Die Onweerstaanbaarheid van Afrikaans vir Nederlanders

February 1, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Suid-Afrika is vir Nederlanders ʼn eksotiese plek. En dis deels die rede waarom hulle in toenemende getalle Suid-Afrika besoek. Hulle is ook nuuskierig oor wat op die gebied van die kunste hier aangaan. Die Woordfees is vir hulle aantreklik want dit is ʼn omvattende kunstefees ver weg van die huis.

So sê Alfred Schaffer, die Nederlandse digter wat as dosent verbonde is aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Melt Myburgh, woordkuns-projekbestuuder van die Woordfees is daar jaarliks ʼn toename in die getal besoekers van Nederland en België.

“Mense stel belang in Afrikaans en die verbintenis met die tale van die lande,” sê hy.

Vanjaar is daar ook soos ander jare ʼn sterk Nederlandse komponent in die Woordfeesprogram. Arjen Duinker en Saskia de Coning is van die skrywers uit die Nederlande wat vanjaar by die fees te sien is.

“Nederlanders en Belge voel baie welkom in suid-Afrika. Die Kaap is ʼn plek waar jy voel dat jy op ʼn manier tuis is danksy die taalverwantskap en die geskiedenis,” verduidelik Schaffer.

“Die meeste skrywers wat by die Woordfees optree, kom ook na hul eerste besoek terug of hulle bly langer sodat hulle ʼn bietjie kan reis.”

Ingrid Glorie, pas-aangewese redakteur van die Maandblad Zuid-Afrika, tydskrif van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging ((NZAV) ʼn kultuurorganisasie wat bande tussen Nederland en Suid-Afrika wil bevorder) sal tydens die woordfees in gesprek wees met Saskia de Coning.

Dis Glorie se tweede besoek aan die Woordfees.

“Ek was in 2012 vir die eerste keer hier, want ek was goed bevriend met John Kannemeyer en ek het ʼn behoefte gehad om van hom afskeid te neem,” sê sy.

“Ek het ook self by die Departement Afrikaans en Nederlands gepraat. Ek hoop om vanjaar as redakteur van Maandblad Zuid-Afrika ʼn paar interessante onderhoude te kan voer. Dis ook fantasties om in ʼn kort tyd soveel lesings, debatte, konserte en toneelopvoerings te kan bywoon. ʼn Mens leer baie en dis vir my belangrik om op hoogte te bly met alles wat in Suid-Afrika aangaan. Die Woordfees gee ʼn omvattende oorsig van wat in Afrikaans (op die gebied van die letterkunde) aangaan.”

Glorie gee toe dat die natuurlike skoonheid van Suid-Afrika – die kuslyn, die wildtuine, die bergpasse en in die Kaap die wynplase – baie mense hierheen lok. Maar, sê sy vir baie Nederlanders en Vlaminge gee die taalverwantskap en die gedeelde verlede ʼn ekstra dimensie aan ʼn besoek na Suid-Afrika.

“Uiteindelik kan jy dit nie rasionaliseer nie. Daardie gevoel dat jy lief is vir Afrikaans. Ek het geen behoefte om ʼn politieke lading daaraan te gee nie – dit is nou maar net so. Skrywers soos Antjie Krog en Ronelda Kamfer en kunstenaars soos Amanda Strydom en Gert Vlok Nel is in die Lae Lande geweldige ambassadeurs vir die soort optredes wat jy by die Woordfees kan verwag.”

Gerda van Haaften, ʼn Nederlander wat al ses jaar in Antwerpen, België woon, het die Woordfees “ongeveer al ses keer” besoek.

“Die verskeidenheid wat die fees bied vind jy nêrens anders nie. Ek geniet dit baie.”

Sy dink die groot Nederlandse belangstelling kan in die verlede gevind word.

“Na al die negatiewe dinge van die vroeër is daar baie belangstelling in Suid-Afrika. Daar is ook ʼn groot verwantskap tussen Afrikaans en die tale van die Nederlande.”

Inga Verreet, ʼn Vlaming, sê sy stel baie belang in Afrikaans “die taal wat soveel gemeenskaplik het met Nederlands, en na my mening nog meer met Vlaams, die Nederlandse variant wat in Vlaandere gebruik word”.

Sy het Suid-Afrika agttien jaar gelede vir die eerste keer besoek en deur vriende is sy aan die kunstefeeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop en uiteindelik die Woordfees bekendgestel.

“Die Woordfees het in my beskeie mening ‘n

meer akademiese aanbod met boekvoorstellings, geselsies met outeurs, klassieke

musiek en kunsuitstallings van hoë gehalte. Daarbenewens is daar tog ook tyd vir

ontspanning met ligtere genres. Daar word ook met wynproeë en lekker etes voorsien in die fisieke behoeftes.”

Sy was al vier keer by die Woordfees, maar sê die koste van reis en die prys van woordfeeskaartjies het vir haar nou te duur geword om die fees vanjaar by te woon.

Alfred Schaffer glo ook die Nederlandse komponent van die Woordfees stimuleer ʼn belangstelling in die Lae Lande.

“Dit maak studente lus om oorsee te gaan – om die Nederlandse, Vlaamse en Europese kultuur in die algemeen te gaan verken en so hul blik te verruim. Om oorsee te reis, laat jou jou eie mense in perspektief sien en hulle beter verstaan.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

4 responses to Die Onweerstaanbaarheid van Afrikaans vir Nederlanders

  1. Baie lekker artikel, Stephanie!

  2. @stephanie
    Lekker blog, dankie.
    Gedurende my loopbaan het ek met tientalle Hollanders te doene gehad – in my wêreld, almal ingenieurs en Professionele Bestuurders. Ek glo nie hulle was baie kultuuragtig nie. Hulle het altyd begin lag as ek met hulle Afrikaans begin praat.
    As ek vra wat is snaakes, dan sê hulle Afrikaans klink vermaaklik. Volgens hulle klink dit soos “kindere Hollands”.
    Die gevolg was dat alle gesprekke met Hollandse eksperts in Engels gevoer was – gelukkig kon almal net so vrot soos ek Engels praat – – – .

  3. Ek voel nou weer anders want hier in Switserland, as deel van die internationale gemeenskap, miskien juis omdat ons almal hier uitlanders is, is daar ‘n bekooring met Afrikaans. Die Nederlanders wat ek hier ontmoet, alhoewel Engels gemeenskaplik is, probeer kommunikeer – ons onderskeie moedertale (ek in Afrikaans en hulle in Nederlands) en daar is ‘n trots, konneksie en belangstelling in hulle oorspronklike koloniale besitting. Ek het ook al vele jong Nederlanders kon aanspreek oor kommentaar, geprekke en opmerkings, wat hulle nie besef ek kon verstaan nie (ek hou skool hier)- en dan is daar ‘n onmiddelike verandering en verhouding wat onstaan as gevolg van die interaksie. Ons taal, in die ent, alhoewel uniek, geisoleerd en spesiaal – is ‘n brug tussen ons en Europa en as gevolg van ons mengelmoes van ‘n Europese erfenis, is daar ‘n verband tussen ons en soveel van die Europese burgers .
    Dis amusant om te sien hoe die Duitsers reageer en snaaks hoe ons ou taaltjie ook tog help met Switserse Duits – drie, vyf, brille, almal woorde wat in hoog Duits as ‘n gruwelike verwringing van die Duitse taal gesien word, maar in die dialek, maklik op die Afrikaanse oor val.

  4. Dankie vir die lees van die blog Frik en Helen.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *