by

MY GESONDHEID – ‘N UPDATE

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Intussen is ek hopelik steeds gesond en sien die onkoloog nou elke ses maande. Ja, in Januarie het ek my laaste Zoladex gehad en dit moes hier rondom 15 April uit my sisteem gewees het. So raak ek al hoe dikker en toe die skildklierpille nie juis ‘n verskil maak nie, gaan koop ek daar vir my ‘n natuurlik produk genaamd “Thyroid Support Formula”. En daar is ek niks lus vir tjoklits nie en niks lus vir soetgoed nie en ek verloor 5kg sonder om werklik te probeer. Tot ek die botteltjie se etiket lees en sien dit sê spesifiek jy mag dit slegs onder ‘n dokter se toesig gebruik as jy op Tamoxifen is. Skrik my natuurlik gedaan en hou op, en nou kan ek met gemak ‘n blikkie kondensmelk opeet. Of ‘n bak fudge. Sonder om te naar te word. Dalk moet ek maar ‘n draai by onkologie gaan maak en uitvind of ek die aanvulling mag gebruik. My onkoloog is eintlik baie ontspanne oor sulke goed, maar ‘n mens weet nooit nie. Dis net, ek wou so graag nog 5 kg verloor het voor einde Junie, en soos ek nou aangaan, tel ek elke gram weer op. Dink ek moet sommer môre ‘n draai by die apteek gaan maak.

Verder het ek ook baie mylpale gehad: drie jaar na die mastektomie, drie jaar  na die eerste chemo, drie jaar na die eerste Zoladex… En toe vergeet ek skoon om dit te herdenk. Ek het darem die mastektomiedatum saam met ‘n vriendin gevier, maar die ander het gekom en gegaan sonder dat ek opgelet het. Eers ‘n week of twee na die tyd onthou. Dit wys net hoe die lewe aangaan. Selfs van kanker kan mens soms so ‘n bietjie vergeet.

6 antwoorde op MY GESONDHEID – ‘N UPDATE

  1. Dis goed om die mylpale te haal!

  2. ek-myself het gesê op Mei 6, 2013

    3 jaar, positief en sterk – ek lig my hoed!!!! Sterkte vir die pad vorentoe en maak maar seker van dai pilletjies!

    • elizac het gesê op Mei 7, 2013

      Ek is baie in die versoeking om dit weer te begin gebruik… Sien eers die onkoloog weer in Julie. Teen daai tyd rol ek die huis uit.

  3. lora2me het gesê op Mei 6, 2013

    Ek is bly jy is gesond. Dit wys jou nou net hoe vinnig daardie gevreesde maande verbygevlieg het … maar natuurlik net as jy nou terugkyk. Jy inspireer ander met jou energie.

    • elizac het gesê op Mei 7, 2013

      My energie bietjie op op die oomblik. Dis mos Meimaand – sleg tyd in akademikus se lewe!

  4. klarisabet het gesê op Mei 7, 2013

    Soos dit my lyk ‘celebrate’ jy dit mos elke dag {-;

    Ek is bly jy is gesond. Wat is ‘n paar kilogramme nou…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.