Jy blaai in die argief vir 2013 Februarie.

Boomklim

Februarie 17, 2013 in Uncategorized

Die hele naweek loop ek met hierdie verlange in my hart – na die boom van my kinderjare. Spesiaal deur ons ouers uitgekies om ‘n lekker klimboom vir my en my boetie te wees, het die Acacia elata vinnig en hoog gegroei, met takke wat op gemaklike klimafstande van naby die grond af om die stam uitspruit.

Ek het daardie boom geklim dat hy kreun – tot hoog, hoog bo waar die takkies so dun was dat ek eers my gewig versigtig moes toets voordat ek met mening daarop trap. Augustusmaand, as die wind sterk op die Wesrand gewaai het, het ek op ‘n spesifieke, buigsame tak gaan sit en saam met die boom in die wind heen en weer geswiep. Partykeer het ek en my kat ons saam in die boom bevind, ander kere was my boet in sy ‘boomhuis’. Die boom was een van die seldsame twispunte tussen my ouers, want elke dan en wan het my pa die top laat afkap sodat die boom nie te hoog groei en dalk op die huis omval nie. Dan was my ma baie hartseer…dalk het sy, soos PG du Plessis se karaktertjie, die boom hoor huil?

Die laaste keer wat ek daardie boom geklim het, was na my pa se dood, die aand toe ek my mammie gaan haal het om na Pretoria toe te trek. Maar dit was geen rustige, mymerende afskeid nie – dit was ‘n verwoede jaagtog agter ‘n senuweeagtige kat aan wat ook in die kar gelaai moes word en toe besluit het om in die boom op te vlug. Op die ou einde moes ek maar weer die volgende dag die hele ent pad aflê om vir Sooisie te gaan haal, wat toe ewe gedweë opgedaag het toe ek hom roep.

Ek wil so bitter graag weer boomklim – maar hoe en waar gaan ek dit regkry? Hier in die meenthuiskompleks is daar geen klimvriendelike bome nie – en ek wil ook nie die buurt traumatiseer met die ongewone gesig van ‘n (bejaarde) vrou in ‘n boom nie. En hoekom op aarde verlang ek so na ‘ons’ boom?

Wag – ek weet: dis omdat my dierbare boetie more verjaar en omdat ek nóg in sy ‘boomhuis’, nóg in sy regte huis by hom sal kan kuier – want hy is baie, baie ver weg in ‘n nuwe land…Veels geluk, my liewe Boet – ek wil so graag vir jou ‘n suurlemoentert bak, maar helaas – daardie dae is ook verby.

Die henna-kat van Wadi Rum

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Pienkerige sand, met hier en daar ‘n fyn, hardnekkige bossietjie. ‘n Kolossale granietberg wat loodreg uit die sand opdoem – sewe pilare, die sewe pilare van die Wysheid! Verstandigheid, kennis en onderskeidingsvermoë, Godvresendheid, regverdigheid, ware wysheid, insig en krag. In hierdie wêreld was Lawrence of Arabia gestasioneer en is die fliek oor sy skouspelagtige avonture jare later gemaak.

 

Die landskap is ongelooflik dramaties en ‘n mens voel oneindig klein. Dis die onherbergsame wêreld van Israel se omswerwinge in die woestyn…g’n wonder hulle het vir hulleself ‘n goue kalf gemaak toe hulle dog Moses gaan nie weer terugkom nie!

 

Daar is vir ons ‘n kameelrit gereël, maar die 21ste-eeuse weergawe: onverskrokke Bedoeïene met hulle kenmerkende rooi-en-wit kopdoeke beman ‘n aantal 4×4-voertuie waarin ons vir die woestynrit gelaai word. (Gelukkig sit ek styf vasgepak tussen twee medetoerlede, anders het ek waarskynlik soos ‘n rubberbal op daardie agterste sitplek rondgebons!)

Ons is skaars op pad, toe kom ek agter hier is ernstige wedywering tussen hierdie manne. Op die plat teerpad op pad woestyn toe begin hulle mekaar verby te steek teen ‘n taamlike spoed, maak nie saak wat van vooraf aankom nie…Toe ons die sand tref, sit hulle voet in die hoek. Ons jaag oor die plat vlakte, kry skaars tyd om die berge raak te sien, gooi esse deur die woestynlandskap en vang so af en toe ‘n dippie of ‘n wal wat my maag ‘n rukkie laat agterbly voor hy my weer inhaal. Agterna vertel ‘n groepie girls hoe hulle gegil het en hoe dit hulle bestuurder tot groter waaghalsighede aangevuur het – hoe innig bly is ek nie dat ek nie in daardie Jeep beland het nie…

 

In die middel van Wadi Rum – “Vallei van die Maan” – tussen lang sandduine, stapels rots en die kenmerkende klipgebergtes wag ‘n groot, langwerpige tentstruktuur ons in. Die tent is oor ‘n permanente houtplatform gespan, daar is lae muurtjies reg rondom gebou waaroor dik, kleurvolle materiaal gespan is. Die gashere wag ons in met verfrissende glasies salie-tee1: heerlik warm, geurig, heuningsoet – ‘n salige ervaring vir ‘n tee-verslaafde soos ekself.

Weer is daar ‘n verskyning wat slegs uit die Arabiese nagte sou kon kom: ‘n bloedrooi kat! By nadere betragting sien mens dis ‘n mooi gemmerkat, maar iemand het hom met kleursel bygedam – sou dit henna wees? Die kleur is lukraak aangebring, dis nie mooi patroontjies soos mens op Arabierse vrouehande sien nie – maar nouja, sekerlik het hierdie meneer nie stilgesit terwyl hy so ingekleur is nie.

 

Ewe kontant kom skuur hy teen al wat leef en beef se bene, laat toe dat hy gestreel word, spring dan op ‘n muurtjie en tuur ver en filosofies oor die duine. Hy spring af op die sand en takel ‘n ronde wit woestynklippie met sy formidabele pote en sterk naels – waarskynlik sy manier om te ‘gym’. Al die maer, misrabele straatkatte van die afgelope twee weke doem in my gedagtes op en ek wil so graag vir hom vertel hoe gelukkig en bevoorreg hy is, maar ag, hy verstaan net Arabies…

1 = ‘sage’, vir diegene wat grootgeword het nadat die ellendige Robertson’s besluit het om nie meer die Afrikaanse name van hulle kruie en speserye op hulle bottel-etiketjies te druk nie