by ezile

Twee jaar later

Oktober 19, 2012 in Sonder kategorie

Twee jaar gelede was ek op pad Kameroen toe vir ‘n sakebesoek.  Ek het nog in Northcliff gebly en my Graad 9-dogter was doodongelukkig in ‘n skool wat dinge effens oordoen het in hul poging om oulik en eksklusief te wees. 

Sedertdien het tonne water in die see geloop.

Ons is tans besig om die huis in Northcliff te verkoop (soek enigeiemand dalk ‘n groot huis – skree tog asb.) en ons ruik nou die rose in ons nuwe tuin kort duskant die lughawe.  Liefkind is amper klaar met Graad 11 in ‘n ander skool en haar gemoedstoestand en punte lyk strate beter.

As ek so terugkyk is daar net een gedagte wat deur my kop bly flits:  ‘n Jaar of twee van nou af, gaan dit wat jou nou so bekommer, uitfreak of ongelukkig maak enigsins saakmaak?  Gaan dit nog iets beteken of tel?

So geniet vandag, gaan soek ‘n roos om te ruik en lag uit jou maag.  Wat regtig oor ‘n jaar gaan saakmaak, is wat jy met hierdie dag gemaak het.  Dis die mooi dinge wat oor ‘n jaar of wat van nou af nog gaan tel.

Nie dit wat jou nou opvreet nie.

by ezile

Kameroen

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek is nie weg nie. 

Baie dankie aan almal wat kom inloer en kom vra het.  My blog is deesdae soos ‘n strandhuis – ek droom daarvan maar sien dit net so dan en wan – ‘n totale luukse.  Altydmaar te veel werk, te min speel.  Maar watch my eendag!

Vanaand slaap ek in Kameroen…

by ezile

Plastic cat being chased through hell…

Julie 30, 2010 in Sonder kategorie

gidivet van vetweet http://blogs.litnet.co.za/vetweet skryf oor sy professore se pittige uitsprake tydens die poging-tot-iets-leer proses.

Ek kan nie veel onthou nie, behalwe dat ons in ons eerste jaar in die Engelse klas op die PUK die volgende moes hoor:

“You’ve got as much chance as a plastic cat being chased through hell by an asbestos dog to pass this course…”

Ek het Engels III as ‘n derde hoofvak gedoen, met Toneelwetenskap (Dramakunde) en Toneelpraktyk (Toneelspel, ens.) as my eintlike hoofvakke.  Dit het my toe nogal groot plesier verskaf om die Engelse Departement in te lig dat Engels eintlik my stopvak is…

Vandag onthou ek veral vir Prof. Annette Combrinck, Miss Bronn en wyle Prof. Van Rensenburg.  Karakters, die klomp.  Almal van hulle.

En ek voel nog steeds soos ‘n “plastic cat being chased through hell by an asbestos dog”. 

Amper elke dag.

by ezile

Carpe diem!

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

My haartjies blink, my stertjie waai en ek galop soos ‘n renperd in die werk se gange af.

Wat is die geheim vir my eensklapse wip-in-die-stap?

Oefening!

Sedert ek in 2000 met ‘n paar onskuldige selfverdedings-klasse begin het, het my entoesiasme wild geëskaleer na formele karate en klasse vier keer ‘n week.

So drie jaar gelede het dit een klas per week minder geword en ‘n jaar later het ek met moeite dit reggekry om net een klas per week by te bring. Sewe-uur op ‘n Saterdagoggend…

Net gister het ek besluit dis tyd om my karate weer ‘n bietjie rigting te gee. Noudat die padwerke in Johannesburg amper iets van die verlede is en ek ‘n knap assistent bygekry het, is dit sowaar moontlik om vyf-uur by die werk weg te trek om net mooi die ses-uur klas te kan maak. En so is ek toe met ‘n lied in my hart terug na die wêreld van formele karate. (Saterdag-oggend se klasse is meer informeel en behels hoofsaaklik Judo en selfverdediging, asook my gunsteling – “ground work” of te wel, “grappling”. Dis meer soos stoei en dit vra vreeslik baie stamina en die bemeestering van ‘n hele klomp grepe. Hierdie een-keer-‘n-week se oefening het my darem so ‘n bietjie aan die gang gehou.)

Nouja, so stap ek toe na twee jaar se afwesigheid by die karateklas in. My sensei val amper flou van skok – het my gladnie verwag nie. Almal se breë glimlagte was egter ‘n goeie teken en ek is met ope arms terugverwelkom.

Man was dit nou lekker. Ek het geskop, geslaan, geblok en ge-kata en met ‘n lied in my hart huistoe gery. Het toe nooit eens besef hoe baie ek dit gemis het nie.

Vandag is ek reg om ‘n beer te baklei en ‘n oorlog te wen.

Wys jou net – bogger die tonics, oefening is koning!

by ezile

Vandag is toe eintlik eendag

Julie 1, 2010 in Sonder kategorie

Vandag is amptelik die begin van die tweede helfte van 2010.

Vir my voel dit natuurlik asof ek nou eers reg is om met die eerste helfte te begin!

Daar het soveel dinge gebeur in in die eerste 6 maande.   Ek is deur al hierdie gebeure direk, of indirek, geraak. Dit het beslis ‘n groot impak op my psige en denke gehad.

Daar was ‘n baba vir ‘n vriend wat amper moed opgegee het.

Twee susters wat verskriklik baklei.

‘n Ma wat al meer fragiel word met ‘n tweede knievervanging wat wink.

‘n Hond is dood. Van oudgeit.

‘n Paar Koi’s het op droë grond gesterf toe hul dam weens swaar reën oorgeloop het.

‘n Familielid is geskei.

‘n Swangerskap wat liewer nie moes wees nie is in wording vir ‘n amper-nog-tiener.

‘n Liewe vriendin se broer is op slag dood in ‘n motorongeluk.

En ‘n goeie vriend se suster en haar man is wreed vermoor op ‘n idilliese eiland in Madagaskar.

Tussendeur was daar hope vreugdes en verskriklik baie seën.  En baie sokker.

En ek het so half en half iemand se lewe gered.

As ek een ding geleer het uit hierdie wipplank-jaar se eerste ses maande is dit beslis:

DO NOT LIVE FOR THE MOMENT. LIVE IN THE MOMENT.

Ek gaan probeer.  Regtig hard probeer.

Moenie wag vir eendag nie, maak vandag jou enigste dag.

En mag 2010 Hoofstuk 2 vir ons almal verskriklik mooi wees.

by ezile

Twee mooi dae

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Maankind wil troufoto’s sien en Ghaap praat van weer ‘n keer probeer.  Nou ja…

1990 – 2000

2003 en dis goed en reg.

by ezile

Eendag ver ver gelede

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

Ek het maande laas geskryf en feitlik ‘n jaar laas met vriende buiten my heel naaste vriendekring gekuier. Om my is stapels onbeantwoorde briewe, ongepakte boeke en ‘n magdom take wat snags verwoed vermeerder.

My blogmaters soek my, my gesin wens vir meer kwaliteit-tyd en my familie sukkel om my in die hande te kry.  Van my vriende wil nie eens meer met my praat nie.

Hoe dan so, wonder ek self. Wat het tog gebeur dat ek so weggeraak het tussen elke dag se aanhou-beweeg-en-geraas-maak?

Ek werk maar net, is die antwoord. Verlede jaar het ek vir ‘n hele paar maande van die huis af gewerk. Tussendeur was ons huis konstant op skou want my man se plan was dat ons Kaap toe sou trek. Op nommer 99, met ‘n vasberade koper wat ongeduldig voete stamp om ons huis te kry, het helderheid gekom en het hy besef dat ons hoegenaamd nog nie ons rolle in Gauteng uitgespeel het nie.

Toe bly ons maar.

In November het ek en my tuiskantoor sak en pak middestad toe getrek. Die besigheid het verwoed gegroei en die berge werk het net meer geword. In Desember was daar ‘n woerts-warts vakansie wat heerlik was. So ‘n vakansie eis egter altyd sy tol. As mens terugkom het die berge werk (en al hulle boeties en sussies) verwoed verder geteel en so baie geword dat daar geen einde(r) in sig is nie.

Sedertdien werk ek maar weer non-stop en skryf is so ‘n vae droompie wat halstarrig bly vlerkies klap iewers diep in my agterkop.

Groot jammer aan almal wat kom klop het en onbeantwoord weg moes gaan. Ek het ‘n sluipleser geword wat so dan en wan net gou deur Blogland flits om darem by ‘n paar van die geliefde bekendes in te loer.

Sonder kommentaar.

Vir nou is my woorde min en my tyd nog minder. Ek mis die skryf en wil so graag weer met my vele blogvriende kuier. Ek sal probeer om minder te sluip en darem so hier en daar spore te los. Dalk steel ek nog iewers ‘n tydjie om gou ‘n skrywetjie uit te glip.

Ondertussen skryf ek solank maar in my kop. Wie weet, drome word waar en net eendag land daar dalk wel ‘n boek in jou skoot.

Maar nie nou al nie.

Dis vir eendag ver ver gelede…

by ezile

Ek’s ‘n dapper muis…

November 4, 2009 in Sonder kategorie

Spesiaal vir Lo-Ammi met die Krokodil-vel en die klein hartjie

 

Jy vra hoe kry mens dit reg om op te hou toelaat dat ander mense jou goedheid misbruik (n.a.v. van my vorige skrywe oor die buurman met sy gulsige gras).   Nouja, sedert ek dit geskryf het, het ek probeer raadvra, baie gedink en so ‘n bietjie met myself baklei.

 

Nou reken ek so:

  1. Buurman word kwaad as jy begin aandring dat hy sy eie gras self moet natkry.  Vra jouself af wie nou eintlik sy woede verdien – jy wat uit jou pad gegaan het om hom te help, of hyself, wat eintlik vir homself kwaad moet wees oor sy eie slapgatgeit.
  2. Jy voel soos ‘n hond omdat jy sy water afgesny het.  Die vraag is:  Verdien hy jou simpatie?  Is hy die tipe mens wat jy gaan toelaat om jou eie ek so tot hond-status te verlaag?  Is jy laer as hy?  Nee-a! 
  3. As hy jou die dag van harteloosheid beskuldig, vat hom summier aan oor sy eie harteloosheid.  Iemand wat self agter die deur staan soek alte maklik iemand anders om daar vas te ketting.
  4. Laastens moet jy werkmaak daarvan om jou sagte hart met vakansie te stuur.  Omgord jou lendene met ‘n leeuvel en borsel jou tande met ‘n mamba, jou hare met ‘n tarantula en jou naels met ‘n ystervark.  Eet klippe vir brekfis en ystervylsels vir poeding.  Drink terpentyn as jou skemerkelkie en vreet 8 duim spykers as “after dinner mints”.   Jy móét jouself net eenvoudig begin staal teen almal wat so dodelik kan inzoom op ‘n weerlose Achilles-hakskeen.

 (Preek ek natuurlik net so hard vir myself!)

 

Om af te sluit, net gou ‘n staaltjie:  Op universiteit was daar ‘n klasmaat wat links en regs van gunste en gawes gebruik gemaak het.  Hier was dit gou ‘n paar rand leen en daar was dit ‘n “Gaan laai my gou by die Bult af, jy het mos ‘n kar.” 

Toe ek ten einde raad begin mor het, was dit sy woorde:

“Ek gebruik mense.  Dis hoe ek deur die lewe gaan.  As jy dit toelaat is dit jou probleem.  Dis jy wat ‘n sucker wil wees, nie ek nie.  Dis jou eie skuld as jy dit toelaat.”

 

Ag ja, had ek maar net beter na sy woorde geluister en my oë wyer oopgesper, was my lewe seker makliker en my eie gras veel natter.

 

Maar nouja, ek dink mens moet heel eerste jou rooskleurige bril afhaal en ‘n slaggie goed na die mense om jou kyk.  Wie is “opsponsers” (kammakazi se mooie woord) en wie verdien regtig ‘n helpende hand.  Die mense wat ‘n helpende hand verdien is gewoonlik dié wat nie daarvoor vra nie en wat beslis nie ‘n gewoonte daarvan maak nie.

Seg ek met ‘n verbete uitdrukking op my gesig terwyl ek verwoed ‘n tarantula soek om my haarborsel mee te vervang…

 

Aha!!!!  

 

Het hom.

by ezile

Hoekom die gras aan die anderkant van die draad so groen is

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

Iemand het eenkeer gesê mens moenie jou buurman se gras natmaak nie.  

 

Dit werk blykbaar so: 

 

As jy jou sproeiers aansit in jou eie tuin en dit spuit bo-oor die heining ook jou buurman se gras nat, gaan hy eers verras en tog te bly wees.  As dit egter op ‘n gereelde basis gebeur gaan hy later sy tuinslang verkoop en die sakie as vanselfsprekend begin aanvaar.  En dan… as jy eendag besef hoeveel jou waterrekening is en jou sproeiers anderkant toe stel – om net jou eie gras nat  te maak – gaan hy sowaar boosaardig kwaad wees vir jou.  Hoe durf jy ophou om sy gras nat te maak!?!  Hy verwág dat jy sy gras moet natmaak – dis immers jou plig.  Of is dit?

 

En dan, as jy nog ‘n slim buurman ook het, gaan hierdie ou jou onder vier oë kom spreek.  Voor jy weet wat, oortuig hy jou jy is die vark in die verhaal en dis mos absoluut jou probleem as sy gras begin vrek.  Dis immers jou skuld dat hy nie meer ‘n tuinslang het nie en dat sy gras nou so swaar moet ly.  En voor jy verder weet wat, doen jy ekstra moeite om vir hom en sy arme gras te sorg.  Soveel so, dat jou eie gras daaronder ly.

 

Party mense gaan as “buurmanne” deur die lewe.  Hulle verwag van almal om hulle om hul verantwoordelikhede oor te vat, hul laste te dra en hul kinders groot te kry.  En party mense gaan as totale suckers deur die lewe.  Hulle help maar te graag en kry tog so jammer en op die ou end is dit hulle wat met dor-droë gras en ‘n diepe woede en teleurstelling in hul binneste sit.

 

(As iemand dalk ‘n beter woord vir “sucker” in Afrikaans het, sê tog asb.  Ek kan net nie die ekwivalent kry wat presies so lekker sê en dit presies so goed uitdruk nie.)

 

En nou is my vraag:  Hoe dóén ‘n mens dit.  Hoe gaan jy deur die lewe met die houding dat almal jou iets skuld, dat almal jou probeer indoen en dat die wêreld jou konstant van jou regte bly beroof?  Hoe leef jy met jouself saam as jy almal om jou voortdurend laat glo dis hul lewenstaak om jóú gras groen te hou.

 

En hoe op aarde hou mens op om ‘n sucker te wees.

 

Die Vader weet, ek weet nie.

by ezile

Life is what happens…

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek het verlede jaar al gebieg oor my geheime liefde vir ‘n baie komplekse persoonlikheid.

Dit was in Junie 2008.  Hier is die skakel:

http://blogs.litnet.co.za/ezile/my-geheime-liefde

Na verloop van vele dae, lyk dit asof ek en my geliefde wel bymekaar kan bly.

Want sien, die trek na die Suide is heel moontlik van die baan af. 

Lang storie.

My hart juig!

(En ek sê soos my dogter:  “Bogger die Kaap, hierdie is ons huis.”)