by

DIE ZOMBIES IS MET ONS

November 16, 2012 in Uncategorized

Ja, ek weet ek is ‘n bietjie laat met die Halloweenstories, maar Halloween het vanjaar laat my kant toe gekom. Gewoonlik glo ek nou nie in goed soos zombies nie, maar ek het lank oor hierdie een gedink en dis moontlik die beste verklaring.

Ek dink regtig daar staan “MOER MY” op my voorkop geskryf, want anders kan ek nie verduidelik hoekom ek gereeld in vreemde situasies beland nie. Ek is seker ek lyk vir ‘n sekere tipe mens net soos ‘n baie groot teiken. En gewoonlik beland ek in hierdie situasie uit die goedheid van my hart en is dan stomverbaas oor die ander persoon se reaksie. (Wat sê die Ingelse van die Road to hell en good intentions?)

So word ek verlede Vrydag gebel deur ons plaaslike CANSA-dame. Sy het ‘n oproep gekry van ‘n ouerige Afrikaanse dame. Die het nou kanker en sy sal graag die ondersteuningsgroep se vergadering wil bywoon. Maar ek moet die tannie bel en ‘n afspraak maak en dan moet ek die foon laat lui tot die antwoordmasjien aangaan, en dan moet ek neersit, en dan moet ek weer bel, en dan sal die tannie antwoord, want sy loop met ‘n loopraam en dit vat haar lank om tot by die foon te kom. Sy gee die tannie se naam vir my. Kom ons noem haar Bettie Vermaak.

Nou, Oos-Londen is baie klein, veral wat die Afrikaanse gemeenskap betref en gewoonlik het ‘n mens nogal ‘n idée van wie is wie in die gemeenskap. En ek het al met tannie Bettie Vermaak te doene gekry, seker so goed tien jaar gelede. Op daardie stadium het sy kliphard probeer om die Oos-Londonners ‘n bietjie kultuur aan te leer, maar ek dink haar pogings het op klipgrond geval. Sy is ook bekend in kultuurkringe in die Baai, en klink my sommer ook in die res van Suid-Afrika. Sy gooi die name rond van mense wat sy ken. Ek luister. En so vertel sy my sommer haar hele lewensverhaal: van die twaalf moeilike jare met ‘n psigopaatman, van haar breuk met die kerk, van haar vele ondersteuningsgroepe waarmee sy haarself besig gehou en van haar stryd om vier kinders groot te kry.

Ons maak ‘n afspraak vir hierdie Dinsdag, want soos die noodlot dit nou wil hê, is Dinsdag Reik-na-Herstel se laaste vergadering van die jaar en ek kan vir ‘n slag dit bywoon. Ek sal haar kwart voor 2 optel. Maar, waarsku sy, ek moet versigtig wees vir die afdraend na die huis toe, en die huis het nie ‘n heining voor nie.

Intussen vergeet ek bietjie van my afspraak met Bettie Vermaak, maar onthou Dinsdagoggend weer. Ek is hondsiek van ‘n virus wat my beetgepak het en as ek opstaan, wil ek omval. Maar ‘n belofte is ‘n belofte en ‘n medekankerlyer in nood is ‘n persoon in nood. Dus sweef ek in my supersoniese Amerikaanse karretjie na die adres toe. Ja, dit moet die huis wees: geen heining nie, steil afdraend na die garage toe, maar ek het al erger gesien en trappies sonder reëlings tot by die voordeur. Dinge lyk so ‘n bietjie donker, maar dis nie my tuin nie en het dus niks met my uit te waai nie.

Die deur gaan oop en daar staan Bettie Vermaak: ‘n kromgetrekte tantetjie (sy is nie ‘n tannie nie) staan in die deur en leun oor haar kierie. Agter haar is die dogter met styfgetrekte hare en rooi waterstewels aan. “Og,” maak ek praatjies in my mooiste Afrikaans. “Hoe hanteer jy hierdie trappe?” “Nee,” sê sy, “as mens mos in die pad is, kan jy nie kla nie.” Daai dogter raak al hoe besiger en ek dog, alla, dis mos nou nie iets wat ‘n mens vir ‘n vreemdeling sê nie. Maar ek dink toe miskien is hulle nou net bietjie moeg vir mekaar en is die dogter uitgeput na ‘n moeilike jaar en het sy ‘n bietjie van ‘n ruspose nodig. Dis tog goed dat ek die ma uitvat vir ‘n tydjie. Dogter sê ek moet asseblief maar boontoe parkeer wanneer ek terugkom, die pad is te steil en rol yslike klippe met haar klein lyfie voor my kar in.

Dit neem ons seker goed tien minute om die sowat vyf meter vanaf die voordeur tot by die kar te stap. Intussen ruk die dogter haar ma se loopraam uit haar kar uit en  sukkel dit in my kar in. Sy lyk behoorlik soos ‘n waterstewelkryger. Maar sy help die ma nie en self is ek ietwat swak en vol kieme.

Metterwoon is ons daar weg, ek en Bettie woon die vergadering by, ons drink tee en eet koek en meer as twee ure later is ons weer op pad terug huis toe. Spitsverkeer in Oos-Londen, maar ons het toe net so voor die ergste die pad kon vat. Al waaraan ek kan dink, is dat ek darem nou baie graag by die huis sal wil kom en wil gaan slaap. Ek is pap.

Terug by Bettie se woonplek bel ek die dogter om haar ma te kom haal. Maar die foon lui net. Ek parkeer maar weer die kar teen die afdraend (so steil is dit nou ook nie) en klim uit en haal solank die loopraam uit. Hier kom die dogter aan, maar sy stap so heen-en-weer. Eers stap sy tot by die kar en gaan staan met haar vinger teen my bors: “Sê jy nou net vir my: wat se leuens het my ma nou weer vir jou hierdie hele tyd oor my vertel!” Ek is skoon verstom, maar ek dog toe nou kom ons praat rustig, want hoe gouer ek nou vir Bettie uit die kar het, hoe gouer kan ek huis toe gaan.

“Weet jy,” sê ek, “ons was nou by ‘n vergadering en ons het werklik nie tyd gehad om veel te praat nie.”

“Sy lieg mos vir mense!” sê die dogter. “Vertel allerhande leuens! Sy is ‘n intelligente vrou en dan maak sy stories op en vertel dit vir ander!”

Nou kyk ek haar. In my kop bereken ek allerhande redes vir die vrou se – vir my – onvanpaste optrede. Intussen sit Bettie nog in die kar en kan nie uitkom nie, want die dogter staan aan die ander kant van die deur.

Ek sê vir haar: “Lyk my jy is kwaad.”

“Ja!” sê sy. “Jy sou ook kwaad gewees het! Hier kom mense na jou huis toe en hulle beledig jou!”

Ek sê: “My skat, waarvan praat jy?” want toe wil dit al vir my lyk asof sy vir my beskuldig.

“Moenie vir my skat sê nie!” sê sy. “Jy kom hier na my huis toe en dan beledig jy my trappe!” Die vinger gaan lug toe: “Jy sal met God moet praat! Jy sal moet regmaak met die Here!” Ek maak my mond oop en daai vinger waai weer lug toe. Gelukkig is dit die voorvinger en nie die middelvinger nie: “Nee! Moenie met my praat nie! Praat met die Here! As jy iets te sê het, sê dit vir die Here!” Ek sê vir haar: “Dalk moet jy met die Here praat.” “Ek praat elke dag met die Here! Elke dag! Die hele tyd,” skree sy. En sy stap weer weg na haar voertuig toe. Bettie probeer die saak beredder, maar daar is geen salf aan die dogter te smeer nie. Ek kan sien die tannie sink behoorlik weg in die voorste sitplek van skaamte.

“Weet jy,” sê ek, uiterlik kalm, maar in my siel borrel die onrus, “God het gesê as daar iets verkeerd is tussen ons moet ons dit eers onder mekaar uitsorteer voordat ons na Hom toe gaan.”

Sy kom weer aangestap na my toe (gelukkig is die kar se deur nog tussen haar en my), kruis haar arms oor haar bors en sê: “Nou toe, praat!”

“Ek is vreeslik jammer as ek jou trappe beledig het,” sê ek so kalm as moontlik, maar in my kop woer dit van Wat De Hel? Is ek regtig besig om om verskoning te vra omdat iemand dink ek het haar trappe beledig? “Ek het werklik nie bedoel om aanstoot te gee nie.”

“Stop net daar,” skree sy. Ek kan sien sy is beslis nog nie afgekoel nie, maar dit lyk my nie sy weet wat om verder te sê nie. Toe sien sy die volgende teiken raak: mammie. Met die kom sy om die kardeur en gaan buk so by haar ma met haar vinger teen haar ma se bors: “En nou vra jy hierdie vrou om verskoning vir wat jy gesê het!”

Ek sê vir haar: “Weet jy, ek is regtig baie siek en ek wil graag by die huis kom. Jou ma het nie nodig om my om enigiets verskoning te vra nie.”

“Ja!” sê sy. “Sy’t gesê ‘n mens is in die pad!”

“Ek weet mos jy wil my nie hier hê nie,” sê Bettie. “Dis ek wat in die pad is. Ek weet dit mos.”

Ek val weer in: “Jou ma hoef nie vir my om verskoning te vra nie. Sy het niks gesê waaroor ek aanstoot geneem het nie.”

En so help die dogter darem toe vir ma uit die kar uit.

Ek het huis toe gery en sommer in die kar al aan die huil geraak. Gister by my dokter om hulp gaan vra. Hy sê dit klink vir hom of die vrou een of ander psigose het – al die tekens is daar.

Intussen bly Bettie by die dogter. Klaarblyklik het die dogter nog Dinsdagmiddag die een en ander te sê gehad oor my.

Dis sulke tye dat ek wens ek kon ook soos daai Amerikaanse vroue op die tiewie my lyf so orent trek en my borste ophyg na bo en dan ‘n uitgedraaide “EXCUUUUUUUUUSE MEEEEE!” laat los. Met my borskas in my slagoffer se gesig.

Maar dit sal nou nie werk nie. In elk geval is daar mos nie veel van my borskas oor nie.

Ek probeer al twee dae lank sin maak uit die voorval. En miskien is die antwoord dat daar geen sin is nie. Dr Phil sê mos altyd: Their is no sense in nonsense.

Maar as jy my vra of ek in zombies glo, sal ek jou na ‘n huis hier naby vat. Ene met ‘n donker tuin, ‘n steil afdraend en trappies sonder reëlings.

8 antwoorde op DIE ZOMBIES IS MET ONS

  1. katrina het gesê op November 16, 2012

    Sjoe, dit was omtrent ‘n vreemde en uiters onaangename ervaring, amper surrealisties. Die vrou klink regtig psigoties. Ek voel baie jammer vir haar arme ma wat daarmee moet saamleef.

  2. Genade! Jy wou mos net help…daai kind hoort opgesluit te word..I smell a rat.
    Soms kan ‘n mens te goed wees, sien ek.
    xxx

  3. Genade..ek stem saam met jou Dr, of dalk is sy ‘n alkoholis/junkie? Erg neuroties.

  4. Ai tog … die lewe is nie vir sissies nie!

  5. Ai tog, waar is die sterretjies van die ou blogs heen? Vyf vir jou. Die dogter klink vir my effe van haar kop af. Hoop jy is weer gesond…

  6. Eish, die vrou klink nie lekker in haar boonste verdieping nie. Mens sou amper kon lag as dit nie so hartseer was nie !

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

2 terugsporings