Profile photo of elizac

by

DIT GAAN ROF HIER

November 16, 2014 in Uncategorized

Julle ken seker almal die storie van die hond en die perd en die donkie en die bobbejaan en die mens, en hoe elkeen mos gekies het hoeveel jaar hy op aarde wou spandeer. Nou ja, ek is nou in perd se jare. Amptelik. Dus gaan dinge maar rof, want as iemand net vir jou vra om werk te doen, dan sê jy ja en jy gaan sit en jy doen dit. Al verstaan jy nie altyd die sin daarvan nie. Dis nou soos dit hierdie jaar met my gegaan het.

En ek kla nie. NIe regtig nie. Ek geniet die dinge wat na my toe kom: studiegidse en handboeke en studiegidse en ekstra werk by nog ‘n universiteit hier in die dorp. Die keer het ek Afrikaans gegee vir wonderlike, snaakse studente. Ek het dit so geniet. Die kinders hou ‘n mens regtig jonk.

Ook was ek bevoorreg genoeg om vir ‘n kongres in Lissabon te gaan en ‘n referaat daar te lewer. Daar is ook ‘n kans dat ons referaat deel kan word van ‘n boek – ons wag nog om te hoor wat gaan gebeur, maar die referaat is reeds aanlyn beskikbaar. Die finale weergawe moet nog gepubliseer word, maar die “draft” is reeds daar. Dit is maar vervelig, maar dit was ‘n uiters interessanate kongres wat op ‘n nuwe, vars manier aangebied is – nie hierdie gelees van referate nie, maar ons aanbieding moes ‘n totaal nuwe ding gewees het. Plus ek het Lissabon gesien en Vasco da Gama se graf, asook Barcelona vir ‘n week. Daaroor moet ek ook nog ‘n storie skryf. Wat ‘n ongelooflike stad! Kyk net na hierdie blog om die mooiste foto’s van die stad te sien.

Môre gaan ek in vir ‘n skoueroperasie – ek het ‘n ligament geskeur, kan julle dit glo? Nou vertel ek vir almal dis ‘n sportbesering… Het mos gaan swem en gevoel my skouer maak so krrr, krrr, maar toe gaan swem ek net meer en langer. My sjirurg sê dis wear and tear, maar ek gaan nie vir enigiemand dit vertel nie! Klaarblyklik is die operasie erg pynlik, maar my pyndrumpel is mos relatief hoog. Kom ons hoop dit help. Ek het eintlik gedink hulle gaan net ‘n naald en gare vat en die skeurtjie toewerk, maar nee, nou moet hulle skroewe insit en die ligament anker. Hy beter lank geanker bly!

Intussen het ek ook 50 geword en het die hele dag lank gevier. Vyf jaar terug het ek nie geweet of ek dit gaan maak nie en kyk, hier is dit al amper vyf jaar sedert ek met kanker gediagnoseer is. Dit was ‘n lang pad en ene wat ek vir niemand toewens nie, maar omdat ek dit gestap het, kan ek vandag ook vir ander wat besig is om die pad te stap, aanmoedig. As dit nou nie te soetsappig klink nie.

En dis dit! Hopelik kry ek tyd voor Krismis om weer bietjie hier rond te krap. My sperdatum is 30 November!

2 antwoorde op DIT GAAN ROF HIER

  1. Bly dat dit so goed gaan. Geluk met die referaat, sterkte met die operasie. Jy sal sien dat hier min bloggers oor is. Die meeste nou by WordPress, maar sommige lees nog hier.

  2. Dis so gaaf om jou weer hier raak te lees. Vyftig is sommer nog spring chicken – dus is die skouer verseker ‘n sportbesering 🙂 Sterkte met die operasie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.