Jy blaai in die argief vir 2011 November.

My boetie

November 23, 2011 in Sonder kategorie

My deurmekaar garage lewer nog ‘n vonds: ‘n wit-en-swart kiekie, geneem in die voortuin van my ouerhuis. Plat op ‘n kombers in ‘n speelhok sit my mammie, so jonk! Ek kan nie onthou dat sy sulke lang hare gehad het nie – kyk hoe mooi modieus is haar rok en die ooptoonskoene. Haar lyftaal is volkome toegespits op die mollige babaseuntjie in haar arms. Agter die speelhok staan twee mandjiestoele (dis hoe ons hulle genoem het, ‘rottang’ is ‘n nuwer woord) met ‘n tafeltjie. Daar sit ek, ‘n langbeen-willewragtig, met my wollerige kat Toeksie langs my op die stoel.

 

Ek was sewe en ‘n half toe my boetie gebore is, ‘n bedorwe enigste kind, die appel van my pa se oog. G’n wonder dat ek so jaloers op die nuwe aankomeling was nie. Hy was nog net ‘n kleutertjie toe hy al die integriteit gewys het wat so deel van sy samestelling is: ek skud hom dat sy tande klap, hy val agteroor en sy koppie stamp teen die grond. Huilend vat hy die pad huis toe en laat my angsbevange agter, oortuig dat die geregverdigde woede en teleurstelling van my ouers binnekort oor my gaan spoel. Ek wag…niks gebeur nie. Hy het hulle nie vertel hoe ek hom geboelie het nie!

 

Op drie ry hy op sy driewiel en ek maan hom om nie oor die miere te ry nie. ‘Ag man, los my! Dêmmit, dêmmit, dêmmit…’ trap hy ritmies verder op maat van die kragwoordjie, een van die twee geleenthede wat ek hom ooit hoor swets het. Die ander keer was toe hy en ek die Karoo deur is in my rooi Volkswagenkewer in die dae van petrol- en spoedbeperkings. Ons land by ‘n garage en moet hoor dat hulle tenks leeg is. My broer trek los met ‘n rits vloekwoorde wat my ore laat tuit, ‘n oorblyfsel van sy dienspligdae.

 

Watter lekker vakansie was dit daardie. Ons is Mosselbaai toe, waar ons by pêlle aangesluit het. Oujaarsaand het ons die nuwejaar ingedans en daarna is ons Stormsriviermond toe, waar ons lawwe persona aangeneem en lam van die lag met die bospaadjies langs gestrompel het.

 

Deur die jare het ons albei in een stad gewoon en ek was deeglik bewus daarvan dat dit ‘n voorreg was. Hy het my kinders bederf met besoeke aan die vermaaklikheidsarkade, heerlike kersbome en elaborate kuiers; het tot ingewllig om hanswors te speel by een van sy peetdogter se verjaarsdagpartytjies. Sy twee kinders is amper soos kleinkinders vir my en hulle het dikwels kom kuier. My peetseun het vir my ‘n kaartjie geskryf: ‘Jy maak baie leker pasta en jy is gaaf’.

 

In September bak ek vir oulaas ‘n piesangbrood vir my broerskinders. Vroegoggend lewer ek dit af. Die tweetjies staan daar in die Afrika-son, die boetie helder wakker – hy’s ‘n oggendmens – die jonger sussie nog deur die slaap. Ek het hulle ‘n hele rukkie nie gesien nie, was besig en het ook doelbewus weggebly, sodat dit nie so swaar sal wees sonder hulle nie. Hulle gee my elkeen die gebruiklike drukkie en sê omtrent drie keer dankie vir die ‘good-bye banana bread’. Op kantoor moet ek so elke nou en dan trane afvee…

 

Die volgende dag vertrek die gesin na Nieu-Seeland. Gaan ek ooit weer my peetseun sien? My broer kom terug om sake hier af te handel, maar die kinders en my skoonsus is weg.

 

Ek wou nog gaan koffie drink het saam met my uitlandse skoonsus wat so diep in my hart ingekruip het.  

 

Ek wou nog saam met die gesinnetjie gaan stap het as hulle die hond teen die koppie op laat hardloop.

 

Ek wou nog die kinders saamgeneem het Kinderkerk toe en dan Sondagmiddagete-boerekos vir hulle kook.

 

Ek wou nog langs die swembad sit en kyk hoe lekker hulle swem.

 

 Ek wou nog baie drukkies uitgedeel en gekry het.

 

Ek wou nog…Drie baie droewige woordjies.

 

En nou is daar nog net ‘n week oor voordat ek my boet lughawe toe vat en hy ook die Afrika-stof van sy voete afskud…