by elizac

MY GESONDHEID – ‘N UPDATE

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Intussen is ek hopelik steeds gesond en sien die onkoloog nou elke ses maande. Ja, in Januarie het ek my laaste Zoladex gehad en dit moes hier rondom 15 April uit my sisteem gewees het. So raak ek al hoe dikker en toe die skildklierpille nie juis ‘n verskil maak nie, gaan koop ek daar vir my ‘n natuurlik produk genaamd “Thyroid Support Formula”. En daar is ek niks lus vir tjoklits nie en niks lus vir soetgoed nie en ek verloor 5kg sonder om werklik te probeer. Tot ek die botteltjie se etiket lees en sien dit sê spesifiek jy mag dit slegs onder ‘n dokter se toesig gebruik as jy op Tamoxifen is. Skrik my natuurlik gedaan en hou op, en nou kan ek met gemak ‘n blikkie kondensmelk opeet. Of ‘n bak fudge. Sonder om te naar te word. Dalk moet ek maar ‘n draai by onkologie gaan maak en uitvind of ek die aanvulling mag gebruik. My onkoloog is eintlik baie ontspanne oor sulke goed, maar ‘n mens weet nooit nie. Dis net, ek wou so graag nog 5 kg verloor het voor einde Junie, en soos ek nou aangaan, tel ek elke gram weer op. Dink ek moet sommer môre ‘n draai by die apteek gaan maak.

Verder het ek ook baie mylpale gehad: drie jaar na die mastektomie, drie jaar  na die eerste chemo, drie jaar na die eerste Zoladex… En toe vergeet ek skoon om dit te herdenk. Ek het darem die mastektomiedatum saam met ‘n vriendin gevier, maar die ander het gekom en gegaan sonder dat ek opgelet het. Eers ‘n week of twee na die tyd onthou. Dit wys net hoe die lewe aangaan. Selfs van kanker kan mens soms so ‘n bietjie vergeet.

by elizac

TANNIE BETTIE – ‘N UPDATE

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Nou ja, tannie Bettie en haar dogter is steeds met ons. En dit word al hoe duideliker dat tannie Bettie se dogter doodeenvoudig net nie van my hou nie, omdat ek dit durf waag het om haar trappe te kritiseer. Hierdie week het ek ‘n dame georganiseer om tannie Bettie na die apteek te neem, nadat haar dogter verlede week geweier het. Die dame praat met groot lof van tannie Bettie se vriendelike dogter en wat ‘n wonderlike tyd hulle saam deurgebring het. Die dogter het selfs vir haar toegelaat om deur die huis te loop (nadat ek die laaste paar keer in ‘n sloot langs die huis af moes stap!). Sy het egter gedink die huis lyk soos dit lyk, omdat hulle met die onlangse reën skade gehad het. Ek het haar reggehelp: die huis lyk reeds so sedert September 2012. Toe dog sy ook maar ‘n mens kon mos al lankal hulp gekry het en dalk hou hulle daarvan om so te leef. Maar nou ja, soos ek sê, elkeen vir homself en mag jou eie waansin jou uiters gelukkig maak.

by elizac

ANTWOORD ‘N SOT…

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Antwoord ‘n sot nie na sy sotheid nie. Ek het altyd gedink dit staan iewers in Spreuke, maar toe ek die verwysing gaan naslaan het, kon ek dit nie vind nie. Maar neem dit nou van my: dit bly wyse raad.

Ek het my nou vanaand weer vererg – en ek weet ek moet nie – omdat iemand op Gesigboek skryf dat ‘n mens kanker kan voorkom deur net gesond te eet. Regtig? Ek wonder of julle weet hoeveel mense ek al ontmoet het wat uiters gesond geleef het, aktief aan sport deelgeneem het, so maer soos kraaie is en tog steeds kanker gekry het? Geen dieet kan kanker voorkom nie – dit kan bloot jou risiko verlaag. Daar is ‘n groot verskil tussen kanker voorkom en risiko verlaag. Wat sê iemand wat vas glo dat jy kanker deur jou dieet kan voorkom vir ‘n kind van drie wat kanker het? Of iemand – uiters sportief en gesteld op gesond eet – wat op 20 leukemie kry? Of iemand wat vegetaries leef en op 32 sterf aan kanker? Of ‘n baba van ses maande? As jy kanker gaan kry, gaan jy dit kry. Rook is die enigste ding wat ‘n bewese oorsaak van kanker is, maar om op te hou rook, beteken nie dat jy nooit kanker gaan kry nie. Dit beteken bloot dat jy jou risiko op longkanker en keelkanker verminder.

Skuus, ek was lanklaas hier en nou raas ek al weer. Maar werklik, as jy nog nie in hierdie posisie was nie, hou asseblief op om sulke uitsprake te maak. Jy het nie die kennis nie. Kanker is baie meer ingewikkeld as bloot gesonde dieet.

by elizac

PARTY MENSE MOET LIEWER MAAR ‘N OU VLEISIE EET

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

Dit pynig my as nie-vleiseter om begenoemde stelling te maak, maar dit lyk tog asof sommige mense ‘n ou stukkie vleis of so nodig het om deur die week te kom. Dis asof hulle breine begin krimp sonder die ondersteuning van diereproteïne. Laat my verduidelik:

Maandagoggend sit ek af om tannie Bettie te ontmoet. Ek moet haar hospitaal toe neem. Nou vir die van julle wat nou nie kan onthou wie tannie Bettie is nie, lees http://blogs.litnet.co.za/elizac/2012/11/16/die-zombies-is-met-ons/ . Ek daag mooi tienuur op en stap af by die trappies na die voordeur. Dogter-van-tannie-Bettie maak oop. Sy gee my die motorsleutels om tannie Bettie se stootwiele te gaan uithaal en in my kar te sit. Sy gee ook sommer ‘n klomp inkopiesakke wat mooi in eweredige vierkantjies opgevou is. Daarna is ek weer af by die trappies en verby die kombuis en af met die trappie deur die sitkamer waar die bokse nou glo al van September af opgestapel staan na die vloed. Tannie Bettie se dogter is glo besig om die plek reg te maak, maar glo my, ek kan nie sien dat daar ‘n verskil is nie.

Die papegaai gooi my ‘n hallo – hy is beslis vriendeliker as sy baas.

Dan is ek uit oor die stoepie, af by die trappie, deur die bosse en dan af met die trappies tot by tannie Bettie se houthut. Daar tref ek haar op die agterstoep aan. Sy is besig om haar kat te probeer vang, maar staan net met ‘n langbroek en ‘n bra daar. Ek sê: Kan ek help? Tannie Bettie sê: Die kat sal jou nie toelaat om hom te vang nie. Die kat het een of ander digterlike naam, iets soos Sonnet of Gebroke Rym, en dink hy is NP van Wyk Louw. Net daar gryp ek hom agter die nek en Gebroke Rym vee my met ‘n speldpoot deur die gesig. Liggies. Ek laat my nie van ‘n kat – hoe digterlik nou ook al – onderkry nie en ons maak al die deure en vensters toe terwyl Gebroke Rym steeds in my arms sit.

Nou moet tannie Bettie nog aantrek en so moet sy eers huiwer tussen ‘n warm dingetjie of ‘n koel dingetjie. Op hierdie stadium van my lewe trek ek koel aan en sy voel toe ook so.

Dan is dit weer uit by die voordeur – oppas net dat Gebroke Rym nie uitkom nie! – en skuifel-skuifel op by die trappies, deur die bosse, op met die stoeptrappie, tussen die bokse deur, verby die papegaai (wat weer eens vriendelik groet), by die trappie op en uit by die voordeur. Van die dogter is daar niks te sien nie. Ons gaan die trappies by die voordeur op, loop teen die skuinste na die motor toe, kry vir tannie Bettie en haar handsak in, en laai haar kossak en dokumentesak agterin. Nou’s dit Frere Hospitaal toe. Ja, die staatshospitaal. Daai lelike gebou wat iewers in die sestigers uitgedink is en nog net so lyk.

Eers parkering soek. Ek laai tannie Bettie by die agterste ingang af en sê sy moet solank borskliniek toe gaan; ek kom. Gaan parkeer onwettig en stap deur die doolhowe na die borskliniek. Die borskliniek is in die kelderverdieping. Daar staan tannie Bettie droewig: hier is nie sitplek nie. Ek sê: maar kom ons sit hier om die draai. Nee, seg sy, ek is bang ek hoor nie as hulle roep nie en dan vat hulle iemand anders. Die suster sê: julle kan maar hier sit. Ons weet mos nou sy is hier en ons sal haar kom roep.

Ons sit. Langs ons sit drie verdorde tannies. Die oë is vaal en die lywe ingekrimp. Jy kan sien die lewe het hulle al hard geslaan. Een gaan lê later op die vloer en slaap. Ons wag slegs ‘n uur en ‘n half tot die suster ons kom roep. Nou’s ek agterna. Ek wil mos ook sien wat by Frere se onkologie aangaan.

Daar is twee dogters: ene se naam beteken Vlaggies en die ander een se naam klink soos Potjierol. Tannie Bettie storie haar storie. Dr. Potjierol is die onkoloog. Hy sit later letterlik met sy hande in sy hare. Mevrou, jy moet ‘n besluit neem! is al wat hulle sê. Dr. Vlaggies laat vir tannie Bettie op die bed lê. Hy ondersoek haar. Intussen kla Dr. Potjierol teenoor my, want tannie Bettie weier om hom te spreek – sy wil vir Dr. Vlaggies hê. Ek sê vir hom: moenie daai ou mens onderskat nie. Sy is so skerp soos wat mens kan kry en glad nie onnosel nie. Hy dink sy is ‘n rassis. Eers later het ek uitgevind sy verstaan nie wat hy sê nie, want sy aksent kom nog direk uit Bangladesh of iewers uit.

Dr. Potjierol gaan kyk ook. Hy en Vlaggies gee mekaar veelbetekende kyke oor die bed: die kanker is besig om te versprei, maar as tannie Bettie besluit om ‘n mastektomie te laat doen, kan hulle nog opereer met goeie gevolge. Maar dan moet dit gou gedoen word. Ek vra hoe lank duur dit vandag sy die besluit geneem het tot die operasie plaasvind: ‘n volle maand. Ek sê niks, want ek weet wat dit beteken.

Tannie Bettie sal hulle laat weet. Hulle gee haar Tamoxifen en daar trek ons weer. Die keer is dit die apteek.

By die apteek lyk dit soos Binnelandse Sake lyk wanneer jy vir ‘n ID gaan aansoek doen: mense sit op bankies en wag. Tannie Bettie gaan na ‘n venster toe en probeer sommer dadelik aandag kry. Ek sien dit werk nie so nie. Op die een venster staan daar iets van “short scripts” en op die ander “long scripts”. Wat beteken dit? wil ek weet. Nee, word daar verduidelik. As jy meer as vyf items moet kry, is dit ‘n long script. As jy vyf of minder items moet kry, is dit ‘n short script. Ek wil nog in die “short script” tou gaan staan, maar nee, ons moet glo gaan sit en dan gaan “iemand” die lêers kom kollekteer. Ons gaan sit.

Tannie Bettie lees. Ek hekel en praat met al die mense rondom ons.

‘n Volle uur en ‘n half later vind ek toe uit ons moet nie sit waar ons sit nie – hulle kollekteer net lêers in die oorkantste hoek. Dus gaan sit ek daar. Na so ‘n halfuur kom haal iemand die lêers.

Nou is ek terug by tannie Bettie. Langs haar kom skuif so ‘n maer vroutjie met min tande en ‘n kopdoek in. Tannie Bettie lees. “Vrou!” sê die ou tannie langs haar. “Hoe oud is jy dat jy nog sonder bril kan lees?” “Amper tagtig,” antwoord tannie Bettie. “Jinne!” roep die ander tannie uit. “Dan het die Here jou darem verskriklik geseën! Ek is 73 en ek kan beslis nie sonder ‘n bril lees nie!”

En net daar sit en getuig die tannie teenoor tannie Bettie: sy het glo ‘n maagseer gehad wat gebars het en toe het  die bloed by haar mond uitgestroom en sy het die Here gesien. Sy sê: “Net so! Ek het Hom gesien! En Hy het vir my gesê: dis nog nie jou tyd nie! Jy het nog een ding oor om te doen!” Ek sit en dink: ag aarde, kan tannie Bettie se inkeer tot God nie maar daai laaste ding wees nie? Want tannie Bettie luister tog, al glo sy in geen god nie. So sit en gesels die ou tannie met ons almal: sy vertel hoe baie sy altyd gedrink het; hoe sy op ‘n punt gekom het waar sy die drank letterlik van haar af weggegooi het en gesê het: gaan weg, Satan! En van daar af het sy net nog nooit gedrink nie. Sy praat die mooiste Afrikaans – pleks dat ek dit opgeneem het – en ek sit en verluister my aan haar.

Om half vier kry tannie Bettie uiteindelik haar medikasie en ons gaan winkel toe.

Nou is dit weer ‘n ander ding. Ek koop ‘n paar goedjies, gaan betaal en gaan bêre dit in die motor. Tannie Bettie loop van ry tot ry. Maar eers skeur sy ‘n klomp van daai plastieksakkies af waarin ‘n mens gewoonlik jou groente laat weeg. Sy sit twee sjokolades in die een sak. Sy sit drie joghurts in die ander sak. So vorder ons tot dit later net voor vyfuur is en ons het darem al betaal.

Terug na tannie Bettie se dogter se huis. Hou stil. Gaan haal van die inkopiesakke uit die kattebak, af met die trappies. Die deur staan oop. Dogter is in die sitkamer besig om blindings toe te trek. Die papegaai groet vriendelik. Ek is ewe vriendelik: “Haai jong, jou ma het vreeslik baie inkopies. Kan een van julle dalk kom help?” want manlief se bakkie staan ook daar en hy is mos darem seker sterk en groot genoeg. Die dogter ignoreer my en trek verder blindings toe. Ek gaan help vir tannie Bettie uit die kar. Terwyl ek haar help, kom manlief aan. Hy neem die inkopiesakke. Ek neem vir tannie Bettie terwyl ek elke kort-kort op my horlosie kyk: die kinders se karate begin half ses en ek moet hulle nog gaan op- en aflaai.

En net toe ek vir tannie Bettie by die trappies af het, kom dogter uit. Sy sê: “My ma kan nie van ons verwag om elke keer alles te los waarmee ons besig is net om haar te kom help nie. Ons is besige mense.” En: “Ek weet nie wat jou reëling met my ma is nie, maar ons betaal iemand om haar dorp toe te neem en die inkopies te doen. Wat skuld ons jou?”

Ek probeer nog met haar praat, toe sukkel tannie Bettie hier met my en ek gee eers aandag aan haar. Met die verdwyn dogter die huis in. Manlief kom help om sy skoonma huis in te kry.

Ek het eers op pad huis toe kwaad geraak. Verbeel jou: hulle is te besig om haar ma te help. Wat doen sy die hele dag? Die huis lyk presies nog net soos dit gelyk het toe ek die eerste keer daar aangekom het. Niks het verander nie. Dis vuil en deurmekaar. Sy het nie ‘n werk nie. Sy het nie kinders nie. So wat doen sy? Ek kan nie sien dat daar in die tuin gewerk word nie, want dis ‘n natuurlike bos. En wanneer haar man in die middag by die huis kom, het hy tog sekerlik ‘n ou tydjie om te kom help. Dit gebeur nie elke dag nie.

En wat dink sy nou eintlik doen ek? Besef sy dat ek Maandag by die werk moes afvat om haar ma hospitaal toe te neem? Besef sy dat ek voltyds werk? En het sy nog nooit daarvan gehoor dat ‘n mens iets goeds vir iemand anders doen net om iets goeds te doen nie? Net omdat jy lus het nie? En hoe, dink sy, moet haar ma, ‘n hoogs intelligente mens, voel om dag na dag in haar kamer opgesluit te sit en die enigste ander mens wat sy sien, is iemand wat betaal word om haar winkels toe te vat? Dis tog nie natuurlik nie!

Besef sy dat haar ma dit dalk nie tot die einde van hierdie jaar gaan maak nie?

Dis toe dat ek tot die besluit gekom het: hierdie vrou is ‘n vegetariër, maar vir haar is dit nie gesond nie. Hierdie vrou het ‘n lekker steak nodig. Haar brein word beslis aangetas deur die tekort aan diereproteïne.

 

by elizac

RUS IN VREDE HELEN HARDER

Januarie 15, 2013 in Uncategorized

Helen is vandag oorlede. Sy was 32 jaar oud.

Gaan besoek gerus haar blog hier: http://theharderthebetter.wordpress.com/

by elizac

IN DIE AFWESIGHEID VAN SIN

Desember 3, 2012 in Uncategorized

Die van julle wat dit enigsins kan bekostig, gaan uit na jou naaste boekwinkel en koop Susan Smith se debuutbundel In die afwesigheid van sin. Dit is oor en oor die moeite werd met aangrypende gedigte. Ek gaan probeer om daaroor te skryf. Laat my net eers klaar huil.

Kyk solank hier vir ‘n resensie: http://versindaba.co.za/2012/11/26/resensie-in-die-afwesigheid-van-sin-susan-smith/

by elizac

NET IN DIE OOS-KAAP

November 25, 2012 in Uncategorized

Die Oos-Kaap, en dan veral Oos-Londen, is ‘n plek waar ek my nou reeds die helfte van my lewe bevind. Al het ek aanvanklik gedink ek sal net twee jaar bly en dan “huis toe” skuif. Maar selfs al bly ek reeds so lank hier, is daar talle dinge wat my in verstomming laat, en telkemale sê ek vir myself: Nou het jy alles gesien.  En dan is dit nie waar nie.

So is daar ‘n paar eienaardighede waarmee ek nou al leer saamleef het. Soos die swak bestuurders. Veral hierdie tyd van die jaar is dit of almal nou net mooi ordentlik vies is vir mekaar; dus gebeur daar allerhande vreemde goed. Soos mense wat te lui is om om te ry sodat hulle kan regs draai en dus sommer teen die verkeer in op die regterkantste baan deurskiet om regs te draai. Of die skepsel wat op die N2 die afrit mis en dan summier die voertuig in trurat gooi en agteruitry op die snelweg na die afrit toe. Met sy noodligte aan, net sodat jy darem kan sien daar is ‘n probleem. Of die mense wat altyd in die linkerkantste baan parkeer – ook met noodligte aan. ‘n Mens leer baie vinnig om altyd regs te hou. Flikkerligte is ook bloot vir versiering daar, veral met krismistyd.

Dan is daar ook die tipiese Ingelse klubkultuur waarmee ek nog nie kon vrede maak nie. Woensdagaande en Vrydae en dalk Saterdae word daar gemuurbal (of watter sport jy ookal beoefen) en dan direk daarna begin die steak, eggs and chips, asook die bier. Sekere aande van die week sorg jy maar dat jy vroeg op pad terug huis toe is, sodat jy hierdie skare kan vermy.

Maar gister het ek weer ‘n nuwe ding beleef. Peetkind word genooi vir ‘n verjaardagpartytjie. Dis haar beste, beste vriendin, Lindiwe se verjaardag. Peetma gaan koop die Barbie en gooi haar in ‘n sak, tel vir peetkind op en gaan laai haar af. By Lindiwe se huis gaan daar nog nie veel aan nie, ten spyte daarvan dat ons reeds ‘n kwartier laat is. Lindiwe speel in die agterplaas met haar maatjies op ‘n springkasteel, maar toe ek vra waar die birthday girl is, antwoord ‘n dame uit die kombuis dat dit eintlik Lindiwe se antie is wat verjaar. Ekskuus???? Waarom dan ‘n negejarige nooi vir die partytjie? Antie Enita is glo 40 en Lindiwe het haar maatjies genooi om saam te kom vier. Daar is nêrens ‘n teken van koek of koeldrank nie, maar ek los vir Barbie by antie Enita en gaan huis toe.

Net na vyf gaan haal ek weer vir peetkind. Stap by die voordeur van die baie ghrênd huis in, net om ‘n klomp uitgegroeide mans voor die tiewie aan te tref en die kinders voor ‘n ander tiewie. Hulle gaan nou ‘n video kyk. Almal se gesiggies is pragtig geverf en hulle is al uitgespring en uitgeswem. Ek sê vir peetkind sy moet dankie sê dat ons kan gaan. Nee, nou moet hulle eers die koek uitbring. Hier kom ‘n yslike blou en wit koek uit met “Happy 40th birthday Enita” daarop geskryf en – wat ek aanneem – veertig kerse daarop. Ons sing almal lustig “Happy birthday” en ek sit in met “Mnini emnandi kuwe”. Koek gesny en daarna word die sjampanje oopgemaak.

En toe, en ek wens ek het gelieg, maar dis die waarheid, skink die moeder van die huis vir elke kind ‘n halwe glas sjampanje! Ek het peetkind geroep en my kop geskud vir nee. Sy is nege. Haar maatjies is nege. Daar was kindertjies van vyf en van ses teenwoordig. Almal het sjampanje gekry. Ek het op daardie stadium vir peetkind onder my vlerk gesit en gesê sy moet die anties bedank en ons moet ry. Lindiwe se ma het vir haar ballonne gegee en die verpligte “party pack” vir dogtertjies.

Aan geld was daar beslis nie tekort nie. Peetkind het ringe en armbandjies en ‘n sonbril en weet-nie-wat- alles-nie uit daardie party pack gelig.

Maar common sense? Beslis nie.

by elizac

Tannie Bettie (opvolg)

November 20, 2012 in Uncategorized

Ek het tannie Bettie toe Vrydagaand gebel en gevra na watter kerk haar dogter gaan. Antwoord: geen kerk nie. Die godsdiensding is nou glo ‘n nuwe ding. Toe sê ek maar vir haar ek is baie bekommerd, en is eintlik op soek na iemand wat haar kan rondry as sy die behoefte het.

Vanaand bel sy hier: weet jy, sê sy, ek het iemand gekry wat bereid is om my winkels toe te neem en dokter toe as ek dit nodig kry. Dis tannie Marie se dogter.

Ek ken vir tannie Marie. Ek ken nie die dogter nie, maar ek glo hierdie keer is tannie Bettie in goeie hande.

by elizac

DIE ZOMBIES IS MET ONS

November 16, 2012 in Uncategorized

Ja, ek weet ek is ‘n bietjie laat met die Halloweenstories, maar Halloween het vanjaar laat my kant toe gekom. Gewoonlik glo ek nou nie in goed soos zombies nie, maar ek het lank oor hierdie een gedink en dis moontlik die beste verklaring.

Ek dink regtig daar staan “MOER MY” op my voorkop geskryf, want anders kan ek nie verduidelik hoekom ek gereeld in vreemde situasies beland nie. Ek is seker ek lyk vir ‘n sekere tipe mens net soos ‘n baie groot teiken. En gewoonlik beland ek in hierdie situasie uit die goedheid van my hart en is dan stomverbaas oor die ander persoon se reaksie. (Wat sê die Ingelse van die Road to hell en good intentions?)

So word ek verlede Vrydag gebel deur ons plaaslike CANSA-dame. Sy het ‘n oproep gekry van ‘n ouerige Afrikaanse dame. Die het nou kanker en sy sal graag die ondersteuningsgroep se vergadering wil bywoon. Maar ek moet die tannie bel en ‘n afspraak maak en dan moet ek die foon laat lui tot die antwoordmasjien aangaan, en dan moet ek neersit, en dan moet ek weer bel, en dan sal die tannie antwoord, want sy loop met ‘n loopraam en dit vat haar lank om tot by die foon te kom. Sy gee die tannie se naam vir my. Kom ons noem haar Bettie Vermaak.

Nou, Oos-Londen is baie klein, veral wat die Afrikaanse gemeenskap betref en gewoonlik het ‘n mens nogal ‘n idée van wie is wie in die gemeenskap. En ek het al met tannie Bettie Vermaak te doene gekry, seker so goed tien jaar gelede. Op daardie stadium het sy kliphard probeer om die Oos-Londonners ‘n bietjie kultuur aan te leer, maar ek dink haar pogings het op klipgrond geval. Sy is ook bekend in kultuurkringe in die Baai, en klink my sommer ook in die res van Suid-Afrika. Sy gooi die name rond van mense wat sy ken. Ek luister. En so vertel sy my sommer haar hele lewensverhaal: van die twaalf moeilike jare met ‘n psigopaatman, van haar breuk met die kerk, van haar vele ondersteuningsgroepe waarmee sy haarself besig gehou en van haar stryd om vier kinders groot te kry.

Ons maak ‘n afspraak vir hierdie Dinsdag, want soos die noodlot dit nou wil hê, is Dinsdag Reik-na-Herstel se laaste vergadering van die jaar en ek kan vir ‘n slag dit bywoon. Ek sal haar kwart voor 2 optel. Maar, waarsku sy, ek moet versigtig wees vir die afdraend na die huis toe, en die huis het nie ‘n heining voor nie.

Intussen vergeet ek bietjie van my afspraak met Bettie Vermaak, maar onthou Dinsdagoggend weer. Ek is hondsiek van ‘n virus wat my beetgepak het en as ek opstaan, wil ek omval. Maar ‘n belofte is ‘n belofte en ‘n medekankerlyer in nood is ‘n persoon in nood. Dus sweef ek in my supersoniese Amerikaanse karretjie na die adres toe. Ja, dit moet die huis wees: geen heining nie, steil afdraend na die garage toe, maar ek het al erger gesien en trappies sonder reëlings tot by die voordeur. Dinge lyk so ‘n bietjie donker, maar dis nie my tuin nie en het dus niks met my uit te waai nie.

Die deur gaan oop en daar staan Bettie Vermaak: ‘n kromgetrekte tantetjie (sy is nie ‘n tannie nie) staan in die deur en leun oor haar kierie. Agter haar is die dogter met styfgetrekte hare en rooi waterstewels aan. “Og,” maak ek praatjies in my mooiste Afrikaans. “Hoe hanteer jy hierdie trappe?” “Nee,” sê sy, “as mens mos in die pad is, kan jy nie kla nie.” Daai dogter raak al hoe besiger en ek dog, alla, dis mos nou nie iets wat ‘n mens vir ‘n vreemdeling sê nie. Maar ek dink toe miskien is hulle nou net bietjie moeg vir mekaar en is die dogter uitgeput na ‘n moeilike jaar en het sy ‘n bietjie van ‘n ruspose nodig. Dis tog goed dat ek die ma uitvat vir ‘n tydjie. Dogter sê ek moet asseblief maar boontoe parkeer wanneer ek terugkom, die pad is te steil en rol yslike klippe met haar klein lyfie voor my kar in.

Dit neem ons seker goed tien minute om die sowat vyf meter vanaf die voordeur tot by die kar te stap. Intussen ruk die dogter haar ma se loopraam uit haar kar uit en  sukkel dit in my kar in. Sy lyk behoorlik soos ‘n waterstewelkryger. Maar sy help die ma nie en self is ek ietwat swak en vol kieme.

Metterwoon is ons daar weg, ek en Bettie woon die vergadering by, ons drink tee en eet koek en meer as twee ure later is ons weer op pad terug huis toe. Spitsverkeer in Oos-Londen, maar ons het toe net so voor die ergste die pad kon vat. Al waaraan ek kan dink, is dat ek darem nou baie graag by die huis sal wil kom en wil gaan slaap. Ek is pap.

Terug by Bettie se woonplek bel ek die dogter om haar ma te kom haal. Maar die foon lui net. Ek parkeer maar weer die kar teen die afdraend (so steil is dit nou ook nie) en klim uit en haal solank die loopraam uit. Hier kom die dogter aan, maar sy stap so heen-en-weer. Eers stap sy tot by die kar en gaan staan met haar vinger teen my bors: “Sê jy nou net vir my: wat se leuens het my ma nou weer vir jou hierdie hele tyd oor my vertel!” Ek is skoon verstom, maar ek dog toe nou kom ons praat rustig, want hoe gouer ek nou vir Bettie uit die kar het, hoe gouer kan ek huis toe gaan.

“Weet jy,” sê ek, “ons was nou by ‘n vergadering en ons het werklik nie tyd gehad om veel te praat nie.”

“Sy lieg mos vir mense!” sê die dogter. “Vertel allerhande leuens! Sy is ‘n intelligente vrou en dan maak sy stories op en vertel dit vir ander!”

Nou kyk ek haar. In my kop bereken ek allerhande redes vir die vrou se – vir my – onvanpaste optrede. Intussen sit Bettie nog in die kar en kan nie uitkom nie, want die dogter staan aan die ander kant van die deur.

Ek sê vir haar: “Lyk my jy is kwaad.”

“Ja!” sê sy. “Jy sou ook kwaad gewees het! Hier kom mense na jou huis toe en hulle beledig jou!”

Ek sê: “My skat, waarvan praat jy?” want toe wil dit al vir my lyk asof sy vir my beskuldig.

“Moenie vir my skat sê nie!” sê sy. “Jy kom hier na my huis toe en dan beledig jy my trappe!” Die vinger gaan lug toe: “Jy sal met God moet praat! Jy sal moet regmaak met die Here!” Ek maak my mond oop en daai vinger waai weer lug toe. Gelukkig is dit die voorvinger en nie die middelvinger nie: “Nee! Moenie met my praat nie! Praat met die Here! As jy iets te sê het, sê dit vir die Here!” Ek sê vir haar: “Dalk moet jy met die Here praat.” “Ek praat elke dag met die Here! Elke dag! Die hele tyd,” skree sy. En sy stap weer weg na haar voertuig toe. Bettie probeer die saak beredder, maar daar is geen salf aan die dogter te smeer nie. Ek kan sien die tannie sink behoorlik weg in die voorste sitplek van skaamte.

“Weet jy,” sê ek, uiterlik kalm, maar in my siel borrel die onrus, “God het gesê as daar iets verkeerd is tussen ons moet ons dit eers onder mekaar uitsorteer voordat ons na Hom toe gaan.”

Sy kom weer aangestap na my toe (gelukkig is die kar se deur nog tussen haar en my), kruis haar arms oor haar bors en sê: “Nou toe, praat!”

“Ek is vreeslik jammer as ek jou trappe beledig het,” sê ek so kalm as moontlik, maar in my kop woer dit van Wat De Hel? Is ek regtig besig om om verskoning te vra omdat iemand dink ek het haar trappe beledig? “Ek het werklik nie bedoel om aanstoot te gee nie.”

“Stop net daar,” skree sy. Ek kan sien sy is beslis nog nie afgekoel nie, maar dit lyk my nie sy weet wat om verder te sê nie. Toe sien sy die volgende teiken raak: mammie. Met die kom sy om die kardeur en gaan buk so by haar ma met haar vinger teen haar ma se bors: “En nou vra jy hierdie vrou om verskoning vir wat jy gesê het!”

Ek sê vir haar: “Weet jy, ek is regtig baie siek en ek wil graag by die huis kom. Jou ma het nie nodig om my om enigiets verskoning te vra nie.”

“Ja!” sê sy. “Sy’t gesê ‘n mens is in die pad!”

“Ek weet mos jy wil my nie hier hê nie,” sê Bettie. “Dis ek wat in die pad is. Ek weet dit mos.”

Ek val weer in: “Jou ma hoef nie vir my om verskoning te vra nie. Sy het niks gesê waaroor ek aanstoot geneem het nie.”

En so help die dogter darem toe vir ma uit die kar uit.

Ek het huis toe gery en sommer in die kar al aan die huil geraak. Gister by my dokter om hulp gaan vra. Hy sê dit klink vir hom of die vrou een of ander psigose het – al die tekens is daar.

Intussen bly Bettie by die dogter. Klaarblyklik het die dogter nog Dinsdagmiddag die een en ander te sê gehad oor my.

Dis sulke tye dat ek wens ek kon ook soos daai Amerikaanse vroue op die tiewie my lyf so orent trek en my borste ophyg na bo en dan ‘n uitgedraaide “EXCUUUUUUUUUSE MEEEEE!” laat los. Met my borskas in my slagoffer se gesig.

Maar dit sal nou nie werk nie. In elk geval is daar mos nie veel van my borskas oor nie.

Ek probeer al twee dae lank sin maak uit die voorval. En miskien is die antwoord dat daar geen sin is nie. Dr Phil sê mos altyd: Their is no sense in nonsense.

Maar as jy my vra of ek in zombies glo, sal ek jou na ‘n huis hier naby vat. Ene met ‘n donker tuin, ‘n steil afdraend en trappies sonder reëlings.

by elizac

FEIT VERSUS OPINIE

Oktober 9, 2012 in Sonder kategorie

Julle ken seker almal die een: wat is die verskil tussen ‘n feit en ‘n opinie? As ‘n vrou sê: dis my kind, is dit ‘n feit. As ‘n man sê: dis my kind, is dit ‘n opinie.

Seker deesdae nie meer heeltemal so maklik nie. Ek sê ook maklik met oortuiging: dis my kind, terwyl ek weet ek het nie aan hom geboorte geskenk nie.

Maar ek het darem nog nooit na my kat as my kind verwys en na my as haar mamma nie.