Jy blaai in die argief vir 2012 Februarie.

by elizac

SO HOEKOM WERK MENS DAAR?

Februarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Wanneer mense hoor onder watter omstandighede ons ons werk moet verrig, wil hulle altyd weet: so hoekom werk julle daar? Die vraag kom gewoonlik van mense wat redelik wel-af is en nie kan verstaan hoe ‘n mens bereid is om soveel nonsens op te vreet vir ‘n salaris nie. Of mense wat van nege-tot-vyf werk en nie kan verstaan hoe jy kan oortyd werk as jy nie ekstra betaal word daarvoor nie. Of vroue met ryk mans. Of vice versa.

Wel, daar is verskeie redes. In die eerste plek is dit nou nie so maklik om in tersiêre onderrig ‘n ander werkie te kry nie. Daar is altyd mense wat jonger en slimmer as jy is. In die tweede plek moet ek mos nou maar wees waar my man is, en net as ek ‘n werk kry wat baaaaie beter betaal, sal hy sy werk kan opgee en my volg. In die derde plek verdien ek veel beter as wat ek in gewone onderwys sou verdien (‘n beginsalaris is R8000 per maand) en hoef ek nie te sit met dissipline en polisiëring van kinders wat nie deur hul ouers maniere geleer word nie. As ek vandag steeds in die onderwys was, kon julle my in die tronk gaan besoek het. Ek sou beslis iemand vermoor het. Ek haal al my hoede af vir mense wat dit in die onderwys uithou. Dis werklik nie ‘n maklike werk nie.

Maar my eintlike rede is dit: ek wil iewers werk waar ek voel ek ‘n verskil kan maak. En ja, ek leef dalk onder ‘n illusie, maar dis my illusie en dit maak my gelukkig. Party dae is jy moedeloos en gedaan, maar dan is daar weer dae waar jy heerlike klasse het. Ons gesels oor alles en nog wat. Partykeer dink ek: o gits, nou gaan ek in die moeilikheid kom! Want ek sê net wat ek lus het. Ons praat oor verhoudings en Vigs en oor alkoholisme en dwelmmisbruik; ons praat oor kultuurverskille en nie-verbale kommunikasie. Hulle vra my uit oor wat ek dink liefde is. En ons praat oor die rol van die man in die verhouding en die rol van die vrou en wat vroue wil hê en wat belangrik is in die lewe. Hierdie jaar gaan ons ‘n projek doen oor ouer vroue in die gemeenskap en ons gaan hulle stories vertel. Ek het ook al entrepreneurskap met hulle gedoen, en ons het markdae gehou – alles goed wat ons met min geld moes regkry. Soms dink ek hulle leer niks nie. En soms kom daar ‘n student na my toe en sê: You made me think.

As tien persent van my studente iets meer leer as Engels, sal ek gelukkig wees. Nee, as ek ‘n verskil kan maak in vyf persent se lewens, sal dit al genoeg wees.

Een student kom eendag na my toe. My A-student. Ek vra hom hoe dit gaan. Nee, sê hy, dit gaan sleg. My ma het nie werk nie en dan maak sy skuld en dan vat hulle al die bietjie geld wat sy nog verdien en dan is daar niks nie. (Op daardie stadium het sy so R300 per maand verdien). Hy sukkel om te konsentreer, want hy is bekommerd oor sy ma. Toe praat ons ‘n bietjie. Ek sê vir hom: Jy weet, dit klink seker baie selfsugtig, maar jou ma gaan doen wat sy wil doen. As jy bekommerd is oor haar, dan gaan sy die verkeerde goed doen. As jy nie bekommerd is oor haar nie, gaan sy steeds die verkeerde goed doen. Konsentreer dus nou op jou studies, want op hierdie stadium kan jy jou ma nie help nie. Jy kan haar net help as jy ‘n werk het, en dit gaan jy nie kry nie as jy nie jou studies deurkom nie. Kom hy ‘n maand of wat later weer by my aan. Ek vra hom: Hoe gaan dit? Nee, sê hy, dit gaan goed. Hy kry weer 70% vir sy toetse. En jou ma? Sy gesiggie val. My ma gaan nog net soos altyd aan. Sien jy, antwoord ek, niks het in jou ma se lewe verander nie. Maar ten minste kan jy aangaan. Vandag het hy ‘n goeie werk by ‘n groot maatskappy in die Kaap.

Soms raak benoud oor die oormaat van armoede en ongeletterdheid daar buite. 70 000 jongmense het aansoek gedoen vir plek as eerstejaars in die provinsie se universiteite. Minder as 20 000 het plek gekry. Wat doen die ander 50 000? Wie gaan vir hulle werk gee?

As elke mens wat kan net een persoon in hierdie land help om ‘n opvoeding te kry, sal ons al ‘n verskil kan begin maak. Soms kos dit net R100 per maand om kos in iemand se maag te sit. Soms kos dit ‘n bietjie meer.

As Stellenbosch of UCT of UWK of UJ of een van daardie universiteite my ‘n ou werkie aanbied, sal ek dit neem? Waarskynlik. Maar ek weet ek sal altyd hierdie studente mis.

by elizac

‘N IETSIE OOR MY WERK

Februarie 17, 2012 in Sonder kategorie

Ek’s nou vanaand sommer lekker beneuk. Dis nou wat gebeur as ‘n mens op ‘n Vrydagaand jou werks e-posse oopmaak en jy dan met niemand kan gaan baklei nie. So, voor ek verder skinder, laat ek net kwalifiseer: ek hou van my werk. Ek hou van my studente. Ek hou nie noodwendig van die omstandighede waaronder ek moet werk nie, of van sekere mense se houding nie.

Kom ek verduidelik. Ek werk mos by ‘n “historically disadvantaged institution”, of HDI, soos dit in my kringe bekend is. Ek werk al baie lank by die spesifieke universiteit (ons het vier in die Oos-Kaap, waarvan twee en ‘n half HDI’s is) en is al soos ‘n stuk meublement. Die groot voordeel van my werk is dat ek blootgestel word aan goed waaraan die gemiddelde Suid-Afrikaner sekerlik nie blootgestel word nie. Toe die nuwe Suid-Afrika aangebreek het, was ek lank al reeds deel daarvan – die dinge waaroor mense kla, laat my lag.

Die nadeel, soos enigeen wat by ‘n HDI werk weet, is dat niemand met ‘n tang aan jou sal raak nie. Hulle dink jy is ‘n lui akademikus. Maar ek sê nou vir jou, ons kan soos donkies werk: aanmekaar. Ons is ook uiters kreatief, want as plan A nie werk nie, dan kry jy plan B en plan C en plan D…

Net ‘n paar van die frustrasies:

Ek arriveer by ‘n klaskamer, maar daar is geen stoele of tafels nie. Die studente moet eers vir tien minute lank tussen klaskamers rondhardloop om stoele of tafels te kry.

Daar is nie tyd vir klaswisseling nie. Die een klas eindig half 10 en die volgende een begin half 10. Gelukkig hoef die studente nie ver te loop nie, maar party dosente dink mos hulle kan aanhou, want hulle is die enigste dosente. Dus is studente dikwels laat vir klasse, of hulle moet kamer verlaat tydens klas, want daar was nie tyd voor klas nie. (Hierdie is werklik ‘n klein frustrasietjie. Ek noem dit net, want toilette is nogal ‘n ding op kampus!)

Al die vensterknippe is afgesteel. Ja, iemand het die briljante idee gehad om koperknippe aan te sit en mettertyd het dit verdwyn. Veral nadat die studente toestemming gekry het om in die klaskamers te studeer. En veral nadat die twee plakkerskampe al hoe nader gekruip het. En ja, ons het sekuriteit op kampus, maar hulle maak die dosente se kattebakke oop en kyk daarin. Verder sluit hulle kantore of sluit laboratoria oop. Die beste manier om iets van kampus af te dra, is om dit voor op jou sitplek neer te sit. Niemand kyk daar nie.

Nadat die knippe afgesteel is, het die kampusbeheer besluit hulle gaan al die vensters toesweis. Dus kon jy geen vensters oopmaak nie. Na klagtes het hulle dit weer oopgesweis en in die proses natuurlik ‘n hele klomp ruite gebreek. Die is nog steeds nie vervang nie. Om die waarheid te sê: ek was nou die dag in ‘n klas waar ek vyf jaar gelede laas was, en die venster wat toe stukkend was, is nog steeds stukkend.

Daarna is plastiekknippe aangesit. Wat van hulle geword het, weet ek nie, want hulle is nie meer daar nie. Ek vermoed iemand het hulle afgehaal om by die skroefies aan die binnekant uit te kom. Geld is geld. Met die gevolg dat ons nou geen venster kan oopmaak nie, maar ons kan ook niks toemaak nie, sodat die vensters in die wind staan en klap. Gevolglik het nog meer ruite gebreek.

Die stukkende ruite is op die oomblik nie ‘n probleem nie, want dit is somer, en ten minste kan ons nou asem haal. Die eintlike probleem is dat daar bouwerk aan die gang is op kampus en die ganse dag (amper sê ek iets leliks) word daar gebou en geraas dat die biesies bewe. Dit help nie eens ek vra die studente ‘n vraag nie, want ek kan hulle antwoorde nie hoor nie. Of hulle my kan hoor, is natuurlik ‘n ander vraag. In die winter gaan die ruite ander probleme veroorsaak, want dit kan vriesend raak op kampus.

O, het ek gesê: ons het nie lugversorging in die klaskamers nie. Met die Oos-Londense humiditeit beteken dit dat ek later in ‘n poeletjie sweet staan en klasgee.

Ek wil uitdeelstukke laat afdruk, maar die papier is op. Dan gaan koop jy maar jou eie papier, net om te hoor die krammetjies is nou ook op… Of jy gaan haal jou drukwerk, maar die drukkantoor is nou toe, want die dame in beheer is net gou vir die dag na ‘n “bereavement” toe.

As ek iets vanaf my kantoor wil uitdruk, moet ek eers gaan kyk of daar papier is. Gewoonlik het iemand ‘n stuk papier in die masjien laat vassteek en dit dan nie uitgehaal nie.

As ek enigiets geteken wil hê deur ‘n hoër gesag, beteken dit ek moet die papier met interne pos laat stuur. Op Maandag moes ek twee vergaderings bywoon. Ek het die kennisgewing vir die een eers Dinsdag gekry, want “iemand” sou dit by my kom aflewer het.

Die akademiese sekretaresse wat my moet bedien, sit 35km van my af. Ek ry maar soontoe om my direkte baas se handtekening te kry.

E-posse word afgelewer, gelees en dan geïgnoreer.

My rekenaar se harde skyf het ingegee. Dis reggemaak, maar die rekenaar is sowat tien jaar oud en dus uit die ark. Alles duur ‘n ewigheid. Die sleutelbord se letters is af, die elektriese konneksie het ontplof en die “leenprop” wat ek gekry het, leen ek nou al ses jaar lank. Ongelukkig haak dit uit die oomblik as ek aan die rekenaar raak, sodat ek voortdurend werk verloor indien ek nie getrou kyk dat die liggie brand nie.

Intussen het ek ‘n rekenaar gaan koop uit my navorsingsgeld. Die geld het egter verdwyn, sodat ek die rekenaar dus uit my eie sak befonds het.

Ditto vir my kongresse, waar ek alles vooraf betaal, anders kry ek die geld eers na die kongres. Of glad nie.

Ek benut die internet nou al seker goed twee jaar via ‘n ompad. Om die een of ander rede werk my inlogprosedure nie. Ek het dit aangemeld en vandaar die ompad.

Ek gee klas in ‘n laboratorium. Elke Donderdag voor die klas moet ek die sekuriteit bel om die klas oop te sluit. Ek mag nie ‘n sleutel hê nie. Dan moet ek staan en wag tot hulle die sleutel gevind het of besluit het dis belangrik genoeg om die klas oop te sluit. Verlede Donderdag bel ek die sekuriteitsman en gaan wag by die klaskamer. Niemand daag op nie. Stap ek later om die draai en vra vir die man wat die dooie monitors voor hom dophou waar hulle is. “No”, seg hy. “You can’t use the room. It is under construction.” Nou kon iemand my nie ingelig het nie?

Hierdie hele week het ek ook weer een van daai gesprekke met ‘n kollega: hy dok my voor en agter, maar beantwoord nie die vraag nie. Ek wil net weet of die Duitse studente hierdie jaar ‘n handboek gaan kry of nie, want hulle het die laaste twee jaar nie boeke gekry nie, en ek kan nie so klas gee nie. Nou kom die antwoord: o, hy weet nie, maar daar is ‘n maatskappy wat die boeke voorsien en ons het ‘n kontrak met hulle. Maar hy sal uitvind en dis die maatskappy se naam. Toe wil ek weet waar die maatskappy is, denkende dat ek hulle kan kontak en vra of hulle ‘n Duitse handboek bestel het. Want eintlik wil ek nie meer die ou handboek gebruik nie, maar ‘n nuwe een. Sal hy nie wragtig vir my ‘n lesing skryf oor hoe die universiteit hierdie kontrak het en hoe dit en hoe dat. En hy begin sy brief so:

Doctor

Nie “Dear Doctor” nie, maar “Doctor”. Toe vererg ek my sommer vir die toon van die brief en, gedagtig daaraan dat ons albei tweedetaalsprekers van die Ingels is, skryf ek toe vir hom wat ek dink. En copy sy baas en my baas en my baas se baas.

Want ek is nou regtig gatvol vir die “attitude”. En nee, dis nie houding nie. Houding het nog klas. En die probleem is dat ek Duits gee vir ‘n ander departement, wat dinge totaal anders doen as my eie departement. Ek het mos nou geen idee hoe dinge gedoen word in hulle departement nie. My departement maak definitief nie gebruik van die maatskappy wat die handboeke verskaf nie. Ons studente se handboeke is ook nie ingesluit by die prys van die vak nie. So om met my te praat asof ek onnosel is, en dit nadat jy die een was wat my in die duister gehou het en nie ingelig het van protokol in jou department nie!

Dit was nou net die finale strooi.

Ek kan uithou sonder ‘n rooster en in die gang gaan staan en studente soek; ek kan uithou met klaskamers wat vuil en verwaarloos is (net-net); ek kan uithou met toilette sonder seep of sonder afdrooggoed; ek kan selfs uithou met die piepklein kamertjie sonder boekrakke wat as my kantoor dien, of die foon wat al vyf jaar nie ordentlik werk nie; ek kan uithou met die swak konneksies op die rekenaar. Daar is oplossings vir daardie dinge: stel jou eie rooster op, doen jou ding om klaskamers skoon te hou, vat jou eie seep saam, vee jou hande aan jou broek af, spandeer min tyd in jou kantoor, bel op jou selfoon, koop jou eie rekenaar en kry jou eie internet by die huis. Ek kan my eie papier koop, of my eie penne.

Maar wragtig, dat kollegas met my praat asof ek hul slaaf is, is my einde.

Maandag sal daar seker ‘n paar e-posse heen en weer vlieg. Ek sal maar na daardie kampus toe ry en my saak in persoon gaan stel.

by elizac

ONS KAN TOG SO OOR TWAK PRAAT

Februarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Maar die dinge wat werklik saak maak, sê ons nie. Soos: jy is ‘n pragtige mens. Jy doen so goed. Ek hou van jou. Ek het jou lief. Welgedaan.

Môre om aguur doen ek ‘n les met my studente wat ek “Fantastieskat” noem. (Kyk bietjie www.businessballs.com vir die idee).  Ek sit en werk daaraan. Die lewe gaan aan. Niks hou op omdat die mense vir wie ek lief is, swaar kry nie. Niks kom tot stilstand omdat iemand kanker het, of sterwend is nie.

Ek wil so graag in wonderwerke glo. Ek bly glo – teen alle verstand en hoop in.

Dis net wanneer jy in die laatnag hoor jou swaer se kanker het na sy brein versprei en dat hulle niks meer vir hom kan doen nie, dat jy ten hemele wil skree.

by elizac

MY BESKEIE MENING

Februarie 5, 2012 in Sonder kategorie

Nee, ek lieg. Hierdie mening is glad nie beskeie nie. Dis my mening. En julle sal my maar moet vergewe as ek so spring tussen al die goed deur waaroor ek ‘n mening het, want ek het nogal baie te sê oor ‘n verskeidenheid onderwerpe. Soos vele van ons hier.

Dit laat my altyd dink aan die ou grappie wat ek in ‘n krismiskrêkker gekry het toe ek so 12 was: My advice may not be worth anything, but at least it is free. (Ja, toemaar, gelukkig was daardie grappies nie die hoogtepunt van ons krismisse nie!)

Ek sien hier is nou weer ‘n bekgeveg of twee op litnet aan die gang. Waarom, sal niemand weet nie. Wie Anneke is, weet ek nie. Wie Anha is, weet ek nogal. En om die een of ander rede is daar altyd twee kampe wat hier in bekgevegte betrokke raak: die anti-Anha’s en die pro-wie-ook-al. Dan is die spulletjie ook nog so sensitief. Nou kyk, hier is my opinie oor Anha: ek dink julle wat haar so kruisig, is totaal en al verkeerd oor haar. Om die een of ander rede glo julle elke storie wat sy hier opdis, as die reine, onverbloemde waarheid. En dit net omdat sy eerlik was oor insidente in haar lewe.

Of was sy?

En as sy was, wat maak dit van julle wat haar eerlike momente teen haar gebruik in gevegte? Ek hoor nou juis van ‘n vrou wat haar man wil los, omdat hy die intieme goed wat sy met hom gedeel het, vir die wêreld gaan vertel het. Kyk, ek hou ook van skinder, maar ek vergeet gelukkig gou enige intieme storie wat ‘n vriendin met my deel. Mense wat hierdie intieme stories oorvertel, moet maar liewer ophou om daai mens se blogs te lees. Jy is eintlik dan nie meer welkom by die huis nie.

Dan het ons nog daai chinese man wat om die een of ander rede ook hier rondhang. Ek weet nie hoekom nie. Ek aanvaar sy Mandaryns is nie goed genoeg vir ‘n blog nie. Ek aanvaar ook dat hy eintlik maar net kyk hoeveel reaksies hy kry.

Dan sien ek die mense wat opinies rondgooi oor kinders en wat jou kanse is om ‘n kind te hê as jy manloos is, of as jy al veertig is. Hierdie mense moet tog asseblief in die toekoms versigtiger omgaan met ander se siele. En Anha, as jy regtig ‘n kind wil hê, kan jy enige tyd na die saadbank gaan en vir jou ietsie gaan uitsoek. Ek, wat ‘n Christen is, sal dit vir jou aanbeveel as ‘n opsie. Daar is ook ander opsies, maar dan noem die spul jou weer ‘n hoer, en ek het mos maar probleme met die rondslapery, aangesien dit weer tot allerhande ander probleme lei. En jy wil mos nou nie ‘n slegte voorbeel vir die fiktiewe ou kindjie wees nie.

O, en dan sien ek hier is iemand op die blogs wat kapsie maak oor die doemnies wat gaan fiets ry met sy eie ou fietsie wat hy uit sy armsalige salarissie gaan koop het. My genade! Kla julle net so as ‘n onderwyser vir hom/haar ‘n fiets koop? Of ‘n staatsdiensamptenaar? Maar wag, ek dink ek moet hierdie onderwerp by ‘n latere geleentheid aanspreek. Dan kan ek sommer vir julle vertel wat ek alles met my salaris moet doen.

Dinsdag moet ek vir my jaarlikse mammogram gaan asook ‘n beendigtheidstoets. Sal seker weer die hele oggend in beslag neem en my moedeloos laat. Dan maak dit my so hartseer as ek sien hoe ander mense soos hoenders in die stof rondskrop en pik-pik-pik na mekaar, asof hulle daar iets kan uit wen.

NS My opinies sal definitief nog vervolg. Hier is temas waarna uitgesien kan word: kinders, obsene vertoon van geld, die onderwyssisteem, speel by die werk. Laat my net eers ‘n bietjie klaar dink.