Jy blaai in die argief vir 2012 Julie.

Bachelorette’s

Julie 27, 2012 in Sonder kategorie

Iewers in die ooste van Pretoria is my Amper-Dogter op hierdie heden ogemblik aan die bedel.

 

Sy dra pienk leggings, grys wolkouse en blou crocs wat omtrent drie nommers te groot is. Verder ‘n los, ligblou pijamatop, ‘n swart kortbroekie, ‘n skelpienk voorskoot, ‘n veelkleurige plastiekblomstring en ‘n wit veiltjie wat aan ‘n blink tiara met ‘n pienk fuzzy-wuzzy alice band vas is. Sy dra ‘n hele paar ronde knope met boodskappies soos Bride to Be op; ook ‘n groot plakkaat wat verduidelik dat sy op troue staan en kan doen met ‘n bietjie geld. Aan die een armpie hang boeie, ook met pienk fuzzy-wuzzy oorgetrek. Maar die toppunt is die hooftooiseltjie wat haar vriendinne vanmiddag by Poison aangeskaf het – met liggies in. Ek hoop maar die mense dink dis net horinkies…

 

Watter aand! Op die boonste verdieping van Isabella’s, met spieëls en kandelare, swart en silwer mure, swart en wit vloere, kuier ek en my Amper-Skoonsus tussen die klompie pragtige jong vroue wat elkeen hasie-ore en ‘n parmantige wit stertjie dra, met ‘n fluitjie om die nek wat oorverdowend geblaas word ter applous. Ek verkyk my aan hoe mooi hulle is, verstom my aan die borrelende energie.

 

Ek moet sê die hele okkasie is ‘n aansienlike verbetering op die tradisionele kombuistee!

 

 

Lekker verjaar, ou maat…

Julie 3, 2012 in Sonder kategorie

Dit was gister vir die hoeveelste keer my verjaarsdag. Ek wou dit onder die radar hou. Toe kom Kedi wat verder af in die gang werk, met ‘n wye glimlag vir my ‘n drukkie gee. Daarom gaan koop ek miniatuur-kolwyntjies en deel hulle so met die gang af uit.

 

Ek kry die gewone wense van die gewone groepie familie, vriende en kennisse en maak nie saak hoe mooi hulle woorde is nie, ek bly maar bedruk…My pa, my skoonpa en my skoonma het nie een so oud geword soos ek vandag is nie.

 

Soos wat die werksdag aanstap, raak ek skoon paniekerig. Dit sal my leer om nie te beplan nie! Omdat ek nie vooruit gedink het nie, gaan ek vanaand by die huis op ‘n wanhoopsvlakte beland. Gelukkig bel Laatlam en nooi my om saam met hom en my amper-dogter te gaan eet.

 

Dit word ‘n gesellige aand, met skemerkelkies, wyn en lekker kos. So baie mense wat die blou Maandag met uit-eet besweer! Die verjaarsdag is hokgeslaan.

 

Vanaand terwyl ek huis toe ry, klim die groot goue maan teen die horison uit. Soveel kere het daardie maan my al met sy skoonheid verstom…hoeveel kere lê daar nog voor?

Dawid die musical

Julie 1, 2012 in Sonder kategorie

 

Vir my was Dawid nog altyd ‘n fassinerende karakter. Digter en musikant – en verwoede krygsman. Held en leier – en feilbaar. Skaapwagter en jongste seun – toe koning. ‘n Man “na God se hart” – wat iemand anders se ooilammertjie gesteel het. Geen wonder dat sy lewe ryke stof tot ‘n musiekdrama bied nie.

 

Ek en my amper-dogter gaan kyk Vrydagaand na “Dawid, die Musical” – Laatlam het viervoet vasgeskop en bly tuis. Dis nie die gewone opera-gehoor hierdie nie – ‘n groepie probeer selfs voor die vertoning en weer tydens pouse ‘n Mexican wave in die Staatsteater aan die gang kry.

 

Die stel is baie slim – verskillende blokke wat d.m.v. die draaiverhoog in slagveld, wegkruipgrot of paleis omgetower kan word. Die voorverhoog rys uit die dieptes op om ander plekke soos bv. Isai se huis of die Israeliete se gevegskamp voor te stel. Toneelwisseling is seepglad, die aksie sleur ons mee.

 

Die musiek is pragtig, met ‘n Oosterse geur. Die groot koor sing en beweeg goed, die meisies dra sagte, vloeiende rokke; die mans, kort tunieke en leersandale. Koning Saul se afguns en vervolgingswaan kry meesterlik deur Johan Scholtz gestalte; Goliat (Garth Collins) verskyn teen die hoogte: ‘n bulderende, skrikwekkende figuur. Manhaftig stap die jong Dawid (Dewald Louw) nader, swaai die slingervel – en dramaties tuimel Goliat na benede. Agter een van die blokke word sy kop afgekap (dit was net te vinnig vir so ‘n grusame aksie) en dan oorhandig Dawid triomfantelik die trofee aan Saul.

 

Retief Burger verskyn as die volwasse Dawid en sy deurleefde vertolking bring ‘n aangrypende spiritualiteit na die verhoog. ‘n Mens hoor bekende frases: “Met my God loop ek ‘n bende storm…” en veel later: “Skep vir my ‘n rein hart, o Heer.”

 

Die tweede bedryf begin met die Ark se koms na Jerusalem – vir my die hoogtepunt van die opvoering. Hoe sou mens Dawid se dans voor die Ark uit voorstel? Dit sou baie maklik in ‘n klugspel kon ontaard… Maar nee, die swiepende dansbewegings – swaai, draai, verstil vir ‘n oomblik, dan weer verder – word volmaak, met volkome oorgawe uitgevoer. Dawid se vervoering en vreugde word so mooi uitgebeeld dat sy vrou se betigting soos ‘n emmer koue water in die gesig voel.

 

Dan kom die hartseer verhaal van Batseba (Melissa Bam)… Die mooie meisiekind steel Dawid se hart – Dawid steel Uria se lewe. Dawid en Batseba se kindjie sterf en in ‘n roerende toneel huil die moeder hartverskeurend terwyl die koning haar probeer troos. Agter ons sit ‘n klein dogtertjie, wie se angstige vrae (“Hoekom huil die tannie? Hoor hoe huil sy… Hoekom huil sy, mamma?”) amper soos die kommentaar van ‘n Griekse koor ‘n kontrapunt met die tragedie op die verhoog vorm.

 

Gelukkig laat die skrywers ons nie daar nie. Die stuk eindig met ‘n vreugdevolle toneel: Batseba hou die klein Salomo vas, uit wie se bloedlyn die Messias sal kom.