by

NET IN DIE OOS-KAAP

November 25, 2012 in Uncategorized

Die Oos-Kaap, en dan veral Oos-Londen, is ‘n plek waar ek my nou reeds die helfte van my lewe bevind. Al het ek aanvanklik gedink ek sal net twee jaar bly en dan “huis toe” skuif. Maar selfs al bly ek reeds so lank hier, is daar talle dinge wat my in verstomming laat, en telkemale sê ek vir myself: Nou het jy alles gesien.  En dan is dit nie waar nie.

So is daar ‘n paar eienaardighede waarmee ek nou al leer saamleef het. Soos die swak bestuurders. Veral hierdie tyd van die jaar is dit of almal nou net mooi ordentlik vies is vir mekaar; dus gebeur daar allerhande vreemde goed. Soos mense wat te lui is om om te ry sodat hulle kan regs draai en dus sommer teen die verkeer in op die regterkantste baan deurskiet om regs te draai. Of die skepsel wat op die N2 die afrit mis en dan summier die voertuig in trurat gooi en agteruitry op die snelweg na die afrit toe. Met sy noodligte aan, net sodat jy darem kan sien daar is ‘n probleem. Of die mense wat altyd in die linkerkantste baan parkeer – ook met noodligte aan. ‘n Mens leer baie vinnig om altyd regs te hou. Flikkerligte is ook bloot vir versiering daar, veral met krismistyd.

Dan is daar ook die tipiese Ingelse klubkultuur waarmee ek nog nie kon vrede maak nie. Woensdagaande en Vrydae en dalk Saterdae word daar gemuurbal (of watter sport jy ookal beoefen) en dan direk daarna begin die steak, eggs and chips, asook die bier. Sekere aande van die week sorg jy maar dat jy vroeg op pad terug huis toe is, sodat jy hierdie skare kan vermy.

Maar gister het ek weer ‘n nuwe ding beleef. Peetkind word genooi vir ‘n verjaardagpartytjie. Dis haar beste, beste vriendin, Lindiwe se verjaardag. Peetma gaan koop die Barbie en gooi haar in ‘n sak, tel vir peetkind op en gaan laai haar af. By Lindiwe se huis gaan daar nog nie veel aan nie, ten spyte daarvan dat ons reeds ‘n kwartier laat is. Lindiwe speel in die agterplaas met haar maatjies op ‘n springkasteel, maar toe ek vra waar die birthday girl is, antwoord ‘n dame uit die kombuis dat dit eintlik Lindiwe se antie is wat verjaar. Ekskuus???? Waarom dan ‘n negejarige nooi vir die partytjie? Antie Enita is glo 40 en Lindiwe het haar maatjies genooi om saam te kom vier. Daar is nêrens ‘n teken van koek of koeldrank nie, maar ek los vir Barbie by antie Enita en gaan huis toe.

Net na vyf gaan haal ek weer vir peetkind. Stap by die voordeur van die baie ghrênd huis in, net om ‘n klomp uitgegroeide mans voor die tiewie aan te tref en die kinders voor ‘n ander tiewie. Hulle gaan nou ‘n video kyk. Almal se gesiggies is pragtig geverf en hulle is al uitgespring en uitgeswem. Ek sê vir peetkind sy moet dankie sê dat ons kan gaan. Nee, nou moet hulle eers die koek uitbring. Hier kom ‘n yslike blou en wit koek uit met “Happy 40th birthday Enita” daarop geskryf en – wat ek aanneem – veertig kerse daarop. Ons sing almal lustig “Happy birthday” en ek sit in met “Mnini emnandi kuwe”. Koek gesny en daarna word die sjampanje oopgemaak.

En toe, en ek wens ek het gelieg, maar dis die waarheid, skink die moeder van die huis vir elke kind ‘n halwe glas sjampanje! Ek het peetkind geroep en my kop geskud vir nee. Sy is nege. Haar maatjies is nege. Daar was kindertjies van vyf en van ses teenwoordig. Almal het sjampanje gekry. Ek het op daardie stadium vir peetkind onder my vlerk gesit en gesê sy moet die anties bedank en ons moet ry. Lindiwe se ma het vir haar ballonne gegee en die verpligte “party pack” vir dogtertjies.

Aan geld was daar beslis nie tekort nie. Peetkind het ringe en armbandjies en ‘n sonbril en weet-nie-wat- alles-nie uit daardie party pack gelig.

Maar common sense? Beslis nie.

12 antwoorde op NET IN DIE OOS-KAAP

  1. Goed jy waarsku oor die krismisverkeer. Ons gaan juis Desember al met die ooskus op toer.

    • elizac het gesê op November 25, 2012

      So net na die 16e verlaat al die rotte die skip en dan raak dit stiller. Maar as julle met “ooskus” ook die Transkei bedoel, wens ek julle senuwees van staal toe!

  2. Genade!
    Ja,nee…elke dag bring sy eie dinge om oor verbaas te wees.

  3. tina10 het gesê op November 26, 2012

    Wil jy nou meer… Dan kla ons oor die kinders maar die fout lê by die ouers

  4. vega het gesê op November 26, 2012

    Never a dull moment lyk dit my

  5. Het jy geweet dat met A vrye sjampanje kry? Was dit nie dalk dit wat sy vir die kids ingegooi het nie?

    Ja so het elke “huis” sy kruis…

    • elizac het gesê op November 26, 2012

      Nee, dit was daai oom Le Roux se vonkelwyntjie! Ek ken Robertson se alkoholvrye sjampanje. Ons vat dit saam chemokamer toe as ons gaan partyjie hou! Kan jy net dink hoe rof het dit later daardie aand gegaan? Kinders EN grootmense vol sjampanje!

  6. dis ‘n spoggerige nasie…

  7. Never too old to experience new things…

    Een van my motto’s in die lewe is dat jy nie probleemkinders kry nie, maar probleemouers!

  8. Grote Griet ! Gelukkig was jy daar om die kind van die sjampanje te red!

  9. Oh my word! xR

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.