Jy blaai in die argief vir kanker.

by elizac

DIT GAAN ROF HIER

November 16, 2014 in Uncategorized

Julle ken seker almal die storie van die hond en die perd en die donkie en die bobbejaan en die mens, en hoe elkeen mos gekies het hoeveel jaar hy op aarde wou spandeer. Nou ja, ek is nou in perd se jare. Amptelik. Dus gaan dinge maar rof, want as iemand net vir jou vra om werk te doen, dan sê jy ja en jy gaan sit en jy doen dit. Al verstaan jy nie altyd die sin daarvan nie. Dis nou soos dit hierdie jaar met my gegaan het.

En ek kla nie. NIe regtig nie. Ek geniet die dinge wat na my toe kom: studiegidse en handboeke en studiegidse en ekstra werk by nog ‘n universiteit hier in die dorp. Die keer het ek Afrikaans gegee vir wonderlike, snaakse studente. Ek het dit so geniet. Die kinders hou ‘n mens regtig jonk.

Ook was ek bevoorreg genoeg om vir ‘n kongres in Lissabon te gaan en ‘n referaat daar te lewer. Daar is ook ‘n kans dat ons referaat deel kan word van ‘n boek – ons wag nog om te hoor wat gaan gebeur, maar die referaat is reeds aanlyn beskikbaar. Die finale weergawe moet nog gepubliseer word, maar die “draft” is reeds daar. Dit is maar vervelig, maar dit was ‘n uiters interessanate kongres wat op ‘n nuwe, vars manier aangebied is – nie hierdie gelees van referate nie, maar ons aanbieding moes ‘n totaal nuwe ding gewees het. Plus ek het Lissabon gesien en Vasco da Gama se graf, asook Barcelona vir ‘n week. Daaroor moet ek ook nog ‘n storie skryf. Wat ‘n ongelooflike stad! Kyk net na hierdie blog om die mooiste foto’s van die stad te sien.

Môre gaan ek in vir ‘n skoueroperasie – ek het ‘n ligament geskeur, kan julle dit glo? Nou vertel ek vir almal dis ‘n sportbesering… Het mos gaan swem en gevoel my skouer maak so krrr, krrr, maar toe gaan swem ek net meer en langer. My sjirurg sê dis wear and tear, maar ek gaan nie vir enigiemand dit vertel nie! Klaarblyklik is die operasie erg pynlik, maar my pyndrumpel is mos relatief hoog. Kom ons hoop dit help. Ek het eintlik gedink hulle gaan net ‘n naald en gare vat en die skeurtjie toewerk, maar nee, nou moet hulle skroewe insit en die ligament anker. Hy beter lank geanker bly!

Intussen het ek ook 50 geword en het die hele dag lank gevier. Vyf jaar terug het ek nie geweet of ek dit gaan maak nie en kyk, hier is dit al amper vyf jaar sedert ek met kanker gediagnoseer is. Dit was ‘n lang pad en ene wat ek vir niemand toewens nie, maar omdat ek dit gestap het, kan ek vandag ook vir ander wat besig is om die pad te stap, aanmoedig. As dit nou nie te soetsappig klink nie.

En dis dit! Hopelik kry ek tyd voor Krismis om weer bietjie hier rond te krap. My sperdatum is 30 November!

by elizac

ONS KYK FOTO’S

Julie 4, 2013 in Uncategorized

So sit en kyk ons foto’s vanmiddag, ek en tannie Bettie. Sy’t iewers die week gebel om te sê sy gaan nou vinnig agteruit. Ons praat baie eerlik daaroor: hoe lank sy nog gaan lewe. Die suster van die hospies het al in November vir haar gesê sy sal nie nog ‘n jaar maak nie, en elke keer as ek besoek aflê, is sy swakker.

Ek drink nie tee nie. Tannie Bettie is nie in staat om tee te maak nie en sy is baie partikulier oor hoe daar in haar kombuisie gewerk moet word. Dus maak ek nie tee nie.

Ons gesels. Dis koud. Haar kat skrop nes op haar skoot. Tannie Bettie bewe wanneer sy die foto’tjies uithaal om vir my te wys.

Hier is sy as jong meisie in ‘n wye uitskoprok. Sy leun sterk en mooi teen ‘n voertuig aan met haar man aan haar voete.

Hier is sy as predikantsvrou tussen die gemeentevroue. Het sy toe al geweet dat sy haar man gaan verlaat? Het die gemeentevroue geweet van die moeilikheid in die pastorie? Hoe moeilik moes dit nie gewees om in daai dae jou man te los nie, wat nog te sê van die predikant – God se gesant.

En hier sit sy om die tafel saam met die professor en sy vrou. Hy woon deesdae by sy kinders in die Vrystaat iewers, maar sy vrou is lankal dood. Ook ‘n siekte gehad wat haar van die voete af verlam het.

Hier is ‘n foto saam met Ester. Ester kyk verlief in haar man se oë. Sy het nie toe geweet haar man sal op 35 sterf aan kanker en haar alleen laat met die kinders nie. Kyk, hier is nog ‘n foto van Ester en haar man. Dit was net na die eerste baba gebore is. En daar is hulle op haar troudag. Sy het haar eie trourok gemaak en hulle het die saal goedkoop gehuur by die dramavereniging.

En wie sou dit wees? Nee wat, ons sit die foto eenkant toe. So baie babatjies en sy kan nie meer onthou wie is kleinkinders en wie is broers en susters se kinders of kleinkinders nie.

Hierdie foto is van – weet jy wie so-en-so is? Nee, jammer, tannie Bettie, ek weet nie. Wel, dis sy suster. Sy en my seun was baie na aan mekaar. Ons het nog kontak en wanneer ek in Pretoria is, sien ek haar.

Nog ‘n foto wys haar dogter in ‘n rok gemaak van ‘n wit kanttafeldoek. Sy het die dogter se rok gemaak, haar hippiedogter wat nou met stywe haartjies en rooi waterstewels bitsig om die huis loop. Ek herken nie die dogter in die gelukkige foto’s nie. Sy staan styf teen haar ma en die liefde is sigbaar.

Daar agter staan my lover, sê tannie Bettie ingenome. Niemand het geweet hy is my lover nie. Sover ek weet, leef hy nog.

Ek het baie stories geskryf, sê tannie Bettie. Sal jy na my dood deur my stories gaan en iets daarmee doen? Ek belowe. Hoe anders? Ek weet nie hoe ek verby die dogter gaan kom nie, maar ons het hoop.

Dogter het nou in die laaste paar dae vir haar ma gesê sy wil nie hê sy moet in die hospies sterf nie. Sy sal na haar ma kyk en ‘n dagverpleegster betaal om te help.

Ek is nie seker dat die dogter weet wat sy sê nie. Maar ek bly stil, want ek is bly namens tannie Bettie dat dinge vir ‘n slag goed gaan.

Daar loop twee hoenderhane in die straat toe ek huis toe gaan. Pragtige, goedversorgde hoenderhane. Beide behoort aan tannie Bettie se dogter.

by elizac

MY GESONDHEID – ‘N UPDATE

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Intussen is ek hopelik steeds gesond en sien die onkoloog nou elke ses maande. Ja, in Januarie het ek my laaste Zoladex gehad en dit moes hier rondom 15 April uit my sisteem gewees het. So raak ek al hoe dikker en toe die skildklierpille nie juis ‘n verskil maak nie, gaan koop ek daar vir my ‘n natuurlik produk genaamd “Thyroid Support Formula”. En daar is ek niks lus vir tjoklits nie en niks lus vir soetgoed nie en ek verloor 5kg sonder om werklik te probeer. Tot ek die botteltjie se etiket lees en sien dit sê spesifiek jy mag dit slegs onder ‘n dokter se toesig gebruik as jy op Tamoxifen is. Skrik my natuurlik gedaan en hou op, en nou kan ek met gemak ‘n blikkie kondensmelk opeet. Of ‘n bak fudge. Sonder om te naar te word. Dalk moet ek maar ‘n draai by onkologie gaan maak en uitvind of ek die aanvulling mag gebruik. My onkoloog is eintlik baie ontspanne oor sulke goed, maar ‘n mens weet nooit nie. Dis net, ek wou so graag nog 5 kg verloor het voor einde Junie, en soos ek nou aangaan, tel ek elke gram weer op. Dink ek moet sommer môre ‘n draai by die apteek gaan maak.

Verder het ek ook baie mylpale gehad: drie jaar na die mastektomie, drie jaar  na die eerste chemo, drie jaar na die eerste Zoladex… En toe vergeet ek skoon om dit te herdenk. Ek het darem die mastektomiedatum saam met ‘n vriendin gevier, maar die ander het gekom en gegaan sonder dat ek opgelet het. Eers ‘n week of twee na die tyd onthou. Dit wys net hoe die lewe aangaan. Selfs van kanker kan mens soms so ‘n bietjie vergeet.

by elizac

ANTWOORD ‘N SOT…

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Antwoord ‘n sot nie na sy sotheid nie. Ek het altyd gedink dit staan iewers in Spreuke, maar toe ek die verwysing gaan naslaan het, kon ek dit nie vind nie. Maar neem dit nou van my: dit bly wyse raad.

Ek het my nou vanaand weer vererg – en ek weet ek moet nie – omdat iemand op Gesigboek skryf dat ‘n mens kanker kan voorkom deur net gesond te eet. Regtig? Ek wonder of julle weet hoeveel mense ek al ontmoet het wat uiters gesond geleef het, aktief aan sport deelgeneem het, so maer soos kraaie is en tog steeds kanker gekry het? Geen dieet kan kanker voorkom nie – dit kan bloot jou risiko verlaag. Daar is ‘n groot verskil tussen kanker voorkom en risiko verlaag. Wat sê iemand wat vas glo dat jy kanker deur jou dieet kan voorkom vir ‘n kind van drie wat kanker het? Of iemand – uiters sportief en gesteld op gesond eet – wat op 20 leukemie kry? Of iemand wat vegetaries leef en op 32 sterf aan kanker? Of ‘n baba van ses maande? As jy kanker gaan kry, gaan jy dit kry. Rook is die enigste ding wat ‘n bewese oorsaak van kanker is, maar om op te hou rook, beteken nie dat jy nooit kanker gaan kry nie. Dit beteken bloot dat jy jou risiko op longkanker en keelkanker verminder.

Skuus, ek was lanklaas hier en nou raas ek al weer. Maar werklik, as jy nog nie in hierdie posisie was nie, hou asseblief op om sulke uitsprake te maak. Jy het nie die kennis nie. Kanker is baie meer ingewikkeld as bloot gesonde dieet.