderstaliges wat Zoeloe goed beheers, of diegene met geen, of slegs ’n gebrekkige, kennis van Zoeloe?

2. Hoe lyk die ras- en klasprofiel van die bevoordeelde groep in bogenoemde scenario?

3. Sou die genoemde taalscenario billik wees teenoor Suid-Afrikaners wat nie doeltreffend in Zoeloe kan kommunikeer nie?

4. Sou ’n mens oortuigend kan redeneer dat almal wat met Zoeloe sukkel maar net die moeite kan doen om die taal aan te leer, en dus niks het om oor te kla nie?

5. Sou die antwoorde op vrae 1 tot 4 anders lyk indien “Zoeloe” deurgaans met “Engels” vervang word?

I rest my case.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Ek het julle mos gesê

September 17, 2009 in Sonder kategorie

Dis nie mooi om dit te doen nie, maar soms is die versoeking darem groot om uit te roep: “I told you so!” Ek het uit die staanspoor gesê baie rugby-entoesiasme se skeptisisme oor Peter de Villiers se potensiaal as Springbokafrigter is ongegrond.

Ten tyde van sy aanstelling het sy rekord baie gelyk soos Jakes White s’n toe hý Bokafrigter geword het. Ook sý hoogste prestasie op daardie stadium was dat hy ’n junior Springbokspan na internasionale sukses gelei het. Buitendien het die negatiewe reaksie op daardie eerste paar verloorwedstryde onder Div my baie herinner aan hoe verskeie mense, ek ingesluit, op ’n stadium oor White gevoel het toe sý span ’n paar mislukkings beleef het. Div se aanstelling was omstrede omdat daar ten minste een ander kandidaat vir die pos was wat na ’n waarskynlike keuse gelyk het, maar dieselfde het White se aanstelling gegeld. Buitendien het ek daarvan gehou dat Div nie bloot White se wenresep voortsit nie, maar die span ’n stap verder wil neem.

Met ons oorwinnings oor die Britse en Ierse Leeus en ons wen van die Drienasiereeks is Div se vermoë (en daarmee my vertroue in hom!) behoorlik gevindikeer. Terugskouend is dit interessant om te vra: Hoekom is soveel Suid-Afrikaners daardeur verras?

Een faktor is dat Oregan Hoskins van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru), toe hy Div se aanstelling aangekondig het, gesê het nie net meriete nie, maar ook “transformasie” (lees: ras) is in ag geneem. Dit het impliseer dat Div nie die beste kandidaat was nie, maar aangestel is omdat hy swart is. As die voorsitter dit sê, gee dit ’n vrypas aan enigiemand anders om dit ook te sê: ’n Mens kan nie, in alle konsekwentheid, sê jy’t iemand oor sy ras aangestel en jou dan vervies as ander mense beweer jy’t dit gedoen nie!

Myns insiens was Hoskins se uitlating rassisties en beledigend teenoor Div, wat, nes White voor hom, oor al die kwaliteite vir die pos beskik het, ongeag sy kleur. Hoskins moes eenvoudig die besluit oor die nuwe afrigter aangekondig het en basta.

Tog dink ek nie rassisme was die grootste faktor nie. Die rugbypubliek het reeds gewys “everybody loves a winner” – daarom sing ook wittes Bryan Habana-liedjies en brul van lekkerkry sodra Tendai “Beast” Mtawarira aan die bal raak. Dit het my buitendien opgeval dat ook swart mense met wie ek oor Div gesels het skepties oor hom was.

Nee, ek dink klas- en taalvooroordeel het die grootste rol gespeel. Vir baie wittes was dit in orde dat die Bokke ’n swart afrigter kry, maar dan moes dit een wees wat darem goed Engels praat. En vir baie bruines was dit maar swaar sluk aan so ’n egte “Bolander” as Bokafrigter; as dit ’n Engelssprekende bruin stedeling was, sou hulle dit makliker kon aanvaar. Juis daarom kry ek so ekstra lekker oor Div se reusesukses. Dit laat my selfs ’n bietjie aan Paul Kruger dink, wat weens sy Boerse styl en gewoontes dikwels vlak gekyk is, maar nietemin terugskouend deur ’n gerekende historikus soos Charles van Onselen hoog aangeslaan word as staatsman.

Ja, Div het dikwels lawwe dinge gesê – ek het hom self van sy uitlatings, veral oor ras en politiek, gekritiseer – maar dit het niks te doen met sy vermoë om ’n span af te rig nie. Die vooroordeel jeens hom was (en is) nie daarop gebaseer nie, maar op die feit dat hy ’n plattelander sonder fieterjasies is, wat gebroke Engels met ’n Afrikaanse aksent praat.

Iewers lê daar ’n belangrike les vir Suid-Afrika in. En ek like dit!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Miniseminaar oor transformerende Afrikaans

September 13, 2009 in Sonder kategorie

Die Stellenbosse teoloog Nico Koopman het onlangs ‘n pleidooi vir ‘n “transformerende Afrikaans” gelewer. In die jongste miniseminaar lewer Theo du Plessis, Pieter Duvenage en Danny Titus uit verskillende blikhoeke kommentaar daarop. Klik hier om Koopman se artikel en die replieke te lees, en dan hier onder op “Lewer kommentaar” vir ander se mening of om joune te lug.

Neerbuigende houdings teenoor swart mense

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Adv. Dumisa Ntsebeza beskuldig oudregter Johann Kriegler van ’n “duidelik neerbuigende houding teenoor swart mense”, berig Die Burger vandag. Ter ondersteuning hiervan verwys Ntsebenza na Kriegler se waarskuwing dat die regbank se onafhanklikheid nie op die “altaar van transformasie” opgeoffer word nie, en sy bewering dat die Regterlike Dienskommissie “transformasie, pleks van kwalifikasies, die fundamentele vereiste vir aanstellings op die regbank (maak)”.

Volgens Ntsebeza gee dit “aanstoot”: “Wat hy (Kriegler) in wese sê, is dat al die swart regters net aangestel is omdat hulle swart is, nie op meriete nie.” Hierdie afleiding kan op meer as een vertolking van Kriegler se uitsprake berus:

1. Kriegler dink géén swart regter sou op die regbank gedien het as meriete die enigste oorweging was nie.

2. Kriegler dink dat, aangesien nie net meriete nie, maar ook ras, ’n oorweging by aanstellings is, sómmige swart regters nie regters sou geword het as slegs meriete getel het nie.

3. Kriegler dink ras weeg te swaar by besluite oor wie regter moet word, ten koste van ander oorwegings.

Interpretasie no. 1 (Ntsebeza verwys na “al die swart regters”) is ongegrond. Kriegler het nie beweer dat daar geen geskikte swart kandidate vir die regbank is nie. In die uitsprake waarna Ntsebeza verwys, doen Kriegler dit in elk geval nie. ’n Veralgemening oor die bekwaamheid van swart kandidate word ook nie daardeur geïmpliseer nie.

No. 2 lyk minder vergesog. Dis algemeen bekend dat Kriegler ten gunste van rassige transformasie van regbank is – ek het hom dit al hoor verdedig. Hy is dus ten gunste daarvan dat nie net meriete nie, maar ook ras, by die aanstelling van regters oorweeg moet word. Na my wete stem Ntsebeza saam. Dis verder gemene saak dat wat Kriegler en Ntsebeza bepleit reeds gebeur. As dit neerbuigend teenoor swartes is om hul ras in ag te neem wanneer hulle vir aanstellings oorweeg word, of om te erken dat dit reeds gebeur, dan is Ntsebeza self neerbuigend teenoor swartes.

No. 3 lyk vir my die waarskynlikste vertolking: Kriegler, nes Ntsebeza, meen dis noodsaaklik dat ras een van die oorwegings by aanstellings op die regbank moet wees, maar wil nie hê dit moet so ’n sterk oorweging wees dat ander belangrike oorwegings, soos geskiktheid vir die pos, in die slag bly nie, want dit kan die regbank se onafhanklikheid in gedrang bring. Iemand wat nie bekwaam is om regter te wees nie moenie aangestel word net omdat hy of sy swart is nie. En as ’n regter hom of haar aan wangedrag skuldig maak, moet daardie regter nie minder streng behandel word omdat hy of sy swart is nie.

Verskil Ntsebeza hiermee? Dan het hý die “neerbuigende houding teenoor swart mense”.

Het Ntsebeza dit dalk teen Kriegler se suggestie dat, in sommige gevalle, rasoorwegings reeds te swaar geweeg het? Dis Ntsebeza se goeie reg om daarmee te verskil, maar dit bly non sequitur om uit Kriegler se suggestie af te lei dat hy ’n neerbuigende houding teenoor swartes het. Al wat daaruit afgelei kan word, is ’n negatiewe houding teenoor die oorbeklemtoning van ras.

Miskien sou Ntsebeza redeneer dat, in Kriegler se suggestie, ’n voorveronderstelling skuil: dat ’n kleiner persentasie swartes as wittes oor die gewenste kwalifikasies en ervarings vir die regtersamp beskik. Maar sou dit neerhalend wees? Ontken Ntsebeza dan dat daar in die verlede op onderwys- en beroepsgebied teen swartes gediskrimineer is? Sekerlik tog nie! As dit neerhalend teenoor swartes is om daarop te wys, dan is Ntsebeza een van die mees neerhalende regslui in die land.

My konklusie: Ntsebeza se beskuldiging “slaat nergens op”.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Moet ons nog oor versoening praat

September 2, 2009 in Sonder kategorie

In die Mei-uitgawe van die tydskrif Streven het ‘n artikel van my verskyn waarin ek betoog dat die diskoers van versoening nie meer die mees geskikte is om die politieke en maatskaplike dinamika in Suid-Afrika te ontleed nie. Met die oog op ‘n miniseminaar het ek vir Pieter Grove, Christi van der Westhuizen en Fanie du Toit gevra om elkeen ‘n repliek daarop te skryf. My artikel en die drie replieke daarop kan nou elders op LitNet gelees word. Die gedagte is dat soveel moontlik mense aan hierdie gesprek deelneem, so spring in en laat van julle hoor!