Wat het ons uit die Afrikaanse Taalraad se konferensie geleer?

Woen 1 Sep 2010, 12:15        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat meer as 40 Afrikaanse organisasies en om en by 400 000 lede verteenwoordig, het pas sy tweede jaarvergadering gehad en dit laat aansluit by sy reusekonferensie oor Afrikaans en die onderwys. Verskeie kenners op hierdie gebied het oor drie dae referate gelewer wat elke denkbare aspek van die problematiek behandel het, en baie positiewe insigte het na vore gekom.

 

In diie jongste miniseminaar op LitNet se Seminaarkamer, deel antwoord Wannie Carstens (ATR-voorsitter) en Michael le Cordeur (ATR-ondervoorsitter) op die vraag: Wat het ons uit die ATR se onderwyskonferensie geleer? Anzil Kulsen, skrywer en nuwe ATR-direksielid, se bydrae tot hierdie bespreking sal ook binnekort verskyn.

 

Verder beoog LitNet om so veel moontlik van die lesings wat op die konferensie gelewer is te publiseer. Lees, leer en praat saam!

 

Anzil Kulsen se bydrae is nou ook gelaai; klik hier om dit te lees.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  afrikaanse taalraad   atr   wannie carstens   michael le cordeur   anzil kunsel   onderwyskonferensie   miniseminaar  


'Creature Magazine' kook

Dins 31 Aug 2010, 12:56        4 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Creature Magazine is ’n splinternuwe aanlyn-tydskrif wat pas onder my aandag gekom het. Gaan loer gerus in. Dis vars, jonk en uitdagend.

 

Die lokreël lui: “God serves the creature.” Dis waarskynlik as bietjie van ’n skoktaktiek bedoel, maar dis ironies genoeg heel ortodoks (jammer meneer die redakteur!): hierdie idee dat die Skepper nie op eie belang nie, maar op die belang van die skepping uit is.

 

Dit sal oulik wees as die inhoud nie net in Engels is nie, maar nou ja. Dit is beslis ’n publikasie om dop te hou. Alle sukses daarmee, redaksie!

 

(Belangeverklaring: Die redakteur, Christian G Lee, is ’n nefie van my. Hy kan, behalwe skryf, ook nog toneel speel, sing ... noem maar op!)

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  creature magazine   go serves the creature   christiaan g lee  


Hoekom buitelanders Afrikaans leer (of nie)

Maan 30 Aug 2010, 11:13        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

'n Nuwe miniseminaar het in die Seminaarkamer begin - oor hoekom sommige buitelanders in Suid-Afrika Afrikaans en/of ander Afrikatale aanleer, en andere nie. Die eerste bydrae, wat nou gelees kan word, is deur Almatine Leene. Die ander bydraes volg binnekort. Lees dit en gesels hier saam - in enige taal.

 

Lees nou ook Christiane Simon se gedagtes, as 'n Duitser in SA, oor hierdie onderwerp.

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  afrikaans   buitelanders   foreigners   almatine leene   christiane simon  


Die vergesogtheid van die evangelie

Woen 18 Aug 2010, 14:46        51 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Een rede hoekom hy die evangelie geloofwaardig vind, skryf CS Lewis, is dat “we could not have invented it ourselves”: “It has the rough ... taste of reality.” Die leer van die Drieëenheid, byvoorbeeld, “is something we could not have guessed”.

 

Inderdaad. Maar dieselfde oorweging maak dit ook weer moeilik om te glo. Gotthold Lessing skryf in die 18de eeu dat die “toevallige” waarhede van die geskiedenis en die “noodsaaklike” waarhede van ’n redelike godsdiens deur ’n “aaklige kloof” van mekaar geskei is. Volgens hierdie siening moet godsdienstige oortuigings ’n sekere vanselfsprekendheid hê. Die lewe van Jesus kan dalk help om ons aan dié ewige waarhede te herinner, maar daar is geen noodsaaklike verband tussen boodskap en boodskapper nie.

 

Lessing se probleemstelling word dikwels met die moderne denke geassosieer, maar in werklikheid dateer dit uit die antieke wêreld. In die Grieks-Romeinse kultuur is ook oor godsdiens gedink in terme van ewige, noodsaaklike waarhede. In die volkswysheid het dit uitdrukking gevind in die mitologie, wat nie feitelike weergawes van die gode se doen en late wou wees nie, maar kleurvolle illustrasies van blywende lewenswaarhede. Hierdie stories was destyds die teiken van spot deur geleerdes en gesofistikeerdes. Tog het laasgenoemdes se filosofiese bespiegelings oor God as “hoogste idee” met die mitologie gemeen dat dit óók oor ewige, noodsaaklike waarhede gaan: insigte wat by nadere refleksie heel redelik en vanselfsprekend lyk, en wat gister net so geldig was soos dit vandag is en môre nog sal wees.

 

Sedert die vroeë 20ste-eeuse teoloog Rudolph Bultmann vir ’n “ontmitologisering” van die evangelie gepleit het – wat inhou dat die “eksistensiële selfverstaan” wat in die Nuwe Testament tot uitdrukking kom in eietydse filosofiese taal verpak moet word – het dit in sekere kringe gebruiklik geword om Bybelse vertellings oor dinge soos die maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart van Christus as mitologies te dui. Om hierdie verhale “mak te maak” deur dit as illustrasies van ewige waarhede oor mens en wêreld te lees is egter ’n mistasting.

 

Wat die evangelieverhale lastig maak, is juis dat daarin klaarblyklik aansprake gemaak word, nie oor ewige waarhede nie, maar oor wat God op ’n gegewe tyd en plek gedoen het. Anders as die destydse mitologie, het die Bybelse getuienis oor God se dade in die geskiedenis nie ’n boodskaap wat ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie.

 

Dis hoekom Paulus se toespraak in die Areopagus, ná aanvanklike belangstelling onder die toehoorders, uiteindelik afgelag is (Hand. 17:16vv.). Dat daar ’n “onbekende God” is, klink na ’n houdbare spekulasie. Maar dat dié God ’n naam en geskiedenis het, ’n persoon is wat eers dít doen en dan dát, soos in die lewe en lotgevalle van Jesus van Nasaret – dít klink te arbitrêr, te “toevallig”, om as godsdienstige waarheid te kwalifiseer. Hoekom sal God juis híér, eerder as dáár, of nóú, eerder as tóé, vir ons kenbaar word of ’n sekere verhouding met ons aangaan? Hoekom ’n voorspelbare reëlmaat in die wêreld handhaaf net om dit weer van tyd tot tyd te deurbreek? Vrae soos dié word al reg van die begin aan Jode en Christene gestel.

 

Die “noodsaaklike” waarhede waarna Lessing op godsdiensgebied hunker, adem dus, paradoksaal genoeg, ’n mitologiese gees. Daarteenoor verteenwoordig die evangelie ’n opstand teen die mitologiese en “natuurlike” godsdiens met sy elegante logiese deursigtigheid. Dis wat dit so vergesog maak.

 

Of is dit? Lewis praat van “the suspicious a priori lucidity of Pantheism or of Newtonian physics”, en kontrasteer dit met “the seemingly arbitrary and idiosyncratic character which modern science is slowly teaching us to put up with in this wilful universe”. Die evangelie lyk meer soos laasgenoemde.

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  cs lewis   drieëenheid   triniteit   trinity   gotthold lessing   lessing   grieks   greek   romeins   filosofie   roman   hoogste idee   highest idea   mitologie   mythology   rudolph bultmann   bultmann   paulus   paul   areopagus   handelinge 17   acts 17   panteisme   pantheism   newtonian   newtoniaans  


Alexander oor nasiebou en subnasionale identiteite

Dond 12 Aug 2010, 21:51        16 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Ek voorspel dat vandeesmaand se LitNet-essay vir dekades nog gelees gaan word. Neville Alexander skryf oor "Nasiebou en subnasionale identiteite in Suid-Afrika na 1994", maar neem onder daardie tema omtrent elke denkbare maatskaplike vraagstuk onder die loep. Alexander glo nie in mooi broodjies bak nie, maar ook nie in histerie nie. Sy ontledig is klinies en simpatiek tegelyk. Lees dit en kom gesels hier verder saam daaroor.

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  nasiebou   nation building   essay   neville alexander  


Moet howe die vanselfsprekende uitspel?

Maan 9 Aug 2010, 14:39        15 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Uit die koerant verneem ek die Kovsies-bestuur het ’n hofbevel bekom wat oproerige studente verbied om eiendom te beskadig, mense te bedreig en so meer. Soortgelyke hofbevele is ook al teen vakbonde uitgeryk. Dis iets wat ek, as ’n regsleek, nie mooi verstaan nie. Is saakbeskadiging en aanranding nie in elk geval onwettig nie? Kan mense wat hulle daaraan skuldig maak nie in elk geval vervolg word nie? En is dit nie ’n regsbeginsel dat onkundigheid oor die wet geen verskoning is nie? Watter doel dien die hofbevel dan?

 

Ek is seker daar moet ’n antwoord wees. Kan iemand verduidelik?

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na gbrand@sun.ac.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  kovsies   universiteit van die vrystaat   university of the freestate   hofbevel   court order  


Goeie nuus vir religieus gestremdes

Vry 6 Aug 2010, 09:15        16 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Op die vraag hoe ’n mens kan weet dat jy uitverkies is (en hier wil ek nie oor uitverkiesing skryf nie!), het die Gereformeerde skolastici (ook genoem die Ortodoksie) van ná die Reformasie geantwoord met die syllogismus practicus et mysticus: As jy in jouself ’n al hoe heiliger lewenswyse (practicus) en ’n ware geloof (mysticus) bemerk, kan jy daaruit logies aflei (syllogismus) dat jy uitverkies is, want genadige uitverkiesing is sowel ’n noodsaaklike as ’n voldoende voorwaarde vir geloof en heiliging.

 

Dis een van die minder gelukkige voorstellings uit ons erfenis – nie net omdat dit die gelowige se aandag op sy eie innerlike lewe, eerder as op Christus, rig nie, maar ook omdat dit ’n antwoord aanbied wat dieselfde vraag net op ’n ander manier weer oproep – en daarmee is die vertwyfeling terug: As ek glo, kan ek weet ek is uitverkies (so lui die argument), maar hoe weet ek of ek glo? Glo ek regtig?

 

In sy Hanna’s Child: A Theologian’s Memoir skryf die beroemde Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas dat God nie vir hom, soos vir sommige ander Christene, “there” is nie. Hy sukkel ook maar met bid, erken hy, want hy is (helaas) “a card-carrying citizen of ‘our age’”, die beliggaming van “world”.

 

“I certainly count myself a Christian,” skryf hy, maar huiwer dan: “more accurately, I have friends who count me as a Christian.” In dieselfde toonaard: “I believe what I write, or rather, by writing I learn to believe.” En dan weer: “I live most of my life as if God does not exist.”

 

Miskien is laasgenoemde opmerking dié sleutel tot wat Hauerwas bedoel. Vir “belief”, sê hy, het hy nie veel tyd nie, want: “‘Belief’ implies propositions about which you get to make up your mind before you know the work they are meant to do ... I am far more interested in what a declaration of belief entails for how I live my life.”

 

Dit gaan in geloof dus nie primêr oor die stelligheid van ’n mens se opinies of die intensiteit van jou geestelike ervarings nie (ook religieus gestremdes kan glo!), maar oor “a life (that) is unintelligible if the God we Christians worship does not exist”. Om te glo is om op ’n sekere manier te lééf.

 

Dit beteken nie werke word bo geloof geplaas nie. Daar is eerder ’n verstengeldheid van leef en glo, met die een wat deurgaans die ander oproep en aktiveer. En dis nie iets om op te roem nie – eerstens omdat “I am such a beginner when it comes to knowing how to be a Christian”, en tweedens omdat dit nie oor my en my “projek” gaan nie, maar oor “the friends who have made me who I am” en “the God who has forced me to be who I am”.

 

As “die beste teoloog in Amerika” (volgens die tydskrif Time, tot Hauerwas se verleentheid) só praat, kan dit tot troos wees vir mense wie se syllogismus, nes Hauerwas s’n, nie noodwendig ’n positiewe konklusie oplewer as dit by die premisses van practicus en mysticus begin nie. Geloof is nie van ons nie, maar van God.

 

Die Nederlandse teoloog Bram van de Beek het, in sy onlangse preek by die begrafnis van sy Stellenbosse vakgenoot Flip Theron, vertel hoe Theron intens besig gehou is deur die ontdekking dat van die Bybeltekste wat gewoonlik as “die geloof ín Christus” vertaal is, meer akkuraat as “die geloof ván Christus” weergegee kan word. Wat ons nie kan doen nie, het Hy vír ons gedoen, en doen Hy ook ín ons.

Miskien is geloof nie om seker te wees dát nie, maar om te leef asóf. Of eerder: om te probéér leef asof. Of om daartoe genóóp te voel om te probeer leef asof.

 

Of so iets ...

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  uitverkiesing   predestination   gereformeerde skolastiek   gereformeerde ortodoksie   reformed orthodoxy   reformed scholasticism   syllogismus practicus et mysticus   syllogismus practicus   syllogismus mysticus   hanna’s child   stanley hauerwas   belief   geloof   faith   bram van de beek   flip theron  


Ditsem, Elsa Joubert!

Dins 3 Aug 2010, 16:26        4 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Ek is so bly dat Elsa Joubert nou sommer dubbel en dwars (met sowel die Universiteit van Johannesburg- as die Recht Malanprys) vir Reisiger, die tweede aflewering van haar outbiografie, bekroon is. Ek het nog maar net begin om Reisiger te lees, maar die eerste aflewering, 'n Wonderlike geweld, het ek destyds met plesier verslind. Dit het my só laat vóél hoe dit moes gewees het in die jare van oprukkende Afrikanernasionalisme dat ek, wat eers dekades later gebore is, my dit byna helder voor die gees kan roep! 'n Mens het mos soms die ervaring dat jy iets "onthou" wat jy nooit meegemaak het nie. Dis nie elke skrywer wat daardie gevoel kan oordra nie.

Die boek is toe nie met die geesdrif ontvang wat dit verdien het nie, en ten minste een voorste literator het dit taamlik negatief geresenseer (wat natuurlik sy goeie reg is), so ek is bly daar kom nou erkenning.

 

Die swerfjare van Poppie Nongena is lankal reeds op internasionale, en met name Afrika-, vlak as 'n belangrike werk erken. Een van die merkwaardige dinge daarvan was dat 'n wit Afrikaanse skryfster 'n swart karakter so lewend en oortuigend kon aanbied. Maar miskien was wat Joubert in 'n Wonderlike geweld reggekry het, naamlik om haar eie mense in 'n veelbewoë fase van hul geskiedenis simpatiek en oortuigend uit te beeld – sonder om dit so te doen dat dit in 'n apologie ontaard nog indrukwekkender, hoe paradoksaal dit ook mag klink. Wat ek al van Reisiger gelees het, voltooi, lyk dit my, die sirkel deur, meer nog as in 'n Wonderlike geweld, die mens Elsa Joubert vir lesers te laat lewe maar dan só dat iets duidelik word van hoe die identiteit van "ander Afrikaners" (Johann Roussouw se term) in daardie tyd daaruit kon sien. Ja, hulle was ook deurgaans daar, en in Joubert se vertellings word hulle vir ons regte mense.

 

Ek hoef nie meer te sê nie. Baie geluk, Elsa Joubert! Die bekronings is welverdiend.

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  elsa joubert   'n wonderlike geweld   reisiger   die swerfjare van poppie nongena   poppie nongena   afrikaners   afrikanernasionalisme   afrikaner nationalism   beyers naude   johann roussow  


Hoe blind is regstellende aksie?

Dond 29 Jul 2010, 21:58        12 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Vandeesmaand se miniseminaar gaan oor regstellende aksie, en met name oor hoe dit gestremdes raak (of juis nie). Wilhelm van Deventer, wat dikwels aan gesprekke op hierdie blog ook deelneem, het die eerste bydrae geskryf uit sy ervaring as gesiggestremde met 'n werksaansoek aan een van ons universiteite. Nog bydraes tot hierdie belangrike gesprek sal eersdaags in die Seminaarkamer verskyn. Lees dit en lug jou mening hier.

 

Klik hier vir William Rowland se bydrae tot die miniseminaar.

 

En hier vir Jaco Barnard-Naude s'n.

 

* Stuur 'n e-pos met die woord "Ja" in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  regstellende aksie   affirmative action   gestremdheid   disability   blind   wilhelm van deventer   miniseminaar   william rowland  


Hoe lank sal "questions" nog ge-"beg" kan word?

Dond 29 Jul 2010, 18:02        15 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

"'n Lelike ding het sy kop daar agter die berg uitgesteek," het my standerd 1- oftewel graad 3-juffrou die dag begin, en ek het onwillekeurig by die klasvenster uitgeloer na die enigste baken in die Ooste van Pretoria wat dalk as "die berg" sou kon kwalifiseer: so 'n heuwelagtigheid na die kant van Pretoria Boys High toe. In my geestesoog het ek my verbeel hoe 'n "lelike ding" se kop sou lyk as dit so agter die berg uitkom: donkerswart met sulke skerp oortjies ...

 

Dit blyk egter toe dat die juffrou iets anders in gedagte gehad het, en dat die berg (en, snaaks genoeg, ook die kop) dus metafories bedoel was. Ja, die lelike ding wat sy kop daar agter die berg uitgesteek het, is dat kopluise in die omloop (verskoon die woordkeuse) was!

 

Nou ja, 'n lelike ding het al weer sy kop uitgesteek, nie van agter die berg nie, maar in koerante en tydskrifte, en op die internet: 'n verkeerde gebruik van die frase "to beg the question". Ek kan sweer ek het hierdie lelike ding eers die afgelope paar maande die eerste keer sy kop sien uitsteek. Is dit toeval dat ek dit nog nie raakgesien het nie, of is dit (soos ek vermoed) 'n splinternuwe meem wat in 'n kort tyd die taal van duisendes begin besmet het?

 

Let wel, ek praat nie hier van mense wat Afrikaans, Nederlands of 'n ander vorm van nie-Engels as moedertaal het, en daarom, in plaas van Engels, eerder Ingels, Nederlish of Seffrican English besig nie. Ek praat van moedertaal-Engelssprekendes, en geleerdes daarby. 'n Voorbeeld uit 'n resensie van Timothy Parsons se boek The Rule of Empires:

 

"... in the case of Roman Britain, armed revolts beginning in 47 C.E. not only killed tens of thousands of Romans, but also desecrated Roman temples and other cultural symbols – begging the question as to why the Britons valued the Roman Empire as 'good for them'."

 

Wat die resensent natuurlik wóú sê, is “... raising the question ...”: Die aaklige gevolge van Romeinse oorheersing in Brittanje laat die vraag ontstaan, of roep die vraag op, hoekom die stomme Britte dit dan as goed vir hulle beskou het.

 

Nog ’n voorbeeld (die opskrif van ’n artikel op autoblog):

 

“Delayed Civic begs the question: Has Honda lost the plot?”

 

En nog een (nogal uit die Telegraph – en dus nadat dit deur ’n sub se oë gegaan het):

 

“Tiger Woods: his televised apology begs the question of sincerity”

 

Nee! Nee! Nee!

 

“Begging the question” beteken nie om vir ’n vraag te bedel nie, maar (soos Wikipedia dit tereg uitlê) dieselfde as “petitio principii” of “assuming the initial point”. Dit verwys na “a type of logical fallacy in which the proposition to be proved is assumed implicitly or explicitly in the premise”. Hier is ’n voorbeeld van die korrekte gebruik (uit Stephen E. Lammers en Allen Verhey se On Moral Medicine):

 

The Pope rejects this view by stating simply that a single intercourse made intentionally infecund is intrinsically dishonest. But this begs the question. It is being argued precisely that the honesty of intercourse derives, not just from the individual act, but from the whole orientation of the marriage.” (kursief bygevoeg)

 

Die pous reageer op ’n argument deur een van die kerk se adviserende kommissies. Volgens die kommissie kan die eerlikheid van ’n seksuele daad nie in isolasie van die aard van die betrokkenes se verhouding beoordeel word nie. Die blote feit dat ’n spesifieke seksdaad doelbewus onvrugbaar gemaak word, maak dit dus nie oneerlik nie. Wanneer die pous nou sy teenargument aanvoer, is een van die premisses daarin dat enige seksdaad wat doelbewus onvrugbaar gemaak word oneerlik is. Daarmee neem hy uit die staanspoor egter reeds aan wat hy wil bewys. Hy “beg” dus die “question”.

  

’n Wenk: As “begs the question” of “begging the question” gevolg word deur ’n dubbelpunt wat 'n vraag inlei, of deur "whether", "of", of iets dergeliks, dan kan ’n mens byna seker wees dit word verkeerd gebruik. Die frase moet gevolg word deur 'n punt, 'n kommapunt of iets soos "because" of "since".

 

Maak dit saak as dit verkeerd gebruik word? Ja! Want die gevolg van die verkeerde gebruik van 'n bruikbare frase is dat die regte gebruik ook onmoontlik word: As iemand nou, soos in die laaste aanhaling hierbo, die frase reg gebruik en daarmee iets belangriks sê, dan gaan hy of sy verkeerd verstaan word. Dit word dus al hoe moeiliker om iets wat dikwels (alte dikwels!) nodig het om gesê te word, gesê te kry. En dan kom mense soos die pous weg met “begging the question”.

 

Ten minste kon hierdie spesifieke lelike ding nog nie sy kop in Afrikaans uitsteek nie, want in plaas van “dit bedel die vraag”, sê ons mos sommer: “Dis ’n sirkelredenering!”

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  begging the question   begs the question   to beg the question   sirkelredenering   petitio principii  


Bladsy 
1   2   3   4   5   6   7   8   9   10   | Volgende

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

Gerrit Brand

Geslag: Male Send Message Stuur Boodskap
Stad: Cape Town Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: South Africa Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 30299
Kommentaar: 2051
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 30 intekenaar(s)

Kentekens

Onlangs Opgedateer

verskriklik verskriklik Maryke Maryke van Rensburg abrham abrham
Adage Adage tronkie tronkie Girl, Inter... Tishke

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec