Intellektuele tydreise bly tog moontlik

Augustus 19, 2009 in Sonder kategorie

“Een gepasseerd station.” Hierdie uitdrukking het ek die eerste keer in Nederland gehoor, toe een deelnemer aan ’n gesprek ’n standpunt wat deur ’n ander verdedig is so beskryf het: as ’n verbygegane stasie, een wat steeds verder agter ons lê.

Wat die uitgediende idee was, deur wie dit verdedig is en wie dit as uitgedien beskryf het, kan ek nie meer onthou nie, maar ek onthou wel hoe die uitdrukking my getref het as kenmerkend van ’n tipies Europese soort vooruitgangsdenke wanneer dit by die ideegeskiedenis kom – selfs in ons postmoderne/laatmoderne tydvak met sy agterdog jeens groot stories (meesternarratiewe).

Ja, selfs baie kritici van die vooruitgangsmotief in die intellektuele geskiedenis bly daaraan verknog in die sin dat hulle sekere opvattings van die hand wys, nie op grond van geldige argumente daarteen nie, maar bloot omdat dit lanklaas gehuldig is. Al glo hierdie mense nie dat vandag se idees noodwendig beter as gister s’n is nie, glo hulle nietemin dat gister se idees nie meer vir ons beskore is nie, maar “onbereikbaar ver”, soos Koos du Plessis se “lang vermiste mense”.

Ek stem nie saam nie – dalk weens my blootstelling, op ’n vroeë leeftyd, aan die aweregse denke van die literêre historikus C.S. Lewis, ’n kenner van veral Middeleeuse en Renaissance-literatuur, wat homself as ’n lewende dinosourus uit daardie eras beleef het, en onder meer in sy Mere Christianity geskryf het dat daar niks mee verkeerd is om “die horlosie terug te draai” as die horlosie verkeerd is, of om terug te stap op ’n mens se spore as jy agterkom jy’t die pad byster geraak nie.

In die filosofie is ’n uitstekende voorbeeld hiervan Alasdair MacIntyre wat in sy baanbrekerboek oor die etiek, After Virtue, die standpunt verdedig dat die (post)moderne Westerse mens nie meer morele taal kan verstaan nie, en dat die enigste oplossing hiervoor is om terug te keer na die wortels van hierdie taal in ’n verstaan van die verhouding tussen deugde en praktyke sedert die Antieke denke – ’n stel insigte wat in die aanloop tot die moderniteit verlore geraak het.

Nog ’n rolmodel vir mense wat, soos ek, nie glo dat ’n idee se ouderdom of gewildheid iets oor sy korrektheid verraai nie, is natuurlik GK Chesterton. In sy Orthodoxy pleit hy vir ware demokrasie, wat in sy oë inhou dat ook die afgestorwenes ’n stem kry – in die dubbele sin van inspraak en ’n spreukbeurt.

Onlangs lees ek ’n boek deur die psigiater en filosoof Guus Labooy, Waar geest is, is vrijheid, waarin hy betoog dat die Middeleeuse denker Duns Scotus die konseptuele gereedskap aanryk wat die moderne mens kan help uit sy verwarring oor sake soos vryheid, persoonlike identiteit, en die verhouding van liggaam en gees – verwarring wat ontstaan het weens die verlies van bepaalde noodsaaklike konsektuele “gene” (Richard Dawkins sou dalk eerder van “meme” wou praat) in die intellektuele nalatenskap van René Descartes, die vader van die moderne mensbeeld.

In ons eie land draai die filosoof Danie Goosen die horlosie terug deur, onder meer in sy boek Generositeit en Lewenskuns, die modernisme en postmodernisme af te wys en wysheid by onder andere die Middeleeuse denker Thomas Aquinas te soek. Ook denkers wat met die pre-Christike, prekoloniale tradisies van Afrika in gesprek tree om sodoende bruikbare intellektuele gereedskap vir ons tyd en omstandighede te bekom, soos die filosoof MB Ramose, kan as belangrike hedendaagse tydreisigers genoem word.

Immers, ’n verbygegane stasie kan juis die een wees waar ’n mens veronderstel was om af te klim op pad na jou bestemming, en waarheen jy dus moet terugkeer as jy nie nog verder wil verdwaal nie.

* Stuur ’n e-pos met die word “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

10 antwoorde op Intellektuele tydreise bly tog moontlik

  1. Ek stem so saam met jou. Dis my motto ook op die oomblk; BACK to basics

  2. Nederlands bly maar ‘n interessante taal.
    Ek lees nou ‘MY MA SE MA SE MA SE MA,van ENA JANSEN, RIET DE JONG-GOOSENS EN GERRIT OLIVIER, en die opskrif van’n spesifieke paragraaf is BIG BROTHER.
    Duisende mense wat hierdie intieme kyk in die privaat lewens van ander mense gekry het. ‘EEN VORM VAN AAPJESKIJKEN’ p 61.

    Op p66, word verwys na hierdie navorsing van die betrokke families,wat’DICHT OP DE HUID SIT”
    Dit is pragtig beskrywend.

  3. Baie interresant!

  4. In die sielkunde, seker die mees “presentistiese” dissipline in die geesteswetenskappe, het Michael Billig betoog vir ‘n “antikwariese” ingesteldheid. Hy onderneem dan ook ‘n tydsreis na die voor-Sokratiese filosowe om ‘n kritiek uit te werk op 20ste-eeuse sosiale sielkunde teoriee oor houdings, oorreding en kategorisering. Die gevolg was ‘n dinamiese “nuwe” benadering tot hierdie fenomene, met baie ouer wortels.

  5. Ja, dalk is daar ‘n paar stasies om na terug te keer en te kyk of ons nie dalk daar op die verkeerde trein geklim het nie.

  6. In beginsel alles waar. Behalwe daai beeldjie van die stasie wat na al die eeue van onbruik steeds gereed staan om reisigers van elders te ontvang.

    In der waarheid vereis die terugkeer na die bouvalle van Duns Scotus en die presocratici nogal ‘n argeologie van ‘n ander soort.

    Waar dit in die eietydse filosofie wel grondig gedoen is, het die terugkeer tot ou idees paradoksaal tot innovasie en vernuwing gelei, so ook in die kunste.

    Daarsonder word dit maar net ‘n sentimentele terughunkering na dit wat eens was, dikwels nie eers so verskriklik lank terug nie, ‘n halwe dagdroom ver.

  7. Hi Gerrit
    Ek mag verkeerd wees maar is Generositeit en Lewenskuns nie die titel van Marinus Schoeman se boek nie?
    Jaco

  8. Ek dink die “presentisme” hou verband met die positiwisme, omdat laasgenoemde beteken dat die konseptuele kant van sielkundige teorievorming as vanselfsprekend aanvaar word, as outomaties voortvloeiend uit empiriese gegewens. Dis waar die filosofie van die sielkunde belangrik word: om daardie konseptuele aspekte uit te lig en te wys dat daar geen noodwendige verband tussen hulle en die empiriese gegewens is nie. En dat ouer konsepte selfs soms handiger met die empiriese gegewens kan omgaan.

  9. Jy het ‘n punt beet, maar ek sou steeds wou verdedig dat daar sekere begrippe en argumente uit die verlede is wat doodgewoon bruikbaar en geldig bly. In die moderne vooruitgangsdenke skuil ‘n aanname dat die blote feit dat ‘n sekere konsep of gedagte in onguns verval het opsigself bewys dat dit nie meer bruikbaar is nie, maar dis ‘n ongegronde aanname. Ek vind byvoorbeeld Scotus se uitleg van die vryheidsbegrip steeds die beste tot nog toe.

  10. Point taken

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.