Kosbaar soos pêrels

Augustus 9, 2012 in Sonder kategorie

 

In 2012 vier ek vriendskap – meer spesifiek jarelange vriendskappe wat ek verloor en toe weer teruggevind het.

 

Vanoggend kuier ek by my woonstelmaat van toe ons pas begin werk het. Ons het ‘n woonstelletjie bokant die fliek en garage in die ou Hatfield gehuur. Saterdagoggende het die geraas van die werktuigkundiges mens wakker gemaak lank voor jy reg was daarvoor – met die dat jy gewoonlik die vorige aand baie laat by die huis gekom het. Daar was ‘n ou Portugese vrou, altyd in swart geklee, so ‘n entjie stoep-af wat Sondae fado-musiek gespeel het. Wat het ek destyds van die melankolie van die ouderdom geweet? Vandag verstaan ek haar, maar toe het ek net Sondagaand-blues geken en die fado was ‘n frustrasie wat dit welig laat groei het.

 

My vriendin maak vir my ‘n halssnoer van varswaterpêrels vir Laatlam se troue hierdie Saterdag. Sorgsaam meet sy die lengte om net reg by my kamisool se halslyn te pas. Sy skink vir ons tee in die mooiste koppies en speel musiek uit haar wye versameling.

 

Dis sy wat my van klassieke kerkmusiek geleer het. Ek het by haar leer kosmaak: behoorlike kapokaartappels en rys-met-skelvis. Haar rubberplant het my lewenslange rampspoed met potplante begin: nadat haar vriend dit aan die stam teen die trap opgedra het, lekker iesegrimmig omdat hy moes help trek, het dit begin kwyn – die muggies het later so bokant dit gedraai…Toe ek by haar kla oor ‘n moeilike taak, seg sy iets wat my nog altyd gehelp het om aan die gang te kom: “Man, gaan sit op jou bas en skryf die ding!”

 

Ek kyk na die pragtige pêrels, versigtig uitgesoek sodat hulle onreëlmatige vorms langs mekaar inpas, met ‘n hele verskeidenheid klein kraletjies een-een tussenin, ‘n reënboogglansende kunswerk in skakerings van roesbruin, bruinpers, brons en koper spesiaal vir my. Dis vir my net so mooi soos die lewe self.

11 antwoorde op Kosbaar soos pêrels

  1. TS het gesê op Augustus 9, 2012

    Ag hoe pragtig

  2. louisna het gesê op Augustus 9, 2012

    Pragtige stuk

  3. Vriende is kosbaar
    Voorspoed met Saterdag – hoop alles loop goed af.

  4. katrina het gesê op Augustus 9, 2012

    Inderdaad kosbaar. Mooi geskryf.

  5. Aaa, vriendskap. En veral hergevonde ou vriendskappe! So kosbaar. Jy is ‘n gelukkige vrou dat jy die drade weer kon optel. Party vriendskappe hervat mos na jare of dit gister was wat mens mekaar laas gesien het. My man reken hy beny vroue hulle vermoe om hulle harte vir mekaar oop te maak, saam te huil, saam te lag…..

  6. Carol460 het gesê op Augustus 9, 2012

    Sjoe wat ‘n mooi getuigskrif vir jou vriendin ! Hoop alles loop goed en mooi af met die troue !

  7. hierdie tipe vriendskappe het waarlik die toets van die tyd geslaag

  8. Ientjie het gesê op Augustus 9, 2012

    Dit is regtig n perel van n vriendskap!

  9. Lekker!

  10. Darie woonstelletjie in Hatfield klink net soos die een waar ek van 1964 tot 1969 gebly het, Myettegebou 6? ons was goed bevriend met Toni en Franco van die Monte Carlo _kafee en Fliek en het gereeld n pot minestrone presennt gekry en nooit vir n fliek betaal nie!

  11. frandr het gesê op Augustus 25, 2012

    Hmm, ons was nie so bevoorreg om Toni en Franco te ken nie, maar jou en ons paaie het verseker gekruis in daardie tyd. Ons woonstel se naam was Joie de Vie – wat natuurlik elke keer uitgespel moes word as ons iewers ‘n adres moes opgee. Dit was letterlik bo-op en rondom die fliek gebou. Goeie dae…

Los ’n antwoord vir skaawagter. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.