Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

by elizac

UPDATE

Oktober 24, 2011 in Sonder kategorie

Wil darem net sê: ons is toe Donderdag betaal, die mediese fonds is betaal en ek kon my volgende Zoladex-inspuiting kry.

Ek vermoed die universiteit se bestuur het gehoop op die wegraping en dat hulle nie hoef geld uit te gee voor dan nie.

by elizac

DIT WORD NET BETER

Oktober 14, 2011 in Sonder kategorie

Dis nie die einde van hierdie week nie. Klaarblyklik nie.

Vanoggend gaan ek vir my Zoladex by onkologie en word meegedeel dat die mediese fonds nog nie toestemming gegee het nie. Sê ek ewe, jis, ek wonder wat aangaan, want hulle weier om vir my bloedtoetse te betaal en dis tog alles van onkologie. My mediese fonds het R380000 beskikbaar vir onkologie, en dis beslis nog nie uitgeput nie.

Maar die liggies gaan nie aan nie.

Kry ons later vanoggend ‘n e-pos: die universiteit het ongelukkig nie fondse om die personeel te betaal nie. Menslike hulpbronne sal vir ons briewe gee om vir die bank te gee. Om te wat? Om vir hulle te sê ons gaan nie salaris kry nie, ons weet nie of ons ooit weer salaris gaan kry nie, maar leen asseblief vir ons geld vir ingeval?

En toe maak ek nog ‘n e-pos oop: unievergadering sou vandag plaasvind (nie my unie nie). Een van die items op die agenda: die feit dat die universiteit nie in September die pensioen- en mediese fonds bydraes betaal het nie.

Nou’s die ligte aan, en dis beslis nie ‘n goeie manier om die naweek te begin nie.

NS Dis nou dieselfde universiteit wat einde Augustus ‘n baie fênsie kongres aangebied het wat klaarblyklik R1,4 miljoen rand gekos het. En toe slegs R80000 van die geld kon terugkry, maar dit moet ons glad nie pla nie, want die doel van die kongres was nie om geld te maak nie, maar vir “ontwikkeling”. Ekskuuuuuuuuuus?

En eintlik mag ek mos nou niks sê nie, want dis my werk, en ek is baie lief vir my studente, maar dit raak nou baie dik vir ‘n daalder. Een van die dae sit ek ook tussen al die ander pasiënte by die Frere Hospitaal en wag vir my staatsmedisyne.

by elizac

EK BLY Sê DIS ‘N SLEGTE WEEK

Oktober 13, 2011 in Sonder kategorie

Maar hoekom sal ek nou so sê? Die week is nog maar net vyf dae oud as jy by Sondag begin tel, en tot dusver was daar – wag, laat ek gou uitwerk – so ongeveer 7200 minute om deur te leef. So sleg kon dit mos nie gewees het nie.

Maandag het ons ooswind beleef en teen 40 grade is dit hel op kampus. Veral aangesien ons geen lugversorging in ons lesinglokale het nie. Daarby het Fasiliteite (moenie vra nie) al die vensters met bloudraad toegedraai, want die vensterknippe word afgesteel en dan kan die vensters nie toemaak nie. So staan en klap dit dan in die wind. Maar Maandag het ons ook nog ‘n ander probleem gehad: die bouers het van die elektrisiteit ontslae geraak. Iewers het hulle ook ‘n waterpyp of twee raakgebou en dus was daar ook geen water op die kampus nie. En aangesien ons 35 kilometer van die beskawing af is, het dit maar benoud geraak. Op een of ander stadium het die generator darem weer gefunksioneer, maar ons het nog steeds nie water gehad nie.

En Maandagaand val ek toe met al 1,80 meter van my in die badkamer. Net oor ek soos ‘n jong bokkie oor die nat vloer huppel. Ek aanvaar daar is iewers blou kolle, maar ek dink ek het Maandagoggend laas ordentlik in die spieël gekyk.

Dinsdag was sonder voorval, behalwe dat daar steeds geen elektrisiteit op kampus was nie, en dat my Duitse studente nie kon klas bywoon nie, aangesien hulle op ‘n “opvoedkundige uitstappie” was. Na die plaaslike museum, wat ek reeds twee keer saam met hulle besoek het.

Maar die aand was weer ‘n ander storie: sit ek die groenteplank regop teen die teëls neer. Nogal netjies skoongemaak na ek slaai gemaak het. En daar skuif die plank mooitjies af en stamp my slaaibak met slaai van die kas af. Fyn en flenters op die vloer. Ek staan natuurlik kaalvoet in die kombuis (ja!ja!) en moet oor die glas om die vloertowenaar te kry. Bloed kom uit die linkervoet waar een van die glasstukke teen my voet gespat het, maar ek’s mos ‘n girl van die plaas en baie sterk. Hou aan en maak skoon en sit en werk my op vir ‘n mansmens wat nie eens kom uitvind hoekom ek so skree nie.

Op pad badkamer toe om my voete af te spoel, voel ek meteens ‘n skerp pyn in die regtervoet. Stuk glas in die voet. Toe’s ek al lekker beneuk. Dog ek sal maar gaan bad om te kyk of ek die glasstuk uit my voet kan kry as dit eers in warm water was, maar kan dit glad nie in die hande kry nie. Die glasstuk sit ook op ‘n ongemaklike plek en ek kan nie sien wat om te doen nie. (Gewoonlik is ek mos die een wat splinters uit ander mense se lywe haal). So plak ek pleister op, maar ek besef dit sal moeilik gaan om 35km ver te bestuur met die voet, 35 km terug en dan eers ‘n dokter te probeer spreek. Bel noodgevalle en hoor of hulle besig is. Nee, ek kan maar kom. Haal die dokter toe ‘n piepklein stukkie glas uit my voet.

Maar ek werk myself lekker op: as dit nou my man was, dan moes ek hom motor toe geabba het, en ‘n rolstoel gekry het by die hospitaal en hom ingestoot het, maar nee, meneer kyk Top Billing en Top Billing is belangriker as ek. Glo my, dit was nie ‘n sagmoedige vroutjie wat by die huis opgedaag het nie.

Gister moes my studente toets skryf, maar weens die afwesigheid van elektrisiteit moes ek die vraestelle op eie koste uitdruk. Ek het egter nie die klaslys – wat hulle moet teken as bewys van hul teenwoordigheid nie – kon uitdruk nie, en as ek so half onprofessioneel in die klas gaan staan, voel ek sommer omgekrap.

Intussen sit ek al langer as ‘n week met ‘n abses in die tand. Daai tande wat die tandarts al begin van die jaar wou uittrek, omdat hulle probleme ontwikkel het as gevolg van die chemo. Ek wou nog uithou, maar toe val die kroon uit en dit was die laaste strooi. So tussen al die val en breek deur, sit en klop die kakebeen tot in my oor en raak ek by tye heel doof.

En vandag moes ek in ‘n videokonferensie sit met ‘n klomp vername professore. Dan daag jy by die lokaal op en jy is die enigste een wat daar sit en die videokonneksie is nog nie aan die gang nie en ‘n uur na die oorspronklike tyd, sit en wonder die voorsitter nog of ons moet voortgaan met die vergadering, aangesien die sekretaris nie opgedaag het om notule te neem nie. En ja, hulle het so in my rigting gemik vir die neem van die notule, maar op daardie oomblik was ek weer ernstig doof. Ek weier om notule te neem net omdat ek ‘n vrou is. Buitendien kan ek by tye glad nie verstaan waaroor hulle daar in die verre Mthatha praat nie, want ‘n hele paar van my vername kollegas kom van die noorde van Afrika, of van die suide van Indië. So karring ons toe vir twee ure aan.

En as ek nou so na die lysie kyk, dan klink dit nogal of daar ‘n paar onaangename goed gebeur het. Maar kom ons maak die som: uit 7200 minute is 120 gespandeer aan ‘n onaangename, tydrowende vergadering, 5 aan val op die vloer, ongeveer ‘n uur aan glas optel en glas uit die voet haal, seker goed 30 aan argumenteer met die geliefde en 120 minute aan die toets. Dis ‘n totaal van 275.

Maar ek het ook 120 minute saam met vriendinne oor ‘n glas wyn gekuier, ‘n goeie 60 minute in die Franse klas, darem so 50 minute se gesels met die geliefde, nog 60 minute vir middagete saam met ‘n vriendin, baie vrytyd met die kat en – les bes- was ek vannag in my drome die meisie van ‘n Suid-Afrikaanse celebrity. ‘n Mooie man, wat dink die son skyn uit my uit. (Natuurlik). En ek het so ‘n lang swart nommertjie aangehad met ‘n lang spleet op die linkerbeen. Ek kon duidelik voel dat Kurwes besig is om vrugte af te werp. En die celebrity en ek is saam by ‘n partytjie, maar niemand weet ek is sy meisie nie. Hulle dink ek is net ‘n doodgewone opgedolliede middeljarige vrou. Op hierdie punt het ek natuurlik net geheimsinnig geglimlag.

Toe word ek wakker.

En dis nou maar seker waarom – saam met die tandpyn – dit soos ‘n slegte week voel. Al was die goeie minute en die gewone minute heelwat meer as die slegte minute.

NS Môre is weer Zoladex by onkologie en my drie maande opvolgbesoek.

by elizac

EN DIE SAGA HOU NET AAN

Oktober 5, 2011 in Sonder kategorie

As jy dalk binnekort ‘n nuwe selfoonkontrak moet kry, of van verskaffer wil verander, sal ek jou aanraai om Cell C liefs te vermy.

Lees bietjie hier:

http://blogs.litnet.co.za/elizac/en-so-gaan-ons-voort

sodat jy kan verstaan waaroor ek praat. Lees ook sommer die vorige pos as jy ‘n tydjie het. Net so vinnig. Daardie posse is al 21 Januarie 2011 geskryf. EK HET STEEDS NIE MY FOON TERUG NIE, en my kontrak verval 21 Oktober 2011! Ek het nou al letterlik ure in die plaaslike tak bestee (sonder koffie) en al tantrums gegooi, maar niks help nie.

Intussen sit ek met ‘n “leenfoon” van Cell C en sonder my nommers. Die hartseerste vir my is dat ek talle boodskappe op my ou foon gestoor het van mense wat net ‘n ietsie vir my wou sê om my gedurende 2010 te ondersteun. Oulike boodskappe. Hartseer boodskappe. Geestelike boodskappe. En tensy ek my foon terugkry, is hulle verlore.

Verder is daar ook nommers van kankerpasiënte wat saam met my chemo gekry het. Mense wat ek graag sou wou kontak om te hoor hoe dit nou met hulle gaan. Maar ek kan nie, want ek het nie meer die nommers nie. Dis ‘n totale skade.

Gister bel so ‘n dogtertjie van Cell C se “Customer Care”. Ja, hulle sal graag die probleem wil uitstryk. Nou gaat sy mal daar op die rekenaar. Ek hoor hoe tik sy. Maak my al klaar die josie in, want moes sy nie die inligting bymekaargemaak het voordat sy op die foon geklim het nie? Nee, seg sy my, die foon van my is reeds teruggestuur na die winkel toe. Klaar reggemaak.

Nou’s ek mos ook al ‘n tydjie in die land. Wanneer is die foon teruggestuur Oos-Londen toe? Ja, in Mei 2010. Ek sê Koekie, maar dis mos nou onmoontlik! Ek het my foon eers Januarie 2011 ingegee vir regmaak! Hou net aan, en daar sak sy weer op die rekenaar toe.

Eliesabif, sê sy (ja Eliesabif, nie Elisabet nie en ook nie doktor nie, asof sy my ken), is jy seker die MMI of EMI of watookal se nommer is korrek? Nou probeer ek vir haar ‘n ander nommer gee. Nee, antwoord sy, sy kan nou nie met daardie nommer werk nie. Dis ‘n nuwe navraag.

Kry ek amper ‘n hartaanval. Koekie, skree ek, ek weet jy het nie die probleem veroorsaak nie… Val sy my in die rede: Ja, ek het nie die probleem veroorsaak nie. Moenie op my skree nie. Skree ek terug: Koekie, dan moet jy vir my luister en ophou om my in die rede te val voor ek my sinne klaargemaak het. Jy kan nou vandag besluit of jy deel van die probleem gaan wees, en of jy die probleem gaan help oplos.

Hou net aan, sê sy, en speel daardie irriterende musiek in my ore.

Toe’s daar ewe skielik ‘n meer volwasse stem op die foon: Doktor, noem sy my, en spoor tjoef-tjaf my foon op (presies waar dit begin Februarie was) en sê hulle kan nie my “incidence form” kry nie (dieselfde vorm wat ek nou al ten minste twee keer vir hulle moes faks, en elke keer op my tyd) en kan ek asseblief weer een invul? Sy stuur sommer vir my een per e-pos.

Ek wag steeds vir die vorm.

Intussen het ek al navraag gaan doen oor ‘n ander kontrak. Enigiets, solank ek net nooit weer met Cell C moet praat nie.

by elizac

EN HOE’S DIE WEER MôRE?

Oktober 2, 2011 in Sonder kategorie

Ek vermoed ons Suid-Afrikaners het ‘n obsessie met die weer. Moontlik stam dit af van ons oerverbintenis met die grond, want anders het ek nie ‘n verklaring vir die gedwongenheid om aand vir aand die weervoorspelling dop te hou nie. En dan kwaad te raak vir die voorspeller indien dinge anders uitdraai.

Of dalk het dit te doen met die idee dat ons beheer oor ons lewens het, en die een ding wat ons nou nie kan beheer nie (of so dink ons), is die weer. Dus, as ons vooraf weet wat die son of die wind of die wolke gaan doen, dan kan ons ten minste probeer om ons kleredrag ten opsigte van die son of die wind of die wolkte te beheer.

So laat weet my man my vanaand: Onthou, dis môre 14 daar waar jy werk. En daar is 80% reën. (Na al my verduidelikings dink hy nog steeds 80% reën beteken dat dit 80% van die tyd gaan reën. Ek sê al man, as daar twee druppels geval het, dan was die weervoorspeller eintlik 100% korrek!) Hy het in die stad grootgeword, so daar kan geen logiese verklaring gegee word vir sy obsessie met die weer nie.

Ons sê gewoonlik ons kyk die weer, sodat ons kan weet wat om die volgende dag aan te trek. Maar jy kan mos nou maar net sowel die volgende oggend vinnig deur die venster loer en so probeer vasstel wat die weer gaan wees. Of loop ‘n draai om die huis. Dan weet jy mos nou dis koud, of warm. En dan vat jy maar ‘n truitjie saam wat jy later kan uittrek indien dit warm word, of kan aantrek indien dit koud word. Ons doen dit in elk geval, vir ingeval die weervoorspeller verkeerd was.

Dus het ons nou, heeltemal buite seisoen, ‘n dag van veertien grade wat glo vir ons voorlê. Ek sal maar my skaapvelsteweltjies aantrek. En my eie raad volg vir die res van die uitrusting.