Koos Sas se skedels herbesoek

Augustus 3, 2009 in Sonder kategorie

Met dié dat David Kramer se Ballade van Koos Sas (nou met die Engelse titel Koos Sas – Last Bushman of Montagu) nou ook in die buiteland die aandag trek – met resensente wat, luidens ’n berig in Die Burger, daarna verwys as “energetic, yet disturbing and soulful” (Evening Standard), “a vibrant and physical African export worth seeing” (The London Paper) en “touching, imaginative and blessed with a unique flavour of its own” (The Daily Telegraph) – is dit dalk tyd om ’n debat wat my oudkollega Martiens van Bart vroeg verlede jaar oor dié musiekspel aan die gang gesit het (kyk hier) weer op te neem.



Nóg Kramer, nóg enige ander ernstige kunstenaar sal verlang dat sy werk klakkeloos bewonder word. Wat kuns van blote vermaak onderskei – so het Kramer ’n keer in ’n lesing op die KKNK betoog – is die vermoë “om die onsigbare sigbaar te maak”, om iets te laat sien. Juis dít lok gesprek uit. 


In die debat oor Koos Sas was ’n sentrale gesprekspunt die vraag of ’n kunswerk slegs op sy kunswaarde beoordeel moet word. Kramer se kritici was van mening dat hy in Ballade ’n feitelik onjuiste voorstelling van die historiese gebeure gegee het. Sy verdedigers, daarenteen, het op die voortreflikheid van die produksie gewys en die eis verwerp dat ’n kunswerk die verlede akkuraat moet uitbeeld.



Self het ek helaas nog nie die musiekspel meegemaak nie, hoewel ek goed bekend is met die lied “Koos Sas” waaruit dit gegroei het. As bewonderaar van Kramer se werk het ek egter geen rede om die lofredes van resensente te wantrou nie. Boonop skaar ek my in die kunsteoretiese debat by die standpunt dat kuns ás kuns beoordeel moet word, en nie as historiografie nie. Tog is daar iets wat my gehinder het aan verlede jaar se debat; dis asof ’n kernvraag nie gestel is nie. 


By ’n werk soos Ballade kan die verhouding tussen kunswerk en geskiedenis nie bloot van die tafel gevee word nie. Die kunstenaar kon ’n verbeelde wêreld uit die niet opgetower het, maar het gekies om sy verhaal op historiese gegewens te baser.



Daaruit volg nié dat die feite getrou weergegee moet word, of dat dit vir die kunstenaar ongeoorloof is om – in die woorde van André P. Brink, met verwysing na sy historiese roman Bidsprinkaan – “by te lieg” nie. Maar dit laat wel die vraag ontstaan of die kunstenaar die maksimum uit sy stof gehaal het, vergelykbaar met die vraag of ’n fiksieskrywer sy “gegewe” genoegsaam benut het. 


Vyf reëls in die lied “Koos Sas” het my, ná die lees van Van Bart se historiese artikel, hieroor laat wonder:



Oppie plaas van baas Botha


Dis nou Boetatjie Botha


Het hulle twee gestry


Boeta moes gewag het want op ’aai dag het


Koos Sas sy keel afgesny 


Dis onteenseglik dat Kramer hier die beeld van Sas as ’n geharde misdadiger doelbewus versag. In werklikheid is Botha immers met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan terwyl hy in sy winkel afgebuk het om meel vir Sas te kry, aldus Van Bart. Waarom het Kramer sy poetic licence juis só aangewend?



In ’n onderhoud met Murray la Vita verduidelik Kramer dat dit vir hom eerstens oor die storie gaan: Die musiekspel begin met die skedel van Sas in die Montagu-museum en eindig ook daarmee. Dit vertel hoe die skedel daar beland het, en dra iets oor van ’n samelewing se brutaliteit. Dit alles geld die lied ook. Dié verduideliking maak die vraag hierbo egter meer akuut. 


Toegegee, die skedel in die museum is onweerstaanbaar as vertrekpunt van ’n verhaal, en die geskiedenis van dié skedel openbaar ’n onthutsende brutaliteit. Maar sou die lied nie meer trefkrag gehad het as dit ons laat sien het hoe verwikkeld brutaliteit is nie – dat die een wie se lyk so gevoelloos onteer is self ’n gewetenlose moordenaar was? En dat die ongelukkige slagoffer van die man wie se skedel nou in die museum pryk nogal met ’n hou oor die kop vermoor is – skedel teen skedel ...



Met sy versuim om hierdie dubbelsinnigheid te ontgin het Kramer ’n geleentheid laat verbygaan om ’n lied te skep wat simplistiese opposisies van slagoffer en dader, swart en wit, goed en sleg, deurmekaar krap. Die lied “Koos Sas”, hoe treffend en roerend ook, kon nóg beter gewees het. Of dit van die musiekspel ook waar is, weet ek nie. 


In die debat oor Ballade kan dit dus nie nét gaan oor die vraag of kuns as kuns beoordeel moet word nie, maar ook oor of die kuns daarmee gedien is dat kunstenaars ’n boodskap wil oordra in plaas van om die onvoorstelbare te laat sien.

16 antwoorde op Koos Sas se skedels herbesoek

  1. Heerlik om jou hier te sien! 🙂

  2. Welkom op Litnet.

  3. zephur het gesê op Augustus 4, 2009

    Welkom en geniet dit hier by ons klomp bloggers

  4. kammakazi, ek stem saam dat kunstenaars die vryheid mag uitleef om die geskiedenis uit te beeld soos die muse dit dikteer, maar dit beteken nie alle kunswerke is ewe geslaag nie. My punt is nie dat daar iets meer verkeerd is om die geskiedenis te fiksionaliseer nie. (Ek dink byvoorbeeld Frits Gaum se ‘Lengte van ’66’, wat doelbewus ‘n tydvak se geskiedenis anders laat verloop as wat in feite gebeur het, is ‘n briljante roman.) Ek dink egter ‘n kunstenaar moet die meeste probeer maak van sy of haar materiaal, of dit nou historiese gegewens of verbeeldingsvlugte is. In die geval van Kramer se ‘Koos Sas’ bied die historiese feite wonderlike stof vir ‘n meer verwikkelde kunswerk, maar dit wil voorkom dat hy daardie moontlikhede nie benut het nie.

  5. Neander het gesê op Augustus 4, 2009

    Gerrit, ik kan sien jy is deetlik onderleg in Afferkaans, maar die geskiedskrywer mag nooit die historiese feite verdraai om hom of die volk te pas nie.

    Welkome ter plaatse, my seun en pa was ook Gerrit.
    Terloops geslaagd moet ‘n d kry as verlede deelwoord.

  6. ek dink baie hang af van wat die kunstenaar wil “doen” met die kunswerk (of nie).

    ek dink dat kuns per se nie altyd ‘n motief of boodskap hoef te hê of oor te dra nie.

    die “kunsheid” van ‘n kunswerk is egter baie belangrik. dan moet ek ook bysê dat sommige kunstenaars hul kuns opsetlik onkunstig of amper kunsloos eenvoudig bedryf, bloot as ander ekspressiewe moontlikheid.

  7. Neander, ek stem nie saam or die D as ‘n vereiste agteraan “geslaag” nie; sal bietjie in die nuwe AWS gaan kyk!

    Jy het gelyk dat geskiedskrywers nie historiese feite mag verdraai nie, maar my inskrywing hierbo gaan nie oor geskiedskrywing nie. Dit gaan oor ‘n musiekspel wat sekere historiese gegewens as inspirasie gebruik. Myns insiens sou dit nie billik wees om daarvan, of van byvoorbeeld ‘n historiese roman, te verwag om te alle tye nougeset aan die feite te hou nie.

  8. paul, ek sou selfs nog verder as jy gaan: Ek dink goeie kuns is ooit regstreeks daarop gemik om ‘n boodskap of moraal oor te dra nie. Kuns kan wel “stigtend” wees, maar dan op ‘n veel komplekser en onregstreekse manier as deur die oordra van ‘n vooraf gekose boodskap. Wat David Kramer wou “doen” met hierdie kunswerk was, in sy eie woorde, om iets van die brutaliteit van ons geskiedenis te laat sien. My argument is dat hy dit, ten minste wat die lied “Koos Sas” betref, beter sou kon doen deur meer uit die historiese gegewens te put. In hierdie geval wil dit vir my lyk asof die feite vreemder en interessanter as die fiksie is.

  9. kammakazi, jammer dat ek verkeerdelik nie van die “antwoord”-funksie gebruik gemaak het om op jou kommentaar te reageer nie, maar dit in ‘n nuwe kommentaar (4 Aug, 19:05) gedoen het. Ek leer nog hierdie stelsel ken!

  10. Neander, my reaksie op jou kommentaar is as nuwe kommentaar op 5 Aug om 10:14 gepos. Ek het nou eers agter gekom dat dit hier anders werk as met my vorige blog wat ek elders gehad het.

  11. die spanning tusen die onbewuste en bewuste word verskillend deur kunstenaars verbeeld. geen kunswerk is perfek nie en die se waarheid is ‘in the making in the mind of the beholder’ervaring van kuns is nie n eksakte wetenskap nie. dankie vir ‘n deurdagte kiekie uit jou ooghoek.

  12. Welkom ‘Lex’ ag ek meen Gerrit!

  13. Dankie!

  14. Gerrit, baie welkom. En sterkte daar by die “Angel factory”. Ons gaan nog baie gesels.

  15. dwmouton het gesê op Augustus 8, 2009

    By die lees van jou kommentaar, en Martiens van Bart se historiese opmerkings, het ek aan die pittige opmerking gedink dat die verlede in Suid-Afrika eintlik meer onseker is as die toekoms.

    Ek is self ‘n bewonderaar van Kramer se werk. Jou kommentaar laat my wonder… Wanneer ‘n kunstenaar historiese gegewens selektief hanteer om, in hierdie geval, brutaliteit uit te beeld, ontstaan die gevaar dat die kuns as moraliserend, polities-korrek en beskuldigend en stereotiperend beleef kan word. Ek verwys hier nie net na Afrikaners wat hulself in hierdie geval aangespreek mag voel nie. Dit gaan vir my oor die kompleksiteit en verweefdheid van – sê – brutaliteit of boosheid in alle kontekste, wat gerus esteties in baie gevalle beter ontgin en uitgebeeld kan word.

    Natuurlik is dit ‘n bitter-moeilike opgawe, want ons ken almal ten dele. Miskien is ek sommer net onnodig idealisties, kleinserig en teleurgesteld omdat ‘n ryk en diep historiese verhaal nie ten volle ontgin is nie.

  16. Danie, jy verwoord my sentimente presies. Dit gaan nie daaroor dat die “boosheid” misken moet word nie, maar juis dat dit in sy volle verwikkeldheid gesien moet word. Dis soveel geriefliker om boosheid eenvoudig aan een individu, een groep of een era toe te skryf vanuit ‘n “suiwer” eenkantposisie – daardie moralistiese beskuldigende vinger – maar die ware geskiedenis is meer verontrustend en dis eintlik wat ‘n mens hoop ‘n kunstenaar raak sal sien en uit sal wys.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.