by

PARTY MENSE MOET LIEWER MAAR ‘N OU VLEISIE EET

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

Dit pynig my as nie-vleiseter om begenoemde stelling te maak, maar dit lyk tog asof sommige mense ‘n ou stukkie vleis of so nodig het om deur die week te kom. Dis asof hulle breine begin krimp sonder die ondersteuning van diereproteïne. Laat my verduidelik:

Maandagoggend sit ek af om tannie Bettie te ontmoet. Ek moet haar hospitaal toe neem. Nou vir die van julle wat nou nie kan onthou wie tannie Bettie is nie, lees http://blogs.litnet.co.za/elizac/2012/11/16/die-zombies-is-met-ons/ . Ek daag mooi tienuur op en stap af by die trappies na die voordeur. Dogter-van-tannie-Bettie maak oop. Sy gee my die motorsleutels om tannie Bettie se stootwiele te gaan uithaal en in my kar te sit. Sy gee ook sommer ‘n klomp inkopiesakke wat mooi in eweredige vierkantjies opgevou is. Daarna is ek weer af by die trappies en verby die kombuis en af met die trappie deur die sitkamer waar die bokse nou glo al van September af opgestapel staan na die vloed. Tannie Bettie se dogter is glo besig om die plek reg te maak, maar glo my, ek kan nie sien dat daar ‘n verskil is nie.

Die papegaai gooi my ‘n hallo – hy is beslis vriendeliker as sy baas.

Dan is ek uit oor die stoepie, af by die trappie, deur die bosse en dan af met die trappies tot by tannie Bettie se houthut. Daar tref ek haar op die agterstoep aan. Sy is besig om haar kat te probeer vang, maar staan net met ‘n langbroek en ‘n bra daar. Ek sê: Kan ek help? Tannie Bettie sê: Die kat sal jou nie toelaat om hom te vang nie. Die kat het een of ander digterlike naam, iets soos Sonnet of Gebroke Rym, en dink hy is NP van Wyk Louw. Net daar gryp ek hom agter die nek en Gebroke Rym vee my met ‘n speldpoot deur die gesig. Liggies. Ek laat my nie van ‘n kat – hoe digterlik nou ook al – onderkry nie en ons maak al die deure en vensters toe terwyl Gebroke Rym steeds in my arms sit.

Nou moet tannie Bettie nog aantrek en so moet sy eers huiwer tussen ‘n warm dingetjie of ‘n koel dingetjie. Op hierdie stadium van my lewe trek ek koel aan en sy voel toe ook so.

Dan is dit weer uit by die voordeur – oppas net dat Gebroke Rym nie uitkom nie! – en skuifel-skuifel op by die trappies, deur die bosse, op met die stoeptrappie, tussen die bokse deur, verby die papegaai (wat weer eens vriendelik groet), by die trappie op en uit by die voordeur. Van die dogter is daar niks te sien nie. Ons gaan die trappies by die voordeur op, loop teen die skuinste na die motor toe, kry vir tannie Bettie en haar handsak in, en laai haar kossak en dokumentesak agterin. Nou’s dit Frere Hospitaal toe. Ja, die staatshospitaal. Daai lelike gebou wat iewers in die sestigers uitgedink is en nog net so lyk.

Eers parkering soek. Ek laai tannie Bettie by die agterste ingang af en sê sy moet solank borskliniek toe gaan; ek kom. Gaan parkeer onwettig en stap deur die doolhowe na die borskliniek. Die borskliniek is in die kelderverdieping. Daar staan tannie Bettie droewig: hier is nie sitplek nie. Ek sê: maar kom ons sit hier om die draai. Nee, seg sy, ek is bang ek hoor nie as hulle roep nie en dan vat hulle iemand anders. Die suster sê: julle kan maar hier sit. Ons weet mos nou sy is hier en ons sal haar kom roep.

Ons sit. Langs ons sit drie verdorde tannies. Die oë is vaal en die lywe ingekrimp. Jy kan sien die lewe het hulle al hard geslaan. Een gaan lê later op die vloer en slaap. Ons wag slegs ‘n uur en ‘n half tot die suster ons kom roep. Nou’s ek agterna. Ek wil mos ook sien wat by Frere se onkologie aangaan.

Daar is twee dogters: ene se naam beteken Vlaggies en die ander een se naam klink soos Potjierol. Tannie Bettie storie haar storie. Dr. Potjierol is die onkoloog. Hy sit later letterlik met sy hande in sy hare. Mevrou, jy moet ‘n besluit neem! is al wat hulle sê. Dr. Vlaggies laat vir tannie Bettie op die bed lê. Hy ondersoek haar. Intussen kla Dr. Potjierol teenoor my, want tannie Bettie weier om hom te spreek – sy wil vir Dr. Vlaggies hê. Ek sê vir hom: moenie daai ou mens onderskat nie. Sy is so skerp soos wat mens kan kry en glad nie onnosel nie. Hy dink sy is ‘n rassis. Eers later het ek uitgevind sy verstaan nie wat hy sê nie, want sy aksent kom nog direk uit Bangladesh of iewers uit.

Dr. Potjierol gaan kyk ook. Hy en Vlaggies gee mekaar veelbetekende kyke oor die bed: die kanker is besig om te versprei, maar as tannie Bettie besluit om ‘n mastektomie te laat doen, kan hulle nog opereer met goeie gevolge. Maar dan moet dit gou gedoen word. Ek vra hoe lank duur dit vandag sy die besluit geneem het tot die operasie plaasvind: ‘n volle maand. Ek sê niks, want ek weet wat dit beteken.

Tannie Bettie sal hulle laat weet. Hulle gee haar Tamoxifen en daar trek ons weer. Die keer is dit die apteek.

By die apteek lyk dit soos Binnelandse Sake lyk wanneer jy vir ‘n ID gaan aansoek doen: mense sit op bankies en wag. Tannie Bettie gaan na ‘n venster toe en probeer sommer dadelik aandag kry. Ek sien dit werk nie so nie. Op die een venster staan daar iets van “short scripts” en op die ander “long scripts”. Wat beteken dit? wil ek weet. Nee, word daar verduidelik. As jy meer as vyf items moet kry, is dit ‘n long script. As jy vyf of minder items moet kry, is dit ‘n short script. Ek wil nog in die “short script” tou gaan staan, maar nee, ons moet glo gaan sit en dan gaan “iemand” die lêers kom kollekteer. Ons gaan sit.

Tannie Bettie lees. Ek hekel en praat met al die mense rondom ons.

‘n Volle uur en ‘n half later vind ek toe uit ons moet nie sit waar ons sit nie – hulle kollekteer net lêers in die oorkantste hoek. Dus gaan sit ek daar. Na so ‘n halfuur kom haal iemand die lêers.

Nou is ek terug by tannie Bettie. Langs haar kom skuif so ‘n maer vroutjie met min tande en ‘n kopdoek in. Tannie Bettie lees. “Vrou!” sê die ou tannie langs haar. “Hoe oud is jy dat jy nog sonder bril kan lees?” “Amper tagtig,” antwoord tannie Bettie. “Jinne!” roep die ander tannie uit. “Dan het die Here jou darem verskriklik geseën! Ek is 73 en ek kan beslis nie sonder ‘n bril lees nie!”

En net daar sit en getuig die tannie teenoor tannie Bettie: sy het glo ‘n maagseer gehad wat gebars het en toe het  die bloed by haar mond uitgestroom en sy het die Here gesien. Sy sê: “Net so! Ek het Hom gesien! En Hy het vir my gesê: dis nog nie jou tyd nie! Jy het nog een ding oor om te doen!” Ek sit en dink: ag aarde, kan tannie Bettie se inkeer tot God nie maar daai laaste ding wees nie? Want tannie Bettie luister tog, al glo sy in geen god nie. So sit en gesels die ou tannie met ons almal: sy vertel hoe baie sy altyd gedrink het; hoe sy op ‘n punt gekom het waar sy die drank letterlik van haar af weggegooi het en gesê het: gaan weg, Satan! En van daar af het sy net nog nooit gedrink nie. Sy praat die mooiste Afrikaans – pleks dat ek dit opgeneem het – en ek sit en verluister my aan haar.

Om half vier kry tannie Bettie uiteindelik haar medikasie en ons gaan winkel toe.

Nou is dit weer ‘n ander ding. Ek koop ‘n paar goedjies, gaan betaal en gaan bêre dit in die motor. Tannie Bettie loop van ry tot ry. Maar eers skeur sy ‘n klomp van daai plastieksakkies af waarin ‘n mens gewoonlik jou groente laat weeg. Sy sit twee sjokolades in die een sak. Sy sit drie joghurts in die ander sak. So vorder ons tot dit later net voor vyfuur is en ons het darem al betaal.

Terug na tannie Bettie se dogter se huis. Hou stil. Gaan haal van die inkopiesakke uit die kattebak, af met die trappies. Die deur staan oop. Dogter is in die sitkamer besig om blindings toe te trek. Die papegaai groet vriendelik. Ek is ewe vriendelik: “Haai jong, jou ma het vreeslik baie inkopies. Kan een van julle dalk kom help?” want manlief se bakkie staan ook daar en hy is mos darem seker sterk en groot genoeg. Die dogter ignoreer my en trek verder blindings toe. Ek gaan help vir tannie Bettie uit die kar. Terwyl ek haar help, kom manlief aan. Hy neem die inkopiesakke. Ek neem vir tannie Bettie terwyl ek elke kort-kort op my horlosie kyk: die kinders se karate begin half ses en ek moet hulle nog gaan op- en aflaai.

En net toe ek vir tannie Bettie by die trappies af het, kom dogter uit. Sy sê: “My ma kan nie van ons verwag om elke keer alles te los waarmee ons besig is net om haar te kom help nie. Ons is besige mense.” En: “Ek weet nie wat jou reëling met my ma is nie, maar ons betaal iemand om haar dorp toe te neem en die inkopies te doen. Wat skuld ons jou?”

Ek probeer nog met haar praat, toe sukkel tannie Bettie hier met my en ek gee eers aandag aan haar. Met die verdwyn dogter die huis in. Manlief kom help om sy skoonma huis in te kry.

Ek het eers op pad huis toe kwaad geraak. Verbeel jou: hulle is te besig om haar ma te help. Wat doen sy die hele dag? Die huis lyk presies nog net soos dit gelyk het toe ek die eerste keer daar aangekom het. Niks het verander nie. Dis vuil en deurmekaar. Sy het nie ‘n werk nie. Sy het nie kinders nie. So wat doen sy? Ek kan nie sien dat daar in die tuin gewerk word nie, want dis ‘n natuurlike bos. En wanneer haar man in die middag by die huis kom, het hy tog sekerlik ‘n ou tydjie om te kom help. Dit gebeur nie elke dag nie.

En wat dink sy nou eintlik doen ek? Besef sy dat ek Maandag by die werk moes afvat om haar ma hospitaal toe te neem? Besef sy dat ek voltyds werk? En het sy nog nooit daarvan gehoor dat ‘n mens iets goeds vir iemand anders doen net om iets goeds te doen nie? Net omdat jy lus het nie? En hoe, dink sy, moet haar ma, ‘n hoogs intelligente mens, voel om dag na dag in haar kamer opgesluit te sit en die enigste ander mens wat sy sien, is iemand wat betaal word om haar winkels toe te vat? Dis tog nie natuurlik nie!

Besef sy dat haar ma dit dalk nie tot die einde van hierdie jaar gaan maak nie?

Dis toe dat ek tot die besluit gekom het: hierdie vrou is ‘n vegetariër, maar vir haar is dit nie gesond nie. Hierdie vrou het ‘n lekker steak nodig. Haar brein word beslis aangetas deur die tekort aan diereproteïne.

 

13 antwoorde op PARTY MENSE MOET LIEWER MAAR ‘N OU VLEISIE EET

  1. Daar is vegetariërs, en dan is daar vegetariërs. Dit is so bietjie soos christene, die wat die wereld vertel hoe goed en lief en dierbaar hulle is, en sinne afsluit met ‘n praise da lord, en dan die wat net stilweg hulle weg gaan en met ‘n sagte hand en hart by hul oortuigings staan.

    Tannie Bettie het een van die samelewing se weggooi mense geword, sy is soos gister se ou koerant wat net spasie opneem by daardie dogter van haar. Maar haar tyd sal ook kom..daardie dogter sal die vrugte van haar selfsug pluk op haar eie oudag, so seker as wat ek hier skryf. En vir so ‘n mens is dit te laat..selfs nie eers prima rib of steak gaan haar nasty klein selfsugtige brein andersins beinvloed nie.

    Groete,
    MK
    (vegetariër)

  2. tina10 het gesê op Januarie 25, 2013

    Ai toggie. Ek glo tog dat vir sommige is daardie sappige steak heeltemal te laat.
    Dankie ek lees so lekker by jou.

  3. *grin* virrie verband tussen vleis en intelligensie!

    • elizac het gesê op Januarie 25, 2013

      Ek het darem nou nie probeer insinueer dat daar ‘n verband is tussen vleis en intelligensie nie! Ek eet self nie vleis nie (en ek dink ek is nogal heel intelligent!)

  4. Amazing hoe een ma 5 kinders kan grootmaak maar hoe 5 kinders nie na 1 ma kan omsien nie… dis SAD!!!!

  5. Lekker gelees!

    Ek wonder net so by myselwers… as die dogter van tannie Bettie nie kinders het nie en so bitter-bitter en selfsugtig deur die lewe gaan, wie gaan eendag haar versorg as sy oud word…?

  6. Latino het gesê op Januarie 25, 2013

    Jy doen ´n wonderlike goeie daad. Daar is baie soorte mense op hierdie aarde, maar die ergstes is daardie sonder gewete.

  7. Hierdie vrou het ‘n ” wake up call” nodig. Ek wens my ma het nog gelewe!

  8. Ek is ook een van daai wat maar vleis sal en moet eet. Dis tog in ons DNA om so te maak.

  9. vega het gesê op Januarie 27, 2013

    Sy voel skuldig, then attack is the best defence.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.