Jy blaai in die argief vir 2012 Maart.

by elizac

MY WERK BLY ‘N VREUGDE

Maart 26, 2012 in Sonder kategorie

Nou ja, so het ek regtig lanklaas geskryf. Doodeenvoudig nie tyd nie. Die eerste semester van die akademiese jaar is mos gelykstaande aan ander mense se Krismistyd: elke dag ‘n lang dag en ‘n aanmekaar dag, met saktye vir al wat ‘n ding is. Toets vir die Duitse studente, toets vir die Afrikaanse studente, werksopdragte vir die Ingelse studente, en nuwe lesse wat moet uitgewerk word en punte wat moet ingegee word. So moet alle semesterstudente vier werksopdragte ingee gedurende die semester, wat ‘n mens met min tyd laat vir enigiets anders.

Maar klaar gekla.

Verlede Donderdagoggend loop ek weer ‘n slag die laboratorium in. Nee, ek gee nie rekenaarklasse oor rekenaars nie; ons bied wel ‘n leesprogram op die rekenaar aan. (Baie oulike program, as mens nou vergeet van die Amerikaanse inslag. So spel hulle byvoorbeeld “neighbourhood” as “neighborhood” en “colour” as “color”, maar die studente kom vinnig reg as hulle eers gesnap het). Ewintwel, raak ek toe ietwat ontstig oor die toestand van die rekenaarlaboratorium. En eintlik moet ‘n mens jou nou glad nie ontstel nie, anders gaan jy net koppe stamp.

Ek het reeds in 2011 al talle probleme met die rekenaars in die laboratorium gehad. Om die waarheid te sê: die probleme kom eintlik al van 2010 af, maar ek was toe te siek om om te gee. Lyk my ek is nou weer piekfyn, want ek vat al weer die hele spulletjie aan. Gaan sit ek toe een dag in September en bekyk elke rekenaar en skryf elke probleem neer. Rekenaar nommer so-en-so het probleem so-en-so. Daai rekenaar het nie ‘n muis nie. Daai een se sleutelbord haak vas. Daai een se CD-laaitjie is verwyder. Ensovoorts.

Niks gebeur nie. Ek kry ‘n besoek van die IT-mense en dis dit. Ons sukkel voort deur rekenaars wat nie werk nie en uiteindelik breek die einde van die jaar aan – sonder ‘n oplossing.

So arriveer 2012. Die sekuriteitswagte laat weet my dat ek die lokaal nie kan gebruik nie, want dit is “under construction”. By nadere ondersoek moet ek uitvind die konstruksie is reeds verlede jaar afgehandel. Ek vermoed die wagte kon bloot nie die lokaalsleutel in die hande kry nie. Uiteindelik begin my laboratoriumklas. Nou sien ek alreeds nie baie uit na die klas nie, want die studente is gewoonlik maar baie onknap wanneer dit by rekenaars kom. Gelukkig het ons nou hierdie jaar ‘n tydjie gehad voor ek met die klas kon begin en weet hulle darem al hoe om in te teken en hoe om ‘n muis te gebruik en sulke goedjies.

Vat hulle deur al die stappe om tot by die leesprogram te vorder.

Geen leesprogram nie.

En soos ek deur die lokaal stap, kook my bloed: die rekenaars is in presies dieselfde toestand as wat hulle die vorige jaar was. En erger. Ons kan ook nie op die server kom nie, wat beteken dat my klas nie kan voortgaan nie. Uiteindelik stap ek af na die IT-mense. Daar sit twee dames agter die toonbank. Die een is besig met middagete en die ander kyk my stadig aan. Ek verduidelik die probleem. Sy kom staaaaadig orent. Met die sien ek toe dat sy hoog swanger is. Sy sê nie ‘n woord nie, maar sy pluk haar foon uit en druk dit teen die oor. En daar stap sy. Voor my uit, met ek wat agter haar aanwaggel. Jammer, sy het gewaggel en dit was bietjie stadig vir my natuur. Nou nie dat ek weet waarheen sy gaan nie, maar ek volg haar. Sy’t nog niks gesê nie – alhoewel ek my ‘n “hallo doc” verbeel het. Ons sukkel teen die trappe op. Waarom, dit weet ek nie, want daar is ‘n dienlike rolstoeltoegang tot die volgende vloer en dit behoort goed te werk vir ‘n swanger dame. Maar sy kies die ompad. Uiteindelik kom ons by die lokaal uit.

“Wanneer kom die baba?” vra ek.

“Volgende maand,” seg sy, en syg in die hoek van die lokaal op die vloer neer. En daar kruip sy onder die tafel en lê plat op die vloer met die grote maag en verstel en druk aan die boks in die hoek onder die tafel.

Ek sê vir ‘n student: “Gaan kyk of jy nie die vrou kan help nie; ek’s bang sy gaan in kraam as sy so moet lê.”

Intussen is die foon nog steeds teen die oor. Sy wys die student se hulp van die hand.

Effens later kom sy steunend orent. Ek wil nog probeer help, maar daar gaat sy.

“VRA VIR HULP!” sê ek. “Kan jy hulle nie in die hande kry nie?”

“Nee,” antwoord sy. En daar trek sy weer al waggelende die lokaal uit.

Ek het toe maar my klas verdaag en ‘n e-pos boodskap vir die Helpdesk gestuur. Ek sal Donderdag sien of die korrespondensie enige vrugte afgewerp het.

Maar ek is regtig gek na my werk. Nooit ‘n vervelige oomblik nie, en elke dag iets nuuts in Afrika.