by elizac

UPDATE

Oktober 5, 2012 in Sonder kategorie

Nou ja, die probleem is afgeweer. Die student het spontaan geaborteer. Nou gaan sy weer deur ‘n klomp emosies, maar nou ja, dis dalk beter so.

Hopelik het sy nou ‘n les geleer. Ek het soveel keer verlede jaar – toe sy by my in die klas was – gesê: hou julle beentjies toe! Verwag meer van die mans in julle lewens! Stel die dwarslat ‘n bietjie hoër en laat hulle wys dat hulle jou werd is. Waarom koop jy die koei as jy die melk verniet kry? En al sulke reguit opmerkings. Maar nou ja, een jaar in my klas kan nie die jare se opvoeding van die huis verander nie.

Sy sê in elk geval sy wil nou niks met mans te doen hê nie. Ek probeer darem vir haar oortuig dat daar wel goeie mans is, maar sy moet eers op haar studies fokus en nou klaar maak en nie toelaat dat ‘n man tussen haar en haar studies staan nie.

Dit ten spyte van mans wat nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir hul dade nie. Ek moet so dikwels hoor: dis nou maar soos ‘n man is, en jy as vrou moet dit net aanvaar. Dit is mos nou twak. Hoekom moet ek as vrou die hele tyd by die man en sy wêreld aanpas, maar die man kan nie by my wêreld aanpas nie?

En nou gaan daar seker weer ‘n man of tien wees wat hier inspring en my van mannehaat beskuldig, of so iets dergeliks. Of, soos my studente, die Bybel vir my gooi, want net die eerste deel van die vers word mos gelees, en die res geïgnoreer. Dit pas baie mense mos nie om daardie deel ook te lees nie!

by elizac

EK IS BOOS

Oktober 3, 2012 in Sonder kategorie

Bliksem. Is dit ‘n vloekwoord? Word dit nog gesien as ‘n vloekwoord? Want ek wil nou so ‘n bietjie vloek. Nee, daar is niks fout in my lewe nie. Maar ek is donders boos.

Een van my oud-studente wandel so teen tienuur by my klas in. Sy wil met my praat; wanneer maak ek klaar? Half elf kom sy weer ingewandel en gaan sit. Die ander studente skryf toets en is besig om stuk-stuk klaar te praat. Praat sy in lippetaal en vir die eerste keer in my lewe kry ek die boodskap:

“I-am-pregnant”.

Nou ja, swanger is mos nie die einde van die wêreld nie, en deesdae is ongehuud swanger wees glad nie meer ‘n skande nie, so wat is die probleem?

Lang storie, maar die kort weergawe is dit: haar kêrel is ‘n dosent aan die universiteit. En hy het nou vir haar gesê hy trou die einde van die jaar met iemand anders, hy is nie gereed vir kinders nie en sy moet van die “bastard” ontslae raak.

Gelukkig was ek by die aanhoor van hierdie nuus reeds in my kar op pad na die ander kampus toe, anders het ek iemand aangerand. Waar die f!!! kom die bl!!!! daaraan om ‘n verhouding met ‘n d0n!!!! student aan te knoop? Dit is net op soveel vlakke oneties en verkeerd dat ek skaars my verstand daarom geknoop kan kry.

Maak dit die situasie beter dat hy nie in haar departement is nie? Nie in my kop nie.

Die huislike omstandighede verbeter ook nie die situasie nie. Haar eie ma is dood aan Vigs, sy weet nie waar haar pa is nie, sy het Suid-Afrika toe gekom van Zimbabwe af om by haar tante te kom bly en nou het die tante haar uit die huis geskop en gesê sy kom nie terug voor sy nie van die baba ontslae geraak het nie. Ek en die tante is kollegas en vriende en ek voel half lus om haar te gaan besoek en ‘n bietjie te praat. As die kind nêrens het om heen te gaan nie, wat is die kanse dat sy in ‘n volgende man se arms gaan val as hy mooi woordjies in haar ore fluister?

Ek hoop sy het haar les geleer. Ek bid vir haar en die ongebore kind ontelbare seëninge toe. Maar vir daardie bliksem wat nie sy dinges in sy broek kon hou nie – wel, keer my, of ek word gefire.

by elizac

IETS WAT NIKS MET DIE OLIMPIESE SPELE TE DOEN HET NIE

Augustus 4, 2012 in Sonder kategorie

‘n vrou slaap in
die bos onder ‘n dak van groen blare

sy slaap op mos –
klein vingertjies wat haar stu

en wegdruk van
mastektomies besoeke aan dokters ginekoloë

mammogramme en
slagspreuke: jy kan kanker klop

sy slaap tussen
bosnimfe en dwerge sy slaap in ‘n kasteel van bome

sy slaap met twee
borste in ‘n land vol drome

sy slaap groen
van mos tussen veilige wortels

sy los op in die
energie van lewebarende grond

 

‘n vrou slaap in
die bos om nooit weer wakker hoef te word nie

 

19 Januarie 2012

by elizac

NET ‘N IETSIE OOR DIE OLIMPIESE SPELE

Julie 30, 2012 in Sonder kategorie

Ja, so het London 2012 toe met ‘n depressiewe knalletjie begin. As dit nie vir die blink olimpiese ringe was wat die hemele bestyg het nie, en vir Mr Bean, en 007, en die vuurwerkvertoning nie, sou daar nie eens ‘n knalletjie gewees het nie. Net ‘n industriële revolusie en duistere verwysings na die Britte se grootsheid.

Intussen moet ons armsaliges met die peasant tiewie tevrede wees met SABC 2 se uitsendings. Dis die een ontleding op die ander, tot ek later wil skree: WYS ASSEBLIEF NOU NET VIR ONS WAT GEBEUR HET! So moet ek vanaand klaarblyklik sit en wag vir tienuur om te hoor wat met Chad le Clos gebeur het in die swembad. Want hier is nou ‘n klomp dames wat sit en praat oor hulle finasiële beplanning en terselfdertyd word so ‘n groen maatskappy, wat kastig voorsiening maak vir ‘n mens se aftrede, bemark.

Amper sê ek nou iets leliks. Halloooooooooo? ‘n Suid-Afrikaner het pas in die swembad gespring, tweede algeheel in die uitdunne gekom EN ‘n Afrikarekord opgestel!

Dankie tog vir die internet en www.london2012.com – daar kry ek in egte tyd al my inligting, al kan ek dit nie noodwendig sien nie.

by elizac

PADDABOUTJIES

Julie 22, 2012 in Sonder kategorie

Met die baie reën is daar dalk mense wat bereid is om hierdie voor te berei. Self het ek die instruksies baie insiggewend gevind!

http://www.chefdanielbrooks.com/photoblog/?p=1579

by elizac

DIE LANG PAD MOET JY VAT

Julie 16, 2012 in Sonder kategorie

… al wil jy bietjie nog in die Kaap agterbly. As oud-Weskapenaar is die Oos-Kaap na al die jare steeds ‘n vreemde plek met vreemde mense en vreemde dinge. Maar aangesien ons nou hier werk en ons ‘n ou klein huisietjie hier het en ook ander verbintenisse – plus ek het nog niemand gekry wat bereid is om my salaris vir my te borg nie – moes ons terugkom. Deesdae probeer ons die reis ‘n vakansie op sigself maak, maar hierdie keer het my stemmetjie in die kop gesê: julle moet ry om op ‘n punt te kom.

Dus spring ons toe Saterdagoggend half tien in die ou karretjie, drink nog vir oulaas ‘n koppie tee saam met die moeder, en daar foeter ons binneland langs terug Oos-Londen toe. My geliefde is so effens omgekrap, want hy wou bo-om gery het, Groot Karoo langs, en ek wou Klein Karoo langs. Moenie my vra hoekom nie, maar my stemmetjie het dit vir my vertel. Eintlik wou die stemmetjie hê dat ons die kuspad moes ry, en ek sou veel eerder van Ashton oor die berg Swellendom toe wou gaan – iets wat ons die laaste klompie jare vermy het juis as gevolg van die hoeveelheid verkeer, asook die reën. Dus was die R62 so half en half my kompromie.

Op pad ry ons toe net so ‘n effense draaitjie om by The Art Business op Porterville aan te gaan. Die “gou-gou” rek toe na ‘n lang gesels in die gallery – Aidon Westcott is ook deesdae daar besig; gaan google hom gerus [http://artlife.co.za/intro.php?users_id=716] – en daarna nog ‘n etetjie by die plaaslike Fat Catz bistro. (As jy in die omgewing is, is ‘n inloer beslis die moeite werd, en die Feathers Inn se beddens en dekor lyk uiters verwelkomend!) Dus het ons eintlik eers so rondom 2 op ons amper 900km reis vertrek.

Hier kort voor Worcester het dit begin reën en reën en reën. Manlief het op daardie stadium die wiel oorgeneem (en natuurlik het ons by die Robertson Kunsgalery ook ‘n draai gaan maak, en ek het vir my ‘n ietsie van Frans Cronje aangeskaf. Weet nie eintlik wie hy is nie, maar ek hou van sy miniatuurcollages gemeng met ink.

Maar van toe af was dit net afdraend, met reën en nogmaals reën. Vanaf Oudtshoorn tot by die Langkloofafdraai is dit ‘n hele klompie kilometer, en toe ons daar kom, lê daar plat in die pad ‘n yslike geel bord met die woorde: “road closed” op. Nou probeer ek uitvind of die pad wel gesluit is, maar niemand kan my help nie. Ons stoot toe maar deur. Daar loop behoorlik riviere oor die pad. Ek seg net vir die geliefde: as ons die padstrepe kan sien, stoot ons aan. Op een stadium mis my man die rivier voor in die pad en ploeg behoorlik deur die water (so kry my karretjie toe ook sommer ‘n heerlike gratis was). Daarna het ons versigtiger gery en die hele tyd die padtoestande dopgehou: as daar voertuie van vooraf kom, dan is die pad sekerlik bevaarbaar? Later bel ek die ouers om te hoor of hulle iets op die nuus gehoor het. Pappie bel “iemand” in George, en die sê die Outeniekwapas is gesluit; dus sal ons ook nie op daardie manier in Port Elizabeth kan kom nie. Nou maar geen keuse nie – ons gaan ten minste Joubertina probeer haal. Ons weet ook daar is GEEN slaapplek op enige van die plekke in die omgewing nie, want daar is drie troues die naweek aan die gang en al die gastehuisie is vol. Glo my, ons het probeer.

Op een plek het daar ‘n rotsstorting plaasgevind. Reusagtige, vierkantige blokke lê in die linkerkantste baan – die een waarop ons ry. Kort-kort stroom die water oor die pad. En steeds reën dit. In my lewe het ek nog nooit gesien dat water horisontaal oor die pad kan hardloop nie – en die pad is teen ‘n skuinste. Al die plaaspaaie verspel en die gruis lê oor die pad gestrooi.

En in Port Elizabeth aangekom, net toe ons dink alles is verby, moet ons terugdraai van ons kortpad voor die lughawe langs, want toe is daar ‘n mini-driffie. Dus toe langpad om.

Ons het darem kwart oor 12 by die hotel aangekom en geslaap tot half 10 die volgende oggend.

Klaarblyklik was die pad tussen die Wildernis en Knysna ook gesluit.

En die paaie vanaf Graaf-Reinet.

En die R62 – dit hoor ons toe gisteraand toe ons op pad huis toe is.

Dit sou vandag ‘n baie moeë begin tot die nuwe semester gewees het!

Vandag op Spektrum (RSG) vertel ‘n bruid hoe sy haar seremonie moes uitstel na Sondag, omdat sy en haar gevolg nie deur die riviere kon kom nie. Op Sondag het iemand haar glo op ‘n padbreker deur die drif geneem en kon hulle uiteindelik trou. Hulle kon net nie dans nie, want met die Sondagtroue was die dans van die baan…

by elizac

LEKKER VAKANSIE

Julie 8, 2012 in Sonder kategorie

Ek kuier heerlik by die ouers op die plaas in die Wes-Kaap. Darem so bevoorreg om dit te kan en mag doen.

O, en het ek genoem dat ek vir Anha ontmoet het? Ek het sommer by haar werk ingestap en gevra wat die vrou agter die lessenaar se naam is. En toe myself voorgestel: ek is Elizabeth. Vreemd hoe ‘n mens ‘n sekere idee van iemand in jou kop vorm, en dan is dit glad en geheel al nie so nie!

by elizac

VRYDAGAAND. BY GEBREK AAN ‘N OPSKRIF

Junie 15, 2012 in Sonder kategorie

So sit ek nou maar vanaand hier in ons yskoue sitkamertjie met die gasverwarmer (ons verbeel ons, ons is baie groen, maar eintlik wil ons net nie die hemelhoë elektrisiteit betaal nie) op laag en my kat soos ‘n hondjie aan my voete. Ek dink sy is verlief op die verwarmer! My kop is vol woorde – ek het mos ‘n opinie oor alles – maar wanneer ek hier voor die rekenaar kom sit, verdwyn elke woord in my kop. Dus sit en luister ek tiewie: op TV1 is daar die een of ander gedans (ek is amper seker daar is naaktheid en vure betrokke); op TV2 is daar ‘n program wat ek hoegenaamd nie verstaan nie, alhoewel ek aanvaar dit is ‘n taal wat in Suid-Afrika gebesig owrd; op TV3 is daar sokker en vuvuzelas, en op TV4 word witmense deur Noord-Koreane gekruisig. Dis nou die aanbieding op peasant tiewie. Aangesien die dansmusiek en die sokker my hoofpyn gee, en ek genoeg van bloed gehad het, luister ek nou na tiewie 2. Hopelik sal die taal outomaties in my kop kom vashaak. O, en ek weet dis deesdae EsYBieSie, maar dis net makliker om van TieWie2 of 1 of wat ookal te praat. My studente lag altyd as ek sê TV2. Hulle dink ek kom van die “olden days” af, maar hulle weet nie dat dit ‘n kortpad is nie!

Hierdie jaar gaan met ‘n spoed verby. Dit maak my bekommerd, want ek en die geliefde is baie besig. Dan wonder ek of ons met die regte goed besig is, en of ons maar net onsself besig hou. Ter wille van geld en ‘n medies en ‘n pensioen. Gelukkig begin my jaar nou rustiger raak. Die besige tyd is verby; die studente skryf eksamen en ek skryf joernaalartikels. Volgende week moet ek merk dat ek skuinslê, maar dis nie die ergste nie. Deesdae gee ek mos weer Afrikaans vir so ‘n stuk of sestig studente. Dit merk half vir my lekkerder as die Engels – seker omdat dit vinniger gaan en omdat ek nie deur sulke fantastiese onderwerpe soos vergaderingsprosedures en die skryf van verslae hoef te worstel nie.

Verder is daar darem goeie nuus ook in my lewe: my dokter sê ek sal nog lank lewe. Aangesien niemand van ons, en die minste van almal my dokter, beheer het oor ons einde nie, neem ek dit met ‘n knippie sout, maar dit is tog goed om te weet dat die chemo nie my hart aangetas het nie; dat my bloeddruk 100% is (122/82); dat my cholesterol goed is (en my goeie cholesterol fantasties); dat my suiker normaal is; en dat my hart se are glo “wawydoop” is. Net my skildklier is effens onderaktief, maar daarvoor het ek nou ook ‘n pilletjie in die hand. Hopelik sal my gewig ook nou begin stabiliseer! (Mens mag hoop…)

Dis al amper twee jaar sedert my laaste chemo. Dan sal ek amptelik in remissie wees. Dit tyd het waarlik vinnig verbygegaan. Ek wens soms ek kan vir mense wat binne in ‘n nagmerrie staan, verseker dat dit beter sal gaan. Dat daar wel ‘n lig aan die einde van die tonnel is. Soms is daai liggie net deksels ver.

by elizac

WEET IEMAND WAT VAN ANNEMARIE GEWORD HET?

Junie 15, 2012 in Sonder kategorie

Wat het van Annemarie (Sieltjie-sonder-sorg) geword? Ek wonder dikwels hoe dit met haar gaan, en met haar man. Sal so bly wees as sy dalk net ‘n possie wil los en sê: alles is oraait.

by elizac

HET IEMAND IETS MOOIS IEWERS?

Mei 5, 2012 in Sonder kategorie

Ek het nou vanaand so ‘n lus vir mooi goed. Iets wat werklik ekstra-ordinêr is. Gister loop ek en ‘n vriendin in die winkels, maar toe soek ons begrafnisklere vir haar. Maar mens wil darem ordentlik in die goed lyk, en aangesien sy maar 35 is, het ons nie gedink daar is veel van ‘n keuse tussen outannieregaf en slet nie. Alhoewel, ek moet sê, ek dink nie ou tannies sal in van daai klere gesien wil wees nie.
Vanoggend was dit ons tweeweeklikse kunsklas, maar ek was totaal sonder inspirasies. Tussen ure se merk en die sothede van ons lewens hier in die Oos-Kaap, raak dit partykeer moeilik om mooi raak te sien. Ek het darem die afgelope week of twee weer in die aande gesit en juweliersware maak. Nood leer bid, en een van die dae is dit weer tyd vir ons kerkbasaar waar ek lekker basaartannie agter die handwerktafel speel. Dan is daar ook ‘n vrouedag aan die einde van die maand, en ek gaan my juweliersware daar uitstal. Verder het ek nie tyd om my enigsins kreatief besig te hou nie. Stories is begin, maar nie voltooi nie. Komberse wag om klaar gehekel te word. Op die stoep staan bokse basaargoed wat moet klaar. Ek sal maar weer teen die einde van die maand die gemeente hier onthaal om alles klaar te kry …
Nou ja, ek wou nou baie graag ‘n paar foto’s oplaai, maar kan dit glad nie regkry nie. Kan iemand dalk help?