Jy blaai in die argief vir 2020 Februarie.

by elizac

Tien Jaar Later

Februarie 13, 2020 in Uncategorized

Ek moet dus feesvier. Het die laaste vyf jaar slegs jaarliks vir die mammogram en sonar en x-strale gegaan. Die grootste vrees is mos maar altyd dat die gogga sal terugkom. Het selfs ‘n jaar of wat terug’ n knop in die ander bors gekry en dit laat ondersoek. Geen probleem nie.

Hierdie jaar was nie anders nie. Hierdie jaar het ek – soos gewoonlik – die afsprake gemaak: sesmaandelikse afspraak by my dokter vir die skildklier en die yster en vitamine B en vitamine D. Daarna papiere vir mammo en “bloede” (dis nou die bloedtoetse) by die onkoloog. Afspraak vir mammogram. Afspraak by onkoloog. Ag wag, onkoloog is met kraamverlof; ons maak sommer die afspraak by die gp van onkologie. Geen probleem nie.

Behalwe dat daar nou wel ‘n probleem is. ‘n Anomalie op die mammogram en die radioloog wat nie weet wat dit is nie, maar dis “suspisieus”. Iets wat lyk soos ‘n limfklier. Anders as wat dit moet.

Dus was dit terug na my dokter – sy het voorheen by onkologie gewerk en ken my geskiedenis – en toe na die sjirurg wat nie die kolle kan opspoor vir ‘n biopsie nie en uiteindelik vandag terug na die radioloog, wat, anders as die vorige keer, die plek doodspuit en met sonar die nodule opspoor en vir my wys hoe die naald ingaan, ens.

En nou kom die wag vir die uitslae.

Wat se my gut? Ek weet nie. Ek hoop dis te doen met die feit dat ek ook verlede week met Hashimotos gediagnoseer is, en dat my liggaam my skildklier aanval, en dat kliere seel, omdat hulle infeksie beveg.

Ek wil nie weer kanker he nie. Ek wil tien jaar kankervry vier!