Jy blaai in die argief vir 2013 April.

Gedagtes by ‘n verjaarsdag

April 25, 2013 in Uncategorized

My Middelkind verjaar vandag. Ek gaan soek die klein boekie waarin sy ouma en ek sy kleintyd-gesegdes opgeteken het en volg die kronkelpaadjies van herinnering.

Hy was my ‘hoekom’-kind:

Hoekom is ‘n kat se snorre van plastiek?

 Ons het gou besef dat hy met ‘n helder verstand geseën is:

As kleuter met ‘n boek onder die arm) Vandag wil ek leer lees!

(Graad 1) My juffrou sê ek moenie antwoord nie, die ander kinders moet leer.

(Graad 6) Ek lees Current in Space van Isaac Asimov, dan gee hulle vir my Strawberry Jam Pony.

Hy was slim met woorde:

Neewat, ek gaan sommer kaalvoet. Ek hou nie daarvan om skoenvoet te gaan nie.

Met ‘n digterlike siening:

(Oor ‘n gloeilampie) In die glasomhulsel van die lig lyk dit vir my soos ‘n mensie met ‘n manteltjie om.

‘n Lewendige verbeelding:

Die verkeerskonstabel het plastiek oor sy arms om die skeure in sy moue toe te hou. Sy mou het aan ‘n bumper vasgehaak.

‘n Gesonde selfbeeld:

(Ma vra hoe weet hy) Ek voorspel die wêreld.

‘n Formidabele humeur, wat gelukkig selde tot uitbarsting gekom het:

Wat ek nou in my kop sien, is kwáád.

Ek wil die ou wat huiswerk uitgedink het, in sy bek foeter.

Ek’t vir daai ou sy Moses gegee, wat hy kom soek het.

‘n Mensekenner:

(Hy soebat vir ‘n storie) Kan ek net by Ouma hoor? Ouma het eintlik nooit ‘n nee vir ‘n antwoord nie.

(Van sy sussie) Sy soek altyd ‘n wegkruipplekkie as sy hartseer is…Sy word hartseer van woorde.

Wat sukkel om die mense van Venus te verstaan:

(Nadat hy Rekenaarstudie aan sy sussie moes verduidelik) Ek sal nooit weet hoe werk julle vroumense se koppe nie. Ek het nou net gesien wat sy aan die wonderlike logiese struktuur van Pascal doen.

Vandag staan hy sy plek vierkantig vol as werker, man en pa. Maar in sy ma se hart is daar ‘n hoekie afgesper vir die klein seuntjie…

 

 

Oor Afrikaans

April 23, 2013 in Uncategorized

Rosie se inskrywing oor Afrikaans het my vandag diep laat dink. Hierdie pos is vir haar en vir Ouboet – hy het ook al op sy stoep oor hierdie kwessies gesels.

Die dag toe wilde seuntjies by ‘n Engelse maatjie se huis my ‘Afrikaner, vrot banana’ toegesnou het, het ek huilend huis toe gehardloop.Eers later het ek die teenvoeter geleer: ‘Rooinek, botterbek’.

Ek het in die tydperk van Afrikanermag grootgeword. Met Republiekwording het ek die oranje-blanje-blou teen die blou lug sien wapper en met oortuiging gesing: ‘Kent gij dat volk, vol heldenmoed’, ‘Ons sal antwoord op jou roepstem…’

Toe ek moes besluit of ek honneurs in Engels of Afrikaans sou doen, was daar slegs ‘n oomblik van heimwee na eksentrieke dosente en eeue-oue wêreldletterkunde en toe het lojaliteit die deurslag gegee. Afrikaans was immers ons ‘pêrel van groot waarde’.

Altyd het ek eerste Afrikaans gepraat, sodat ek seker is dat twee Afrikaners nie Engels met mekaar staan en praat nie. Dit het ek ook by my kinders ingeprent. Mense wat nie met so ‘n verbete taallojaliteit grootgemaak is nie, sal dit seker glad nie verstaan nie. Ek onthou die skemeraand toe my seuntjie terugkom van ‘n spelery op die strand en selfvoldaan verklaar: ‘Daai outjie, hy wou nog Engels met my praat, maar ek het sommer gehoor hy kry dit nie so goed reg nie, toe praat ons heeltyd Afrikaans.’ (My kind wat met ‘n Engelse Vrystater getroud is en steeds manmoedig probeer om van Afrikaans ‘n vadertaal vir my kleinkinders te maak, teen die oorwig van moedertaal, huistaal, skooltaal, maatjies, TV en speletjies in…)

‘n Woord uit die Sosiolinguistiek het my destyds al verskrik: ‘taalverskuiwing’. Dis wat gebeur wanneer ‘n taalgemeenskap hulle eie taal vir ‘n ander verruil. Soveel Afrikaanse huisgesinne maak hulle kinders doelbewus in Engels groot. Soveel Afrikaners gaan soek noodgedwonge hulle heil in verre lande. (My broer, met wie se kinders ek van babatyd af Afrikaans gepraat het, ofskoon hulle my net hier en daar verstaan het omdat hulle ma Hongaars is. Hulle huistaal is nou Nieu-Seelandse Engels… My dogter, wat haar hart aan ‘n Amerikaner verloor het en in die VSA woon.)

Afrikaans kon nog staande bly toe dit een van twee amptelike tale was en mense op ‘gelykberegtiging’ aangedring het. Danksy die ryk Nederlandse tradisie en die geweldige werk wat hier in Suid-Afrika op die gebied van standaardisasie, vaktaal en woordeboeke gedoen is, beskik Afrikaans oor die uitgebreide woordeskat wat ‘n amptelike taal behoort te hê. Maar nou is dit een van elf amptelike tale en die een na die ander instansie besluit om slegs Engels te besig. Dit verg harde werk om ‘n taal in stand te hou, dis nie iets wat vanself gebeur nie – veral nie as daardie taal langs ‘n magtige wêreldtaal soos Engels ‘n plekkie moet kry nie! Vroeër is alle wette vanselfsprekend in sowel Afrikaans as Engels uitgevaardig. Dis lank nie meer die geval nie, want nou behoort elke wet eintlik in al die ander amptelike tale ook uitgevaardig te word. As mens aan die tyd, die inspanning en die onkoste dink wat dit elke keer sou verg, om nie eens van praktiese probleme soos standaardisasie en woordeskat te praat nie, is dit te verstane dat die pragmatiste keer op keer Engels verkies. Juis daarom bewonder ek ‘n instansie soos ABSA wat werklik moeite doen om ons veeltaligheid tegemoet te kom.

‘n Verdere probleem is die vermoede dat enigeen wat vir Afrikaans ‘n lansie breek, eintlik ‘n ongure politieke agenda het. Werklik opregte taalstryders is al op hierdie manier afgekraak en verkleineer. Ons moet teen soveel stereotipes baklei. So oordreun die doef-doefmusiek die lieflike luisterliedjies en gaan ons kinders eerder na ‘n (Engelse) charismatiese kerk toe.

‘n Profetiese taalkundige het teen die helfte van die vorige eeu voorspel dat die toekoms van Afrikaans van die taalkeuse van ons swart landgenote sal afhang. As ons nie eens vir ons eie taal kies nie, hoe kan ons verwag dat die keuse enigiets anders sal wees as ‘Engels, Engels, alles Engels’?

Domastrant

April 14, 2013 in Uncategorized

Ek moes regtig van beter geweet het. Afgesien daarvan dat ek alewig verdwaal, het ek nie eens geweet hoe ek moes ry nie!

Verlede week in Bloemfontein gaan soek ek na die Vrouemonument. As tiener, ‘n leeftyd gelede, het ek deur die Anglo-Boereoorlogmuseum gedwaal en gehuil oor die rou menslikheid van die briewe en memento’s. Omdat ek dit nog eenmaal wil beleef, klim ek in die gehuurde motortjie en gaan soek na Pres. Brandstraat – dalk sal ek daar iewers ‘n aanduiding na die monument te siene kry?

My soektog eindig toe ek stroomop in ‘n eenrigtingstraat indraai – dis spitstyd. ‘n Parkeerwag met ‘n helderpers hemp hardloop doodsveragtend in die straat in en stop die aankomende verkeer sodat ek die volmaakste en blitsigste drie-puntdraai van my lewe kan uitvoer. 

Ek kan nie dankie sê nie want ek weet nie waar sit die motortjie se gevaarliggies nie en daar’s geen tyd om te waai nie. Druipstert ry ek terug gastehuis toe.

Van toe af tot nou toe stuur ek goeie wense in die rigting van die barmhartige samaritaan met die pers hemp. Bloemfonteiners is regtige vriendelike mense.