Jy blaai in die argief vir 2011 September.

by elizac

SURVIVOR

September 26, 2011 in Sonder kategorie

Vir diegene wat Survivor aanhangers is, moet asseblief nie hier lees nie. Ek is nie een nie. Ek sit op die oomblik in my studeerkamer (ja, ons akademici het mos studeerkamers) en luister na die tiewie en die klomp oorlewendes se geplot. Nou weet ek mos ook al wie gewen het (moenie worrie nie, ek sal nie sê nie. As jy nou al wil weet, kan jy dit mos gaan google).

Maar ek moet sê: as ek een van die survivors was, was die eerste persoon wat ek sou uitgestem het, daai Jeff-aanbieder. Liewe hemel, maar hy is aanhoudend. Ek weet dis sy werk, maar hulle is glo besig met ‘n spel wat “uiterse konsentrasie” verg, maar hy karring tussenin: wie gaan wen? O, JT is nou voor! Nee, nou’s dit Steven (ek dink dis Steven?)! O, Errin en JT en Steven is nou gelyk! Hierdie is ‘n spel wat breinkrag verg. Wie is dit wat eerste gaan konsentrasie verloor?

En net op daai punt verloor een toe konsentrasie. Het die vervaardigers nog nooit daaraan gedink dat heeltemal verskillende mense dalk sou kon gewen het as die Jeffie net ophou kef het?

Dan wonder ek ook hoe die klomp Amerikaners sal vaar teen ‘n Suid-Afrikaanse span. Ons ken mos van braai…

by elizac

GRAPPIES OP ‘N STOKKIE

September 14, 2011 in Sonder kategorie

Party dae wil ek nou net nie meer snaaks wees nie. Party dae wil ek net ten hemele skree: DIT IS ONREGVERDIG! Partykeer wil ek net hê almal rondom my moet weet wat ‘n [email protected] siekte kanker is. Dat dit sy tentakels in jou lyf insteek en net groei en groei en groei, en jy weet nie dat dit daar binne sluimer nie. Soveel mense rondom my word gediagnoseer: iemand in die kerk, ‘n onderwyseres by ‘n laerskool, nog iemand in die kerk, die klerk by onkologie, die vrou in die kamerawinkel, my tante, my swaer. Dit word te veel. Ek hoor nou die dag dat ‘n persoon met Vigs nog gemiddeld twee-en-twintig jaar kan leef. Wat is die gemiddelde vir iemand wat met kanker gediagnoseer is? Weet iemand? Die 5 jaar oorlewingssyfer vir iemand met my tipe kanker, is 86%. En daarna? Wat van tien jaar, twintig jaar? Hoe is dit moontlik dat daar soveel terapie vir mense met Vigs beskikbaar is, en dit na ‘n skrale dertig jaar, terwyl daar so min opsies vir kankerpasiënte beskikbaar is? (En ja, ek weet daar is nuwe terapieë, maar die suksessyfer is nog nie werklik bepaal nie – en ek is op twee van daardie nuwe terapieë). Dis mos nie regverdig nie.

Wat sê ‘n mens vir iemand wat ag maande gekry het om te leef? Wat mense vir my gesê het? “Toemaar, elke donker wolk het ‘n silwer randjie”? Of moedig jy hom aan om sy werk te bedank en die wêreld plat te toer? Waarom? Gaan dit belangrik wees in die hemel?

Wat sê ek vir my suster? Want, al is ek self deur chemo, weet ek nie hoe dit voel om aan die ander kant te staan nie. En ek weet ook nie hoe dit voel om te hoor dat jou man moontlik nog net vir ag maande gaan leef nie. Ek weet wel hoe dit voel om aan hoop vas te klou ten spyte van die wanhoop; die absolute tot stilstand kom van jou ganse lewe. Ek glo ook met my hele hart dat dit vir God moontlik is om te genees (en as jy hier lees en nie in God glo nie, moet dit asseblief nie vir my vertel nie. Praat met my daaroor nadat jy in die chemokamer gesit het met ‘n naald in jou lyf en terwyl die gif in jou are drup.) en dat elke dag wat ek leef, ‘n wonderwerk is. Ek weet dat dit deksels moeilik is om dit te glo terwyl jy die pad stap. Ek weet ook dat dit al is wat sin kan gee.

My swaer sê dis maar die verloop van die natuur. Ek voel om te skree: Do not go gently into that good night! Baklei! Baklei! Maar dis maar ons mense se manier van probeer beheer uitoefen.

Beheer is ‘n illusie. En as ek nie in beheer is nie, moet ek kan glo in ‘n Mag wat groter as ek is. Die Higher Power van AA, as jy wil.

Ek het so dikwels gesê ek kan nie in ‘n God glo wat kanker gee nie; daarom glo ek nie God gee kanker nie – Hy laat dit toe. Maar ek het so ‘n paar weke terug na PJ Smyth van die God First kerk gaan luister. Hy is op 40 met limfoom gediagnoseer. En hy verkondig dat God wel kanker kan gee, want as Hy dit nie gee nie, beteken dit ook dat Hy dit nie kan genees nie. Dis nou baie eenvoudig gestel. Gaan lees by http://godfirst.co.za/bad-things indien jy die hele potgooi wil luister. En dit het my laat dink.

Party dae is daar soveel vrae by my. Ek probeer om nie te veel te dink nie. (Het vandag al gesê ek is bang om die happy pille te los, want dan word ek dalk met te veel realiteit gekonfronteer). En wanneer al hierdie vrae so deur my maal en my kop begin omkrap, onthou ek hierdie woorde:

When I have fears that I may cease to be

Before my pen has glean’d my teeming brain,

Before high-piled books, in charactery,

Hold like rich garners the full ripen’d grain;

When I behold, upon the night’s starr’d face,

Huge cloudy symbols of a high romance,

And think that I may never live to trace

Their shadows, with the magic hand of chance;

And when I feel, fair creature of an hour,

That I shall never look upon thee more,

Never have relish in the faery power

Of unreflecting love; – then on the shore

Of the wide world I stand alone, and think

Till love and fame to nothingness do sink.

(JOHN KEATS)

Amen

by elizac

DIS HEERLIKE LENTE

September 5, 2011 in Sonder kategorie

Nou ja toe, daar verbring ek toe Lentedag se middag in die hospitaal, onderworpe aan die hande van dr Lente en haar kameras en messe. Om die een of ander rede moet mens nou deesdae elfuur opdaag vir ‘n twee-uur se gesny. Glo dat die dokters nie vir die pasiënte moet wag nie. Ek het nog nooit gehoor van dokters wat vir pasiënte wag nie, maar nou ja, dit is die Oos-Kaap en hier funksioneer dinge anders as op ander plekke. Dus kla ek net so effentjies by die toelating, want hulle het nog nie vir my ‘n bed gereed nie. Die vorige pasiënt het seker haar kruiwa verpas en dus kon hulle haar nie op die sypaadjie afgooi nie. Blakend gesond moet ek dus sit en wag. Gelukkig woon ek al jare aan die kant van die land; dus het ek ‘n lekker dik boek saamgebring (A Crowded Marriage van Catherine Alliott – baie leesbaar, al was die ontknoping vir my onbevredigend) om die tyd mee te verwyl.

So twaalfuur begelei hulle my na die saal toe, waar ek die ontwerpersjakkie moet aantrek. Ek los maar vir eers die ontwerpersonderklere – weet nie hoe lank ek daar sal moet lê nie, en nou ja, ek wil darem vars wees wanneer dr Lente en my vrolike dele mekaar later die middag moet ontmoet. En hulle meet my en druk my en kyk die bloeddruk (120 oor 65) en skryf my volle geskiedenis neer en los my alleen.

Net toe ek lekker lees, stoot die noodmense ‘n dame op ‘n trollie binne. Sy’t ‘n miskraam gehad. Op 3 maande. Self is sy 45 jaar oud, het reeds drie kinders en dit klink nie of die miskraam haar erg ontstel nie. Maar sy moet nou vandag met die Ugandese dokter saamwerk, want haar gewone ginekoloog is met vakansie. Ons lê en gesels land en sand. Eintlik moes ek my hekelwerk saamgebring het, want tyd vir lees is daar nie.

Net so voor twee daag daar ‘n kêrelkind op: ons kom jou haal, seg hy. Nee wag, seg ek, laat ek net gou die designer panty aantrek. Hulle rits die gordyne toe en ek trek aan en die gordyne gaan oop, maar niks gebeur nie. ‘n Tydjie later kom ‘n vriendelik verpleegster in en verduidelik dat die vorige “prosedure” ‘n bietjie langer geneem het as wat hulle gedink het, en nou is hulle so effe laat. En kort daarna kom haal die kêrelkind my: maak my bed mooi plat en sit die tralies om die bed sodat die antie nie kan uitval nie.

Nou lê en wag jy mos so tussen al die verpleegsters en goeters deur en kyk die horlosie teen die muur en al die ander mense wat ook daar inkom. Later kom my kamermaat ook daar aan. En hier daag dr. Lente op. Ag, sê sy, dit sal vandag sommer goed gaan, want dis mos my dag. Sy glimlag vreeslik mooi van onder haar vrolike blommetjiesbandana. Toe sy loop, sê ek vir my kamermaat: dis my ginekoloog daai. Waaaat! sê sy. Ja, sê ek, sy lyk agtien, maar klaarblyklik is sy ten volle gekwalifiseer.

Kom die narkotiseur met die Duitse naam daar in. Hy sê hy is vandag my narkotiseur en gaan my ‘n bietjie laat slaap. Ag, Goddank, sê ek, ten minste een mens in die hospitaal wat ouer as ek is! (Ek dink hy’t dalk ‘n bietjie aanstoot geneem, maar ek was baie dankbaar). Ons gesels deur teater toe soos ou vriende. Bespreek my are asof ek weet waarvan ek praat. Hy spuit my mooi in die arm in en ek hoef nie te skree nie. Die suster sê vriendelik jy gaan nou slaap, en ek antwoord nog ja, ek kan dit voel, en toe word ek wakker met ‘n verpleegster wat “Doktor! Doktor!” vir my sê. Ja, toe is ek reeds in die “recovery room”. En terug saal toe. Waar Princess verder baie mooi na my gekyk het, en die vroutjie van die kombuis seker gemaak het dat ek vyfuur kos kry.

Die keer wou niemand my met ‘n kruiwa by die hospitaal uitgooi nie. Om die waarheid te sê: hulle was nogal baie vriendelik en bedagsaam. Beslis ‘n verandering in atmosfeer. En het my baie mooi en geduldig uitgeboek. Met ‘n pakkie Dr Whites daarby.

En Vrydag het dr. Lente se ontvangsdame my gebel en gesê daar’s niks fout nie, maar ek moet net Woensdag vir ‘n opvolgafspraak kom.

Verder voel ek fantasties. Ek het regtig nie geweet dat ‘n poliep in die vrolike dele jou so miserabel kan laat voel nie.

En jy sal nooit sê dat ek Donderdag in die hospitaal was nie – ek dink ons vroue se kanale kan nogal baie mishandeling weerstaan.

Ek weet net nie wat van die foto’s geword het wat hulle Donderdag geneem het nie. Maar ek aanvaar dis nie iets wat ek op Facebook sal wil deel nie!