Boomklim
Februarie 17, 2013 in Uncategorized
Die hele naweek loop ek met hierdie verlange in my hart – na die boom van my kinderjare. Spesiaal deur ons ouers uitgekies om ‘n lekker klimboom vir my en my boetie te wees, het die Acacia elata vinnig en hoog gegroei, met takke wat op gemaklike klimafstande van naby die grond af om die stam uitspruit.
Ek het daardie boom geklim dat hy kreun – tot hoog, hoog bo waar die takkies so dun was dat ek eers my gewig versigtig moes toets voordat ek met mening daarop trap. Augustusmaand, as die wind sterk op die Wesrand gewaai het, het ek op ‘n spesifieke, buigsame tak gaan sit en saam met die boom in die wind heen en weer geswiep. Partykeer het ek en my kat ons saam in die boom bevind, ander kere was my boet in sy ‘boomhuis’. Die boom was een van die seldsame twispunte tussen my ouers, want elke dan en wan het my pa die top laat afkap sodat die boom nie te hoog groei en dalk op die huis omval nie. Dan was my ma baie hartseer…dalk het sy, soos PG du Plessis se karaktertjie, die boom hoor huil?
Die laaste keer wat ek daardie boom geklim het, was na my pa se dood, die aand toe ek my mammie gaan haal het om na Pretoria toe te trek. Maar dit was geen rustige, mymerende afskeid nie – dit was ‘n verwoede jaagtog agter ‘n senuweeagtige kat aan wat ook in die kar gelaai moes word en toe besluit het om in die boom op te vlug. Op die ou einde moes ek maar weer die volgende dag die hele ent pad aflê om vir Sooisie te gaan haal, wat toe ewe gedweë opgedaag het toe ek hom roep.
Ek wil so bitter graag weer boomklim – maar hoe en waar gaan ek dit regkry? Hier in die meenthuiskompleks is daar geen klimvriendelike bome nie – en ek wil ook nie die buurt traumatiseer met die ongewone gesig van ‘n (bejaarde) vrou in ‘n boom nie. En hoekom op aarde verlang ek so na ‘ons’ boom?
Wag – ek weet: dis omdat my dierbare boetie more verjaar en omdat ek nóg in sy ‘boomhuis’, nóg in sy regte huis by hom sal kan kuier – want hy is baie, baie ver weg in ‘n nuwe land…Veels geluk, my liewe Boet – ek wil so graag vir jou ‘n suurlemoentert bak, maar helaas – daardie dae is ook verby.
daan coetzee het gesê op Februarie 17, 2013
Het ook vandag daardie heimwee, ´n tipiese Sondagding. Sterkte.
modderkoekie het gesê op Februarie 17, 2013
Mens kan nooit te oud word vir boomklim nie, Tannie Frannie.
Ek het heelwat ‘reise’ in bome gehad as kind
Om half boomloos te lewe is soortvan ondenkbaar vir my, die bome hier ken my, en ek ken elke liewe een.
Tannie Frannie het gesê op Februarie 18, 2013
Hulle is kosbare vriende…
Henry het gesê op Februarie 19, 2013
@modderkoekie
Miskien ken jy hulle – maar klim jy hulle? – wanneer laas het jy in en ingevaar?
Tannie Frannie het gesê op Februarie 19, 2013
Henry, dis wild daar waar MK woon…en nou wonder ek of daar slange in Engeland is en ek besef ek weet net eenvoudig glad nie!
modderkoekie het gesê op Februarie 19, 2013
Tannie Frannie hier is net addertjies glo..nog nooit een self gesien nie.
Wat hier wel baie is, en in reuse grote is spinnekoppe. Grotes, vettes, vettes met laaaang bene, vettes met kort krom bene, en vettes met rye tande en oge*gril*
Tannie Frannie het gesê op Februarie 24, 2013
Alles is okay (behalwe miskien die rye tande) – daai spinnekoppe moet net nie spring nie! As hulle spring, dan hardloop ek.
modderkoekie het gesê op Februarie 19, 2013
In die herfs wat verby is Henry. Ek het sulke lekker wegstaan boomklim tone
bruggie het gesê op Februarie 18, 2013
Pragtig geskrywe
frik van eeden het gesê op Februarie 18, 2013
@frandr
Ek is dol oor boomklim – hierdie kant van 70!
Op ons meenthuis werf staan ‘n groterige plataan met baie mooi takke en nou-die-dag (‘n Sondag), toe kry ek so ‘n boomklim-lus. Ek moes my leer gebruik om by die onderste takke te kon bykom. Ek het geklim to hoog, waar die takke begin dun raak en daar in ‘n gemaklike mik gaan sit. Hoekom weet ek nie, maar bo-in ‘n boom tussen die blare en takke, kom daar ‘n vreemde vrede in my op. Asof die boom mens koester. Na die boomsittery is ek baie rustig – asof ek “by myself” uitgekom het.
Mens moet gereeld in ‘n boom klim, dink ek. Dis ‘n soort terapie.
Tannie Frannie het gesê op Februarie 18, 2013
‘n Plataan is die allermooiste boom, die heeljaar deur. En ja, jy’s reg – bome het beslis ‘n teenwoordigheid wat kan troos en bemoedig, ek hou van jou woordkeuse: ‘koester’.
Safe Travellings het gesê op Februarie 18, 2013
Pragtige inskrywing…
perdebytjie het gesê op Maart 3, 2013
Ag hoe laat jy my nou verlang na daardie onderstebo hang aan ‘n tak,met jou rokkie netjies ingedruk in jou klein broekie se rekspype!
Tannie Frannie het gesê op Maart 3, 2013
Ek was so agtelosig met daardie rokkies dat my ma ten einde raad vir my ‘n ‘crawler’ gemaak het – so ‘n pofbroek soos die babas destyds gedra het :0)
perdebytjie het gesê op Maart 3, 2013
Interessant,my dierbare boetie verjaar ook op die 18de Februarie!
Tannie Frannie het gesê op Maart 3, 2013
Waterdraers – inderdaad dierbare boeties.
berwick het gesê op Maart 5, 2013
Goed gaan, Tannie Frannie. Netjies geskryf.