Die trourok

Augustus 13, 2012 in Sonder kategorie

 

Min trourokke is so deeglik benut soos my nuwe skoondogter s’n.

 

Saterdag was sy asemrowend mooi, ‘n fyn droomprinsessie in haar skouerlose, sagte-wit trourok met subtiele blinkertjies op die lyfie geborduur, noupassend tot op die heupies, met ‘n beheerste ontploffing van smal organza-valle wat uitklok in ‘n swierige slepie. Haar twee strooimeisies het pers skemerkelkrokkies in verskillende style gedra en haar soos toegewyde dienaresse begelei.

 

Laatlam het self goed gelyk met sy laventelpers krawat, die silwer hoekies aan sy wit hempskraag (hy het dit sy ‘pimp-hemp’ genoem), sierlike onderbaadjie en deftige swart pak. (Was dit regtig my seun, wat op sy gemaklikste voel in ‘n geskeurde T-hemp en ‘n afsak-broek?) Sy twee strooijonkers was identies geklee – maar sonder die silwer hempskraag. Saam het die drie ‘n indrukwekkende prentjie gemaak.

 

Die gaste was jonk en mooi, met net genoeg van die ouers se generasie daarby om die nodige gravitas aan die geleentheid te gee.

 

Drie-uur op die goue Augustusmiddag lê ons geestelike herder van baie jare die huweliksband tussen die liewe kinders. Hy gee vir hulle vyf blokke om hulle huwelik mee te bou: kameraderie, vriendskap, liefde, vergifnis en blydskap. Blydskap, nie slegs geluk nie, want geluk hou net ‘n rukkie en is van omstandighede afhanklik, terwyl blydskap soos ‘n helder, standhoudende fontein uit geloof in God opwel. Haar broer sing: “Love is a verb”… Haar pa en ek gaan gee die ringe vir ons kinders – so ‘n emosionele oomblik dat ek amper een van my voorraad kantsakdoekies nodig kry.

 

Kenmerkend Laatlam, is sy antwoord op die tradisionele vrae ‘n kwinkslag: “Natuurlik!” en sy beaam met ‘n duidelike “Ja”.

 

Die confetti is springmielies – ‘n eko-vriendelike opsie wat die voëltjies ook kan geniet. Ek kry my nuwe dogter sommer verder lief as sy spontaan ‘n paar springmielies vang en verorber, het natuurlik die oggend min geëet uit spanning en opwinding.

 

Ons stap ‘n paar treë van die grasdakkapelletjie na die grasdaksaal, waar tafels met die mooiste wit tafeldoeke en dieppers oorlegsels ons inwag. Op elke tafel is daar twee halfrondes vol verskillende skakerings pers kunsblommetjies en ‘n silwer kandelaar waarop ‘n pers bal van gepluisde sneespapier rus – al die versierings die bruid se eie handewerk.

 

Die fees neem sy loop. Die toesprake is kort en die kos is lekker. Laatlam leef swaar, want die jongmanne sleep hulle stoele nader, kom sit reg voor hom en peuter met die mikrofoon terwyl hy sy toesprakie probeer hou. Die DJ sit ook hand by met klankeffekte. Toe daar ‘n stukkie van “To all the girls I’ve loved before” speel, gryp Laatlam die mikrofoon en mimiek ‘n sielvolle weergawe – sy ma voel sommer trots op hom!

 

Die bruidspaar open die dansvloer. Hmm, hier het ek in my opvoedingstaak gefaal… Toe vat die pa van die bruid, danser van formaat, sy dogter behoorlik vas en dans die foxtrot soos wat dit gedans moet word. Ander gaste kom by – ligvoet of sleepvoet, dartelend of geduldig, gedienstig en gedwee. Die bruid se ouers dans soos wat net getroudes kan: in volmaakte harmonie, gemaklik met mekaar, gewoond daaraan om saam te werk en te speel.

 

Intussen sit ek en my gewese man langs mekaar aan die hooftafel en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit – ons het immers ses jaar se stories om te vertel. Ek nooi hom vir ‘n dans en dis so gemaklik soos pantoffels.

 

Waar die trourok se sleep eers netjies met ‘n ingewikkelde meganisme opgehys is sodat haar pers hoë-, hoë-, hoëhakskoene met die blinkertjies op die hakke nie verstrengel raak nie, het my nuwe dogter nou die skoene uitgeskop en tel sy sommer die rok so met albei hande op. Die DJ begin klubmusiek speel en die jonges vat die vloer met die bruid die voorbok en die bruidegom ook daar iewers in die bondel.

 

Die kousband en die ruiker word gegooi en die rooifluweelkoek met sy perfekte gladde ligpers versiersuiker word gesny. My nuwe skoonsus gee vir my die boonste deel met die vars laventeltakkies op en voorsien my so van Sondagmiddagete…

 

Laataand help ek dra aan die presente en stap agter my skoondogter aan kar toe. Sonder skroom loop sy met haar kaalvoetjies oor die skerp klippers en harde grasstoppels. Ek sien hoe die rok se sleep onder my oë deur die veld verrinneweer word. Maar dit bly steeds mooi, dié trourok wat so hard gewerk het.

 

24 antwoorde op Die trourok

  1. eros01 het gesê op Augustus 13, 2012

    Baie geluk! xR

  2. Ientjie het gesê op Augustus 13, 2012

    Pragtig. Jy vertel dit so mooi. Ek sien alles voor my. Veels galuk ook met die nuwe dogter.

  3. So, so mooi vertel, dit voel of ek daar was! En jou jongste en sy bruidjie klink na my soort mense. Dit was duidelik ‘n pragtige troue!

  4. Heerlik!
    Jy skryf so na my smaak, Frannie

  5. TS het gesê op Augustus 14, 2012

    klink heerlik Baie geluk!

  6. Neander het gesê op Augustus 14, 2012

    Ek hou van jou styl.

  7. avega het gesê op Augustus 14, 2012

    Dit klink heerlik. ‘n Nuwe era vir julle. Ons was ook op ‘n troue Saterdag, toe jy begin vertel dog ek dit was dieselfde een 🙂 maar ons bruid was vergesel van 4 strooimeisies en ‘n hond wat die ringe ingedra het 🙂

  8. Ai, nou het ek darem lekker troue gehou!

    Bly dat jy ‘n dogter bygekry het.

  9. voel of ek daar was 🙂

  10. Pragtig vertel. Voel asof ek sommer daar was

  11. Klink of jy ‘n oulike dogter bygekry het ! XXX

  12. Tsk! Pik ek sommer n traan!

  13. flapoor het gesê op Augustus 15, 2012

    ai ek het nou so lekker gekuier saam met die troue.

  14. Lekker!

  15. Gaan ons nie foto’s kry nie?

  16. frandr het gesê op Augustus 16, 2012

    Ek wag vir die professionele foto’s – my kiekies laat nie reg geskied nie!

  17. Kringe het gesê op Augustus 17, 2012

    Ai Tannie Fran – ‘n getrouery maak my mos altyd so half hartseer. Nie omdat ek spekties is of ‘n DING oor die huwelik het of uit ‘n mislukte huwelik kom nie – sommer net so bietjie bewoë, want daar is altyd so ‘n lig in die paartjie se oë en ek weet dit vat maar baie werk om die lig daar te hou en ek kyk hulle dan so hoopvol dat dinge vir hulle sal werk…

  18. frandr het gesê op Augustus 17, 2012

    Ek verstaan so goed hoe jy voel! Mens wil hulle so graag gelukkig sien, dat hulle moet goed wees vir mekaar, dat die sleur van elke dag nie daardie lig waarvan jy praat, ooit moet verdof nie. Dis hoekom die predikant se boublok van blydskap vir my so aangrypend is.

  19. Twaksak het gesê op Augustus 18, 2012

    Baie geluk!

  20. Geluk! Klink of dit heerlik was… wat van ‘n paar foto’tjies Tannie Fran?
    Geestelike Herder – dis mooi gese!

  21. Baie geluk Tannie Fran dit is baie, baie mooi vertel. Met die lees van die stuk verlang ek terug na my troudag. Ek herleef nou elke oomblik van my troudag. Ek is nou die 23ste Augustus – 4 jaar getroud. Dankie Tannie Fran vir die onthou van die spesiale dag.

  22. Sjoe tannie.jy vertel so oulik.Dit voel amper of ek self daar was.Foto’s hoor!

  23. frandr het gesê op Augustus 25, 2012

    En toe gaan staan en mis ek die regte datum van jou troudag. Dis nou bietjie laat, maar baie, baie geluk en goeie wense vir julle!

  24. Ek sal elke dag bid dat my kinders ook die regte lewensmaats kry….en vir altyd ongekunsteld, eerlik en gelukkig is. Die was seker die beste blog wat ek in jare gelees het….

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.