Jy blaai in die argief vir hoenderhane.

by elizac

ONS KYK FOTO’S

Julie 4, 2013 in Uncategorized

So sit en kyk ons foto’s vanmiddag, ek en tannie Bettie. Sy’t iewers die week gebel om te sê sy gaan nou vinnig agteruit. Ons praat baie eerlik daaroor: hoe lank sy nog gaan lewe. Die suster van die hospies het al in November vir haar gesê sy sal nie nog ‘n jaar maak nie, en elke keer as ek besoek aflê, is sy swakker.

Ek drink nie tee nie. Tannie Bettie is nie in staat om tee te maak nie en sy is baie partikulier oor hoe daar in haar kombuisie gewerk moet word. Dus maak ek nie tee nie.

Ons gesels. Dis koud. Haar kat skrop nes op haar skoot. Tannie Bettie bewe wanneer sy die foto’tjies uithaal om vir my te wys.

Hier is sy as jong meisie in ‘n wye uitskoprok. Sy leun sterk en mooi teen ‘n voertuig aan met haar man aan haar voete.

Hier is sy as predikantsvrou tussen die gemeentevroue. Het sy toe al geweet dat sy haar man gaan verlaat? Het die gemeentevroue geweet van die moeilikheid in die pastorie? Hoe moeilik moes dit nie gewees om in daai dae jou man te los nie, wat nog te sê van die predikant – God se gesant.

En hier sit sy om die tafel saam met die professor en sy vrou. Hy woon deesdae by sy kinders in die Vrystaat iewers, maar sy vrou is lankal dood. Ook ‘n siekte gehad wat haar van die voete af verlam het.

Hier is ‘n foto saam met Ester. Ester kyk verlief in haar man se oë. Sy het nie toe geweet haar man sal op 35 sterf aan kanker en haar alleen laat met die kinders nie. Kyk, hier is nog ‘n foto van Ester en haar man. Dit was net na die eerste baba gebore is. En daar is hulle op haar troudag. Sy het haar eie trourok gemaak en hulle het die saal goedkoop gehuur by die dramavereniging.

En wie sou dit wees? Nee wat, ons sit die foto eenkant toe. So baie babatjies en sy kan nie meer onthou wie is kleinkinders en wie is broers en susters se kinders of kleinkinders nie.

Hierdie foto is van – weet jy wie so-en-so is? Nee, jammer, tannie Bettie, ek weet nie. Wel, dis sy suster. Sy en my seun was baie na aan mekaar. Ons het nog kontak en wanneer ek in Pretoria is, sien ek haar.

Nog ‘n foto wys haar dogter in ‘n rok gemaak van ‘n wit kanttafeldoek. Sy het die dogter se rok gemaak, haar hippiedogter wat nou met stywe haartjies en rooi waterstewels bitsig om die huis loop. Ek herken nie die dogter in die gelukkige foto’s nie. Sy staan styf teen haar ma en die liefde is sigbaar.

Daar agter staan my lover, sê tannie Bettie ingenome. Niemand het geweet hy is my lover nie. Sover ek weet, leef hy nog.

Ek het baie stories geskryf, sê tannie Bettie. Sal jy na my dood deur my stories gaan en iets daarmee doen? Ek belowe. Hoe anders? Ek weet nie hoe ek verby die dogter gaan kom nie, maar ons het hoop.

Dogter het nou in die laaste paar dae vir haar ma gesê sy wil nie hê sy moet in die hospies sterf nie. Sy sal na haar ma kyk en ‘n dagverpleegster betaal om te help.

Ek is nie seker dat die dogter weet wat sy sê nie. Maar ek bly stil, want ek is bly namens tannie Bettie dat dinge vir ‘n slag goed gaan.

Daar loop twee hoenderhane in die straat toe ek huis toe gaan. Pragtige, goedversorgde hoenderhane. Beide behoort aan tannie Bettie se dogter.