by

DIT MOET VRYDAG DIE DERTIENDE WEES

September 13, 2013 in Uncategorized

My lewe by die werk grens dikwels aan die belaglik. Maar vandag oortref weer ander dae in terme van waansin.

Vir absoluut jare het ons ‘n oulike teekamer gehad waar ons tee kon gaan drink vanaf kwart oor tien tot half elf. Ons kon ook middagetes daar kry teen ‘n gesubsidieerde prys vanaf so kwart voor 1 tot 2h elke dag. En ons is bedien deur ‘n kelner. As ek hard dink, sal ek waarskynlik nog sy naam onthou. Na ‘n klompie jare het die universiteit (daardie tyd technikon) se klasse so uitgebrei, dat ons ook oor middagetes begin klas gee het. Dit het veroorsaak dat ‘n mens nie altyd op die voorgeskrewe tye vir jou middagete kon gaan nie. Ook het ‘n ander spysenier oorgeneem en hulle manier van kos maak het nou nie altyd met die Westerse smake ooreengestem nie. Plus ek hou daarvan as my kos goed lyk en soms lyk dit eienaardig, al smaak dit lekker – baie vol fiemies!

Nietemin, die idee was daar. Ek kon gaan tee drink het as ek wou en ek kon gaan eet het as ek wou. Meestal kon ek net op ‘n Woensdag gaan tee drink het, aangesien my klasse grotendeels deur teetyd plaasvind.

So ‘n maand of drie gelede het ons gehoor dat ons van nou af vir ons eie tee sal moet betaal, aangesien die spysenieringsmaatskappy ‘n massiewe bedrag vra om vir die vyf of ses mense wat wel tee of koffie drink te voorsien. Dit op sigself is nie vir my ‘n probleem nie. Ek is heeltemal bereid om vir ‘n koppie tee of twee een keer ‘n week te betaal. Maar toe hoor ons, ons sal R10 moet betaal vir ‘n tee/koffie wat ons self moet maak. Dit is ek nie bereid om te doen nie. R5, ja, maar nie R10 nie. Dit betaal ek hier by ons in ‘n restaurant en dan word ek bedien met ‘n pot tee. Plus suiker en regte melk.

Vandag stap ek toe af om te gaan kyk of ek kan tee kry en watter van die stories waar is. Ek word begroet met ‘n leë teetafel. Geen koppies. Geen pierings. Geen lepels. Om nie eens te praat van tee en suiker nie. Of melk. ‘n Vriendelike, onbekende man begroet my. Hy sal gaan uitvind of ek kan tee kry. Kom hy terug: “Ja, jy kan ‘n teesakkie kry teen R1,90 en ‘n pakkie suiker vir 50c.” Hy weet nie of ek sal kan water kry nie. Eers terug kombuis toe om te vra. Die water is glo verniet. En melk? Ja, hulle het Cremora. Ek soek nie Cremora in my tee nie. As ek wil sleg tee drink, hoef ek nie daarvoor te betaal nie. Hy sal gaan vra. Terug kombuis toe. Hy kom terug. Nee, ek mag nie melk kry nie. Teen die tyd het ek al amper trane in my oë. Hy belowe hy sal met die persoon in beheer praat en as hy nie met haar enige vreugde verkry nie, sal hy met iemand hoër op praat.

En nou? Waar moet ek nou ‘n koppie tee kry? Ek het al voorheen my eie teesakkies en suiker saamgekarring – selfs my eie teeketel in die kantoor gehad. Die probleem is dat ons kantoortjie klein is en daar is nie veel plek vir ekstras nie. (Ek sluit ‘n foto van my kantoor in dat iemand my moet jammer kry – en ek het ‘n “goeie” kantoor!) En is die idee van ‘n teetyd dan nie dat jy met jou kollegas moet interact nie? Net so ‘n bietjie van ‘n breuk vat voordat jy jou weer hart en siel in jou werk werp nie?

Ek sal ‘n plan moet maak. Mens het mos darem so af en toe lus vir ‘n teetjie. En teen dié tyd is ek al meer as gewoond daaraan om planne by die werk te maak.

NS. Ons is terug by die werk. Na sewe weke se staking. Vra my hoekom dit so lank geduur het. Dalk skryf ek daaroor in ‘n ander blog?

13 antwoorde op DIT MOET VRYDAG DIE DERTIENDE WEES

  1. vega het gesê op September 13, 2013

    Jinne dis belaglik. By die skole betaal jy ‘tea fund’, maar ten minste kan jy lekker in ‘n personeelkamer kuier en daar word tee gemaak en jy kan heerlike warm koffie kry en op lekker stoele sit en jou voete vir ‘n halfuur laat rus. En jy kry heerlike kos te koop by die tuck shop. Hoe meer ek daaroor dink hoe meer ontstoke voel ek vir jou part.

  2. tina10 het gesê op September 13, 2013

    Mmmmm as julle staak is daar mos ook nie tee nie? 😆

    • elizac het gesê op September 13, 2013

      By die huis, ja! En toe ek verlede week gaan skoolhou het (Ja!), kon ek drie keer per dag tee drink! Het nou gewoond geraak aan ‘n ou teetjie. Vir wat moet mens jou so straf dat jy vieruur of vyfuur in die middag eers jou eers tee kan drink?

      • tina10 het gesê op September 14, 2013

        Mens besef eers hoeveel daardie klein dingetjies wat ‘n personeel saambind beteken as dit nie meer daar is nie.
        Sterkte

        • elizac het gesê op September 14, 2013

          Ja, nogal. Ek wil nie eintlik kla nie – ek hou steeds van my werk, maar na twintig jaar begin ek nou regtig beneuk raak oor alles wat so maklik reggestel kan word!

  3. Jis maar mense is simpel – hierdie klein goedjies is wat die verskil by ‘n werksplek maak – en dit kos regtig nie veel nie – is daar ‘n aparte teekamer vir admin mense?

    • elizac het gesê op September 13, 2013

      Nee, niks nie. Ons maak maar planne en bring tee en koffie werk toe. Maar dan moet jy oor jou rekenaar sit en tee drink.

  4. Jinne dis belaglik
    Ja hier by ons het ons ook geen koffie of tee van ‘n dag oud nie
    Moet vir jouself sien kom klaar

    Maar die management koop hulle koffie en koekies uit petty cash…sien nou die dag dat hulle sommer party ook hou met die petty cash

  5. Ag nee, dis goor, eintlik regtig BELAGLIK!!!!

  6. Vertel ons asseblief nog van die staking op jou onderhoudende manier? Teetyd is wanneer mens uitvind wat in die lewe van jou kollegas aangaan, sodat jy hulle met deernis of geduld kan bejeën. Vandat ons nie meer saam teedrink nie, ken ons mekaar skaars…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.