Die kristalglasvaas – en reënboë

Desember 17, 2013 in Uncategorized

Die tasse wat ek vir my VSA-kuier gepak het se inhoud was waarskynlik taamlik eksentriek: hardebandboeke – Terry Pratchetts en Harry Potter – ‘n slapbandboekie uit Efese en ‘n gidsie tot Pompeii, fyn koffiekoppietjies, ‘n skilderytjie van viooltjies en nog een van ‘n Kaapse landskap. Kosbaarhede wat my dogter by haar ma geberg het terwyl sy die wêreld verken en goed uit haar kleintyd wat vir haar mooi was. Die handbagasie het twee yslike sjinese vase en ‘n glasbak bevat en in die een tas, veilig in borrelplastiek toegedraai, was die kristalglasvaas wat nou met inca-lelies op my kind se eetkamertafel pryk. Ek is so bly sy wou die vaas hê.

Dit was ‘n trougeskenk aan my ouers toe hulle in 1938 by die Voortrekkermonument getroud is. Die gesnede glas het vele fasette en skerp kante, tot onder die voetstuk is ‘n sierlike patroon uitgesny. Die vorm is ideaal vir iemand wat lief is vir blomme maar nie genoeg van rangskik af weet nie: die ovaalvorm buig effens in en waaier dan uit boontoe, sodat elke blom tot haar reg kom en die steeltjies baie water het om te drink. Dis ‘n mooi, swaar vaas wat saam met my geswerf en oorleef het, maar dis nog meer: vir my is dit ‘n simbool van my mammie se moed en deursettingsvermoë. Toe ek drie jaar oud was, het my ouers huis gebou en hulle besittings in ‘n stoorplek laat bewaar. Daardie stoorplek het tot op die grond afgebrand, maar my mammie het in die as gaan grawe, ‘n paar boeke met geskroeide kante opgediep en ook die vaas – pikswart gebrand, maar heel.

Nou staan dit in my kind se eetkamer met die pers mure. Smiddags vang dit die son se strale, wanneer die son oor die wit sneeu daarbuite skyn. Dan strooi die meesterlik-gesnyde glas reënbogies teen die muur. Die betowering van reënboë assosieer ek met my liewe meisiekind, reeds sedert die dag toe sy haar laaste matriekvraestel geskryf het en ons saam ‘n reënboog bewonder het – soos die belofte van ‘n lieflike toekoms vir haar. Daarna het ek telkens ‘n reënboog gesien wanneer sy op pad huis toe was, sekerlik maar net omdat dit gewoonlik somer was, maar tog…

Wanneer ek teruggaan Suid-Afrika toe, sal die vaas nog sy veelkleurige sonkolle teen die mure strooi, om haar te herinner aan haar ouma en haar ma en haar te vertel dat ek so innig dankbaar is oor die lewe wat sy en haar liewe man hier bou.

14 antwoorde op Die kristalglasvaas – en reënboë

  1. tina10 het gesê op Desember 17, 2013

    Ag dis baie spesiaal … dit hou julle naby mekaar

  2. Bruggie het gesê op Desember 17, 2013

    Jy’s n mensch, Frannie

  3. kosbaaarhede versprei soos varingspore in die winde van verandering oor die aardbol

  4. Daardie vaas het ‘n wonderlike verhaal en die feit dat jou dogter dit waardeer is ‘ngroot bonus

  5. Pragtig!Mens is verstom dat dit nie gebars het van die hitte tydens die brand nie.Wat van ‘n foto,dat ons kan sien hoe dit lyk?

  6. Ag dis nou sommer lekker storie!

  7. katrina het gesê op Januarie 1, 2014

    Hoe lewendig word daardie vaas en die herinneringe en die mooi goed in die lewe nie nou nie!

Los ’n antwoord vir katrina. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.