Jy blaai in die argief vir 2012 Mei.

Bôbbie

Mei 25, 2012 in Sonder kategorie

Een van die baie voordele van vriendskap is dat dit jou soms dinge laat doen wat jy normaalweg nie eens sou oorweeg nie. So beland ek laas Vrydag by ‘n konsert van Bobby van Jaarsveld, omdat my vriend, chanteur par excellence, die voorprogram doen.

 

So mooi soos die luisterliedjies van die sewentiger-/tagtigerjare vir my was, so onmooi vind ek die huidige Afrikaanse popmusiek: die sentimentaliteit, die enkelvoudigheid, daardie ellendige tromspelers wat net een eentonige ritme hou dwarsdeur die hele “song”. Tog, nadat ons ons pêl na behore toegejuig het, bly ons sit om Bôbbie te beleef.

 

Watter aangename verrassing! Die jongman is werklik musikaal en daar is harmonie tussen hom en sy vier begaafde orkeslede, tussen hom en die gehoor. Iewers in die middel van die stewige program sit hy sagte akkoorde en speel op sy kitaar terwyl hy as wedergebore Christen onbeskaamd “vir almal in hierdie saal” bid, sommer so sonder ophef, onopgesmuk en opreg.

 

Soos hy sy treffers sing, stroom kinders vorentoe om in die spasie tussen die verhoog en die eerste ry sitplekke aan sy voete te gaan sit. Die kolligte laat hulle hare blink, party staan met hulle voorarmpies op die verhoog en trommel die ritmes op die planke uit. Dis vir my wonderlik om te besef dat hier ‘n uitstekende rolmodel is – gesond, opbouend, heilsaam.

 

Bobby, jy mag maar liedjies skryf en sing – en ek sal jou nie weer Bôbbie noem nie.

Toneel by die Atterbury

Mei 13, 2012 in Sonder kategorie

 

“The glory of life is to live in graceful celebration…”, sê Lou Tice wat die program Investment in Excellence ontwikkel het. Hoe grasieus dit was – veral toe ek oor die veld gestrompel het of teen pawiljoene op en af gesukkel het – weet ek nie, maar ek vier nou al ‘n hele paar Saterdagaande die Afrikaanse toneel – en vriendskap.

 

Gisteraand was dit in die pragtige Atterburyteater, waar ek en ‘n vriendin na Voor ek vergeet gaan kyk het, ‘n kragtoer deur Amanda Strydom en Hannes van Wyk. Die stuk is einde Januarie in ‘n Litnet-artikel bespreek; dit het by die Stellenbosse Woordfees gedebuteer, by die KKNK gespeel en is nou op pad na Innibos toe.

 

Hendrien Botha is ‘n gewone ma, iemand wat self drome gehad het en ook drome vir haar seun gedroom het. Na haar man se dood, toe sy haar huis – haar veilige hawe – ook nog moes prysgee, was haar hart so seer “dit het gevoel of dit gaan bars”. Mens kry haar so lief en so jammer en jy weet: die afdraand van die ouderdom wat haar nou in die gesig staar, wag vir ons almal. Die skrywer, Karen Marx, beeld die ou vrou meesterlik uit: haar diep liefde vir haar seun, die flitsies vroulike ydelheid, die droomverlore hunkering na romantiek, die onophoudelike verlange na haar man en die nugtere terugdink aan elkedag se klein irritasies. Amanda Strydom verwys self na die teks as “pragtig en deernisvol”, woorde wat mens ook kan gebruik om haar vertolking mee te beskryf.

 

Enigiemand wat al as volwassene na ‘n bejaarde ouer moes omsien, sal besef dat Hannes van Wyk daardie liefderike ongeduld en glimlaggende frustrasie perfek vasvang. Sy energieke beweging en lewenslus vorm net die regte teenstelling met sy ma se mank stappie en die huiwerigheid waarmee sy haar “goedjies” vir die trek na ‘n klein kamertjie toe sorteer, wegmaak en inpak.

 

Saam sorg hierdie twee akteurs en hulle regisseur, Gert van Niekerk, vir ‘n hartverskeurende ervaring: ons lag, ons snak na ons asem en ons huil. Na die welverdiende staande ovasie, is die geselskap gedemp – hier en daar pink iemand nog skelmpies ‘n traan weg.

 

Op pad huis toe lyk die donkies surrealisties in blou lig, glad nie dieselfde vriendelike standbeelde van ‘n sonnige middag as die kleuters in die watertjies kom plas nie.

Tshwane het ‘n streep weg

Mei 11, 2012 in Sonder kategorie

Is dit net ek, of beleef ander Pretorianers ook die rooi strepe deur die ou vertroude straatname as ietwat leedvermakerig?

Toneel in die veld

Mei 7, 2012 in Sonder kategorie

Op die laaste aand van die speelvak van die derde stuk, “Babbel”, in Nicola Hanekom se triptiek, pak ek die uittog na ‘n Lugmagsportveld in Lyttelton aan, waar die teatergangers ‘n pawiljoentjie langs ‘n radiomas volpak. Wanneer ons daar aankom, is twee van die karakters reeds op die verlaag, waar die rooi grond snuifgetrap is van die week se energieke spel. Tinarie van Wyk Loots se starende oë en bewende hande waar sy aanvanklik op haar kampbedjie lê terwyl die gehoor langsamerhand oor die veld aangestryk kom, die pawiljoen klim en regskik, is meesterlike toneelspel! En sy hou dit enduit vol, selfs toe die ligte net so ‘n aks te lank vat om afgeskakel te word heel aan die einde van die stuk.

 

Van meet af is die atmosfeer somber en onheilspellend. Dis die nadraai van ‘n rewolusie, ses jaar van nou af, waartydens daar onder andere “bomme op Benoni” geval het. Onverstaanbare seine stroom onophoudelik deur die toring; in die veld hardloop skimfigure rond. Die mense is verward en getraumatiseer, die aakligheid van oorlog word grafies by die gehoor tuisgebring.

 

Soos wat ek nou al te wagte is, word ons ook met simboliek gebombardeer, maar ek hou (redelik) goed by. Ek verstaan bv. die verlepte roos in die blombeddinkie en die elektroniese toerusting in die prêmpie. Vanaand se stuk is egter te ernstig vir die skrywer om weer ‘n sydelingse klap in die rigting van populêre Afrikaanse musiek te mik, soos wat sy tot my groot vermaak in die ander twee stukke gedoen het.

 

Die gehoor gryp dankbaar die effense comic relief van die voormalige leier se pratende kop aan. Eintlik is ons heel verdwaas, die applous is nie naastenby erkentlik genoeg vir hierdie dapper toneelbende nie! Soos Brendon Daniels, die pratende kop, later opmerk: “Nicola hou daarvan om haar spelers uit te daag.” Een en almal van hulle het die uitdagings aanvaar en kom met vlieënde vaandels anderkant uit.

 

Pronk het gepraat van die prentjies wat sy na “Betesda” met haar saamgeneem het. Dis ‘n baie goeie manier om die na-effekte van hierdie stukke te beskryf. Daar is ‘n Babel se prentjies in my kop en ek voel waarlik bevoorreg om sulke Afrikaanse toneel te kon beleef het.