Droomverlore herfs

April 10, 2014 in Uncategorized

Die dae het ’n stadige siklus, bepaal deur my kleindogtertjie se slaappatrone.

Soggens as die wilde verkeer daarbuite ruis, sit ons rustig met alles wat ons nodig het, byderhand. Soms gaan stap ons ’n entjie; soms sit ons buite op die bankie om sonlig te skep. Ons kyk op in die reuse-doringboom langsaan en luister na die kransduiwe se “koe-koerdoek”. As ons die wilde wit kat raaksien, roep ek: “Kat!” – wie weet, dalk is dit nog die kleinding se eerste woordjie.

Dag vir dag sien ek hoe vorder sy: nou is die voorarmpies al sterk genoeg vir die kruipposisie en sy seil ook flink agteruit. Vandag het sy tweemaal van haar ruggie op haar magie omgerol. As sy vir my, haar mamma, haar pappa en haar ander ouma en oupa sien, glimlag die pienk bekkie wyd en vrolik – ander mense is nie so bevoorreg nie.

Haar ogies het die kleur van ’n Kaapse riviermonding: daar waar die amber rivierwater en die blou see bymekaarkom. Daardie ogies is so vars en onskuldig, so sonder pretensie, en om hulle te sien omdop van die vaak is tegelykertyd snaaks en vertederend. Ek bederf ons albei deur haar vas te hou terwyl sy slaap (gelukkig doen haar mamma dieselfde!) en die droompies te volg wat oor haar gesiggie flikker.

Die skrywer Kate Atkinson verwys na “the equal measures of joy and terror” in ’n ma se hart – hoe goed vang sy tog mens se emosies in woorde vas. As daardie babalyfie styfskop en miniatuurtraantjies uit haar ogies pers, is hierdie oumahart reddeloos.

’n Vriendin van ’n vriendin volg ’n kursus in “gedagtigheid” (hulle vertaling van “mindfulness”). Een van die aanbevelings is: “Hug a mammal.” Hoe geseënd is ek dat ek elke dag hierdie klein soogdiertjie mag vashou…

14 antwoorde op Droomverlore herfs

  1. Pragtig geskryf..soogdiertjie inderdaad!Ek weet presies hoe jy voel.

  2. Elly het gesê op April 10, 2014

    Ek het nog nie kleinkinders nie, maar ek verstaan so goed wat jy bedoel. Jy het dit baie mooi beskryf.

  3. XXXXX Daar is jou 5 STERRE.

  4. tina10 het gesê op April 10, 2014

    Aaaagg sommer ‘n drukkie vir die oulike ouma ook. So lekker om deel van die kleinsoogdiertjie se lewe te wees. Baie sterre vir jou

  5. Lekker vertel – dis lekker om te sien hoe die goed ontwikkel – mens kom vinnig agter dat hulle baie slimmer is as goed soos honne en katte…

    🙂
    \

    • @kompethenry Sy is so slim in sekere opsigte en so dom in ander, soos byvoorbeeld wanneer sy haar bottel wil vashou en die handjies is so dom dat sy die prop uit haar mondjie uit wegdruk! Klein goedjies is ‘n bron van eindelose vermaak.

  6. Baie nice geskryf! Kleinkinders (soogdiertjies!) is die ene plesierigheid, en dit kom van ‘n deurwinterde oupa.

  7. bonty het gesê op April 25, 2014

    Jy het nou tonne gevoelens in paar paragrawe opgevang. Diep… Baie diep.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.