Jy blaai in die argief vir 2013 Augustus.

Oopplan

Augustus 31, 2013 in Uncategorized

‘The open plan is hell’, was die woorde van ’n eks-kollega tydens sy ‘exit interview’.

Gelukkig is ek dit gespaar – die ergste waaraan ek gewoond moes raak, was ’n kantoor met vier of vyf werkstasies. Die mantra: ‘Jy is ’n ma, jy kan hoor-en-sien-vergaan hanteer!’ het my daardeur gekry. Twee maande voor aftrede, sit ek nou in ’n lieflike hoekkantoor – twee werkstasies, maar die ander een staan leeg. Ek kyk uit oor ‘n parkie, waar die werkloses in die sonnetjie lê en slaap en die hadidas gister se kitskosrommel vir oorskiet deursoek. As ’n wysneus my ewe verbaas vra: ‘Is jy NOG hier?’ antwoord ek: ‘Ja, ek kyk uit oor die park – die volgende stap is die park!’

In my persoonlike lewe was ek nie so gelukkig nie; ek het in die oopplan van ’n alleenloperlewe beland. Saans eet ek Kentucky – geroosterde broodjies – Roman’s – jogurt – vier aande op ’n ry dieselfde spyskaart as ek die dag sover kom om behoorlik kos te maak. Ek deel my bed met ’n warmwatersak en twee katte. Wat hoogtepunte behoort te wees – ’n troue, die doop van ’n kleinkind, ’n kuier by kinders wat ver weg woon – het altyd, onvermydelik, ’n ondertoon van skrynende eensaamheid.

Rondom my sien ek die ouer paartjies: geïrriteerd of gelukkig; ongeërg of liefdevol; vasgekeer of geborge. Ek wil hulle so graag vermaan: ‘As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Veg vir die geluk van jou lewensmaat.’ Want ons het heeltemal die verkeerde idee van ‘sonde’: ons moet dit nie vermy uit piëteit nie, maar omdat dit ons van ons Godgegewe geluk, blydskap en vreugde stroop.

Die oopplan is hel.

Nog katfoto’s

Augustus 16, 2013 in Uncategorized

Met die lekkerte van almal se katfoto’s het ek weer eens besef: ek is mal oor katte!

Hier is my ‘familiar’ Skoonlief in al haar glorie

As sy dink haar ounooi gaan weg, wil sy net saam

Les bes, hier is die wilde wit kat

Kampvegter vir katte – vir Henry en Tina

Augustus 10, 2013 in Uncategorized

Katte het my al veel vreugde besorg. So ‘n jaar terug was ‘n wilde wit kat wat op die dakke van ons kompleks gewoon het, die aanleiding tot my ontmoeting met iemand wat ek grensloos bewonder en in wie se geselskap ek my verlustig.

‘n Buurvrou wat ook vir katte omgee, het vir M ingeroep om die kat vir ons te kom vang. Ons wis die kat se naam is Snowy – haar vorige baas het haar ten einde raad net hier laat agterbly, nadat hy haar glad nie gevang kon kry toe hy trek nie. Sommer gou-gou het M haar in ‘n spesiale vanghok ingelok, sodat ek die vuil wit kat met die soetskeel olyfgroen oë drie dae lank in my huisie kon aanhou om haar te laat verstaan dat dít nou ook háár nuwe huis is.

Die wilde wit kat (Snowy > Spokie > Terr’blanche > Terr > Pangar) sit hier by my voete en spin – heeltemal verhuislik. Sy en my ‘familiar’, Skoonlief, verduur mekaar, met ‘n onder-onsie so nou en dan as Pangar haar te veel aanmatig. Smiddae kom begroet sy my by die kar, staan op haar agterpote en druk haar koppie onder my hand in om te vertel hoe bly sy is om my te sien.

Vandag was ek bevoorreg om ‘n kruistog saam met M te beleef. Op my skoondogter se versoek, het M drie gemmerkatjies kom vang op die bouperseel van ‘n nuwe kerk, sodat ons ’n intelery kan keer en nóg katjies sonder heenkome kan voorkom. M se gereedskap is eenvoudig en effektief: ‘n spesiaal-gemaakte vanghok, ‘n lepel en ‘n blikkie vis. Die hok het ‘n deur wat boontoe oopmaak, met ’n slim meganisme wat dit laat toeklap as die kat se volle gewig op die vloer daarbinne druk. M pak ‘n spoortjie vis tot by die vol kosbakkie agterin die hok; ‘n hawelose, honger kat word met hierdie tegniek – en baie geduld – keer op keer vasgetrek.

Dis vir haar swaar om te sien hoe ontsteld die katte raak as hulle gevang is: “Hulle spring so op en af. Maar as die hok met ‘n kombersie toegegooi is, raak hulle kalmer. Dan laai ek hulle in die kar en sit Classic FM aan en ek vra heeltyd askiesie, askiesie en belowe alles sal reg wees. As jy uiteindelik so ‘n kat vrygelaat het en jy sien hoe word hy vetter en makker – dis ‘n wonderlike gevoel van hier het jy ‘n dier gehelp…Jy stap maar die tweede myl met die kat…”

M ken veeartse wat die katte vir haar teen kosprys steriliseer. Dan knip hulle die puntjie van die een oor af, sodat mense kan weet die kat is ‘reggemaak’. Dieselfde dag nog word die kat in sy habitat teruggesit – en dan word hierdie kat M se verantwoordelikheid. Die skraal, gedrewe vrou met die mooi blou oë en die sagte hart gun haarself geen rus nie. Dinsdae en Vrydae voer sy kolonies katte – in Sunnyside, Arcadia, die middestad, Centurion, by Weskoppies… Sy ken al die ander engele wat bereid is om hierdie werk te doen en sy snuffel mense uit wat klein katjies sosialiseer totdat daar ‘n huis vir hulle gevind word. (Op drie maande word klein katjies nie meer maklik mak gemaak nie, jy moet hulle so op twee maande by iemand geplaas kry, anders bly hulle wild.)  Sy prys die sekuriteitswagte wat na die katte in hulle omgewing omsien; sy pleit met woonstelopsigters om haar tog toe te laat om die plankmaer katte kos te gee. In haar motorhuis gaar sy winskopies in katkos op, sy kook rys en meng dit met “pet’s mince” en een of twee blikkies katkos. Sy sê mens moet ook sorg vir verskeidenheid – “tot ‘n veldkat raak lekkerbekkig!”

Ons kon vandag net een katjie gevang kry – daar is drie – die allerliefste, mooiste wyfie-gemmerkatjie. Sy is laat vanmiddag teruggeneem na waar sy bly, met ‘n sagte bedjie en ‘n hele houer katkos. Ek weet M sal sorg dat die ander twee ook gesteriliseer word, want sy is ‘n verbete kampvegter vir hierdie diere. Sy is dalk ‘n onwaarskynlike engel, hierdie vrou met die vanghok en die blikkie vis, maar ‘n engel is sy gewis.