Jy blaai in die argief vir studenete.

by elizac

SOFISTIKASIE

Junie 7, 2013 in Uncategorized

‘n Klompie jare gelede – nou ja, kom ons wees eerlik: ‘n hele klompie jare gelede, toe ek besig was met ‘n M.A. in Tweede Taal Onderrig aan een van ons land se vooraanstaande universiteite, loop ek een van my oud-dosente raak. Hy het voorheen, by ‘n ander vooraanstaande universiteit, vir my klas gegee in die letterkunde, maar het intussen verskuif na hierdie universiteit. Sy opmerking toe hy my weer raakloop? “Jy kom meer gesofistikeerd voor.” Wel, ja, as voorgraadse student was ek vars van die plaas af met uiters min lewenskennis. Wat verwag jy na so ‘n klompie jare?

Ek vind deesdae baie mense ongesofistikeerd. Miskien is dit die ouderdom. Miskien is dit bloot die beneuktgeite wat saam met die chemopause kom. Ek weet nie. Ek weet net dat as jy na al die jare steeds dink dat “Kinders van die wind” die toppunt van sofistikasie is, dan het jy ‘n probleem. Of as jy steeds dink “Kaptein” van Kurt Darren maak op die een of ander vlak sin. Of as jy, na twintig jaar, steeds vasgenael sit voor een van die EsYBieSie se herhalings (dis nou as jy dit nie voorheen misgeloop het nie; indien wel, dan mag jy maar kyk, net om te sien waaroor die hoeha was). Of as jou humor steeds vasgesteek het op die vlak van ‘n tienjarige en jy jou gedaan lag vir “Orkney Snork nie”. Toegegee, as jy ‘n tienjarige is en dit is vir jou snaaks, dan kan ek dit vergewe. Maar sekerlik moes jy darem deur die loop van die lewe ietwat ontwikkel het, sodat jy darem so ‘n knippie ekstra kan hanteer.

My studente beweeg op ‘n vlak wat ek in my gawe momente as “ongesofistikeerd” sal beskou. Hulle is onskuldig aan die weë van die (wit) wêreld. As ek hulle vra hoe dit gaan, sal hulle my waarskynlik presies vertel hoe dit gaan. En as ek hulle vra of hulle iets geniet het, sal hulle my ook vertel.

So neem ek ‘n groepie studente ‘n paar jaar gelede na een van ons beter restaurante hier in die dorp. Kos my ‘n fortuin om hulle te voed, maar nou ja, die opvoedingsproses moet plaasvind. Hulle het nie van die kos gehou nie. Die calamari was net te vreemd. Die een wat ‘n wrap bestel het, het die lekkerste geëet. Hulle het wel die koek volpunte gegee. Daarna het ek besluit: nooit weer nie. Van nou af neem ek julle eers na kettingrestaurante en daarna na ander plekke. Twee jaar gelede het ek drie studente in my Duitse klas. Ons gaan op ‘n weeklikse basis na ‘n koffiewinkel. Eers die Wimpy, daarna ‘n Griekse plek, daarna die plek by die museum, daarna die dieretuin en so aan. Aanvanklik drink die een sy koffie uit die piering, teen die tweede keer drink hy sy koffie met ‘n teelepel en teen die derde keer drink hy sy koffie uit die koppie. Vooruitgang. Die ander een probeer elke soort koffie wat hy in die hande kan kry, en nog een elke soort sjokoladedrankie. Ons kuier heerlik saam en leer so tussenin Duits.

Verlede jaar se groep kon ek doodeenvoudig net in die Wimpy gelos het, en hulle sou gelukkig gewees het. Ek neem hulle na die museum se koffiewinkel. Hulle elkeen bestel ‘n pita burger. Nog nooit in hulle lewens ‘n pita geëeet nie. Hulle eet. Elke krummeltjie. Agterna vertel hulle dit was die slegste burgers wat hulle nog geëet het. En hierdie man is bekend vir sy lekker kos! Ek het hulle toe maar eerder weer na Willem Wimpy toe geneem.

Vanjaar se groep is ‘n bietjie groot, en aangesien ek hierdie jaar nie ‘n ekstra inkomste het nie, kan ek hulle nie rondneem na kafees en restaurante toe nie. Ek organiseer toe maar ‘n uitstappie na die Duitse kafee in die Hemingways Mall . Daar kos dit my al my oorredingsvermoëns om hulle sover te kry om iets te bestel wat hulle nie ken nie. Los die melktert! Probeer ‘n Apfelstrudel. Ek koop ook vir elkeen ‘n brezel – iets wat ek op gereeld basis gaan koop vir ontbyt of my aandete. Met die volgende klas vra ek hulle hoe die brezel was. Aaklig, sê hulle soos uit een mond. Dit was sleg!

Nou ja, I rest my case. Ek sou op daardie ouderdom al vlot kon lieg as iemand vir my ‘n ou dingetjie gekoop het. “Hoe hou jy van die handeroom wat ek vir jou gekoop het?” (Ek is allergies vir sekere tipes handeroom). “Baie dankie, dit ruik heerlik!” is die antwoord dan. Ek jok mos nie regtig nie. Dit ruik lekker. Dit laat my net nies en jeuk. Of: “Hoe was die koffie?” Antwoord: “Ek drink nie koffie nie, want dit maak my naar en jou koffie het my besonder naar gemaak”. Nee! Ek sal net sê dankie, dit was heerlik. En dit was mos. Ek het dit nie gedrink nie, maar ander het, so dit moes aanvaarbaar gewees het.

Ek weet nou net nie of sofistikasie noodwendig ‘n goeie doel is nie. Vir my klink dit soms ‘n bietjie na snobisme en dis werklik nie waarheen ek op pad is nie. Ek weet net hierdie kindertjies het nog ‘n lang pad om te stap as hulle nie so ‘n lagie van sofistikasie ontwikkel in my klas nie.