Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

Kerkbasaar

Augustus 26, 2012 in Sonder kategorie

Die oumense het ‘n gesegde gehad: “Jy sien hom voor die kop, maar nie in die krop nie.”

 

Sondae sien ‘n mens jou mede-gemeentelede voor die kop, sedig in die kerkbanke, gepoets en gepoleer. Maar as jy betrokke raak en aan die aktiwiteite deelneem, begin jy die gemeente se krop beleef, raak jy deel van die hartklop en word hierdie mense jou broers en susters in Christus.

 

Gister het ons basaar gehou, op ‘n stralende lenteoggend in Pretoria. Die bobaas-baksters hou sommer drie tot vier pannekoekpanne gelyk aan die gang; die manne braai vleis en die tannies drink tee. Eenkant in die pretpark jil die kinders en anderkant speel die Blou Bul Boere-orkes ‘n meesleurende konsertinawals. Die poedingtafel doen fluks sake – ai, daardie deurmekaar-basaarpoedingbakkie bly darem ‘n vreugde! – en ek moet tot my ontsteltenis verneem dat al die fudge reeds uitverkoop is. Daar’s niks soos ‘n basaar om die soet-tande uit te wys nie.

 

Ek koop kerrie-en-rys, beskuit, groente, bederf myself met ‘n bos blomme. My alleenloper-huishouding kry sommer proviand vir die hele week. ‘n Vriendelike vrou kom maan die pannekoektafel tot vinniger aksie: “Die Engelse tannies van die kerk hier onder in die straat bak vinniger!” terg sy met ‘n vonkel in die oog.

 

Ons streng koster doen moeite om vir my ‘n bepaalde soort koeldrank uit te soek in die yslike blikbaddens water waarin die blikkies tussen blokke ys dryf. Een van ons voorvrouens en raakvatters stap by my verby nadat sy drie uurlange ontbytsessies beplan en vlot laat verloop het, so vars asof sy sopas hier aangeland het. Ons dominee smous met kersies wat in mampoer ingelê en toe in sjokolade gedoop is. Eenkant staan ‘n sakeman, verdiep in die ensiklopedie wat hy nou net by die boeketafel gaan uitsnuffel het. ‘n Stil ouderling ontpop in ‘n behendige deegmenger en as dit sy bakbeurt is, skiet hy sy pannekoeke doodluiters die lug in op.

 

Vanoggend sing ons die ou “O goedheid Gods hier nooit volprese” met die nuwe woorde op die ou melodie – is dit my verbeelding, of sing ons vandag hartliker as ooit? Ons het baie geld gemaak wat oordeelkundig uitgedeel gaan word, maar die heel beste van ons basaar was die gemeentebou.

Die trourok

Augustus 13, 2012 in Sonder kategorie

 

Min trourokke is so deeglik benut soos my nuwe skoondogter s’n.

 

Saterdag was sy asemrowend mooi, ‘n fyn droomprinsessie in haar skouerlose, sagte-wit trourok met subtiele blinkertjies op die lyfie geborduur, noupassend tot op die heupies, met ‘n beheerste ontploffing van smal organza-valle wat uitklok in ‘n swierige slepie. Haar twee strooimeisies het pers skemerkelkrokkies in verskillende style gedra en haar soos toegewyde dienaresse begelei.

 

Laatlam het self goed gelyk met sy laventelpers krawat, die silwer hoekies aan sy wit hempskraag (hy het dit sy ‘pimp-hemp’ genoem), sierlike onderbaadjie en deftige swart pak. (Was dit regtig my seun, wat op sy gemaklikste voel in ‘n geskeurde T-hemp en ‘n afsak-broek?) Sy twee strooijonkers was identies geklee – maar sonder die silwer hempskraag. Saam het die drie ‘n indrukwekkende prentjie gemaak.

 

Die gaste was jonk en mooi, met net genoeg van die ouers se generasie daarby om die nodige gravitas aan die geleentheid te gee.

 

Drie-uur op die goue Augustusmiddag lê ons geestelike herder van baie jare die huweliksband tussen die liewe kinders. Hy gee vir hulle vyf blokke om hulle huwelik mee te bou: kameraderie, vriendskap, liefde, vergifnis en blydskap. Blydskap, nie slegs geluk nie, want geluk hou net ‘n rukkie en is van omstandighede afhanklik, terwyl blydskap soos ‘n helder, standhoudende fontein uit geloof in God opwel. Haar broer sing: “Love is a verb”… Haar pa en ek gaan gee die ringe vir ons kinders – so ‘n emosionele oomblik dat ek amper een van my voorraad kantsakdoekies nodig kry.

 

Kenmerkend Laatlam, is sy antwoord op die tradisionele vrae ‘n kwinkslag: “Natuurlik!” en sy beaam met ‘n duidelike “Ja”.

 

Die confetti is springmielies – ‘n eko-vriendelike opsie wat die voëltjies ook kan geniet. Ek kry my nuwe dogter sommer verder lief as sy spontaan ‘n paar springmielies vang en verorber, het natuurlik die oggend min geëet uit spanning en opwinding.

 

Ons stap ‘n paar treë van die grasdakkapelletjie na die grasdaksaal, waar tafels met die mooiste wit tafeldoeke en dieppers oorlegsels ons inwag. Op elke tafel is daar twee halfrondes vol verskillende skakerings pers kunsblommetjies en ‘n silwer kandelaar waarop ‘n pers bal van gepluisde sneespapier rus – al die versierings die bruid se eie handewerk.

 

Die fees neem sy loop. Die toesprake is kort en die kos is lekker. Laatlam leef swaar, want die jongmanne sleep hulle stoele nader, kom sit reg voor hom en peuter met die mikrofoon terwyl hy sy toesprakie probeer hou. Die DJ sit ook hand by met klankeffekte. Toe daar ‘n stukkie van “To all the girls I’ve loved before” speel, gryp Laatlam die mikrofoon en mimiek ‘n sielvolle weergawe – sy ma voel sommer trots op hom!

 

Die bruidspaar open die dansvloer. Hmm, hier het ek in my opvoedingstaak gefaal… Toe vat die pa van die bruid, danser van formaat, sy dogter behoorlik vas en dans die foxtrot soos wat dit gedans moet word. Ander gaste kom by – ligvoet of sleepvoet, dartelend of geduldig, gedienstig en gedwee. Die bruid se ouers dans soos wat net getroudes kan: in volmaakte harmonie, gemaklik met mekaar, gewoond daaraan om saam te werk en te speel.

 

Intussen sit ek en my gewese man langs mekaar aan die hooftafel en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit – ons het immers ses jaar se stories om te vertel. Ek nooi hom vir ‘n dans en dis so gemaklik soos pantoffels.

 

Waar die trourok se sleep eers netjies met ‘n ingewikkelde meganisme opgehys is sodat haar pers hoë-, hoë-, hoëhakskoene met die blinkertjies op die hakke nie verstrengel raak nie, het my nuwe dogter nou die skoene uitgeskop en tel sy sommer die rok so met albei hande op. Die DJ begin klubmusiek speel en die jonges vat die vloer met die bruid die voorbok en die bruidegom ook daar iewers in die bondel.

 

Die kousband en die ruiker word gegooi en die rooifluweelkoek met sy perfekte gladde ligpers versiersuiker word gesny. My nuwe skoonsus gee vir my die boonste deel met die vars laventeltakkies op en voorsien my so van Sondagmiddagete…

 

Laataand help ek dra aan die presente en stap agter my skoondogter aan kar toe. Sonder skroom loop sy met haar kaalvoetjies oor die skerp klippers en harde grasstoppels. Ek sien hoe die rok se sleep onder my oë deur die veld verrinneweer word. Maar dit bly steeds mooi, dié trourok wat so hard gewerk het.

 

Kosbaar soos pêrels

Augustus 9, 2012 in Sonder kategorie

 

In 2012 vier ek vriendskap – meer spesifiek jarelange vriendskappe wat ek verloor en toe weer teruggevind het.

 

Vanoggend kuier ek by my woonstelmaat van toe ons pas begin werk het. Ons het ‘n woonstelletjie bokant die fliek en garage in die ou Hatfield gehuur. Saterdagoggende het die geraas van die werktuigkundiges mens wakker gemaak lank voor jy reg was daarvoor – met die dat jy gewoonlik die vorige aand baie laat by die huis gekom het. Daar was ‘n ou Portugese vrou, altyd in swart geklee, so ‘n entjie stoep-af wat Sondae fado-musiek gespeel het. Wat het ek destyds van die melankolie van die ouderdom geweet? Vandag verstaan ek haar, maar toe het ek net Sondagaand-blues geken en die fado was ‘n frustrasie wat dit welig laat groei het.

 

My vriendin maak vir my ‘n halssnoer van varswaterpêrels vir Laatlam se troue hierdie Saterdag. Sorgsaam meet sy die lengte om net reg by my kamisool se halslyn te pas. Sy skink vir ons tee in die mooiste koppies en speel musiek uit haar wye versameling.

 

Dis sy wat my van klassieke kerkmusiek geleer het. Ek het by haar leer kosmaak: behoorlike kapokaartappels en rys-met-skelvis. Haar rubberplant het my lewenslange rampspoed met potplante begin: nadat haar vriend dit aan die stam teen die trap opgedra het, lekker iesegrimmig omdat hy moes help trek, het dit begin kwyn – die muggies het later so bokant dit gedraai…Toe ek by haar kla oor ‘n moeilike taak, seg sy iets wat my nog altyd gehelp het om aan die gang te kom: “Man, gaan sit op jou bas en skryf die ding!”

 

Ek kyk na die pragtige pêrels, versigtig uitgesoek sodat hulle onreëlmatige vorms langs mekaar inpas, met ‘n hele verskeidenheid klein kraletjies een-een tussenin, ‘n reënboogglansende kunswerk in skakerings van roesbruin, bruinpers, brons en koper spesiaal vir my. Dis vir my net so mooi soos die lewe self.

“Le Corsaire”

Augustus 4, 2012 in Sonder kategorie

Sondagmiddag sit ek in ‘n stampvol Johannesburgse Skouburg en word meegevoer deur die magiese krag van “Le Corsaire”, ‘n ballet van grootse opset. So baie lanklaas het ek die towerkrag van ballet beleef! Ek het al vergeet van die dramatiese mimiek, die “minagting van die swaartekrag”, die liriese, skouspelagtige beweging, die ongelooflike beheer oor die menslike liggaam. Ja, die storielyn is dun en onwaarskynlik, maar wat maak dit saak? Dis in elk geval net ‘n verskoning vir die musiek en die dans.

 

Niks beïndruk my so baie soos ‘n sterk verhoogpersoonlikheid nie. Toe die lang danseur in sy blou Oosterse wyebroekpakkie die verhoog betree as die slawe-eienaar, is ek klaar geboei. Ali die slaaf (‘n rol waarvan daar ‘n beroemde foto van Rudolf Nureyev in die program is) dans ongelooflik goed – die kenmerkende skynbaar inspanningslose en virtuose passies van die hoogs begaafde. En die “jeune fille”, Medora, steel my hart, soveel te meer toe sy onversteurd, in dawerende stilte, voortdans toe die klank skielik net verdwyn! Die dappere meisie, in die beste tradisie van “the show must go on”, oorbrug almal se verleentheid totdat die verhoogbestuurder uiteindelik die gordyn laat sak.

 

Ai, ek mis die groot simfonie-orkeste van my jeug. Die opwinding as hulle hul instrumente begin stem, die kleurryke karakters, die kaartmannetjie-dirigente, die wonderwerk van goddelike musiek voortgebring deur die gemeenskaplike inspanning van individuele musikante wat elkeen ure en jare se dissipline en toewyding verteenwoordig. Natuurlik is die geblikte musiek ook pragtig – maar ek kan my net die angsvolle geskarrel in die beheerkamer indink toe dit skielik net verdwyn! Die ergste wat met ‘n orkes kan gebeur is een of twee lede wat dalk uitglip vir ‘n knertsie en na pouse nie meer heeltemal so goed speel nie :0)

 

Die geskarrel lewer goeie gevolge en die uitvoering stu voort. Beelde uit die balletinkleurboek, wipprentboek en papierpoppe van my kinderjare word werklikheid op die verhoog, kompleet met groot blommekranse wat die corps de ballet grasievol hanteer.

 

Ons is bevoorreg om ‘n aangrypende seremonie te beleef toe die geselskap aan die einde van die prima ballerina Anya Carstens afskeid neem. Daar is lofuitinge, herinneringe en nostalgie. Die hele geselskap stap seremonieel verby haar en lê elk ‘n langsteelroos aan haar voete (dis nou ‘n nuwe versamelwoord: ‘n hoop rose!) Sy kry ruiker op ruiker, mandjiesvol blomme. Op die agtergrond flits ‘n verskeidenheid foto’s van haar rolle, die mooiste kostuums, kroniek van ‘n loopbaan. Ek sal nooit weet hoe sy voel nie, want in die gevierde tradisie van die ballet praat die ballerina nie – sy maak net ‘n diep, diep curtsey.