Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

Diva Amanda

Augustus 27, 2011 in Sonder kategorie

Gisteraand, toe die son yslik groot skouspelagtig rooi sak, het ek besef: hierdie aand is toweragtig en betowerend.

Dankie, Amanda Strydom, vir jou wonderlike program in die Atterbury-teater. Ons het gelag en gehuil en gewonder en ver en diep gedink. Ek haal my hoed vir jou af!

Bileamsdonkie – het jy geweet dat ‘n stedelike nefie van jou in ‘n fontein voor die teater in die vlakwatertjies lê?

My familiar

Augustus 26, 2011 in Sonder kategorie

Volgens my (ou) woordeboek is die Afrikaans “boesemvriend” – nie heeltemal dieselfde konnotasie nie… My familiar is my kat, Skoonlief. Sy het by my aangekom toe my dogter ‘n koerantadvertensie opgevolg het, want sy wou nog ‘n kat hê. Toe kry sy sommer twee: Gabriël, so genoem omdat hy ‘n ou engel was, en Skoonlief, wat sy amptelik aan my oorhandig het as my eie kat.

 

Ek wens dikwels ek kon die vorige eienares van die twee katte vertel dat hulle ‘n baie goeie huis gekry het en hoeveel vreugde hulle ons al gegee het. Haar broer het die advertensie geplaas en die twee opgeskote katte weggegee terwyl sy weg van die huis af was. Hoe hartseer moes sy nie gewees het toe sy terugkom nie!

  

Toe ek die katjie sien, het die woord “beauty” by my opgekom – vandaar haar naam. Sy is ‘n pragtige dier, ‘n strepieskat met lang wolletjies wat in swierige krulletjies by haar ore uitsteek en soos ‘n stukkie Franse onderklere haar agterpote versier. Haar stert is ‘n sierlike pluim, haar oë groot en glansend, groen rondom die pupille en verder amper goud. Sy het ‘n somers- en ‘n wintersuitrusting: in die winter word haar pels langer en kry sy ‘n dik kraag. 

 

Skoonlief is ‘n flerrie. Nou nog, verby haar middeljare en lankal “reggemaak”, kom die buurt se katte in die lente kuier. Dan is sy kammakastig hoogs ontsteld, maar sy flous my nie – ek sien haar gevleide tevredenheid raak. 

 

Sy was ‘n wonderlike mamma. Toe ons derde kat, skoon verbouereerd oor wat met haar gebeur het, deur die venster koersvat en haar vier pasgebore babatjies net daar agterlaat, het Skoonlief oorgeneem. Sy het haar eie nuwe kroos vireers in hulle nessie gelos en die nuwe babas gaan skoonlek en deur die nag warm gehou, totdat hulle eie ma die volgende oggend skaam-skaam teruggesluip en self vir hulle begin sorg het. (Ja, ek weet dit was ‘n bevolkingsontploffing, maar ons kon op daardie stadium beswaarlik die katkos bekostig, laat staan nog ‘n veearts!) 

 

 Laterjare was Skoonlief my behoud. Klokslag drieuur elke nag, wanneer ek wakker word en huil, het sy my kom troos, eers stip en naby na my gekyk en dan teen my opgekrul en gespin. Sy is inderdaad my troetel-dier, wat my help om my velhonger te besweer.

Naomi Maartens skryf dat die Skepper vir ons ‘n stukkie van die Paradys behoue laat bly het in die gedaante van ons troeteldiere. Dis so waar.

My eerste blog

Augustus 22, 2011 in Sonder kategorie

By my werk is daar ‘n dierbare man wat altyd die ekstra myl vir ons almal loop wanner dit by rekenaarsteun kom. Ek en hy was al in stresvolle situasies, toe ek amper van my verstand af was, maar sy rustige beheersdheid my van totale wanhoop gered het.

Hy noem my “Tannie Frannie” (die frannie rym met tannie) en alhoewel ek die eerste keer skuins opgekyk het, het ek mettertyd gewoond geraak aan wat ek nou as ‘n spesiale naampie beskou, ten spyte van die ouderdomskonnotasie wat daar iewers op die loer lê.

Hierdie blog moet my terapie teen oudword wees en daarom kies ek dié skuilnaam, wat ‘n belangrike aanvaardingsoomblik in my reis na die ewigheid verteenwoordig.

Ja, die koerante sal my as “bejaarde” beskryf. My kollegas kyk met deernis na my en stuur vir my soetsappige e-posse oor die ouderdom; die petroljoggies noem my “magogo” en die karwag “maaa-mieeee”. Dis nie meer ooit vir my lekker om myself in die spieël te sien nie, om nie te praat van foto’s nie! Die afgelope weke is my nek snaaks stram, ek wonder hoe lyk dit as ek in die spitsverkeer moet rondskuif om te kan sien wat de heng van die kant af op pad is…

Tog krimp ek steeds innerlik ineen as ‘n volwassene vir my “tannie” se. Toe ons nuwe predikant van die platteland af my tydgenote se voorname met “tannie” inlui, suiwer uit liefdevolle respek, het ek my begin klaarmaak om hewig te protesteer. Groot was my verligting toe ek die afsnypunt ontglip en net op die naam genoem word! Nou, twee jaar later, sou ek seer sekerlik “tannie” wees. Sou ek nog beswaar aanteken? Iewers moet mens mos maar bes gee…

Nee – nooit nie! Liewe mede-bloggers, die mens binne daardie verouderende liggaam is nog steeds dieselfde karakter wat sy altyd was. Om Bart Nel vryelik aan te haal: “En ek is nog sy!”