Jy blaai in die argief vir 2012 Julie.

by elizac

NET ‘N IETSIE OOR DIE OLIMPIESE SPELE

Julie 30, 2012 in Sonder kategorie

Ja, so het London 2012 toe met ‘n depressiewe knalletjie begin. As dit nie vir die blink olimpiese ringe was wat die hemele bestyg het nie, en vir Mr Bean, en 007, en die vuurwerkvertoning nie, sou daar nie eens ‘n knalletjie gewees het nie. Net ‘n industriële revolusie en duistere verwysings na die Britte se grootsheid.

Intussen moet ons armsaliges met die peasant tiewie tevrede wees met SABC 2 se uitsendings. Dis die een ontleding op die ander, tot ek later wil skree: WYS ASSEBLIEF NOU NET VIR ONS WAT GEBEUR HET! So moet ek vanaand klaarblyklik sit en wag vir tienuur om te hoor wat met Chad le Clos gebeur het in die swembad. Want hier is nou ‘n klomp dames wat sit en praat oor hulle finasiële beplanning en terselfdertyd word so ‘n groen maatskappy, wat kastig voorsiening maak vir ‘n mens se aftrede, bemark.

Amper sê ek nou iets leliks. Halloooooooooo? ‘n Suid-Afrikaner het pas in die swembad gespring, tweede algeheel in die uitdunne gekom EN ‘n Afrikarekord opgestel!

Dankie tog vir die internet en www.london2012.com – daar kry ek in egte tyd al my inligting, al kan ek dit nie noodwendig sien nie.

by elizac

PADDABOUTJIES

Julie 22, 2012 in Sonder kategorie

Met die baie reën is daar dalk mense wat bereid is om hierdie voor te berei. Self het ek die instruksies baie insiggewend gevind!

http://www.chefdanielbrooks.com/photoblog/?p=1579

by elizac

DIE LANG PAD MOET JY VAT

Julie 16, 2012 in Sonder kategorie

… al wil jy bietjie nog in die Kaap agterbly. As oud-Weskapenaar is die Oos-Kaap na al die jare steeds ‘n vreemde plek met vreemde mense en vreemde dinge. Maar aangesien ons nou hier werk en ons ‘n ou klein huisietjie hier het en ook ander verbintenisse – plus ek het nog niemand gekry wat bereid is om my salaris vir my te borg nie – moes ons terugkom. Deesdae probeer ons die reis ‘n vakansie op sigself maak, maar hierdie keer het my stemmetjie in die kop gesê: julle moet ry om op ‘n punt te kom.

Dus spring ons toe Saterdagoggend half tien in die ou karretjie, drink nog vir oulaas ‘n koppie tee saam met die moeder, en daar foeter ons binneland langs terug Oos-Londen toe. My geliefde is so effens omgekrap, want hy wou bo-om gery het, Groot Karoo langs, en ek wou Klein Karoo langs. Moenie my vra hoekom nie, maar my stemmetjie het dit vir my vertel. Eintlik wou die stemmetjie hê dat ons die kuspad moes ry, en ek sou veel eerder van Ashton oor die berg Swellendom toe wou gaan – iets wat ons die laaste klompie jare vermy het juis as gevolg van die hoeveelheid verkeer, asook die reën. Dus was die R62 so half en half my kompromie.

Op pad ry ons toe net so ‘n effense draaitjie om by The Art Business op Porterville aan te gaan. Die “gou-gou” rek toe na ‘n lang gesels in die gallery – Aidon Westcott is ook deesdae daar besig; gaan google hom gerus [http://artlife.co.za/intro.php?users_id=716] – en daarna nog ‘n etetjie by die plaaslike Fat Catz bistro. (As jy in die omgewing is, is ‘n inloer beslis die moeite werd, en die Feathers Inn se beddens en dekor lyk uiters verwelkomend!) Dus het ons eintlik eers so rondom 2 op ons amper 900km reis vertrek.

Hier kort voor Worcester het dit begin reën en reën en reën. Manlief het op daardie stadium die wiel oorgeneem (en natuurlik het ons by die Robertson Kunsgalery ook ‘n draai gaan maak, en ek het vir my ‘n ietsie van Frans Cronje aangeskaf. Weet nie eintlik wie hy is nie, maar ek hou van sy miniatuurcollages gemeng met ink.

Maar van toe af was dit net afdraend, met reën en nogmaals reën. Vanaf Oudtshoorn tot by die Langkloofafdraai is dit ‘n hele klompie kilometer, en toe ons daar kom, lê daar plat in die pad ‘n yslike geel bord met die woorde: “road closed” op. Nou probeer ek uitvind of die pad wel gesluit is, maar niemand kan my help nie. Ons stoot toe maar deur. Daar loop behoorlik riviere oor die pad. Ek seg net vir die geliefde: as ons die padstrepe kan sien, stoot ons aan. Op een stadium mis my man die rivier voor in die pad en ploeg behoorlik deur die water (so kry my karretjie toe ook sommer ‘n heerlike gratis was). Daarna het ons versigtiger gery en die hele tyd die padtoestande dopgehou: as daar voertuie van vooraf kom, dan is die pad sekerlik bevaarbaar? Later bel ek die ouers om te hoor of hulle iets op die nuus gehoor het. Pappie bel “iemand” in George, en die sê die Outeniekwapas is gesluit; dus sal ons ook nie op daardie manier in Port Elizabeth kan kom nie. Nou maar geen keuse nie – ons gaan ten minste Joubertina probeer haal. Ons weet ook daar is GEEN slaapplek op enige van die plekke in die omgewing nie, want daar is drie troues die naweek aan die gang en al die gastehuisie is vol. Glo my, ons het probeer.

Op een plek het daar ‘n rotsstorting plaasgevind. Reusagtige, vierkantige blokke lê in die linkerkantste baan – die een waarop ons ry. Kort-kort stroom die water oor die pad. En steeds reën dit. In my lewe het ek nog nooit gesien dat water horisontaal oor die pad kan hardloop nie – en die pad is teen ‘n skuinste. Al die plaaspaaie verspel en die gruis lê oor die pad gestrooi.

En in Port Elizabeth aangekom, net toe ons dink alles is verby, moet ons terugdraai van ons kortpad voor die lughawe langs, want toe is daar ‘n mini-driffie. Dus toe langpad om.

Ons het darem kwart oor 12 by die hotel aangekom en geslaap tot half 10 die volgende oggend.

Klaarblyklik was die pad tussen die Wildernis en Knysna ook gesluit.

En die paaie vanaf Graaf-Reinet.

En die R62 – dit hoor ons toe gisteraand toe ons op pad huis toe is.

Dit sou vandag ‘n baie moeë begin tot die nuwe semester gewees het!

Vandag op Spektrum (RSG) vertel ‘n bruid hoe sy haar seremonie moes uitstel na Sondag, omdat sy en haar gevolg nie deur die riviere kon kom nie. Op Sondag het iemand haar glo op ‘n padbreker deur die drif geneem en kon hulle uiteindelik trou. Hulle kon net nie dans nie, want met die Sondagtroue was die dans van die baan…

by elizac

LEKKER VAKANSIE

Julie 8, 2012 in Sonder kategorie

Ek kuier heerlik by die ouers op die plaas in die Wes-Kaap. Darem so bevoorreg om dit te kan en mag doen.

O, en het ek genoem dat ek vir Anha ontmoet het? Ek het sommer by haar werk ingestap en gevra wat die vrou agter die lessenaar se naam is. En toe myself voorgestel: ek is Elizabeth. Vreemd hoe ‘n mens ‘n sekere idee van iemand in jou kop vorm, en dan is dit glad en geheel al nie so nie!