“Le Corsaire”

Augustus 4, 2012 in Sonder kategorie

Sondagmiddag sit ek in ‘n stampvol Johannesburgse Skouburg en word meegevoer deur die magiese krag van “Le Corsaire”, ‘n ballet van grootse opset. So baie lanklaas het ek die towerkrag van ballet beleef! Ek het al vergeet van die dramatiese mimiek, die “minagting van die swaartekrag”, die liriese, skouspelagtige beweging, die ongelooflike beheer oor die menslike liggaam. Ja, die storielyn is dun en onwaarskynlik, maar wat maak dit saak? Dis in elk geval net ‘n verskoning vir die musiek en die dans.

 

Niks beïndruk my so baie soos ‘n sterk verhoogpersoonlikheid nie. Toe die lang danseur in sy blou Oosterse wyebroekpakkie die verhoog betree as die slawe-eienaar, is ek klaar geboei. Ali die slaaf (‘n rol waarvan daar ‘n beroemde foto van Rudolf Nureyev in die program is) dans ongelooflik goed – die kenmerkende skynbaar inspanningslose en virtuose passies van die hoogs begaafde. En die “jeune fille”, Medora, steel my hart, soveel te meer toe sy onversteurd, in dawerende stilte, voortdans toe die klank skielik net verdwyn! Die dappere meisie, in die beste tradisie van “the show must go on”, oorbrug almal se verleentheid totdat die verhoogbestuurder uiteindelik die gordyn laat sak.

 

Ai, ek mis die groot simfonie-orkeste van my jeug. Die opwinding as hulle hul instrumente begin stem, die kleurryke karakters, die kaartmannetjie-dirigente, die wonderwerk van goddelike musiek voortgebring deur die gemeenskaplike inspanning van individuele musikante wat elkeen ure en jare se dissipline en toewyding verteenwoordig. Natuurlik is die geblikte musiek ook pragtig – maar ek kan my net die angsvolle geskarrel in die beheerkamer indink toe dit skielik net verdwyn! Die ergste wat met ‘n orkes kan gebeur is een of twee lede wat dalk uitglip vir ‘n knertsie en na pouse nie meer heeltemal so goed speel nie :0)

 

Die geskarrel lewer goeie gevolge en die uitvoering stu voort. Beelde uit die balletinkleurboek, wipprentboek en papierpoppe van my kinderjare word werklikheid op die verhoog, kompleet met groot blommekranse wat die corps de ballet grasievol hanteer.

 

Ons is bevoorreg om ‘n aangrypende seremonie te beleef toe die geselskap aan die einde van die prima ballerina Anya Carstens afskeid neem. Daar is lofuitinge, herinneringe en nostalgie. Die hele geselskap stap seremonieel verby haar en lê elk ‘n langsteelroos aan haar voete (dis nou ‘n nuwe versamelwoord: ‘n hoop rose!) Sy kry ruiker op ruiker, mandjiesvol blomme. Op die agtergrond flits ‘n verskeidenheid foto’s van haar rolle, die mooiste kostuums, kroniek van ‘n loopbaan. Ek sal nooit weet hoe sy voel nie, want in die gevierde tradisie van die ballet praat die ballerina nie – sy maak net ‘n diep, diep curtsey.

15 antwoorde op “Le Corsaire”

  1. Nou sommer skoon hoendervleise

  2. TS het gesê op Augustus 4, 2012

    Die is spesiaal… dankie vir die deel

  3. Wat ‘n heerlike relaas van ‘n ongelooflike aand!
    Jy skryf so kleurvol, Frann

  4. Ientjie het gesê op Augustus 4, 2012

    Weereens pragtig gedeel met almal. Dis wonderlik om so in te leef met die vertoning.

  5. avega het gesê op Augustus 6, 2012

    Klink fantasties. ek was nog nooit by ‘n balletopvoering nie 🙂

  6. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Jy’s nou naby daardie einste teater. Doen jouself ‘n guns…hulle doen die Nutcracker van 6 tot 16 September.

  7. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Dankie vir my mooi blommetjie!

  8. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Jy’s reg – mens vergeet mos van alles en gee jou oor aan die fantasie…

  9. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Ag dankie, Lou!

  10. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Dis vir my spesiaal dat julle lees!

  11. frandr het gesê op Augustus 6, 2012

    Jou kommentaar maak my sommer gelukkig!

  12. endlich het gesê op Augustus 7, 2012

    jy beskryf dit so lekker – voel glad of ek daar was

  13. lora2me het gesê op Augustus 8, 2012

    O, ek kan ure na ballet en ander danse kyk. Dit voer ‘n mens weg, soos jy sê. Dirk Badenhorst het die balletgeselskappe weer aan die lewe gekry nadat alles mos doodgeloop het in die provinsies. Wonderlik.

  14. Lekker gelees en ook verlang na daardie dae van die streeksrade. geniet jou skrywes!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.