Jy blaai in die argief vir 2012 Februarie.

Vakansie(s) – vir Rissiepit Ru

Februarie 12, 2012 in Sonder kategorie

 

Rissiepit het mens se gedagtes aan die gang gesit met haar interessante uitdaging…

 

In my lang liefdesverhouding met die lewe was daar vele vakansies en dis te moeilik om een uit te kies. Maar bepaalde vakansies het lewensveranderende oomblikke bevat:

 

Op agtjarige ouderdom, by Ifafa aan die Natalse Suidkus, het ek my hart aan die Here gegee. My kleinboet was toe ‘n baba en ek het min of meer op my eie rondgedwaal. Langs die strand het ek na die pragtige rotspoeletjies gekyk, met die anemones, seewier en klein vissies, en in spontane aanbidding Psalm 23 gesing – oor en oor, met die see as my begeleiding. Een warm oggend, die golwe se geruis gedemp deur die soetgeurende duineplante, het ek in die paadjie op my knieë neergeval en vir die Here gesê dat ek sy kind is en dit graag wil bly, my lewe lank.

 

Destyds het ek nie besef hoe idillies dit eintlik was nie, die vakansies by Scottburgh, in ‘n baie basiese rondawelkampie, waar die jongmense saans saamgekuier het en bedags strandrugby gespeel het. Ek onthou die growwe geel sandduin waar ek skemertyd “Sy kom met die sekelmaan” gesit en lees het, met die seegeruis in my kop en die pienk aandgloorgolwe voor my uitgestrek. In my hart was die opwinding van my eerste liefde, daardie kortasem kol op die maag, die afwagting – want vanaand gaan ons weer almal saam “Name, diere, dorpe…” speel en dan raak ons hande dalk “per ongeluk” aan mekaar.

 

Die eerste keer toe ek Stormsriviermond in die Tsitsikamma-Seekuspark beleef het, het ek geweet: hier is my hartsplek op die hele aarde. Terwyl ek ‘n baie hartseer episode in my lewe moes verwerk, het ek en my broer een aand bo-op die heel hoogste rots gesit – daar is ‘n rotsstoel daar, wat lyk asof dit spesiaal uit die rots gebeitel is, net-net breed genoeg vir twee mense. In die weste het ons die son sien sak en vir een betowerende oomblik ‘n groen flits gesien, iets wat nie vir almal beskore is nie. Ons het bly sit en in die ooste het ‘n yslike ronde kopermaan opgekom. Teen die ontroerende grootsheid van die natuur het my hartseer vervaag.

 

In Tsitsikamma se see het ek geswem toe ek ons middelkind verwag het, met my dierbare skoonma op die strand, ons eersteling in haar arms, skoon benoud oor die geswemmery so ver om die rotspunt na die volgende baaitjie toe!

 

Ek wil nog eenmaal die rooi flits van ‘n Knysnaloerie se vlerke sien as hy tussen die hoë bome sweef; die bospaadjies stap en die see ver en naby hoor klink; die ronde klippers hoor kletter as die golwe hulle heen en weer spoel; die pluime van die branders sien soos hulle teen die rotsriwwe opslaan.

 

My middelkind – die een wat “saam” met my daar geswem het, het onderneem om sy ma se as daar te gaan strooi.

Hooglied

Februarie 5, 2012 in Sonder kategorie

 

Mense wat verlief is, is darem maar mooi!

 

Hier by ons straal dit vandag: Laatlam en sy meisie het gisteraand verloof geraak.

 

In ‘n popmooi swart rokkie, met hoë, hóë, hoëhakskoene (beige lakleer met skelpienk sole), hare alles na die een kant toe gekam, het my amper-skoondogter soos ‘n prinsessie gelyk.

 

In die restaurant het Laatlam op die een knie die ja-woord gevra, nadat hy gistermiddag ook ouers gevra het.

 

Mag iets van hierdie intense vreugde hulle bybly, hul hele lewe lank.

 

 

 

 

Ouer word (‘skies vir die vloekwoord)

Februarie 1, 2012 in Sonder kategorie

Bileamsdonkie vra gister: Word ‘n mens vanself beter soos jy ouer word?

 

Uit ondervinding dink ek mens balanseer op ‘n mespunt. Ek weet nie aldag of ek ‘n liewe tannietjie of ‘n befoeterde ou antie gaan wees nie. Mens sleep maar jou essensiële karakter en al jou buie met jou saam, newwermaaind hoe oud jy is.

 

In ‘n tyd van groot ontreddering het ek wel met verbasing agtergekom dat ek so deur die jare ‘n paar dinge “reg” gedoen het. Dit was ‘n pynlike tyd van rekenskap, met hier en daar ‘n genadetjie.

 

In ‘n louteringsproses, soos wat oud word verseker is, kies mens elke dag of jy “beter of bitter” gaan word. Dankbaarheid is ‘n werktuig wat hier kan help.

 

Maar ek het ‘n beter strategie: ontkenning! Oudword? Wat vir ‘n ding is dit??